Renier & Bianca se Verrassings Verlowing

Ons is omtrent opgewonde om Renier en Bianca se verrassings verlowing fotosessie met julle te deel.  Een iets wat ons altyd baie opgewonde maak by Mooi Troues, is om paartjies se spesiale oomblikke te deel.  Wat ʼn doodgewone paartjie fotosessie sou wees het ontaard in ʼn verrassings verlowing!   Die paartjie het die mooiste verrassings verlowing fotosessie by Battery Park in die V&A Waterfront in Kaapstad gehad.

Trou en Leefstyl Fotograaf, Gustav Klotz Photography het elke liewe oomblik so mooi vasgevang.  Dit was ʼn spontane pragtige oomblik wat vasgevang is in foto’s wat ʼn leeftyd by mens sal bly.  Gustav was die perfekte fotograaf om die paartjie se verrassing verlowing af te neem.  Met sy prettige fotografie styl sal hy enige paartjie op hul gemak laat voel.

Ons hou baie van die paartjie se stedelike gevoel van hul fotosessie.  Die bewolkte lug gee die foto’s ʼn ekstra dramatiese gevoel, omring deur moderne geboue en die sagte oranje sonlig wat deur die gebou kom is prentjie mooi.

Hierdie paartjie het die oulikste storie, wat jy nie moet mis nie.  Rol af om meer te lees oor Renier en Bianca se verrassings verlowing en hul pragtige foto’s te sien.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Hierdie is eintlik maar soort van ʼn sprokies verhaal, of wel my sprokies verhaal.  Ek en Renier van saam in Laerskool en Hoërskool.  In graad 7 het Renier op my verlief geraak, maar ek wou niks weet nie.  Ek het gimnastiek gedoen en op skool was dit slegs skool en na ure was dit net gimnastiek.  Hy het omtrent alles probeer byna 100x en ek bedoel letterlik 100x keer asseblief gestuur op Mxit dat ek sy meisie moet wees.  Maar by die gimnastiek was kêrels nogal ʼn ‘big no no’ ʼn groot skande.

Ek gee toe in …

Lol, so na die 100x asseblief van sy eie Mxit en die ander 200x van al sy vriende se Mxit rekeninge het ek uiteindelik “ja” gesê.  Ons was nogal die “it couple” by die skool.  Ewe op die verhoog geroep saam met straatlig kinders by ons Graad 7 afskeid.  Ons was omtrent ʼn jaar “boyfriend & girlfriend” tot ons begin Graad 8 eerder besluit het om net vriende te wees.  Ons vriendekringe het so bietjie geskei.  So het ons bietjie van mekaar af beweeg tot en met ons matriek jaar.   Albei van ons was in ander verhoudings, so ons was vir eers net goeie vriende.

Die liefde vlam weer op …

Al ons skool vriende het glo “geweet” ons gaan eendag weer hulle “fairytale couple” wees.  En daar gebeur dit toe!  Ons albei gaan hou matriek vakansie in Plettenbergbaai.  Albei is toe nou enkellopend en na daai eerste soen in die kampterrein in Desember 2013 is ons toe nou onafskeidbaar.

Ons het in 2019 saam ingetrek en intussen al 3 vier been babas gekry, 2 katte en ʼn hond.  So na 8 en ʼn half jaar en ʼn hele paar skimpe later het ek regtig gedink dat hierdie bergskilpad van die natuurreservaat my net nooit gaan vra nie.  (So stadig soos ʼn 100 jaar oue skilpad).  Sy grootste ding was altyd dat hy my wil verras wanneer niemand dit verwag nie …

Die groot vraag:


Nou toe nou!  22 Maart 2022 is ek toe nou oppad na ʼn bekendstelling van luukse bruidsrok versameling van La Belle Mariée Bridal Couture in Somerset-Wes saam met vriendinne van my wat trou en graag trourokke wil kyk.  En daar wen ek aan die einde van die aand ʼn gelukkige trekking met ongelooflike pryse wat toe nou ʼn paartjie fotosessie in sluit van Gustav Klotz.  Ek en Renier het nog nooit ʼn fotosessie gedoen nie, so ek was baie opgewonde hieroor.

Maak ‘n datum vas vir die fotosessie …

Ek sê toe nou vir Gustav hy kan my laat weet wanneer hom die beste gaan pas siende dat ons nie vir die fotosessie betaal nie.  Gustav laat weet my toe so twee weke voor die tyd en vra of Sondag 12 Junie ons sal pas?  Ons albei het ons eie besighede wat ons skedules nog vol hou.  Boonop het ons ʼn beplande vakansie bespreek vanaf 20 Junie.  So die 12de Junie kom toe nou so asof dit gestuur is.  Die enigste dag wat ons niks aan het nie.

Gustav laat weet my toe so twee dae voor die tyd ons moet hom in die stad ontmoet 08.00 die oggend.  Ek is toe nou min lus vir die affêre, net omdat ons toe nou elke naweek so besig is.  Ons werk stres toe ook nou druk met die komende vakansie.  Saterdag sê ek toe vir Renier ek wonder of ons nie die fotosessie moet kanseleer nie.  Hy sê toe Ja-Nee hy is ook glad nie lus nie … Maar dit gaan nie regverdig wees teenoor die fotograaf as ons die dag voor die tyd kanseleer nie.  Ek dog toe nou ja hy is reg, ek haat dit as my kliënte op die laaste nippertjie kanseleer.

Die oggend van die fotosessie …

Nou toe ons is toe nou Sondag oggend vroeg vroeg oppad Kaapstad toe.  Ek moet net by las dat Renier toe nog nooit vir Gustav ontmoet het nie.  Hy het absoluut niks met hom gereël nie, hy het nie eers geweet wat sy naam is nie.  Alles het vir my heel normaal gevoel, ek het niks maar niks verwag nie.  Net gedink ons albei is so bietjie senuweeagtig oor die fotosessie aangesien ons nog nooit professioneel afgeneem is nie.

Toe ons daar aankom het Gustav gesê ons moet asseblief nie “offended” wees as hy so bietjie “bossy” voorkom nie, maar die lig is uitsonderlik.  Hy wil so veel moontlik van dit afneem, want die verander elke minuut.  Ons het toe dadelik begin en dit was toe nou heel gemaklik ons het op ʼn bruggie gestaan en die son het so van agter gekom.

Die gekonkel …

Renier sê toe hy wil hê Gustav moet ʼn foto van my alleen neem.  Dit was vir my glad nie vreemd nie.  Altyd vra ek hom om my af te neem as ons êrens in ʼn mooi plek is.  Ek dra bril so ek kan nie eintlik ver sien sonder my bril nie.  Ek het so half ongemaklik kante toe gekyk en probeer “poses” verander.  Dis toe Renier nader aan Gustav tree en vir hom sê wat hy beplan.  Die twee was so “smooth”. 

Gustav het my net aanhou afneem en gesê draai bietjie so sit jou hand daar.  Renier het net gesê: “Jissie Liefie, dit gaan mooi fotos wees!”   Ek raak toe bietjie skaam en sê okay genoeg nou en loop toe nader aan hulle.  100% Kalm en normaal het Gustav ons na ʼn ander deel geneem waar hy ons wou af neem.  Aan my regter kant was daar ʼn water kanaal met ʼn hout pier.  Gustav sê toe ek moet bietjie regs staan en so kyk ek toe nou regs onder na die grond om te kyk waar ek moet trap voordat ek in die water beland lol.

Uiteindelik die groot vraag …

Toe ek regop kom om vir Gustav te vra is dit reg toe is Renier aan my linkerkant op sy knie met ʼn ring boksie.  Ek was só geskok ek het eers net staan en huil en kon nie helfte van die goed uitmaak wat hy sê nie.  Ek kyk toe vir Gustav en vra is hierdie regtig?  Al wat ek kon hoor is Sal jy asseblief my vrou wees” die res het basies gelyk asof hy net sy mond beweeg haha.  Ek het vir hom gekyk en my hande van my gesig af gehaal en kliphard gesê “Ek dog jy vra nooit!”

Dit het vir my gevoel of ons albei op ʼn wolkie klim en opstyg, dit was beslis die beste oomblik van my lewe, beter as wat ek dit ooit kon verbeel.  Renier sê toe nou hy het self die ring gaan koop by Ring Artisan in Stellenbosch heeltemal op sy eie, nadat hy gesien het ek ʼn paar keer van hulle “post like & save”. 

Niemand het geweet hy gaan my vra, nie ʼn siel nie.  Die enigste een wat geweet het was my pa.  Hy sê toe dat hy dit oorweeg het om my op die vakansie te vra, maar toe Gustav vra of ons die fotosessie wil doen toe dink hy dis die perfekte geleentheid.  Hy weet ek is ʼn baie sentimentele mens en fotos is vir my baie belangrik.  Op dié manier kan hy die groot oomblik vasvang.  Hy het ook geweet dat as hy ooit uit sy eie ʼn fotograaf moes reël sou ek weet hy voer iets in die mou, so hierdie het net perfek in sy guns getel.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Bianca:

Hy is altyd positief, maak nie saak wat gebeur hy sal my altyd gerusstel dat alles okay sal wees, hy laat my veilig voel.  Hy het soveel liefde en laat my altyd soos die mooiste vrou in die wêreld voel

Renier:

Haar produktiwiteit motiveer my om elke dag my beste te doen, sy kan die meeste goed gedoen kry in die kortste moontlike tyd.  Haar liefde vir familie, vriende en net mense, sy sal enige iets doen om iemand beter oor hulself te laat voel.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons sweef nog op ons wolkie en het nog nie té ernstig daaroor gepraat, maar seker so om en by ʼn jaar.

Die verloofring:


In die 8 en ʼn half jaar het ons al verby ʼn paar winkels geloop en dan sal ek sê kyk hierdie mooi ring, of as ek ʼn ring op instagram sien sal ek hom wys en hy sal dan sê ja dis mooi, of nee.  Maar op die ou end van die dag het hy alleen en self die ring gekies en dis absoluut perfek!  Dit is alles en meer as waarvan ek kon droom.  Ek kyk elke nou en dan na my hand en doen so “stil skree aaaaaah” dis die mooiste ring wat ek al ooit gesien het.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Dit was veronderstel om net ʼn gratis paartjie fotosessie te wees.  Ek sê nogal die oggend van die foto sessie vir my vriendin ek het niks gekoop nie, ek gaan ou klere dra wat ek het.  Dinge was net so mal by my en dis tog net ʼn verniet fotosessie wat ons gewen het.  Eendag as ons verlowings fotosessies en goed doen sal ek meer moeite insit.🙈

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Absoluut niks, ek het nie ʼn idee gehad wat Gustav in gedagte het nie, ek het maar net gedink ʼn informele stad fotosessie en Gustav het toe die plek voorgestel.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Absoluut niks, ons wil net elke liewe oomblik geniet.  Mens is net eenkeer verloof en ek dink tog mens moet elke fase van mens se lewe ten volle geniet.  Natuurlik weet ek trou reëlings gaan so bietjie stres inhou maar vir nou is ons van voor af verlief.

Visie vir droomtroue:


Ons albei is verseker ons soek nie n baie groot troue nie, 70/80 mense ek hou van plain en simple, ons wil wel graag n tiepe van n twilight effek hê buite tussen bome met baie fairy lights.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: