JJ & Lea se Kleurvolle Troue in die Oos-Kaap

Die paartjie, JJ en Lea, se kleurvolle troue in die Oos-Kaap is een wat jy nie moet mis nie.  ʼn Gesellige plaastroue met ʼn kleurvolle woud kontras!

Hulle het ʼn lieflike buite seremonie gehad, met plaas landskappe en ʼn paar koeie as uitsig.  Wanneer dit kom by Lea en JJ se trou venue en trou dekor sal jy verstom wees oor hoe mooi dit is.  ʼn Ontploffing van verskillende kleurskakerings, met ʼn donkerder kleurpalet trek onmiddellik jou aandag.   Woud elemente wat in kontras is met mekaar was saam gebruik en het ʼn interessante, stylvolle end resultaat.  Ons hou baie van die groenigheid wat vanuit die dak hang en die ligte tussen die pragtige groen blom ontwerpe.  Orals waar jy kyk is daar die mooiste helder blom ontwerpe.   Die gebruik van verskillende stoele by die tafels skep ook ʼn wonderlike sprokiesverhaal atmosfeer.

Lea het beeldskoon gelyk in haar unieke moderne trourok, wat perfek is vir ʼn sonnige troudag.  Haar strooimeisies se Oranje strooimeisie-rokke het ʼn plof van kleur gegee.  JJ het ʼn meer formele donkerblou troupak gedra, wat ʼn komplimentêre kontras skep teenoor die strooimeisies se rokke.

Alles is moontlik as jy ʼn fantastiese span trou diensverskaffers het.  Mooi Troues se Trougids bestaan uit professionele trou diensverskaffers wat jou troudag sal laat waar word.

Ons is ook mal oor die vonkelwyn fontein, wat altyd ʼn baie oulike idee is vir ietsie elegant by ʼn troue.  Hulle pragtige simplistiese wit troukoek het weereens die kontras effek ingebring en was so mooi.  Rol af om meer te lees oor JJ en Lea se Kleurvolle Troue in die Oos-Kaap en ook meer oor hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het nog altyd in dieselfde vriendekringe gedwaal, maar net per toeval nooit in mekaar se geselskap op geëindig nie.  Begin 2019 het ons geselsies begin aanknoop wat net daar geblom het in ʼn fantastiese vriendskap.

JJ het my verras op 9 Januarie 2021 en op sy knie afgegaan toe ons vir ʼn wegbreek Knysna toe was.  Ons het in die Turbine Hotel gebly op Thesen Eiland en Knysna se oesters en natuurskoon geniet.  Ons geduld met mekaar en ons vertroue in mekaar sal die boustene en sement wees wat ons verhouding opbou tot ʼn asemrowende beeld met ʼn vaste fondasie.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het verloof geraak op 9 Januarie 2021 en besluit om te trou op 12 Februarie 2022.  Ons het ons verlowingspartytjie gehou op die 24ste April by die Little Walmer Golf Club.  Direk na die verlowingspartytjie begin reël aan die troue.

Ons het ʼn trou beplanner gehad, wie ons gehelp met die meeste van die reëlings. Jana Rademeyer, sy is ook die eienaar van Slipperfields, die venue waar ons getrou het.  Jana het my gesien grootword en was altyd soos ʼn ouer suster vir my.  JJ het ook ʼn baie goeie verhouding met haar en het op hulle eerste ontmoeting al baie saam grappe gemaak en gelag.

Trou Begroting:


Ons trou begroting was om en by R300 000.00.  Ons het daarby gehou deur goed te bepaal wat ons alles wou hê en deur vroegtydig kwotasies aan te vra.  My suster het in 2019 getrou en ek was baie betrokke, so ek het by haar ook ʼn paar wenke gekry met betrekking tot ʼn begroting.  Daar was 170 gaste by ons onthaal.

Advies:

Vroegtydige beplanning, weet wat jy wil hê en moenie dwaal van die tema af nie.  Lys die goed waarop daar geld spandeer moet word, dit sit alles in perspektief.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir beide van ons was dit om alles te sien bymekaar kom.  Elke persoon se insette het só ʼn groot rol gespeel daarin om die dag so mooi af te rond.  My top punt van die dag was verseker die soen. Ek het die hele seremonie deur van oor tot oor geglimlag, ek dink dis duidelik in die fotos.  JJ se vir hom was dit toe hy my die eerste keer op die dag sien en ons eerste dans was so perfek.

Vermaak:


Ons het ʼn sanger gehad wat gesing het tydens die canapé en verwelkomingsdrankies, asook ʼn roomys-wa waar mense kon kies watter geure hulle wou hê en ʼn sjampanje toring.  Tydens die onthaal was daar ʼn platejoggie.

Die Besluitnemingsproses:


Jana (Slipperfields eienaar) het baie van die beplanning gedoen, sy het maar die rol van ʼn trou beplanner ingeneem.  Ek en JJ het ʼn paar keer met haar vergader en besluite saam geneem oor wat ons wou hê.  Beide van ons het ewe veel versoeke gehad.  Ek was net meer betrokke met die dekor en blomme.  Ons vriende en familie was nie veel betrokke met die besluitnemingsproses nie, omdat ek en JJ klaar ʼn baie duidelike prentjie gehad het oor wat ons wou hê.  Hulle het ons wel ondersteun en was altyd saam met ons opgewonde.

Paartjie se styl:


JJ het my verloofring se styl gekies, en Jack van Investment Diamonds is ʼn meester in sy veld.  Ek was totaal verras en hou van die eenvoudige styl, ons het dit so bietjie ekstra karakter gegee met die trouring. JJ se trouring pas so goed by sy persoonlikheid, sterk, familie gedrewe, trots en selfvertroue.

My trourok was iets wat ek bymekaar gesit het deur verskillende idees waarvan ek gehou het tot ʼn volle prentjie te bring.  Ek wou hê die rok moes romanties lyk vir die seremonie en toe iets meer opwindend vir die onthaal.

JJ wou nog altyd ʼn vlootblou troupak dra en dit het so mooi gepas by die woud tema van die onthaal.  Ek het vir hom manchetknope en ʼn das klip laat maak by Miinela Jewelry Desing om sy voorkoms af te rond.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Die enigste oomblik waaraan ek kan dink is dat daar dalk ʼn effense miskommunikasie was vanaf die seremoniemeester.  Verder kan ek nie fout vind aan die dag nie.

Venue & Dekor:


Slipperfields was vir ons ʼn ʼno brainer’.  Ek en Jana, die eienaar is soos familie en dié trou venue is ongelooflik.  Dis oop en daar is soveel spasie om mee te speel.  Die venue kan maklik aangepas word om by enigiemand se styl te pas.  Ek het ook op die plaas groot geword, so dit was baie gepas om 10 km van waar ek groot geword het te trou.

Die tema was iets tussen die diep woud en Alice in Wonderland.  Ons het verskillende stoele gebruik en ons het probeer wegbly van simmetrie af.  Die blomme wat in seisoen was het bepaal watter ons gebruik het, asook die kleure, aangesien daar nie regtig ʼn vaste kleurskema was nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


JJ:

ʼn Mens moet rustig wees voor die tyd.  Die tyd saam met jou vriende geniet en goed voorberei vir al die aandag, dit is baie oorweldigend.  Onthou om ʼn sonbril aan te hê voor die seremonie as dit buite is en ʼn sonnige dag is.  Dit het my gered.

In terme van beplanning, staan by en gee opinies waar dit gevra word.  As jy ʼn versoek het, noem dit en neem al julle besluite saam, veral as dit by die gastelys kom.

Lea:

Begin so vroeg as moontlik al jou diensverskaffers identifiseer en pryse aanvra, sodat ʼn mense bewus is van hoeveel geld nodig is om die verskaffers te bevestig (deposito’s).  Maak mense deel van die proses en moenie vergeet om raad te vra nie.  Neem alles in, ek het dit so baie gehoor, en dis waar.  Die dag vlieg verby.

Wittebrood:


Ons wou so graag oorsee gaan, maar met die COVID regulasies en hoe onvoorspelbaar ander lande se reis regulasies was, wou ons nie onsself vasmaak nie.  Ons het toe besluit om vir 3 dae Emily Moon toe te gaan naby Plettenbergbaai, daarna was ons vir 3 dae in Stellenbosch by die Oude Werf Hotel en daarna vir 3 dae by die O’Two Hotel in Mouille Point in Kaapstad.  Ek het ʼn paar maande vooraf vir ons by spesifieke restaurante bespreek, aangesien ek en JJ redelike “foodies” is.  Die kos en die wyne was ongelooflik.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was ongelooflik.  Jana het ons verras met ʼn konfetti masjien wat goue blinkers uit die dak laat val het terwyl ons gedans het.  Ons liedjie se naam was Rise, van Calum Scott.  Ons dans nog altyd lekker saam, so ons het nie vir lesse gegaan nie.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: