Francois & Chantelle se Verlowing Fotosessie

Ons deel graag Francois en Chantelle se verlowing fotosessie by Theewaterskloof Dam, net buitekant Villiersdorp met julle.  Hierdie paartjie het ʼn pragtige sonsopkoms fotosessie gehad met die dam as hul agtergrond.  Dit was iets besonders mooi.  ʼn Sagte mis lagie wat oor die seepgladde water hang en die berge wat so mooi in die dam se water reflekteer.  Dit is omtrent ʼn prentjie mooi fotosessie wat jy nie moet mis nie.

Chantelle en Francois wou graag ʼn verlowing fotosessie hê om mooi foto’s te kry vir hul trou uitnodigings.  Dit is altyd ʼn baie oulike idee om mooi verlowing foto’s te kry vir ʼn trou webtuiste of self ʼn uitnodiging of net vir herinneringe.  Daar is soveel redes hoekom paartjie ʼn verlowing fotosessie doen.

Besoek ons trougids vir professionele trou fotograwe vir jou verlowing fotosessie.  Beplan julle verlowing fotosessie saam met julle fotograaf en geniet elke oomblik daarvan.  Dit is ook jou tyd om julle trou fotograaf beter te leer ken en sommer ook meer gemaklik te raak voor die kamera.  So sal julle ʼn stresvrye ervaring hê op jul troudag.

Moet nie Francois en Chantelle se liefdesreis hieronder mis nie.  Rol af om meer te lees daaroor en ook die pragtige foto’s te sien van hulle verlowing fotosessie langs die Theewaterskloof Dam.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het albei onlangs op geëindig in die Grabouw omgewing waar ons niemand ken nie en beide van ons het gewonder of ons ooit die regte persoon sal vind.  So waar staan ons die beste kans? Tinder, natuurlik.  Francois was alreeds op Tinder en ek het na heelwat aanmoediging van vriendinne die kans gevat (ek weet van ʼn paar sukses stories).  Toe ek sy foto, en hy my foto sien was dit ons al twee se duim vashou-oomblik van “wees asb. ʼn pasmaat” – en dit was ʼn pasmaat!  Ek en Francois het na ʼn rukkie se gesels, op ʼn hout bankie buite Grabouw sentrum ontmoet en alles was perfek. Nou is ons beste vriende en terselfdertyd die liefde van mekaar se lewe.  Ons het mekaar onvoorwaardelik lief.  Ons was 8 maande in ʼn verhouding voor ons verloof geraak het.

Die groot vraag:


Ons het geweet dat ons vir mekaar bedoel is en het gereeld gepraat oor die toekoms, insluitend verloof word.  Ek het geweet hy sou iewers in die nabye toekoms vir my die groot vraag vra, maar volgens my moes hy nog my ouers vra en dit was die ding, want hy het al meer as ʼn maand tevore met hulle gepraat.  Hy het al die reëlings getref en die perfekte plan gehad dat ons gaan vir ʼn piekniek vir bietjie kwaliteit tyd.  Dit was ʼn groot verrassing en ʼn baie spesiale dag toe hy op 27 Mei 2022 langs die dam op Kraalskloof afsak op sy knie, en ek kon ja sê vir ons toekoms saam.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Francois:

Ek is mal oor haar sagte, warm en liefdevolle hart.  Haar liefde het geen einde nie. Sy is slim, haar hande staan vir niks verkeerd nie en sy vul my ongelooflik goed aan in alle opsigte.  Haar pragtige oë en glimlag maak eenvoudig my knieë lam.  Sy het ʼn manier om my aan te moedig al is ek hoe mismoedig, sy gee my die sprankel in my oë.

Chantelle:

Hy is my beste vriend met wie ek alles kan deel.  Ek weet dat hy daar vir my sal wees deur dik en dun.  Francois het die mooiste hart en die vermoë om alles beter te maak.  Hy is vol grappies en ek is mal daaroor as hy vir my sing.  Sy glimlag laat my smelt.  Hy is perfek vir my.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons troudatum was 19 November 2022, amper ses maande na ons verlowing.

Die verloofring:


Ons het ʼn paar keer na ringe gaan kyk, want ek was self nie seker waarvan ek hou nie.  Ek het wel geweet ek wil ʼn kleiner, fyner ring hê.  Op die ou end het ons altwee gedink ʼn roosgoud ring lyk die mooiste aan my hand en toe ons dié ring sien het ons daar en dan besluit om dit te koop.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag die foto’s gebruik vir ons trou uitnodigings, webwerf en om gemaklik te raak met die fotograaf voor die trou dag.  Die fotosessie het al ons verwagtinge oortref en ons gaan die fotos vir ewig kan koester.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Theewaterskloofdam is nie te vêr van ons af nie.  Ons het al baie verby gery en dan is dit die mooiste natuurtonele, ek kon insien hoe mooi ʼn fotosessie daar sou lyk.  Die fotograaf het ʼn voorstel gegee vir hoe ons kan aantrek.  Die uitrustings het perfek gewerk met die omgewing en beligting.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons het nie vrese nie, want ons maak alle besluite saam en ons hanteer als as ʼn span.  Ons verwagtinge is presies dieselfde as voor die verlowing – ons wil net mekaar en elke oomblik saam geniet.

Visie vir droomtroue:


Ons wil ʼn intieme (± 50 gaste) strand troue hê omdat ons albei lief is vir die see en strand.  Ons is eenvoudige buitelewe mense en dis wat ons troue gaan weerspieël.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

  • Fotograaf:
  • Fotosessie Venue: Theewaterskloofdam
  • Verloofring: NWJ