Ons is omtrent opgewonde om Lascar en Louise se stylvolle troue in die Hemel & Aarde Vallei met julle te deel op Mooi Troues. Die paartjie se tydlose verlowings fotosessie was voorheen gedeel op Mooi Troues se webblad en is hul troue definitief een wat jy nie moet mis nie.
Die paartjie het by die pragtige The One Heaven & Earth getrou in die Hemel & Aarde Vallei tussen Caledon en Hermanus. Hierdie pragtige trou venue is die perfekte keuse vir paartjies opsoek na ʼn moderne venue met baie glas op ʼn plaas met mooi uitsigte. Die trou venue het ook ʼn pragtige seremonie area waar Lascar en Louise getrou het! Omring deur bome en die mooi natuurskoon van die gebied. Die blom ontwerpe by die seremonie het só mooi uitgestaan teen die agtergrond van die bome.
Na die seremonie het trou gaste heerlike canapés geniet op die grasperk voor die glaskas trou venue. Trou gaste kon heerlike kos, musiek en drankies geniet tydens die paartjie se fotosessie.
Wanneer dit kom by die trou dekor is ons by Mooi Troues dol verlief! Die tafel dekor het elemente van aarde kleure gehad, vuil pienk en tikseltjies swart. ʼn Sagte neutrale kleur tafeldoek het die tafels bedek. Ons is versot oor die droë elemente in die blom ontwerpe wat hoog vanuit die dubbel volume trou venue se dak hang bo die tafels. ʼn Kombinasie van pampas en krismisrose en tikseltjies pienk!
Louise se droom was om ʼn trourok te hê wat nie net mooi is nie, maar ook haar persoonlikheid weerspieël. Sy is ʼn groot liefhebber van die modebedryf en ons kan dit sien. Haar trourok is so stylvol en pas perfek by haar.
Rol af om te lees oor Lascar en Louise se stylvolle troue in die Hemel & Aarde Vallei.
Paartjie se Liefdesreis:
Ek en Lascar ken mekaar al vanaf ons hoërskool jare in die Paarl. Ons was nie in dieselfde vriendekring nie, so ons paaie het werklik eers op universiteit gekruis toe hy en my broer goeie vriende geword het. Liefde het ons gevind wanneer ons dit die minste verwag het. Dis ongelooflik hoe mens iemand vir jare kan ken en dan een dag ‘click’ dit net. So het ons liefdesverhaal begin!
Ons was 8 jaar saam voor Lascar my in Desember 2020 by Boschendal gevra om te trou. Hy het my voete onder my uitgeslaan en dit was ʼn groot verrassing. Hy het soveel moeite gedoen om seker te maak die dag verloop perfek. Ons het die volgende dag saam ons families ons verlowing gevier. Dit is ʼn dag wat ek vir altyd sal onthou!
Die Verlowing Tydperk:
Ons was bietjie meer as ʼn jaar verloof. Die tyd het ons gebruik om geld te spaar en was ook bang dat COVID nog ʼn impak sal hê in 2021. Ons het nie gebruik gemaak van ʼn trou beplanner nie, ons het genoeg tyd tot ons beskikking gehad en besluit om alles self te doen. Ons het saam besluit op die groot aspekte van die troue.
Verder was Lascar betrokke by alles, maar grotendeels verantwoordelik vir die trou begroting. Hy het sigblaaie vir alles gehad en het so oulik als uiteen gesit. Hy het my vertrou met die blomme, beligting, dekor en al die dinge wat meer ʼn vrou se sterk punt is. Dit was soms ʼn uitdaging om als self te doen, maar ons dag het gelukkig perfek bymekaar gekom!
Trou Begroting:
Ons het ʼn begroting gehad waarmee ons moes werk en Lascar was in beheer van die finansies. Ek sal beslis aan ander paartjies voorstel om van die begin af sigblaaie te maak om alles mooi uit een te sit. Dit help jou om by te hou wanneer deposito’s betaal word en watter bedrae nader aan die tyd aan jou verskaffers betaal moet word.
Trou venue begroting:
Voor ons besluit het op ons venue, het ons ook op ʼn sigblad venues se kostes met mekaar vergelyk. Dis baie belangrik om seker te maak wat jou venue alles insluit by die verhurings fooi en wat ekstra voor betaal moet word. Byvoorbeeld is eetgerei, tafels, stoele, sambrele, verblyf, koördineerder vir op die dag ens. ingesluit. Hiervolgens gaan jy ʼn beter idee kry watter venue sal inpas by jou begroting.
Mens moet ook vasstel of die venue van ʼn spesifieke spyseniering maatskappy gebruik maak en of mens ʼn kombuisfooi moet betaal indien jy iemand anders sou wou gebruik. Goed soos dit is belangrik as daar op ʼn venue besluit word, aangesien dit jou begroting kan beïnvloed. Ons het van die begin af besluit watter aspekte van ons dag is vir ons die belangrikste en eers gefokus op daardie aspekte. Vir ons was die venue, fotograaf, kos en musiek die belangrikste om vas te maak. Die res van die goed het daarna gevolg. Daar was ʼn sekere bedrag vir elkeen van die aspekte op sy gesit.
Kry kwotasies:
Ons het baie kwotasies met mekaar vergelyk om te sien min of meer wat verskaffers vra vir hul dienste. Ons het nie net van die beste name in die industrie gebruik gemaak nie. Daar is baie verskaffers wat dalk nie so bekend is nie, maar wat steeds hulle werk uitstekend doen en goedkoper is. Wat blomme aanbetref, het ek baie van die blomme aan my bloemis verskaf wat ook gehelp het om kostes te bespaar.
Fokus op belangrike elemente:
Fokus op die elemente wat werklik belangrik is eerste. Dit help nie jou dekor is asemrowend en jou hele dak is bedek met blomme as jy nie goeie musiek, genoeg drinkgoed, smaaklike kos en goeie diens bied vir jou gaste nie. Jou dekor kan dan hoe mooi wees, maar jou gaste sal steeds kla oor bv. die lang rye by die kroeg en die kos wat opgeraak het. As jy jou begroting doen dink mooi oor dit waarop jy wil fokus en probeer dan spaar op die dinge wat minder belangrik is.
Merkwaardigste Oomblikke:
Natuurlik was ʼn groot hoogtepunt om Lascar amptelik my man te kon noem. Behalwe vir dit, was dit vir ons ʼn groot hoogtepunt om die saal binne te gaan en te sien hoe die maande se beplanning so mooi bymekaar gekom het. Alles het werklik vlot verloop van die kos regdeur tot die dekor. Dit was vir ons lekker om te sien hoe ander mense ons troue geniet. Dit was werklik ʼn fees om saam ons familie en vriende die vroeë oggend ure in te dans.
Daar was ʼn oomblik op die dansvloer die aand, waar ons mekaar vasgehou het en ons ʼn oomblik vir onsself gevat en vergeet van almal om ons. Dit was baie spesiaal en ʼn oomblik wat vir ons albei uitstaan. Ek wens ek kon tyd terug draai en die dag oorhê, want dit was ongelooflik!
Die Besluitnemingsproses:
Ons ouers het saam ons na ʼn paar venue opsies gaan kyk. Hulle was redelik betrokke by dit en dit was vir my en Lascar lekker om hul opinies te hoor. Ons wou hê hulle moet ook gelukkig wees met ons keuse. My twee strooimeisies het my ook baie ondersteun en gehelp waar ek soms raad nodig gehad het. Ek en Lascar het meeste van die groot besluite saam geneem.
Aspekte soos die venue, kos, musiek, fotograaf, videograaf en sommige van die diensverskaffers waarop ons besluit het, het ons saam gekies en op besluit. Lascar was verder betrokke by die reël van die dominee, verwelkomingsdrankies, die huwelikskontrak, asook ons wittebrood. Ek het meer gefokus op die dekor, bomme, tafels, beligting ens. Lascar het my vertrou met dit. Ek het hom wel altyd deel gemaak en foto’s van alles gewys soos die besluitnemingsproses verloop het.
Vermaak:
Ons platejoggie die aand was DJ Nico Bruyns. Hy het ons gaste heel aand op die dansvloer gehou. Tydens ons verwelkomingsdrankies het Tyan Odendal musiek buite op die gras gemaak. Dit het ʼn baie lekker atmosfeer geskep, sodat ons gaste goeie musiek, kos en drankies kon geniet terwyl ek en Lascar ons foto’s neem.
Paartjie se styl:
Trourok:
Ek het van kleins af ʼn liefde vir mode en ek glo as ek ʼn ander beroep moes kies, sou ek in die modebedryf wou werk. My trourok was daarom vir my baie belangrik en ek wou iets anders doen, maar steeds myself in die ontwerp sien. Olga-Maré Möller het my rok ontwerp en gemaak en sy was uitstekend. Ons het saam beplan en aan die ontwerp gewerk. Ek sal haar vir enige iemand aanbeveel. Sy het die ekstra myl gestap en alles wat ek wou hê vasgevang.
Voor ek haar gaan sien het, het ek verskeie snitte en style aangepas om seker te maak presies wat ek wil hê. My keuse van ontwerp was nie baie tradisioneel nie, maar dit weerspieël wie ek is en my persoonlikheid. Omdat my rok baie detail bo gehad het, het ek gekies om my juwele minimalisties te hou. Olga-Maré het die veertjies en pêrels van my rok se skouers op my trouskoene en handsakkie herhaal om die uitrusting af te rond en bymekaar te bring.
Na my en Lascar se fotosessie het ek die groot strik agter my rok afgehaal om makliker die dansvloer te open. Ek het ook later die aand ʼn ander rokkie aangetrek wat ook deur Olga-Maré gemaak was. Die idee met hierdie rokkie was om lekker gemaklik die aand te kan beweeg en dans. Ek het ook my hare in ʼn hoë bokstert vasgemaak en ander oorbelle aangesit om by die rokkie te pas.
Troupak:
Lascar het gekies om vir hom ʼn trou pak te laat maak by The Tux Tailor in Willowbride. Hy het gegaan met ʼn tradisionele swart pak en ʼn swart strikdas. Ons het gehou van die idee van die swart kontras teenoor my wit rok. The Tux Tailor het ʼn ongelooflike diens gelewer, hulle het ook vir hom ʼn wit hemp met swart knopies gemaak en Lascar was baie tevrede met hoe alles bymekaar gekom het. Hy het vreeslik ‘handsome’ gelyk!
Ringe:
Lascar het self besluit op my verloofring en troupant. Ek is steeds verlief op my ringe en vang myself nou nog soms na dit staar. Ek het vir Lascar ʼn dun goue troupant laat maak, asook ʼn seëlring wat ek vir hom as ʼn trougeskenk gegee het. Die idee is dat die seëlring eendag aangepas word na ons nageslagte. Oom Wiekus Viljoen van die Paarl het homself goed van sy taak gekwyt!
Gunsteling Diensverskaffers:
Ons was regtig geseënd met uitstekende diensverskaffers. Daar is werklik nie een verskaffer wat ons in die steek gelaat het of teleurgestel het nie. Almal het uitstekende diens gelewer.
All Things Weddings en Happinest Hire was baie goed met hul kommunikasie en organisering.
JT Events se personeel was uitstekend, al ons gaste het ons gekomplimenteer op die goeie diens van die kelners. Mont Romay, wat my grimering gedoen het was fantasties.
Die spyseniering van Concept Food was nie net goeie waarde vir geld nie, maar ons gaste kon nie uitgepraat raak oor die kos nie. Niel is uitstekend in wat hy en sy span doen.
Marita, van Palm Hire Events, is ongelooflik. Haar span se diens die dag voor die troue was fantasties. Sy is baie behulpsaam en haar ‘vision board’ wat sy vir jou stuur gee vir jou ʼn baie goeie idee hoe als bymekaar gaan kom.
Ek het nuwe respek vir beligting verskaffers, daar is baie werk en beplanning wat in dit ingaan en Lekker Trou het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Hulle is ook by ver die goedkoopste.
Jané-Ulla ons fotograaf het ons dag so mooi vasgevang, so ons is baie dankbaar vir haar.
Marné Jordaan van Kapture Films, is nie net ʼn vriendin nie, maar ook uitstekend in wat sy doen. Sy is baie bekostigbaar veral vir paartjies wat ʼn trou video wil hê met ʼn beperkte begroting.
Olga-Maré Möller wat my trourok gemaak het was baie professioneel en sal seker maak dat jy soos die mooiste bruid in die wêreld voel op jou spesiale dag. Sy gaan uit haar pad om jou gemaklik te laat voel. S y is ongelooflik.
Laaste, maar nie die minste nie, Zanes van Huyssteen ons bloemis. Sy was briljant, ek sal haar vir enige iemand aanbeveel!
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Ons het ʼn paar krisisse so ongeveer 4 weke voor die troue gehad. Ons bloemis en platejoggie moes beide kort na mekaar kanselleer weens mediese redes. Sonder ʼn trou beplanner om te help moes ek en Lascar vinnig aan die werk spring om op kort kennisgewing nuwe verskaffers te kry. Op daardie oomblik was ek taamlik paniek bevange, want my visie met die blomme was nie eenvoudig nie en ek moes in ons begroting bly. Ek glo als gebeur vir ʼn rede en ons bloemis en platejoggie was toe uitstekend!
As jy begin met jou beplanning, gryp mens gewoonlik na bekende name in die industrie of hoor by ander bruide watter verskaffers hulle gebruik het. Op die ou einde het ek ʼn platejoggie en bloemis gehad wat ek nog nooit van gehoor het voor ons troue nie en ek sou dit nie enigsins anders wou gehad het nie. Ek sal hulle vir enige iemand aanbeveel.
Verder het alles op die dag baie goed verloop en ons harde werk en beplanning het als mooi bymekaar gekom!
Venue & Dekor:
Soos meeste bruide het ek baie van my inspirasie vanaf Pinterest gekry. Ek droom al lank oor my groot dag. Soos ek idees vir my rok, dekor en blomme gesien het, het ek dit in verskeie kategorieë gestoor wat die beplanningsproses makliker gemaak het.
Ek en Lascar het van The One Heaven and Earth se uitleg gehou en dit het ingepas by die styl wat ons in gedagte gehad het vir ons troue.
Blomme lank voor die tyd uitgedroog:
Ek het van die begin af geweet ek wil gebruik maak van droë elemente in my blom rangskikkings, soos gedroogte krismisrose en pampas gras. My ma het hiermee gehelp en lank voor die troue al begin om pampas en krismisrose te snoei. Dit het vir maande in ʼn stoor op my ouers se plaas gehang om te droog. Dit het kostes bespaar en het beteken dat ek groot installasies uit die dak kon hang.
Ek het gehou van die idee om swart in te bring saam sagte neutrale kleure en vuil pienk. Baie van die droë blomme was dus gesproeiverf om so die gewenste kleur te bied.
Ons wou baie graag vir ons gaste ʼn markie effek bied tydens ons canapés. Terwyl ons foto’s neem wou ons seker maak die gaste het genoeg kos, lekker musiek en genoeg om te drink. Ons het iemand gehad wat musiek maak en daar was saam die canapés wat vanaf die kombuis kom, stalletjies op die gras waar die sjefs die kos voorberei en bedien het. Ons tema vir canapés was ‘eat your way around the world’, so ons kosse was in 3 sarsies voorberei by die stalletjies – South-African, Asian en Mexican. Dit het die gaste baie geïnteresseerd gehou en in afwagting laat wag om te sien watter disse kom volgende.
Saam die beligting uit die dak wou ek baie kerse in die saal hê om ʼn warm, gesellige atmosfeer te skep. Dit was ʼn lekker kuier troue saam vriende en familie. Ons het die aand saam ons gaste om gedans en ons is dankbaar dat dit ʼn groot sukses was. Ek kan nie wag om ons trou video te sien nie. Dit is waar wat die mense sê, dis in ʼn oogwink verby, so ek sien uit om ons spesiale dag te herleef.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Verloof wees was nie noodwendig altyd die beste tyd in my en Lascar se verhouding nie. Ons ken mekaar baie goed en was 8 jaar saam voor ons getrou het en steeds was dit ʼn uitdagende tydperk vir ons. Mens praat baie oor geld, begrotings en net trou, trou, trou- só dat mens by tye vergeet van mekaar en waaroor dit werklik gaan. Ons eerste raad aan ander paartjies sal wees om gereeld tyd te maak vir mekaar, waar julle nie oor die troue en reëlings gesels nie. As die paartjie nie mense is wat hou van goed reël en organiseer nie, sou ons beslis aanbeveel dat hulle ʼn trou beplanner kry. Dit verg baie geduld, tyd en moeite om ʼn troue self te reël, so indien hulle beroepe van so aard is dat hulle nie baie tyd tot hul beskikking het nie, is ʼn trou beplanner die beste opsie.
Verdere raad wat ons sal gee is dat dinge iewers wel verkeerd gaan gaan en alhoewel dit dan gaan voel asof julle dag nie perfek verloop nie, moet julle weet dat dit werklik op die ou einde uitdraai soos dit moet. Mens kan nie als beheer nie. Ander mense se aksies, onveranderlikes soos die weer, selfs soos in ons geval ʼn bloemis en platejoggie wat ʼn maand voor die tyd kanseleer, moenie julle dag en oomblik beïnvloed nie. Alles is oorkombaar en alles werk gewoonlik uit soos dit moet.
Vat iewers die aand ʼn oomblik vir julle self, mens is so besig en aan die gang, dat mens maklik kan vergeet om saam net stil te staan. Vat ʼn oomblik die aand voor julle die onthaal binne gaan om die oomblik in te neem. Laastens ‘just have fun‘!
Eerste Dans:
Ek en Lascar het ʼn eerste dans gehad om die dansvloer te open. Ons het gedans op een van ons gunsteling liedjies “Tougher than the rest” van Bruce Sringsteen. Ons het nie vir danslesse gegaan nie en eerder self by die huis bietjie geoefen. Ek en Lascar dans altyd lekker saam, so ons was nie te veel gestres oor die dans nie. Ons gaste het vonkel stokkies aangesteek en rondom ons gestaan terwyl ons dans. Dit was ʼn baie mooi oomblik!
Wittebrood:
Ek en Lascar het besluit om plaaslik ons wittebrood te vier. Ons was in Swellendam by ʼn besonderse plekkie met die naam Fazenda Greenhouse Cottage. Daarna is ons vir twee nagte Lekkerwater Beach Lodge toe. Ons het ons week afgesluit in Plettenbergbaai, waar ons ook twee aande in die The Grand Hotel gebly het. Dit was heerlik!
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: The One Heaven & Earth
- Fotograaf: Jané Ulla Photography
- Blomme: Zaan Kultuur Event Flowers
- Beligting: Lekkertrou
- Bruidegom-pak: The Tux Tailor: Willowbridge
- Dekor: All Things Weddings
- Fringe Hangende Kandelare: Happinest Hire
- Grimering: Mont Romay
- Hare: Mischa Koen
- Huwelik kontrak: Gerna Maree
- Huurdienste: Palm Event Hire
- Huweliksbevestiger: Henry Pike
- Kelners: Happinest Hire
- Musiek: Tyan Odendal
- Platejoggie: DJ Nico Bruyns
- Paartjie se verblyf: Pause Guesthouse
- Strooijonkers bykomstighede: Zara
- Skryfbehoeftes: Scrift Design
- Spyseniering: Concept Food Catering
- Strooimeisie-rokke: Forever New
- Tafeldoeke: The Tablecloth Hiring Company
- Trourok: Olga-Maré Möller
- Trouring: Wiekus Viljoen
- Troukoek: Zelda Zondag (Villiersdorp)
- Videograaf: Kapture Films
- Verblyf: Die Woud