Met soveel opgewondenheid deel ons Ben en Maruschka se pragtige troue in Wellington met Mooi Troues se lesers. Maak julself gereed om tonne inspirasie vir julle troudag te vind.
Dié paartjie het by die populêre trou venue, Bakenhof Winelands Venue in Wellington getrou. Hierdie glaskas trou venue is geleë in die hartjie van die Kaapse wynland. Trou gaste sal uitsigte van die wingerde en berge as hul agtergrond geniet. Die trou venue is die perfekte trou bestemming vir ʼn moderne troue met tonne foto geleenthede.
Tracy en haar span by Trunk Events het die hele troudag haarfyn beplan. Om seker te maak elke liewe aspek van die paartjie se troudag is perfek. Trunk Events is bekend vir hulle stresvrye trou beplanning proses. Hulle het ook die pragtige trou dekor van die paartjie se troue behartig.
Die rou hout tafels met die wit en tikseltjies goue dekor elemente is so mooi. Dit pas in by die moderne estetika van die trou lokaal en die wit en groenigheid van die blomme trek alles mooi bymekaar.
Bulb Flowers het die mooiste blom ontwerpe gemaak vir die paartjie se troue. Ons is heeltemal verlief op die paartjie se wit en groen blom ontwerpe. Dit pas perfek in by die paartjie se tydlose gevoel van hul troudag.
Die wit kerse wat vanaf die trap vloei en ook op die gaste se tafels, gee ʼn romantiese gevoel aan die paartjie se onthaal.
Shout Music Company het Maruschka en Ben se trou gaste vermaak met mooi musiek. Hulle is ʼn een stop-winkel wat fantastiese musiek vermaak vir jul troudag sal verskaf.
Dit is nie al nie! Hulle het ook ʼn lieflike wittebrood geniet na die Maldives, enige paartjie se droom wittebrood bestemming. Rol af om meer te lees oor Ben en Maruschka se liefdesreis en pragtige troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Alhoewel ons albei van die Kaap af kom, het dit ʼn reis na die ander kant van die wêreld geneem om mekaar te ontmoet. Ons het vir die eerste keer oë op mekaar gelê in Suid-Korea, terwyl ons albei daar as Engelse onderwysers gewerk het.
Ons was kennisse en het altyd lekker saam gekuier as ons mekaar gesien het, maar dit was nie tot ek na dieselfde woonstelblok as Ben getrek het, dat die liefde begin blom het nie. My ma het kom kuier en vir al die Suid-Afrikaners op ons vloer ʼn egte Suid-Afrikaanse “huiskos” ete voorberei en daar het ek en Ben aan die gesels geraak.
Die dag toe my ma huis toe moes vlieg, nooi Ben my vir ete by sy woonstel aangesien hy geweet het ek baie hartseer gaan wees. Min het ons geweet dit sou die begin van ons liefdesverhaal wees.
Toe ons pas terug getrek het Suid-Afrika toe het Ben my op ʼn padreis na die Tuinroete geneem. Dit is ʼn plek na aan sy hart. Aangesien hy baie vakansies daar by sy ouma en oupa se huis deurgebring het. Ons het in ʼn pragtige gastehuis op Wildernis se strand gebly.
Ben het my die dag geneem om al die mooi plekke te gaan verken wat hy as kind ervaar het. Ons het die hele dag by elke strand wat ons besoek het letterlik honderde dolfyne sien spring en speel in die branders, iets wat Ben nooit van tevore daar gesien het nie.
Daardie aand terwyl ons op ons kamer se dek die sonsondergang bewonder en kyk hoe die dolfyne speel, gaan Ben op een knieg en vra my om sy vrou te wees.
Die Verlowing Tydperk:
Ons het altyd geweet ons sal minstens ʼn jaar verloof wil wees. Ons wou elke fase van ons verhouding voluit beleef. Min wetend sou Kovid-19 ons verlowing met nog ʼn jaar verleng. Oorspronklik sou ons op 20 Maart 2021 trou, maar die 12de Maart 2022 was toe vir ons bestem. Ons is bitter bly ons het eerder besluit om te wag, aangesien ons toe ʼn troue kon hê sonder enige inperkings.
Ons het sommer vinnig besef Trunk Events gaan ons troubeplanner wees. Hulle het hoogs aanbeveel gekom deur al die venues wat ons besoek het en toe ek vir Tracy ontmoet, weet ek sommer dadelik sy is dié persoon wie ons met ons groot dag kan vertrou.
Trou Begroting:
Ons is baie bevoorreg dat my ouers vir ons troue wou betaal. Ek is ʼn enigste kind en dit was my ouers se wens om vir my ʼn sprokies troue te gee. Ons het met Tracy van Trunk Events gesit en ʼn rowwe begroting uitgewerk gebaseer op die visie wat ons vir ons troue gehad het. Bakenhof was klaar as ons venue gekies. Ek het geweet die blomme en groenigheid is vir my die belangrikste aspek, sowel as om ʼn goeie fotograaf te hê. Ons het dit as ʼn beginpunt gebruik en van daar af gewerk. Met die uitstel van die troue moes ons die begroting aanpas om die verhoging in pryse in te reken. Ons wou ons groot dag so intiem moontlik hou en het so om en by 90 gaste onthaal.
My advies aan ander bruide is om soveel moontlik kwotasies te kry. Sowel as om vooraf te besluit watter aspekte van die troue vir julle die belangrikste is en waarop jy bereid is om ʼn bietjie meer te spandeer.
Merkwaardigste Oomblikke:
Maruschka:
Die hele dag was so merkwaardig, dit is moeilik om iets uit te sonder. Ons ‘first look’ was vir my baie spesiaal. Ons fotograaf en videograwe het die oomblik afgeneem toe Ben my sien en daarna het ons ʼn tydjie alleen gehad waar ons die geloftes wat ons vir mekaar geskryf het, net die twee van ons, daar aan mekaar beloof het. My Ma wat my gehelp het om my trourok aan te trek sowel as om saam met my pa die kapel se gang af te stap na Ben toe was ook vir my baie spesiale oomblikke.
Ons liefde vir mekaar het werklik amper tasbaar gevoel op die dag en daar was nie ʼn droë oog in die onthaal saal na ons eerste dans nie. Net om die dag met Ben te kon beleef sal verewig een van my gunsteling herinneringe wees. Dit was ook wonderlik om te sien hoe baie al ons gaste ons troue geniet het. Almal was so gelukkig en ons het mense op die dansvloer gesien wie ons nooit gedink het ons sou nie.
Ben:
Die hele dag was vir my ook ongelooflik. Daar was wel ʼn paar dele wat ek nooit sal vergeet nie en my veraltyd sal herinner aan die beste dag van my lewe. Die oomblik by die ‘first look’ waar ek vir Maruschka uiteindelik in haar rok gesien het was vir my baie spesiaal. Sy het regtig soos ʼn prinses gelyk en my hart laat smelt.
Ek het gedink die feit dat ek haar gesien het voor sy by die kapel ingeloop het sou dit bietjie minder emosioneel maak. Maar toe ek Maruschka daar sien instap saam met haar Pa met haar sluier aan, het ek hard geveg om die trane terug te hou. Dan het ek dit ook baie waardeer toe ek en Maruschka die onthaalsaal vooraf kon sien, net die twee van ons. Ek kon nie glo hoe mooi dit was nie en dit het vir Maruschka so gelukkig gemaak, wat al is wat ek wou hê.
Ons eerste dans sal ek ook nooit vergeet nie. Ek weet ons was albei baie op ons senuwees, maar toe ons eers begin en ek in Maruschka se oë kyk, toe voel dit vir my asof dit net ons twee in die saal is en asof ons enige iets saam kan doen en bereik.
Die Besluitnemingsproses:
Ek het meeste van die besluite geneem, maar altyd Ben se opinie ook gevra. Dekor en trou beplanning is nie regtig in Ben se belangstellings nie en hy wou net twee dinge hê: die kos moet lekker wees en daar moet ʼn Craft bier stasie wees. Tog het hy altyd so baie moeite gedoen en morele ondersteuning gegee as die besluitneming ʼn bietjie moeilik geraak het. Ek het ook my ma, sowel as Tracy en Monique, ons troubeplanner, se hulp ingeroep as ek vasgehaak het met ʼn besluit.
Indien julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry?
Ek was nog altyd ʼn aanhanger van Mooi Troues en het altyd geniet om al die pragtige troues te sien.
Spesiale Tradisies:
Ons het geen spesifieke tradisies gevolg nie maar ons het wel baie klein details gehad wat ons troue eg “ons” gemaak het en wat ons geliefdes betrek het. Ben se pa is ʼn dominee en het natuurlik die twee van ons getrou, wat ongelooflik spesiaal was. My wonderlike skoonma het al ons servette self gemaak van Egiptiese katoen linne en laat borduur met ons trou logo.
Twee van Ben se strooijonkers, wie hy ʼn pad mee stap van laerskool af, was ons “blomme ouens” en het almal vermaak met hul dans roetine en lawwigheid. Ons wou ook graag ons drie honde-kinders deel maak van ons groot dag, maar het geweet dit sou ʼn bietjie oorweldigend wees vir hulle om die troue by te woon.
Ons het besluit om drie kenmerkende skemerkelkies te hê, gebaseer op elk een van hulle persoonlikhede. Hierdie, sowel as soveel ander klein dingetjies het ons dag net ekstra spesiaal gemaak.
Gunsteling Diensverskaffers:
Sjoe, dit is bitter moeilik om ʼn gunsteling diensverskaffer uit te sonder aangesien almal se dienste so uitsonderlik was.
Tracy en Monique van Trunk Events is regtig wonderlik. Monique het my visie vir ons troue só mooi verstaan en dit aan die lewe gebring soos niemand anders kon nie. Ek en Ben, sowel as ons ouers, kon op die dag net ontspan en elke oomblik voluit geniet, want Tracy het seker gemaak alles verloop vlot. Enige probleme wat opgekom het, enige iets wat nodig was waaraan ons nie gedink het nie, Tracy het ʼn oplossing.
Catherine Mac, ons fotograaf, en Marko en Lize, ons videograaf span van KovacevicBosch, het ons so gemaklik voor die kamera laat voel.
Bakenhof se diens was absoluut uitstekend. Annabelle was altyd beskikbaar en so behulpsaam as ons enige vrae of versoeke gehad het. Tot die kelners se dienste was wonderlik. Dit was net in ʼn ander klas as wat ek al ooit beleef het.
Ons gaste praat nog steeds van die ongelooflike lekker kos wat Adele en haar span by Abundance Catering voorberei het.
Grand Dedale was ook uitsonderlik en dis maklik om te sien hoekom hulle al in die verlede as die beste boutique hotel in Afrika toegeken was.
Zahn van Bulb Flowers het regtig haar hart en siel in ons blomme gesit en mens kan haar passie vir blomme kuns duidelik sien in haar werk.
Ons is so gelukkig met ons keuse van gaste geskenke en almal was mal oor die gegeurde kerse van Areff Opulence.
Cindy Bam het my ook so gehelp om goed te voel in my eie vel en het saam met my gewerk om my droom rok te ontwerp wat perfek by my gepas het.
Vermaak:
Ons het musikante van Shout Music Company gehad wat viool en tjello vir die gaste gespeel het soos hulle arriveer, asook in die kapel toe ek en my strooimeisies in loop. Hulle was regtig uitstekend.
Ons platejoggie, Dirk van Baha Entertainment, het na die seremonie oorgeneem. By die drankies voor die tyd het ons ʼn Craft bier stasie sowel as kenmerkende skemerkelkies gehad wat ons gaste kon geniet.
Ons het ook deur die loop van die dag en aand ʼn koffie stasie gehad waar ons gaste van ʼn verskeidenheid van koffies, tees en tot warm sjokolade en ys koffie kon kies. Gedurende die onthaal was daar ʼn foto hoekie van Propel. Dit was groot pret en ons en al ons gaste het dit vreeslik baie geniet. Dit, aangehelp deur Dirk se goeie platejoggie vaardighede, het tot na ʼn geskeurde broek of twee gelei.
Paartjie se styl:
Ons styl was baie klassiek en elegant. Ek wou my trourok simplisties hou, met net fyn detail en Cindy Bam het my visie absoluut aan die lewe gebring. Ben het besluit op ʼn gepaste swart pak van Zedmen om by die klassieke tema te hou.
Venue & Dekor:
Ons het ʼn hele paar venues besoek, maar toe ons by Bakenhof se kapel instap kom daar ʼn gevoel oor my wat ek by geen ander venue beleef het nie. Ek was skoon emosioneel, asof ek van voor af besef het ek gaan met die liefde van my lewe trou. Bakenhof het net al ons boksies af gemerk met hul pragtige, oop, glas venue. Ons wou gehad het die dekor moet tydloos wees. Ek was nog altyd mal oor wit blomme en groenigheid so dit was die middelpunt van ons klassiek-elegante tema. Ons het ook elemente van goud ingebring en ek wou soveel kerse moontlik hê om ʼn romantiese atmosfeer te skep.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Daar is absoluut niks wat ons sou verander aan ons troudag self nie. Behalwe om al ons mense by ons te sou kon hê. Weens kovid-19 reis beperkings kon van ons oorsese gaste nie ons troue bywoon nie. Dit sluit in een van Ben se strooijonkers en een van my strooimeisies. Suid-Korea het ook baie streng inperkings oor daardie tyd gehad. Vriende wat soos familie geword het in ons jare oorsee kon ongelukkig nie daar wees nie.
Klein dingetjies het verkeerd geloop deur die dag en die hele tydlyn het by die venster uit gegaan. Ek het 15 minute laat by die seremonie arriveer en die tydlyn moes van daar af heeltyd aangepas word, maar al ons diensverskaffers, veral ons troubeplanner, het dit só goed hanteer ons het skaars daarvan geweet. Tracy en Monique het al die veranderinge aan die tydlyn so vlot gedoen niemand het eers agter gekom nie.
Die klein “foutjies” soos Ben wat my rok per ongeluk raak getrap het gedurende ons dans en ek wat so in Ben se oë gekyk het gedurende ons seremonie dat ek nie hoor dis my beurt om my trou gelofte te sê nie, en ek my aanstaande-skoonpa moes vra om asseblief weer te herhaal, het die dag net meer “ons” en spesiaal gemaak.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Aan die toekomstige bruide:
Dit is JULLE dag om jul liefde en enigheid te vier. Wees eg aan wie julle is en maak jul trou dag soos julle dit wil hê. Probeer elke oomblik van die trou beplannings proses geniet. Dit kan baie stresvol wees, maar onthou net altyd waaroor alles werklik gaan – julle liefde vir mekaar. Moet ook nie te haastig probeer wees met die beplanning nie en as enige iets verkeerd gaan op die dag, gaan net met wat ook al mag gebeur, niemand gaan eers agterkom nie. Neem ʼn oomblik iewers in die dag om net alles in te neem. Ek en Ben het gedurende die aand ʼn paar minute eenkant gesit en net gekyk hoe ons gaste ons troue geniet. Al jou naaste mense is daar om julle liefde te vier. Dit is ʼn gevoel wat ek nooit sal vergeet nie.
Aan die toekomstige bruidegomme:
Die raad wat ek aan toekomstige bruidegomme sal gee is, wees altyd geduldig en ondersteunend teenoor jou toekomstige bruid. Probeer betrokke wees waar jy kan en maak seker sy weet jy is altyd daar vir haar. Probeer maar jou ‘bachelors’ partytjie hou ten minste twee weke voor die troue sodat jy goed kan herstel en reg is vir die dag. Myne was twee weke voor die tyd en ek en my strooijonkers het net-net herstel voor ons troudag. Moet nie laat enige iets jou aandag aftrek van jou bruid nie en geniet elke oomblik van die dag. Probeer by soveel as moontlik van jou gaste ʼn draai maak en vir hulle te se hoe spesiaal dit vir julle is dat hulle die dag saam met julle vier.
Wittebrood:
Die Maldives was nog altyd op ons droom bestemmings lys. Ons het besluit, wat ʼn beter tyd om in ʼn tropiese paradys te spandeer as op wittebrood. Ons het by die Cinnamon Dhonveli Resort gebly. Die eerste kamer waarin ons gebly het was ʼn Strand suite. Dié suite het op die pragtigste wit strand met die skoonste blou water uitgeloop het.
Ons hoef net ʼn paar tree in die lekker warm water te gegee het om klaar die see lewe te kon sien. Daarna het ons geskuif na ʼn bungalow. Die bungalow het oor die water gehang. Ons kon al die kleurvolle visse vanuit ons kamer sien.
Ons het vanaf ons kamer se dek gesnorkel en geswem. Maar nadat ek ʼn haai gesien het, het dit ʼn bietjie aanmoediging van Ben geneem om my terug in die water te kry. Dit was só ʼn wonderlike ervaring.
Ons het die dae om geswem en gesnorkel. Drankies op die strand- en swembad geniet. Die lekkerste kos geëet en net die tyd by mekaar en die wete dat ons uiteindelik man en vrou is gekoester.
Eerste Dans:
Ons het ons eerste dans op die klavier weergawe van Kina Grannis se Can’t Help Falling In Love gedoen. Die liedjie het net ons liefde vir mekaar so goed beklemtoon. Ons wou ʼn eenvoudige, maar spesiale dans he. Iets wat eg ons is. Ons het vir ʼn paar danslesse gegaan en in die aande was dit vir ons (en ons honde-kinders) groot pret om ons dans saam te oefen.
- Blomme: Bulb Flowers
- Dekor + Koördineerder: Trunk Events
- Musiek: Shout Music Company
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Catherine Mac Photography
- Venue: Bakenhof
- Bruidegom-pak: ZEDMEN
- Fotohokkie: Propel
- Dans Lesse: iDance
- Gaste Geskenke: Areff Opulence
- Grimering + Hare: Estelle Pretorius
- Huwelik kontrak: Riana Lemmer
- Huurdienste: Authentic Planning
- Huweliksbevestiger: Nico Viljoen
- Juweliersware: Lovisa
- Koffie Stasie: Beano Coffee
- Neon Sign Verhuuring: Happinest Hire
- Platejoggie: Baha Entertainment
- Paartjie se verblyf: Grand Dedale Country House
- Strooijonkers bykomstighede: Eurosuit
- Skoene: Kahli Bridal Shoes
- Skryfbehoeftes: City Print
- Spyseniering: Abundance Catering
- Strooimeisie-rokke: Bride&co
- Trourok: Cindy Bam Couture
- Trouring: Wainwright Fine Jewellers
- Troukoek: Crumb Cakes
- Videograaf: KovacevicBosch Films & Photography
- Wittebrood plek: Cinnamon Dhonveli Maldives