Marnich & Ansunette se Bosveld Naweek Troue

Ons by Mooi Troues deel met opgewondenheid Marnich en Ansunette se Bosveld naweek troue met ons lesers.  Wat is dan nou lekkerder as ʼn naweek saam met familie en vriende.  Die paartjie het by ʼn pragtige wildsplaas getrou in Limpopo provinsie, omring deur die landskappe en geluide van die bosveld.

Die paartjie hou albei van ʼn minimalistiese styl.  Daarom het hulle besluit om hul trou dekor so minimalisties moontlik te hou.  Skakerings van witte en neutrale sand kleure kan in die tafel dekor gesien word.  ʼn Kombinasie van uitgedroogde- en vars blomme is gebruik vir die lang trou tafels.  Die deurskynende stoele teen die spierwit tafeldoeke gee ʼn meer moderne gevoel aan die trou dekor.

Ansunette se trourok het die koppe laat draai!  Dit is so mooi, minimalisties en elegant. Haal lang sluier met die detail op het só mooi gelyk by haar meer minimalistiese trourok se styl.  Marnich het ʼn swart troupak aangehad wat ʼn klassieke keuse is en altyd in die mode sal wees.

Alles is moontlik met ʼn span fantastiese diensverskaffers.   Besoek Mooi Troues se Trougids vir baie oulike trou diensverskaffers vir jou troue.

Ansunette en Marnich het ʼn heerlike wittebrood geniet in die eksotiese Maldives.  Die Maldives is die perfekte wittebrood bestemming vir paartjies.  Met soveel pragtige natuurskoon, wêreld klas verblyf en falsiteite, en pragtige strande.

Rol af om meer te lees oor Marnich & Ansunette se bosveld naweek troue en hul liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons is Hoërskool liefde – ons het mekaar op skool ontmoet.

Ons verlowing was op Jongensfontein in die Kaap gewees waar Marnich my gevra het om te trou by ons gunsteling mense.  Hy het die mooiste toespraak voorberei en kon op die einde van die dag net “trou met my” uitkry.  Ons het verder lekker piekniek op die strand gehou en na die tyd saam ons familie en vriende ons verlowing gevier.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was ʼn jaar en 4 maande verloof gewees.  Ons het nie ʼn trou beplanner gehad nie en het alles self gereël.  Natuurlik met insette van die mense rondom ons so nou en dan, maar verder was ons troue haarfyn beplan volgens ons persoonlikhede en styl.

Trou Begroting:


Ons het geweet dat trou nie perde koop is nie.  Daarom het ons vir ons ʼn begroting van R250 000 uitgesit.  Ons het nogsteeds elke liewe kwotasie dubbeld deurgegaan om seker te maak alles is mark-verwant en om nie uitgebyt te word nie.  Ons het by ons trou begroting gehou op die ou einde.  Die enigste raad wat ons het: “Hoe minder is meer.”

Merkwaardigste Oomblikke:


Natuurlik was die feit dat ons getrou het die hoogtepunt van ons dag, maar ons albei is verskriklik lief vir ons mense.  Die feit dat al jou gunsteling mense op een dag bymekaar is om ons liefde te vier, was die lekkerste gevoel in die wêreld, want dit is iets wat mens nooit weer sal kan ervaar nie.

Die Besluitnemingsproses:


Ek dink dis nie ʼn geheim om te sê die bruid het meeste van die tyd die finale sê nie, mans dink mos maar anders as dit kom by dekor, rok keuse ens … Ons het nie regtig familie en vriende betrek as dit kom by besluite nie, ons het hulle wel betrek met verskillende idees en sieninge met die afloop van die dag.

Gunsteling Diensverskaffers:


Alhoewel mens nie iemand kan uitsonder nie, sal ek se ons fotograwe en videograwe – as dit nie vir hulle was nie dan sou ons nooit ons mooiste dag kon herleef nie.

Paartjie se styl:


Ons albei is voorstanders van “minimalisme” en saam met dit stylvol en elegant.

Bruid se trourok:

Ek het nog altyd van ʼn “plain” rok gehou, omdat ek voel dis stylvol en pas by my persoonlikheid.  Die strikke was ʼn “ekstra” verassing wat ek bygesit het.

Bruidegom se troupak:

Ons het met die klassieke “swart pak” look gegaan, omdat dit tydloos is.

Vermaak:


Ons het ʼn regstreekse orkes gehad by die canape’s en dit was verskriklik lekker, juis omdat ons ʼn punt daarvan gemaak het om ons tydlyn so te beplan dat ons ʼn bietjie met ons gaste by die canape’s kon kuier en die musiek geniet en ook die gevoel kon beleef.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames:

Alhoewel elke liewe persoon dit vir jou gaan sê, NEEM ELKE OOMBLIK VAN DIE DAG IN, want dit is in ʼn oogwink verby!  Niemand het jou “moodboard” nie, so niemand weet hoe dit moes lyk nie!

Manne:

Verwonder jou aan jou vrou daai dag, want dit is die mooiste wat sy in haar lewe gaan voel!!

Venue & Dekor:


Ons wou ʼn elegante bosveld naweek troue gehad het en dis presies wat hierdie stunning trou venue vir ons gebied het.

Die trou dekor – ons het ʼn minimalistiese benadering gehad – ʼn romantiese gevoel maar tog stylvol en elegant.

Eerste Dans:


Ons het ʼn eerste dans gehad – ons is lief vir dans!  Liedjie keuse – Lacy J Dalton (Stay with me) dit is ʼn ou country liedjie wat ons liefde perfek opsom.  Ons het nie vir enige danslesse gegaan nie, en ook nie ʼn roetine gehad nie – ons het maar die ou gewone sokkie manier dit aangepak.

Wittebrood:


Ons het ons wittebrood gehou in die mooie Maldives.  Dit is iets wat mens nie vir iemand kan beskryf nie – en fotos gaan dit nie regverdig nie.  Die Maldives was definitief ʼn ervaring van ʼn leeftyd en ʼn bestemming waar ons nog altyd wou wees.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]