Dehan & Marilize se troue in die Vrystaat

Ons deel Dehan en Marilize se troue in die Vrystaat met julle op Mooi Troues.  Die paartjie het by die pragtige trou venue The Nutcracker Country Venue op ʼn plaas net buitekant Parys getrou, omring deur prentjie mooi natuurtonele, familie en vriende.   Hulle het nie net ʼn eendag troue gehad nie, maar sommer ʼn lekker naweek troue saam hul naastes.  Die paartjie se trougaste kon van die Donderdag saam hul begin feesvier en daar was verblyf beskikbaar op die plaas.  Die paartjie het net lof vir The Nutcracker Country Venue en personeel.

Marilize het die mooiste trourok aangehad. Die oop rug en die simplistiese, maar nogsteeds stylvolle voorkoms van haar trourok is so mooi!  Dehan het ʼn deftige donker troupak aangehad en self baie dapper gelyk.  Marilize se strooimeisies het ook almal donker rokke aangehad wat perfek by hul troue se gevoel ingepas het.

Hulle fotosessie omring deur die pragtige herfskleurige bome is prentjie mooi.  Dit gee ʼn tipe van ʼn sprokies gevoel.  Vir hul trou dekor het hulle dit eenvoudig gehou, met skakerings van Wit en Groenigheid.  Dit het so mooi uitgestaan op rou hout tafels en hout stoele van die trou venue.

Mooi Troues se Trougids het fantastiese trou diensverskaffers om van te kies.  So as julle ʼn troue beplan, besoek gerus ons Trougids.

Marilize en Dehan het besluit op Zanzibar as hul wittebrood bestemming. ʼn Populêre opsie vir Suid-Afrikaanse paartjies om op wittebrood te gaan.  Daar is die mooiste wittebrood bestemmings en reservate wat jy kan besoek.  ʼn Pragtige plek vir ʼn romantiese wittebrood wegbreek.

Rol af om meer te lees van Dehan & Marilize se troue in die Vrystaat.

Paartjie se Liefdesreis:


In ons eerstejaar op universiteit het ons mekaar ontmoet.

Ons het gegaan vir ʼn privaat Wine Blending by Benguela Cove.  Ons het elkeen twee bottels rooiwyn gemeng en toe ons klaar was het hulle ons bottels geneem om te gaan “label”.  Toe hulle dit terugbring het hulle dit vir Dehan gegee en op een van die bottels het daar gestaan “Sal jy met my trou?”.  Op die tweede een “She said YES”.  Na dit het hulle vir ons ʼn tafel opgemaak met roosblare en sjampanje met ʼn lieflike middagete.

Dehan het vir ons ʼn huis bespreek vir die aand in de Kelders, Gansbaai waar ons op die see uitkyk.  Dit was ʼn ongelooflike dag.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir twee jaar verloof.  Ons het die meerderheid van die troue self beplan maar het ook hulp gekry van die trouvenue af.

Trou Begroting:


Tussen R100 000 en R150 000.  Daar was 35 mense by die troue, so dit was nie te moeilik om by die begroting te hou nie.  Ons was ook gelukkig om afslag te kry omdat dit in die buite seisoen was. Ons was baie spaarsamig oor die algemeen en my advies is om geld te spandeer op die belangrike goed soos bv. die fotograaf en venue.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Aanvanklik het dit vreeslik gereën en op ʼn kol en ook gehael, maar dit het gestop net voor die seremonie.  So behalwe daarvoor was alles perfek.

Merkwaardigste Oomblikke:


Marilize:

Dis moeilik om te kies maar myne was toe ons ons persoonlike geloftes vir mekaar gee.  Dit was werklik merkwaardig.

Dehan:

Die eerste keer wat ek vir Marilize gesien het toe die deure van die kapel oopmaak en haar mooi woorde oor ons toekoms.

Paartjie se styl:


Ons albei was redelik oopkop oor die styl, maar dit was vir ons belangrik om ʼn tydlose voorkoms te skep.  Ek het ʼn paar verskillende rokke aangepas, maar het op die ou end ʼn trou rok gekies wat ek nog altyd ingedagte gehad het.  Dehan se keuses het gele tussen ʼn vlootblou en swart pak, maar het toe die swart pak gekies net omdat dit klassiek is.

My verloofring was spesiaal ontwerp deur Cape Diamonds volgens Dehan se instruksies.  Ek was verras met ʼn trouring wat daarby pas op ons troudag.  Dehan is gelukkig nie kieskeurig nie, maar wou nie iets te groot en uitspattig gehad het nie.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het die meeste besluite geneem as dit kom by die dekor, maar Dehan het baie gehelp met die beplanning van die naweek.  Ons ouers het ook baie gehelp.  Oor die algemeen was albei families redelik betrokke by die trou reëlings, maar ek en Dehan het die finale besluite geneem.

Vermaak:


Ons het verwelkomingsdrankies gehad in die lapa area voor die seremonie en het die venue se interne platejoggie gebruik.

Spesiale Tradisies:


Ons het geen tradisies gehad nie behalwe vir die Pa-dogter en Moeder-seun dans.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruide:

Moet nie teveel stres tydens die beplanning nie.  Op die ou end van die dag werk alles perfek uit.  Ek was een van daardie bruide wat aangedring het om hoëhakskoene aan te trek en het toe later die aand plat skoene gaan aantrek en toe was my rok bietjie te lank, so ons moes ʼn plan maak rondom dit.  Dink dis belangrik om te voorsien daarvoor.

Bruidegomme:

Dis ʼn baie spesiale dag, binne perke maar gaan volheid.

Venue & Dekor:


My skoonsuster het my voorgestel aan ons trou venue.  Ons was opsoek na ʼn plek wat die meerderheid van ons gaste kon akkommodeer, omdat ons ʼn hele trou naweek gehad het vanaf die Donderdag tot die Sondag.  Ons venue was ook baie tegemoetkomend met ons reëlings en het net reg gevoel.  Ek was nog altyd mal oor bloekom en met die groenigheid.  Ons was gelukkig om goeie pryse te kry omdat dit in seisoen was.  Ek het besluit om wit blomme by te sit om dit bietjie meer formeel te maak en swart bessies om by die kleurskema te pas.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dis baie moeilike om een te kies, so ek sal ʼn paar noem.

Ons fotograaf het dit vir ons so maklik gemaak.  Sy het ons rigting gegee en advies met alles.  Dit was koud en reënerig daardié dag, maar dit het haar nie gestop nie.

Die venue was ook fantasties.  Hulle het so baie gehelp met die klein goedjies wat ek nooit aan sou dink nie.  Hulle het ook goeie raad gegee oor goed wat ons onseker oor was. soos bv. waar die piekniek te hou voor die onthaal en rakende dekor.  Die sjef was ongelooflike goed en sy kos vir my onbeskryflik.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was op Keith Urban se liedjie “Somebody like you“.  Dis nog al die jare my en Dehan se gunsteling liedjie.  Ons het nie gegaan vir danslesse nie en het net ʼn gewone lekker sokkie dans gehad.

Wittebrood:


Ons het in Zanzibar gaan wittebrood hou by Blue Bay Beach Resort.  Dit was ʼn alles-insluitend pakket wat aanvanklik baie duur gelyk het, maar was verseker die geld werd.  Dit was ʼn baie rustige wittebrood, ons het gaan snorkel en kajak roeie, maar verder net gerus.  Dis ʼn pragtige plek en die diens was fantasties.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]