Ryan & Simonè se Verlowing Fotosessie by die Sirkus

Met opgewondenheid deel ons Ryan en Simonè se verlowing fotosessie by die Sirkus met jou op Mooi Troues.  Die paartjie het ʼn baie prettige verlowing fotosessie gehad by hul plaaslike sirkus.  ʼn Verlowing fotosessie moet pret wees en paartjies moet dit geniet.  So help die die paartjie om meer gemaklik te raak voor die kamera.  Die paartjie wou graag mooi foto’s hê vir hul trou uitnodigings, daarom het hul die verlowing fotosessie gedoen.

Daar is talle redes hoekom Mooi Troues altyd motiveer dat paartjies ʼn verlowing fotosessie doen.  Een van dit is om foto’s te hê vir gebruik op die paartjies se trou webtuiste of -uitnodigings.  Daar is ook ander redes soos vir herinneringe vir die toekoms.  Een van die mees belangrikste is dat paartjies hul trou fotograaf beter leer ken voor hul troue en ook meer gemaklik raak voor die kamera.

Simonè en Ryan se verlowing fotosessie was baie pret met spookasem en al!  Wat is ʼn sirkus sonder spookasem?  ʼn Pragtige verlowing fotosessie is nie moontlik sonder ʼn fantastiese fotograaf nie.  Besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele trou fotograwe regoor Suid-Afrika, want nie net jou verlowing fotosessie sal mooi lyk nie, maar ook jou troudag.   Rol af om meer te lees oor Ryan en Simonè se Verlowing Fotosessie by die Sirkus en hul liefdesreis.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het op universiteit ontmoet by ʼn intervarsity kuier in Bloemfontein (ek was in PUKKE, maar die jaar was die intervarsity in Bloem).  Maar ons was net vriende – het mekaar basies nooit weer gesien nie en het net elke 6 maande ʼn vinnige opvang “chat” gehad op Whatsapp.

Hy het Somerset-Wes toe getrek vir werk en ek het Italië toe getrek vir werk.  Ons het in kontak gebly, maar dit was maar min.

Toe ek terug kom Suid Afrika toe, het ek ʼn werk in Franschhoek gekry en nie lank na dit nie het ek vir my ʼn tuiste gekry in Somerset-Wes.  Dis eintlik baie snaaks, want een aand na werk het ek die mooiste son ondergang gehad en het vir hom ʼn foto daarvan gestuur (baie random), maar toe besef ons, ons uitsig lyk dieselfde en dat ons in dieselfde Estate bly.

Van daar af het ons oor-en-weer gekuier wanneer ons tyd gekry het in ons “workaholic” lewens en toe, ʼn paar jaar later, toe skiet daar ʼn paar vonke.  Ons was vriende van 2014 – 2018 en was in ʼn verhouding van 2018 – 2021. Ons was verloof vir ʼn jaar, 2021 – 2022 En ons is getroud op 9 April 2022.

Die groot vraag:


Die verlowing was definitief ʼn groot verrassing.

My sussie het verloof geraak in 2020 en getrou in 2021.  Ons het besluit om te wag tot na hulle groot dag voor ons weer sal dink aan verlowing, want ons wou nie weg vat van hulle geluk nie.  Maar Ryan het geweet ek wou so graag ietsie spesiaals hê, so hy’t besluit om my te vra voor my sussie se troue.  ʼn Tyd wat ek dit glad nie sou verwag nie.  Dit was werklik besonders!

Hy het daai perfekte verlowing gereël met roos blare en kerse.  My vriendin het my weg gevat vir ʼn “girls weekend”.  Min wetende dat toe ons opdaag by ons huisie en ek moes ingaan terwyl sy gou haar “ma bel om te se ons is veilig” dat hy aan die ander kant van die deur staan met die mooiste musiek en son ondergang vir die perfekte verlowing oomblik.  Ek weet mens dink dit kan ʼn cliché wees, maar sjoe, as dit met jou gebeur is al die emosies hoog en vol liefde en geluk.

Hy het vir ons kos reg gehad, champagne en ʼn hele naweek van ons twee om dit ten volle te geniet en in te neem.  Ons het definitief die warm borrelbad buite ten volle geniet en ʼn heerlike verlowings naweek gehad.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Simonè:

Hy is ferm en weet wat hy wil hê en waarheen hy gaan in die lewe.  Ryan hou my stabiel en laat my logies dink oor ʼn saak voor my emosies dalk met my weghardloop.  Hy is ongelooflik ondersteunend in alles wat ek doen en as dit kom by ander mense naby aan hom, sal hy met liefde help waar hy kan.

Ryan:

Sy gee meer om oor ander mense en hulle geluk en gemak voor haar eie.  Dit kan soms sleg wees vir haar, want mense trap maklik oor haar maar dit is definitief mooi om te sien hoe baie omgee een persoon kan hê vir ander.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons 11 maande verloof, toe trou ons.

Die verloofring:


Ons het gaan kyk na ringe en ek het hom fotos gewys van ringe wat ek baie van hou.  Al wat vir my belangrik was, was dat ek wit goud wou gehad het met een groot diamant.  Ryan het die res beplan en besluit om twee kleiner diamante aan elke kant van die groot diamant te plaas.  Dit was alles en meer wat ek wou gehad het. 🙂

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag fotos hê vir ons trou uitnodigings.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou iets PRET doen.  Die fotograaf was fantasties, hulle het die Sirkus voorgestel wat daai week in die dorp was.  Dis iets anders en wys bietjie meer van die “relaxed” en “go with the flow” paartjie wat ons is.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Daar was geen vrese nie.  Ek is ʼn trou koördineerder, so ek het al die beplanning maklik gedoen gekry.

Ryan is ʼn Quantity Surveyor so die finansies gedeelte was maklik vir hom.  Ons het ʼn goeie span gemaak.

Een verwagting wat wel ʼn bietjie uitdagend was, was die feit dat ons ʼn stand troue wou hê en dit was ʼn baie spesifieke strand.  Die strand het nie ʼn trou venue nie (net ʼn restaurant), so ons moes deur ʼn paar hoepels spring om dit te kry. (dit het baie gehelp dat ek die trou koördineerder was).  Ons was baie bevoorreg.

Visie vir droomtroue:


Strand troue met baie kerse en liggies en mense wat saam ons die aand lekker geniet.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

  • Fotograaf:
  • Fotosessie Venue: Somerset-West Circus
  • Verloofring: Prins & Prins