Henry & Marné se Stylvolle Stad Verlowing Fotosessie

Ons is baie opgewonde om Henry en Marné se stylvolle stad verlowing fotosessie in Pretoria Middestad met julle te deel.   As jy inspirasie soek vir jou eie verlowing fotosessie, wel dan is jy op die regte plek.  Jy sal stomgeslaan wees oor hoe mooi hierdie paartjie se verlowing fotosessie is.

ʼn Verlowing fotosessie is nie iets waaroor paartjies moet stres nie, dit is die perfekte periode vir julle om julself te geniet.  As jy skaam is vir die kamera, dan is dit nou julle kans om gemaklik te raak voor die kamera.  Bespreek ʼn fotosessie by julle trou fotograaf, of fotograaf wat julle dink julle graag wil hê moet jul troudag afneem.  Mooi Troues se Trougids is vol fantastiese trou fotograwe waarvan julle kan kies.

Marné en Henry se verlowing fotosessie in Pretoria se Middestad is prentjie mooi.  Hulle wit en swart uitrustings staan só mooi uit teen die pragtige argitektuur en sonlig in die agtergrond.  Ons kan sien hulle het elke oomblik van hulle verlowing fotosessie gate uit geniet.  Die paartjie hou van foto’s vir mekaar stuur en daarom wou hulle graag ʼn verlowing fotosessie hê.  Hulle wou ook foto’s hê vir hul trou uitnodigings.  Dit is een van die talle redes hoekom paartjies ʼn verlowing fotosessie wil hê.

Rol af om meer te lees oor Henry & Marné se stylvolle stad verlowing fotosessie en hul liefdesreis.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Henry het alle moed bymekaar geskraap om vir my ʼn boodskap oor Instagram te stuur, want sulke dinge is glad nie in sy geaardheid nie.  So 4 maande daarna het ons uiteindelik tyd gekry om vir ons eerste koffie te gaan.  Van die eerste oomblik af het niks gevoel soos moeite nie, ons het mekaar se heel beste maatjies geword.  Dit help natuurlik as ʼn mens so baie in gemeen het en dieselfde avonture najaag om onafskeidbaar te wees.  Ons was vir 2 jaar en 20 dae in ʼn verhouding voordat Henry die groot vraag gevra het.

Die groot vraag:


By my gunsteling staproete, reg langs ʼn waterval het Henry my gevra om met hom te trou.  Alhoewel Henry al voorheen gevra het van watter ringe ek hou, was ons verlowingsdag ʼn groot verrassing.  Dit was net ek, Henry en sy sussie, wat gaan stap het, altans so het gedink.  Direk nadat Henry die groot vraag gevra het, het my ma, sussie en haar kêrel, asook die fotograaf tussen die rotse uitgekom.  Na al die gelukwense bo-op die berg het ons die res van die feesvieringe saam met ons gesinslede, oumas en oupas voortgesit op ons plaas, nie ver van die staproete af nie.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Henry se sagte hart, warmte, omgee, vrede, geduld, positiwiteit, lus vir die lewe en onuitputbare liefde laat my hart elke dag vinniger klop en sorg vir ʼn konstante glimlag op my gesig.  Ek moet ook noem dat Henry ʼn perfeksionis en raakvatter is in alles wat hy aanpak.  Ek kan nie help om hom te bewonder en aan te moedig op sy en binnekort ons lewenspad nie.

Marné is altyd lus vir ʼn nuwe avontuur.  Sy het die vermoë om altyd die beste van haarself te gee in elke situasie en dit is lekker om deel te wees en te sien hoe sy elke dag saam die Here die beste gee in haar beroep ook om ander te help en gesond te maak.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons gaan vir 8 maande en 22 dae verloof wees voordat ons trou.  As ons kon sou ons binne 3 maande getroud gewees het, maar ons albei is familie mense, en wil graag dit vir ons naaste mense ook moontlik maak wat van heinde en verre af kom om ook saam met ons op ons troudag fees te vier.

Die verloofring:


Ek het vir Henry so tydjie voordat ons verloof geraak het begin wys van watse tipe ringe ek hou en hy het toe later meer detail oor die tipe ring begin vra, soos “emerald cut of radiant cut”, goud of silwer, ens.  Ek is mal oor ʼn “radiant cut” ring met ʼn gewone eenvoudige goue bandjie.  Henry het beslis die spyker op die kop geslaan toe hy die perfekte ring aan my vinger sit en boonop ook ʼn bietjie sentimentele waarde daaraan heg.  Hy het van sy 97-jarige ouma, Hettie Schwim, se goud gebruik om die ring te laat maak.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag die tydperk voor ons troue laat vasvang op ʼn unieke manier.  Ek en Henry is mal daaroor om elke nou en dan foto’s van ons saam vir mekaar te stuur, dit herinner ons aan al ons spesiale tye saam en maak ons opgewonde vir alles wat ons saam nog gaan aanpak.  Glo my, ons het al menigmaal vir mekaar van ons einste verlowings foto’s aangestuur met ʼn spesiale boodskap daarby.  Die doel was ook om die verlowings foto’s vir ons trou uitnodiging te gebruik.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons het van die begin af geweet ons tema vir ons troue moet elegant en tydloos wees.  Sodoende wou  ons die tema ook in ons verlowings foto’s deurtrek.  Ons het op Pinterest rond gespeel om ʼn paar idees te kry, en ons soek teks was “Vogue”.  Ons wou spesifiek die argitektuur van geboue in ons foto’s vasvang en kon nie aan ʼn beter plek, binne ry afstand, dink as die Kerkplein in Pretoria nie.  Henry was wel eers skepties oor die plek, hy het net vir my gesê, “Ons foto’s moet asseblief net nie soos die tipiese dinee foto’s lyk nie!”

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:


Ons verwagtinge is om mekaar beter te leerken in nuwe situasies en leer hoe dit is om as ʼn span saam te werk.  Soos meeste mense weet val ʼn troue nie vanself in plek nie en verg dit beplanning en kommunikasie om almal se belange op die hart te dra deur alle besluite wat geneem moet word.

Ons vrese is die afstand wat ons deur die weke van mekaar skei.  ʼn Week kan lank raak sonder jou beste maatjie.  So kortliks, ons grootste vrees is te veel verlange na mekaar, indien dit as ʼn vrees geklassifiseer kan word.

Visie vir droomtroue:


Ons droom van ʼn troue wat ons mees spesiaalste dag op die mooiste manier kan vier.  Wanneer ons aan ons troudag dink, sien ons ons naaste mense langs ons, ons sien glimlagte, liefde, omgee, vriendelikheid, geduld en Die Hemelse Vader se teenwoordigheid.  Ons gunsteling Bybelversie is 1 Korintiërs 13:4.  Wat ons dus van ons droomtroue sien behels alles wat hierdie vers van die liefde spreek.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: