Pieter & Yana se Gesellige Troue

Mooi Troues deel Pieter en Yana se gesellige troue in Pretoria met julle.  Die paartjie het gegaan vir ʼn klassieke, trou pret trou tema vir hul troudag.

Yana het so mooi gelyk in haar trourok wat haar skoonma gemaak het.  Haar trourok het ʼn effense pienk skynsel tot dit en die detail op haar trourok is iets besonders mooi.  Blomme patroon was haar keuse vir haar trou skoene.  Sy het ook ʼn paar tekkies gehad in die selfde patroon, vir die dans, wat ʼn fantastiese idee.  Pieter het net so deftig gelyk in sy grys troupak en bruin skoene.

Hulle buitelug seremonie was so mooi gewees, omring deur bome en bosse.  Die trou venue self het ʼn plaas skuur gevoel.  Die rou hout tafels pas mooi in by die rou hout balke van die trou venue se dak.  Dit het definitief ʼn rustieke gevoel tot dit gehad en hul trou dekor het hulle gehou by ʼn eenvoudige styl.

Gaste het ʼn heerlike troue geniet met ʼn kaggelvuur wat die trou venue opgewarm het en gesellig gemaak het.  Dit was ʼn heerlike makietie saam met familie en vriende.

Opsoek na diensverskaffers vir jou troudag?  Besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele trou diensverskaffers regoor Suid-Afrika.  Rol af om meer te lees oor Pieter en Yana se liefdesreis en ook hulle gesellige troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Pieter het op ʼn stranddiens ontmoet by T.O strand in April van 2015.  Dit is ʼn uitreik wat Lux Mundi kerk in Pretoria jaarliks gedoen het waar ʼn span vir so 10 dae na die strand toe gaan en die vakansiegangers vermaak.

Pieter en sy gesin wat van Durban af kom het vir jare al na die strand toe gegaan as vakansiegangers.  In 2015 het Pieter toe as ʼn spanlid gegaan.  Ek was ook op die span in 2015 en toe ontmoet ons mekaar so.  Elke dag was die spanlede met ʼn ander “random” spanlid gepaar om aan die einde van die dag saam te bid en te gesels en mekaar bietjie te leer ken. In die oggende was die “random” spanlid se naam met wie jy gepaar was op jou “lanyard” gesit, sodat almal weet met wie hulle gepaar is.  Toevallig was ek en Pieter saam gesit op die heel laaste dag en ons het van die begin af lekker gesels.

Aangesien ons nie op dieselfde plek gebly het nie (ek in Pretoria en hy in Durban), het hy my nommer maar gevat om in kontak te bly.  Ons het so nou en dan gesels op Whatsapp as vriende.  In Desember 2015 het ek met ʼn ander kêrel begin uitgaan.  Toe skryf en pos Pieter vir my ʼn brief waarin hy basies gesê het dat hy nooit net my vriend wil wees nie.  Aangesien ek met iemand anders begin uitgaan het, gaan hy terugstaan.

So gaan die tyd verby …

5 Jaar later in Maart van 2020 (ons het in hierdie 5 jaar net nou en dan vir mekaar geluk gesê met verjaarsdae, maar nooit regtig gepraat nie) gaan ek deur my goed en ontdek weer Pieter se brief en my T.O. Stranddiens “lanyard” met Pieter se naam op.  Ek maak ʼn herinnering vir myself om vir Pieter geluk te sê met sy verjaarsdag in April sodat ek weer ʼn rede het om met hom te gesels en te vra hoe gaan dit.

Maar toe ʼn dag later, maak Pieter vir die eerste keer in ʼn jaar ʼn Instagram pos en toe besluit ek, ek gaan hom nou op Whatsapp ʼn boodskap stuur.  Wraggies het Pieter gesien ek het van sy pos op Instagram gehou.  Hy gaan ook op Whatsapp om vir my ʼn boodskap te stuur en toe sien ons altwee dat die ander persoon besig is om te tik!  Ons het so bietjie gesels oor hoe dit gaan en toe vertel Pieter dat hy ook ʼn ruk terug my naam op sy “lanyard” gesien het en ook gewonder het hoe dit met my gaan.  Ons het gepraat asof ons mekaar vir jare al goed ken.  Daardie eerste aand wat ons weer gepraat het, bel Pieter my.  Ons het vir so 5 ure oor die foon gepraat!

7 Maande later op 17 Oktober 2020 was ons na Zinkwazi strand toe waar ek en Pieter beplan het om die Saterdagoggend die sonsopkoms te gaan kyk.  Ons het 5:30 opgestaan en gestap op na ʼn plek waar mens dit mooi kan sien.  En toe trek hy die ring uit sy sak uit en vra vir my om sy vrou te wees.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was verloof vir meer as ʼn jaar en het eers 17 Desember 2021 getrou.  My studies het dit onmoontlik gemaak om vroeër te trou.  Die lang verlowing tydperk het dit moontlik gemaak vir my om ons troue self te beplan.  Maar as dit net van my en Pieter afgehang het sou ons binne 3 maande wou trou.

Trou Begroting:


Ons trou begroting was gebaseer op wat onsself kon bydra en wat ons ouers kon bydra.  Ons het vooraf die begroting vasgemaak en toe begin planne vasmaak.  Ek en Pieter het vooraf besluit wat vir ons die belangrikste goed rondom die troue was, sodat ons geweet het waarop om te fokus en wat onnodig is.

Wat ons die heeltyd probeer onthou het is dat dit moet gaan oor ek en hy wat trou en ons lewe saam begin.  Dat al die vreeslike details van die troue soos watse blomme, watse tafeldoeke, watse kos ens. nie so baie moet saak maak nie en nie teveel van ons begroting moet vat nie.

Wat vir ons wel saak gemaak het is 3 goed: Ek en Pieter moet mooi lyk, ons wil mooi foto’s hê en ons moet ons troue geniet!  So dit is waarop ons gefokus het.

Ons het 100 mense onthaal en wat ek kan sê is dat dit baie lekker is om almal te nooi, maar op die dag sien mens ongelukkig nie helfte van hulle nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir my was dit toe ek hoor watse liedjie Pieter gekies het vir my om by die trougang af te loop.  Hy het dit as ʼn verrassing gelos en ek het dit eers gehoor toe dit tyd was om stap.  Dit was “Let your heart hold fast” deur Fort Atlantic.

Vir Pieter was dit die oomblik toe my sluier afgeval het terwyl ek afgestap het (ek het ʼn vreeslike lang een gehad wat net-net te swaer was) en toe begin ek maar net lag daaroor.

Paartjie se styl:


Die styl waarvoor ons gegaan het met hoe ons gelyk het was elegant, maar pret.

Ek was en is nogsteeds mal oor my trou rok, wat deur Pieter se ma gemaak was.  Dit het vreeslik baie kant gehad en die moue kon ek of dra dat hulle van my skouers af hang, of ek kan dit oor my skouers sit vir wanneer ons dans.  Ek het ook geen sleep gekies nie, om dit makliker te maak vir dans en stap.  Die rok het ook ʼn bietjie van ʼn pienk ondertoon en nie die tradisionele gewone wit nie.

Pieter se pak was ʼn blou grys kleur saam met ʼn olyf groen das, wat gepas het by die strooimeisie rokke.

Ons trouringe is baie eenvoudig, Pieter het ʼn “brushed” wit goue ring en ek het ʼn “eternity” wit goue diamant trouring.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en Pieter het saam oor al ons besluite gepraat en het albei idees gegee vir hoe ons dinge wou doen.  Ons naaste familie/gesinne het ook saam aan idees gedink en ons gehelp om te beplan.

Gunsteling Diensverskaffers:


Wouter Kleynhans, ons fotograaf, was een van die beste besluite wat ons geneem het rondom die troue.  Hy het soveel meer gedoen as wat normaalweg sou verwag word van ʼn fotograaf.  Die foto’s wat hy geneem het was van die mooiste foto’s ooit.  Buiten dit het hy ook gehelp om seker te maak dat op die dag alles mooi afgeloop het.

Vermaak:


Vir ons gasteboek het ons ʼn Instax kamera gekry en gevra dat die gaste foto’s kan neem van hulleself en vir ons ʼn boodskap skryf.  Verder het ons nie regtig enige vermaak gehad nie.  Behalwe die platejoggie wat musiek gespeel het om op te dans na ete.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar was niks groot wat eintlik skeef geloop het op die dag nie.  Maar ons wens dat ons ʼn tyd in die skedule ingewerk het sodat ek en Pieter ʼn stadige laaste dans saam kon hê.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Die advies wat ek vir iemand sou gee wat ʼn troue beplan is om nie opgesweep te raak in die goed wat nie oor 10+ jaar gaan saak maak nie soos die fyner details.

Venue & Dekor:


Die trou venue het goed ingepas by die atmosfeer wat ons vir ons troue ingedagte gehad het en die pragtige buite kapel is wat vir ons die besluit gemaak het.

Ek wou nie teveel tyd en geld spandeer op trou dekor en blomme nie.  So ek het vir klasieke/tydlose kombinasies gegaan van eukaliptus blare en wit blomme, met ʼn paar rose hier-en-daar.

Wittebrood:


Ons het vir so paar dae weggegaan na Nehema Manor in Bronkhorstspruit.  Toe na dit het Pieter my verras deur om ʼn paar dae by Eco Karoo Lodge te bespreek wat vreeslik lekker en ook baie mooi was.

Eerste Dans:


Die eerste dans was ook definitief een van die hoogtepunte vir ons.  Ons het glad nie ʼn tradisionele eerste dans gehad nie.  Ons het op “Nobody but me” deur The Human Beinz gedans.  Voor die tyd het ons met die bewegings opgekom op ons eie.  Die idee was om ʼn outydse “swing” dans te doen, soos gesien in die fliek Pulp Fiction.  Ons het die eerste ruk saam los gedans en toe bietjie vas gedans.  Toe ons strooimeisies en strooijonkers geroep om die dans saam ons klaar te maak.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: