Jaco & Inge se Bosveld Troue in Limpopo

By Mooi Troues is ons opgewonde om Jaco en Inge se bosveld troue in Limpopo met julle te deel.  Hulle het 140 gaste gehad wat ‘n heel naweek saam hul kon feesvier.

Die paartjie se troudag was prentjie mooi omring deur die pragtige bosveld en neutrale kleurpalet van hul troue.  Hulle seremonie was in die buitelug onder ʼn massiewe boom in die middel van die bosveld, omring deur pragtige landskappe.  Na die seremonie het hul trougaste heerlike Tapas-styl vingerhappies en roosterkoek op die kole geniet onder die bome.  Wat ʼn gesellige manier vir heerlike peuselhappies vir gaste.

Wanneer dit kom by hul trou dekor het die paartjie meeste van die dekor elemente self gedoen.  Die groot bosse groenigheid wat vanuit die dubbel volume trou venue se dak hang is só mooi bo die twee kant tafels met minimale dekor op dié tafels self.  Die middel tafel het pragtige blom ontwerpe op die tafel self met geen groenigheid wat van die dak hang nie.  Dit skep ‘n pragtige balans in die trouvenue en baie kerse op die tafels maak seker vir ʼn romantiese en warm atmosfeer.  Die hout tafels en stoele met die wit, lig grys en tikseltjies brons op die tafels is so mooi.  Alles is moontlik as jy ʼn fantastiese span diensverskaffers het.  Besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele trou diensverskaffers vir julle troue.

Rol af om meer trou inspirasie van Jaco en Inge se bosveld troue in Limpopo, ook hul liefdesreis en wittebrood ervaring te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


Dit het begin toe my lewenslange vriendin en haar verloofde – wat Jaco se neef is – in Suid Afrika kom kuier het die Januarie voor Kovid die wêreld getref het.  Terwyl ons die aand uit was vir my verjaarsdag, het Jaco vir sy neef kom hallo sê.  Dis toe dat hulle twee en twee bymekaar sit en besluit het ons moet mekaar offisieel ontmoet.  Hulle het toe ʼn “double date” gereël vir later daardie week en soos hulle sê … “the rest is history”

Jaco het my ʼn jaar en half later verras met ʼn romantiese naweek in Welgevonden.  Ek het niks verwag nie want dit was in die middel van die jag seisoen so ek het net gedink ek word bederf omdat hulle so baie weg was.  Toe ons daar aankom was die mooiste plekkie langs die rivier reggemaak en het hy met sonsondergang die groot vraag gevra.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was nege maande verloof.  Ons het van die begin af besluit om eerder die troue saam te beplan en nie ʼn trou beplanner te nader nie.  Dit was vir ons belangrik om die tyd saam te geniet en het baie aande om die vuur deurgebring om ons dag vir onsself spesiaal en uniek te maak.

Trou Begroting:


Ons begroting was ongeveer R250 000 wat alles ingesluit het van ʼn gesellige Vrydagaand braai tot ʼn Sondag brunch saam met ons naaste familie.  Op die ou einde het ons 140 gaste gehad wat die naweek saam met ons spandeer het.  Ons het meerderheid van die komponente self gedoen, soos die bloekom blare wat ons gaan pluk het as familie.  Ek en my broer het die trou webtuiste, programme, spyskaarte, sitplek aanwysing, naamkaartjies ens. self ontwerp en dit toe laat druk.

Ek dink wat vir my die belangrikste stukkie advies is, is dat paartjies nie te veel tyd, aandag en geld spandeer op die klein onbenullighede nie.  Dis daar waar die kostes optel en waar die gemoedere bietjie hoog kan loop op die dag.  Ons het al die klein goedjies probeer uitsny sodat ons al ons aandag kon gee aan dit wat werklik saak maak en aan ONS.

Paartjie se styl:


Om op te som is ons styl klassiek, uniek en tydloos.

Jaco:

Ek wou graag ʼn moderne, maar konvensionele troupak gehad het.  Ek het van die begin af op ʼn grys pak besluit en het my pak laat maak.

Inge:

Ek wou graag ʼn trourok gehad het wat my pas en nie ʼn rok waarin ek moet pas nie.  Ek het met ʼn oop kop gegaan, maar het geweet ek soek ʼn rok wat anders is maar ook tydloos en gemaklik.  Hierdie rok het ek tweede aangepas en saam met almal se reaksie het ek geweet dis dié een.  Klassiek, tydloos en ek het soos myself gevoel.

Trouringe:

Jaco se ring het ons in Franschhoek gekoop toe ons daar was vir vriende se troue.  ʼn Eenvoudige donker silwer Titanium ring was wat hy graag wou hê omdat dit lig en gemaklik is.  Ek het wel voor die troue die ring in die geheim laat graveer en hom daarmee verras op die dag.

Na baie skimpe van my kant af het ek uiteindelik ʼn idee gevorm van wat Inge van sal hou.  Ek het ʼn ring laat maak wat uniek maar klassiek is.  Die troupant komplimenteer die ring en was by dieselfde juwelier ontwerp en laat maak.

Merkwaardigste Oomblikke:


Inge:

Die oomblik toe ek Jaco voor die kansel sien staan het.  Ek het altyd oor daardie oomblik gedroom en dit het elke verwagting oortref.  Ons het ook vooraf ʼn besluit gemaak om oomblikke deur die aand te vat net vir ons.  Om van ʼn afstand af almal dop te hou en net tyd te maak vir mekaar en om alles in te neem.  Dit was die oomblikke wat ek sal koester.

Jaco:

Die oomblik toe die deure van die kapel oopgemaak het en ek my bruid vir die eerste keer gesien het.  Die fotos saam met ons naaste vriende (gevolg) was ongelooflik lekker en dan ook die fotos saam met Inge tydens die sonsondergang was onvergeetlik en baie spesiaal.  Nadat ek en Inge ons fotos klaar geneem het, het ons alleen terug gestap na die onthaal, dit was een van die oomblikke wat ek vir altyd sal onthou.  Dit was net ons twee na al die gejaag net so voordat ons in die onthaal ingestap het en die res van die aand saam met al ons mense geniet het.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het saam oor al die opsies en keuses gepraat en saam besluite geneem.  Van die besluite het ons met ons naaste familie gedeel en insette gekry.  Ons altwee is baie na aan ons familie so ons wou hulle deel maak van die beplanning.

Vermaak:


Ons het ʼn ongelooflike platejoggie gehad wat werklik die gehoor kon lees.  Die dansbaan was nie vir een oomblik leeg nie en ons kon tot laat die dag saam vier!

Eerste Dans:


Vir Altyd van Joshua na die Reën was ons eerste dans liedjie.  Ons wou natuurlik eerste hê dat die woorde gepas is.  Later het dit deel van die tema gevorm.  Dit was vir ons belangrik om ons eerste dans so eg as moontlik te hou, so ons het nie vir lesse gegaan nie.  Ons het wel ʼn lekker groot stoep en het ʼn hele paar aande ons danspassies onder die sterre geoefen!

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Al wat wel sleg was is dat twee van ons gaste die dag voor die troue laat weet het dat hulle nie meer gaan opdaag nie.  Ek dink ook dis iets wat almal net in gedagte kan hou.  Ons het die tafel plasings ens gehou soos wat die oorspronklik was en nie verder onsself daaroor bekommer nie.  Ek is seker daar was klein details wat verkeerd geloop het, maar dit was vir ons baie belangrik om eerder elke oomblik van die dag werklik in te neem en met alles in ons te geniet.  Alles en almal wat ons nodig gehad het was daar so om te bekommer oor die klein “goedjies” was nie vir ons prioriteit nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Inge:

“Don’t sweat the small stuff” – Moet nie vergeet waaroor die dag eintlik gaan nie … JULLE.  ʼn Mens kan so vinnig vasgevang word met troue reël en om alles so perfek te maak en iewers verloor jy die rede vir alles.  Dink aan wat mense nie gaan mis nie en vergeet daarvan.  Spandeer tyd en geld aan dit wat almal gaan onthou en geniet.

Jaco:

Spandeer die tyd saam met mekaar en moet nie probeer om by almal uit te kom nie.  Dit is baie oorweldigend en jy gaan die hele aand spandeer om almal anders gelukkig te maak.  Spandeer die tyd saam met jou vrou en kuier lekker saam met die wat saam met jou kom kuier.

Venue & Dekor:


Bordeaux Game Farm was die eerste en enigste venue waarna ons gaan kyk het.  Die oomblik toe ons instap het ons dadelik geweet dis waar ons wil trou.  Die onthaal saal is omring met wit bosveld grasse, wild wat spontaan verby stap en die son wat agter jou sak.  Bordeaux se spyseniering laat elke smaakknoppie dans.  Daar is soveel aandag gegee aan dit wat saak maak en hulle het uit hulle pad gegaan om die ervaring so spesiaal as moontlik vir ons te maak.  Hulle het ʼn groot lapa weggesteek in die bos waar ons die Vrydag aand saam met almal kon kuier.  Dit was net alles wat ons wou hê en soveel meer … op een plek!

Die onthaal saal bied ʼn “blank canvas” om jou droom te bewaarheid.  Ons is maar simplisties so ons wou net blare en ʼn verskeidenheid wit blomme gebruik met baie kerse.  Ons albei hou van natuurlike kleure, so dit is waar meeste van die besluite begin het, en die keuse om wit, grys en ou goud te gebruik.

Gunsteling Diensverskaffers:


Omdat ons amper al die dekor en elemente self gedoen het, moet ek Bordeaux Game Farm uitsonder.  Hulle het ons bygestaan en gehelp waar hulle kon.  Die spyseniering en die diens was iets besonders en dink nie ons dag sou wees wat dit was sonder hulle nie.

Dan ook my vriendin Anita Bekker wat al ons blomme gedoen het.  Sy het uit haar pad gegaan, twee aande se slaap prys gegee, om ons droom ʼn realiteit te maak.

Wittebrood:


Omdat daar wêreldwyd nog baie Kovid regulasies was, was opsies beperk. Ek het wel geweet dat ek graag vir Inge Europa toe wou vat vir ons wittebrood omdat ons altwee baie van reis hou.  Ons eerste bestemming het nie uitwerk as gevolg van die regulasies nie en ek het toe eerder besluit om haar te verras en toe op Croatia besluit.  Ons het van die Dalmatiese Eilande getoer en het meeste van ons verblyf self aanlyn bespreek.  Dit was net voor hulle hoë seisoen so met die min toeriste en alhoewel dit klein bietjie kouer was in die aande het die baie goed uitgewerk.

Die aand voordat ons terug gekom het, het ons ʼn laaste keer lekker gaan eet.  Ons was op die stadium in Dubrovnik.  Jaco het gelê en boek lees en ek het net aan die slaap geraak.  Die volgende oomblik bewe alles. Ek skrik wakker en ons altwee kyk met baie groot oë na mekaar.  Die stort deure klap, die modem val van die tv af en dis toe ons besef dis ʼn aardbewing.  Baie paniekerig lê en wag ons toe vir dit om op ʼn einde te kom.  Dit was definitief ʼn opwindende einde aan ons besonderse wittebrood!

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]