Zander & Maruschka se oulike troue in die Paarl

Ons deel Zander en Maruschka se oulike troue in die Paarl met jou op Mooi Troues.  Die paartjie wou baie graag in die Paarl trou en hulle het presies dit gedoen.

Toe die paartjie Zonnevanger besoek het, het hulle onmiddellik daarvan gehou.  Zonnevanger is ʼn pragtige trou venue in die Boland, tussen Paarl en Wellington.  Met prentjie mooi uitsigte van die Klein-Drakenstein berge en die omliggende plaas landskappe kan jy nie verkeerd gaan nie.  Daar is soveel mooi elemente by die trou venue, van die Laventel velde tot die oulike dammetjie langs die onthaal lokaal.  Tonne foto geleenthede!

Maruschka en Zander se trou dekor was skakerings van sagte pienk en tikseltjies goud en swart wat die pienk kleur bietjie breek.  ʼn Lang tafel het gesorg dat almal gesellig is en mekaar se geselskap kan geniet.  Die mooiste Protea blom ontwerpe het deel gevorm van die tafel dekor.  Met die trou venue se neutrale kleurskema is dit maklik om enige tipe dekor elemente in te bring.   Die swart wynglase en servette skep ʼn moderne en interessante voorkoms.

Maruschka het beeldskoon gelyk in haar trourok.  Ons is mal oor die detail aan die bo kant van haar trourok en hoe die onderkant meer vloeiend is.  Zander se donker blou troupak het so gepas by die hele kleurskema van die troue.

Ons is gek oor die paartjie se fotosessie tussen die vetplante en ook tussen die Laventel bosse.  Rol af om meer te lees oor Zander en Maruschka se oulike troue in die Paarl en ook hul liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons was van St.6 tot Matriek in dieselfde klas, ons was skool pelle, maar niks meer nie.  Na skool het elkeen sy eie rigting gegaan en na 5jr het al ons skool pelle weer bymekaar gekom vir ʼn vriend se verjaarsdag.  Ek en Zander het begin gesels oor wat ons doen in ons lewe en dat die die eerste keer in 5jr is wat ons mekaar weer sien.  Van daardie naweek af het ons elke naweek by mekaar gekuier en na 7 maande het ons saam ingetrek.

Ons was 6jaar in ʼn verhouding voor Zander my gevra het om te trou.  My nie romantiese man en ʼn baie nuuskierige ek wat altyd alles uit vind op ʼn manier het my verras met ʼn verlowing by Ashanti Wines.  Ons het oorspronklik vir ʼn ontbyt gegaan saam sy ouers, broer en suster wat nie ongewoon is nie, want ons doen dit gereeld, sy suster het gehelp met die reëlings terwyl ek van niks weet nie en my cappuccino geniet, sy broer hou my besig met video’s wat hy vir my wys.  Ons het gewag vir Zander want hy MOET eers gaan gym voor ons êrens heen kon gaan.

Die bestuurder het vir ons kom vra of ons ʼn “toer” wil hê deur hul venue terwyl ons vir Zander wag ek was natuurlik vir dit want dit is só ‘n mooi plek . Toe ons opstap na die kapel toe het Zander en my seuntjie het bo gestaan en wag vir my!  Ek was so verbaas en het nie geweet wat my getref het nie, dit was die laaste wat ek verwag het.  Zander op sy een knie en my seuntjie met ʼn bos rose in sy hand en giggel.  Dit was die beste oomblik ooit!

Die Verlowing Tydperk:


Ons het 26 September 2020 verloof geraak, en het Oktober 2021 getrou.  So ons was 1 jaar en 1 maand verloof.  Ons het die troue self beplan.

Trou Begroting:


Ons het ons troue self betaal, so het nie ʼn groot begroting gehad nie.  Dit was R110 000, maar moes verminder want ons kon nie genoeg gespaar het voor ons trou datum nie.  Do die totaal was R90 000.  Ons het gehou by 50 gaste a.g.v. die Kovid pandemie.

Ons het probeer om so veel moontlik by die goedkoopste te hou, maar wat steeds mooi en elegant sal wees.  My raad sal wees om nie te veel geld te spandeer op goed wat mense nie eers raak sien nie, iets wat ʼn fokus punt is en wat ʼn atmosfeer sal gee.  Te veel detail sien mense nie en dit kos baie geld.  Probeer om uit te kyk vir winskopies of afslag op fotograwe en venues.  Selfs as jy jou trourok gaan soek sê vir hulle dis jou begroting en probeer om daar by te hou.

Merkwaardigste Oomblikke:


Dit was definitief die trougang oomblik vir ons albei.

Paartjie se styl:


Ons is redelike plein, plat op die aarde mense.  Maar vir my troue het ek ʼn baie spesifieke styl gehad wat ek wou gehad het.  Zander het nie veel ʼn sê gehad in dit nie.  Ek het net vir hom gesê jy trou nie in ʼn swart pak nie asb.

My trou rok was moeilik om te kies, ek was by 3 plekke en al die rokke het mooi gesit wat ek aangepas het, ek het verskillende style probeer om te kyk waarvan ek meer hou, van groot rokke tot stywe rokke tot sagte elegante rokke.

Die Besluitnemingsproses:


Die besluite was meesal deur myself geneem, Zander wou net trou.  Ek het dinge met hom gedeel, maar sy antwoord was altyd net, as jy daarvan hou dan is dit reg.  Ek het hom my idee gegee wat ek wil hê en hy het gesê dis reg.  Ons het streng volgens op begroting gewerk, so ons kon nie te oorbodig gaan nie.  Ek het al my idees met my vriendin gedeel, maar finale besluit was by ons.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Bruid:

Ek dink as ek iets kon reg stel sou ek graag meer beskikbaar wou wees en ʼn punt daarvan gemaak het om fotos saam elke liewe gas te neem.  Almal sê die aand gaan gou verby en dit gaan letterlik in ʼn oogwink verby.  Eers toe ons die fotos kry het ek besef ek het nooit moeite gedoen om saam elkeen ʼn foto te neem nie.  Ja daar is fotos van ons gaste, maar ek sou wou hê dat ons almal op een foto moes wees.  Ons het hier en daar ʼn probleempie gehad, maar niks groot of wat die aand omgekrap het nie, die gaste het dit nie eers agter gekom nie.

Bruidegom:

Moenie te veel Jägermeister drink die aand voor die troue nie, jou maag mag dalk ontplof tydens die neem van fotos.

Gunsteling Diensverskaffers:


Trou fotograaf:

Was op tyd professioneel en het baie geduld gehad met al die fotos van familie ens.  My geduld was al op om die familie bymekaar te kry en almal se versoeke om ʼn foto te neem.

Trou koek:

Ek het my volle vertroue in haar gesit en het eers die koek gesien toe ons dit moes sny, mooi en presies wat ek wou gehad het.

Trou Skryfbehoeftes:

Haar geduld met my, elke klein fyn detail wat ek wou verander gehad het, het sy verander sonder om te kla daaroor.  My idees wat ek gehad het, het ek net aangestuur en gesê ek soek dit asseblief, maak dit.  Water bottel etikette, trou uitnodiging ens. sonder moeite het sy alles vir my gedoen soos ek dit wou hê.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

As jy jou troue self reël wil jy hê als moet perfek verloop.   Ek wou in beheer wees van alles en seker maar almal is gemaklik.  Ek onthou ek wou op ʼn stadium die gaste gaan verwelkom, want ek was so opgewonde oor als.  Die grootse fout wat ek gemaak het was om nie in die oomblik te wees nie.  Ek was bekommerd oor alles en almal rondom my, wie volgende in die paadjie gaan afstap doen hulle dit reg ens.

Toe ek afstap het Zander snot-en-trane gehuil, my seuntjie se trane rol en almal was emosioneel,  Ek was glad nie in daardie oomblik nie, ek glimlag net heelpad.   Ek het gekyk wie neem fotos en video en of almal opgedaag het wat ek genooi het.  Dit was my grootste fout ek wens ek kan weer in die paadjie afstap, maar dat ek in die oomblik is en nie by almal anders rondom my nie.

Bruidegom:

Maak seker julle verstaan alle fynskrif en beplan vir onvoorsiene kostes.

Moenie te veel stres oor gaste nie, die troue loop te vinnig.  Geniet die oomblik soveel as moontlik saam jou bruid of bruidegom.

Venue & Dekor:


Zander wou nie nog te veel rond kyk vir venues nie en ons wou graag in die Paarl trou.   Daar het hier begin rond kyk, ek het gekyk na venues wat afslag op daardie stadium gehad het en ʼn afspraak gemaak om hulle die Saterdag te gaan besoek.

Venue nommer 1 was okay, maar nie heeltemal daardie “clean look” wat ons wou gehad het nie, ons wou nie te veel op dekor spandeer het nie, so die venue moes mooi wees vir minimum trou dekor.

Die tweede venue wat ons besoek het was Zonnevanger en ons het dadelik daarvan gehou!  Die natuurskoon die groenigheid, die wit onthaal saal, die klok buite alles was net prentjie mooi.  Toe ons by die derde venue kom het Zander gesê: “Nee ons gaan eerder terug na Zonnevanger en bespreek ʼn datum.”  Die enigste beskikbare datum in Oktober was die 23ste en ons het dit dadelik bespreek.

Die dekor gedeelte het ek hanteer en protea blomme wou ek hê.  My kennis van blomme is nie veel nie, so ek het vir die dame gesê enige iets wat mooi gaan met protea blom en eukaliptus blaar.  Ek het van die sagte pienk gehou saam die wit onthaal saal, met ʼn titsel goud en swart om dit te breek.  Ek wou ʼn sagte tipe voorkoms hê.

Spesiale Tradisies:


Ons het ʼn Ma en Seun dans gehad, Zander en sy ma het saam gedans, en ek en my seuntjie het saam gedans.

Wittebrood:


Ons het Hartenbos toe gegaan, die verblyf was een van ons trou geskenke.

Elke dag het ons uitgery om iets te gaan doen.  Ons was in Mosselbaai, Knysna en Oudtshoorn.  Ons het vierwielmotorfietse gery, op ʼn Kano geroei op die Knysna rivier, Buffelsdrift toe gegaan vir Olifante en Cango Wildlife vir die Cheetah ontmoeting.

By Buffelsdrift het daar ʼn Impala uit sy kamp gekom en na die olifante beweeg waar ons hulle gevoer het.  Die olifante het eweskielik begin hardloop om die Impala uit hul kamp te hou en klip hard trompetter die bewaarders het ons dadelik na ʼn veilige dek geneem terwyl die een die Impala terug jaag na sy kamp en die ander 2 die olifante rustig hou.  Dit was ʼn belewenis om te sien en iets wat ek altyd sal onthou van ons Wittebrood.

Na hul rustig was kon ons met gemak hul weer voer en hulle vir ons poseer vir foto’s.

Eerste Dans:


Ons het, dit was vir my spesiaal.  Zander is nie ʼn danser nie, seker omdat hy nooit van tevore gedans of belang gestel het nie.  Ek het hom gesê ek wil graag hê ons moet saam dans op ons troue. Ons het so 2 maande voor ons troue sommer by die huis saam geoefen.  YouTube video van stap vir stap sokkie tot hy die stappies agterkom, toe het hy op die ritme begin dans, en van daar af dans ons saam. 😊

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: