Tiaan & Christelle se Oulike Dak Verlowing Fotosessie

Met groot opgewondenheid deel ons Tiaan en Christelle se oulike dak verlowing fotosessie in die hartjie van Sandton met julle.  Die paartjie se prettige verlowing fotosessie sal tonne inspirasie bied vir paartjies wat opsoek is na idees vir ʼn verlowing fotosessie.  Hulle uitrustings bied ook inspirasie vir die paartjies wat iets ʼn bietjie anders wil doen as die gewone.

Die sagte sonlig wat weerkaats op die geboue in Sandton, skep die perfekte agtergrond vir die paartjie se verlowing foto’s.  Christelle se vloeiende rok en Tiaan se neutrale kleur uitrustings pas perfek bymekaar.  Die neutrale aarde kleurskema pas ook perfek in by die hele atmosfeer van die paartjie se verlowing fotosessie tema.

Elke paartjie het hul eie rede hoekom hulle ʼn verlowing fotosessie wil doen.  En ons kan self baie redes gee hoekom dit belangrik is.  Een van die paartjie se redes was om meer gemaklik te wees met hul trou fotograaf voor hul troudag.  Dit is uiters belangrik en sal jou ʼn stresvrye ervaring bied vir jou troudag.

As jy besig is om jou troue te beplan en opsoek is na ʼn trou fotograaf, besoek Mooi Troues se Trougids.  Blaai gerus af om meer te sien van Tiaan en Christelle se oulike dak verlowing fotosessie.  Geniet ook hul oulike liefdes storie wat gelei het tot hul verlowing.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ek en Tiaan het ontmoet in 2012, ek was Gr.9 en Tiaan Gr.10.  Ons albei was deel van ons skool se Revue en daar was dadelik ʼn klassieke “spark” tussen ons.  BBM kodes was nog verruil.  In Mei maand van 2013 was dit offisieel.

Soos ons ouer geraak het, het ons al hoe meer besef dat ons graag die res van ons lewens saam sal wil spandeer.

Na universiteit was ek natuurlik die eerste een wat die skimpe begin oefen het en met baie genade het Tiaan my toe op 30 November 2021 gevra om te trou.  God se tyd is waarlik altyd die perfekte tyd!

Die groot vraag:


Wat ʼn storie, ons het Desember gaan vakansie hou in Kaapstad.  Die Maandag gearriveer en snaaks genoeg verby ʼn knaap geloop wat vir ons ʼn Sunset Cruise op ʼn Katamaran wil smous.  Beide van ons was baie geïnteresseerd.  Ons het 2 van ons goeie vriende gebel en gevra of hulle saam ons die Dinsdag op die Katamaran wil gaan.  Min het ek geweet dat hulle al 3 iets weet wat ek nie weet nie.

Tiaan het oorspronklik nie beplan om dit op die Katamaran te doen nie, maar het toe besef dat dit eintlik die perfekte plek/tyd sal wees.

Op die Katamaran was alles baie rustig en gesellig nadat Tiaan oppad soontoe eers verdwaal het (in die kompleks met ʼn pad wat so maklik is) ʼn ring uit ʼn skoen moes haal sodat ek nie sien nie en ook in sy baadjie wegsteek toe ons uit die kar klim.

Ons vriende is ook professionele fotograwe.  Hulle het van die oomblik gebruik gemaak om “scenery af te neem vir ʼn troue wat hulle afneem die naweek”.  Hulle het toe voorgestel om ʼn foto van my op die Katamaran te neem, maar ek wou glad nie opstaan nie.

Met ʼn gesukkel het Tiaan my toe gekry om op te staan.  Ek was so bang ek val want daar is niks om aan vas te gryp nie!  Toe ek omdraai was Tiaan op een knieg en die emosie en blydskap wat ek en hy in daardie oomblik ervaar het was só groot.  Na ʼn absolute ja en groot drukkies besef ons toe dat ons nie alleen is nie en almal op die boot klap hande en juig saam ons.  Dit was regtig ʼn besonderse oomblik.

Familie en vriende het ons na die afloop by die Waterfront verras met Sjampanje en ballonne.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Christelle streef daarna om elke dag ʼn lekker dag te maak, maak nie saak wat die situasie is nie.  Sy het ʼn teenwoordigheid wat elkeen om haar spesiaal te laat voel, vreeslik snaaks en ʼn absolute fees!

Tiaan sit altyd ander bo homself, ʼn absolute hart vir mense.  Sy kennis strek vêr en hy inspireer mens om altyd jou beste te gee.  Niemand kan wegstap en nie spesiaal voel nie.


Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons is verloof op 30 November 2021 en ons troue vind plaas op 19 November 2022.  Bietjie minder as ʼn jaar ❤


Die verloofring:


Ek het lank terug vir Tiaan sommer ʼn paar fotos op Pinterest gestuur en hy het toe na Beaudell Jewellery gegaan en daar kon hulle die verloofring ontwerp.  Tiaan wou gehad wie ek is as persoon moet uitgebeeld word in my verloofring.  Ek het geen besitting al SÓ baie waardeer nie!

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het al ʼn paar foto sessies van ons laat doen en het toe besef dat ons nog nie die stad gevoel gedoen het nie.

Ons fotograaf se voorstel, waarmee ek 100% saam stem, is om ʼn verlowings sessie met jou trou fotograaf te doen voor die troue, dit maak dinge vir hulle baie makliker.  Hulle leer ken jou styl en waarmee jy gemaklik is, jy is ook dan verseker meer gemaklik op jou troudag.

Ons het ons fotos toe gebruik vir ons trou uitnodiging/webtuiste.  Natuurlik ook ʼn paar laat uitdruk vir die huis.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons is mal oor warm aardse kleure, dit beeld vir ons altyd emosie in fotos so mooi uit.  Ek het ook ʼn hele ruk terug ʼn rok raakgesien op sosiale media en het dadelik besluit dit is wat ek wil dra.   Sandton se sonsak was só perfek op daardie dag en Olivia het alles bitter mooi vasgevang!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Trou is letterlik nie perde koop nie!

Dit is ʼn vreeslike opwindende seisoen in ons lewens!  Op dié stadium vertrou ons dat God besig is om in ons harte te werk en besig is om ons voor te berei vir die huwelik.

Daar is nou en dan ʼn stres oomblik i.t.v. reëlings ens., maar as jy weer besef saam wie jy dit aanpak maak dit alles die moeite werd!

Visie vir droomtroue:


Om al die mense wat so baie vir ons beteken daar te hê, die dag saam met hulle te geniet en ons liefde vir mekaar te vier. Ons sien so uit!

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: