Reinhardt & Marguerite se Paartjie Fotosessie

Ons deel met opgewondenheid Reinhardt en Marguerite se paartjie fotosessie met jou.  Hierdie is ʼn voorbeeld van ʼn pret fotosessie vir paartjies wat idees soek vir hul eie fotosessie.  Of jy getroud is, net ʼn paartjie is, verloof is, dit maak nie saak nie, almal moet op een of ander tyd ʼn fotosessie laat doen.

Marguerite en Reinhardt volg hul fotograaf al vir ʼn geruime tyd en wou graag ʼn fotosessie by haar bespreek.  Jy kan sien die paartjie het hul fotosessie omtrent geniet!  Hulle het ʼn wegbreek plek gespreek op ʼn plaas in Pretoria en dit deel gemaak van hul fotosessie.  Wat ʼn oulike idee vir paartjies om te doen.

Marguerite se wynrooi rok en Reinhardt se donker pak het die perfekte kontras geskep met die agtergrond van die fotosessie.  Daar was vonkelwyn en baie gelag tydens die fotosessie.  Om die fotosessie te eindig, het die paartjie met hulle klere in die plaasdam gespring!  Wat ʼn wonderlike en pret manier om ʼn fotosessie te eindig.

Mooi Troues se Trougids is vol fantastiese fotograwe.  Bespreek ʼn fotograaf en geniet jou volgende fotosessie soos die paartjie.  Rol af om meer te lees oor Reinhardt en Marguerite se fotosessie en hul liefdes storie.

Die eerste ontmoeting:


ʼn Vakansie romanse het 12 jaar terug op Plettenbergbaai ontaard.  Kompleet met laataande wegneem koffies op die strand en vroeg oggend stappies met dolfyne op die horison.  So is ek terug Tygerberg toe om my disseksies vroeg te begin.  Min wetend dat hy ook kort daarna sy pad vroeg terug maak na Stellenbosch.  Na jool en ʼn ontmoeting met al ons gemeenskaplike vriende, sokkies en laataande om ʼn kitaar om die vuur was dit duidelik dat ons gek is oor mekaar.

Ons was uit vir sushi, en hy het my so hard laat lag my stukkie sashimi het in die soja sous en regoor my rok geval.  Ek wou in die grond krimp van skaamheid, hoe kan mens so lomp wees?  Nietemin, hy’t dadelik my ongemak gesien en opgestaan om vir my ʼn drukkie te gee.  Kort daarna het ons begin uitgaan en avonture versamel soos die jare groei.

Gunsteling eienskappe van mekaar:


Ek is mal oor Reinhardt se vermoë om mense te laat lag in moeilike situasies, hy sin vir humor kan altyd enige probleem in perspektief sit.  Hy het oneindigend deursettingsvermoë, en om ʼn pa te wees is iets wat so natuurlik gekom het vir hom.

Reinhardt hou weer van Marguerite se manier om met mense te werk, en om te weet wanneer om vir hulp te vra.  Hy hou ook daarvan hoe sy dit altyd regkry om mense naby aan haar spesiaal te laat voel.

Drome as paartjie:


Ek het ʼn Prof wat eenkeer vir my gesê het: “Marguerite, maak seker dat julle as paartjie net nooit ophou saam droom nie.”  Die woorde het ons ter harte geneem en ons albei maak gereeld tyd om weer oor ons drome te gesels. Oor die 12 jaar het dit al aansienlik verander, Reinhardt wens eintlik ons het dit neergeskryf.

Met die nuutste toevoeging van ʼn baba dogtertjie het ons die gesprek gereeld, en maak seker dat ons ruimte los vir haar ook.

Tans wil ek bitter graag goed doen in my finale algemene chirurgie eksamens binnekort.  En baie van ons vrye tyd draai tans rondom my swottings.  Ek is mal daaroor om siek pasiënte te opereer en só ʼn verskil in hul lewens te kan maak.

Reinhardt en sy ingenieurs-brein droom oor hernubare energie toeganklik te maak vir die hele Suid Afrika.

Saam droom ons oor om ʼn gemeenskap te skep saam met wie ons kan groei en ons dogtertjie sien grootword.  Dit sluit albei ons families in, sonder hulle sou bitter min van hierdie drome ʼn werklikheid kan word.

Dinge wat die paartjie hou van om saam te doen:


Ons is albei reis miere, en tussen ons beroepe is ons gelukkig om al die geleenthede te gehad het om nuwe eksotiese plekke te ontdek.  Dikwels kombineer ons werk met speel, dan gun dit ons die geleentheid om nuwe kunsgalerye, museums, wingerde en staproetes te ontdek.

Ons gunsteling was ʼn gallery Borghese in die noorde van Rome.  Die prominente beeldhouer Bernini van die 1600’s het ʼn marmerbeeld genaamd Apollo en Daphne gehad.  Dis ʼn tipiese Griekse romanse, en ons was albei gek oor die naam en die metamorfose.  10 Jaar later het ons besluit om ons dogtertjie die naam te gee. Dis ʼn stukkie hemel wat ons haar graag na toe wil neem as sy oud genoeg is.

Rede vir die fotosessie:


Ons volg al lank vir Nicola Marx op sosiale media, en is mal oor haar vermoë om lig vas te vang.  Sy fokus ook op liefdes stories, en toe die geleentheid opkom om saam met haar die sonsondergang te gaan vang, het ons dit met albei hande aangegryp.  Ons wou iets spesiaals doen vir hierdie huwelik herdenking, en het die met ʼn aand by Rosemary Hill gekombineer.

Inspirasie agter die fotosessie:


Hierdie was alles ons fotograaf se idee!  Sy en haar man het laggend genoem hulle hoop ons het handdoeke saamgebring.  Min wetend ons sou in die middel van die Pretoria winter in ʼn dam swem met ʼn aandrok.  Dit was só pret hoe sy ons geïnspireer het, haar natuur is so sprankelend ons kon nie anders as om in te plons nie.  Toe hulle die fotos aanstuur het ons geweet sy’t ʼn visie gehad, ons kan nie wag om dit te raam nie.

Visie vir ʼn romantiese afspraak:


Ons albei prioritiseer kwaliteit tyd, en gedurende die besige weke is selfs ʼn vinnige koffie afspraak by ons gunsteling koffiewinkel genoeg.  Op naweke waar ons albei af is, boek ons gereeld ʼn aand weg by ʼn unieke akkommodasie.  Ons kies altyd ʼn goeie verouderde bottel wyn om saam te neem (party van hulle kom nog van ons studentejare op Stellenbosch af).

Die aand wat ons gekombineer het met ʼn fotosessie was ʼn avontuur en ons sal dit beslis meer gereeld doen.  Dis lekker om mooi aan te trek, saam te lag en die spesiale oomblikke so goed saam te kan vang op ʼn foto.  Ek raai aan hou dit beslis ingedagte vir ʼn volgende geleentheid.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]