Jan-Hendrik & Chantelle se Verlowing Fotosessie by Bloemhof Dam

Ons deel graag Jan-Hendrik en Chantelle se verlowing fotosessie by Bloemhof Dam.  Hierdie pragtige dam is in die Sandveld Natuur Reservaat in Bloemhof in die Noordwes Provinsie.

Chantelle en Jan-Hendrik se sonsak fotosessie was prentjie mooi.  Die sagte sonlig en dam in die agtergrond is besonders mooi.

Chantelle se pragtige fyn verloofring is ontwerp deur die fantastiese Your Diamonds span in Bloemfontein.  Jan-Henrik het Chantelle verras met hierdie mooi verloofring.  ʼn Verloofring is so ʼn belangrike simbool van ʼn verlowing.  Die ring wat jou veraltyd sal saambly en waarna jy elke dag sal kyk op jou vinger.  Die span by Your Diamonds sal verseker dat die proses om die perfekte verloofring te ontwerp so stresvry moontlik is.  Met jare se ondervinding in die juweliers bedryf en tonne kennis is jy altyd in goeie hande.

ʼn Verlowing fotosessie is nie net vir pret nie, maar ook om jou trou fotograaf beter te leer ken.  Paartjies kan ook die geleedheid gebruik om meer gemaklik te word voor die kamera, sodat hulle stresvry kan foto’s neem op hul troudag.  Rol af om meer te lees oor Jan-Hendrik en Chantelle se verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons eerste ontmoeting was deur ʼn gesamentlike vriendin van ons altwee.  Sy het saam my (Chantelle) skool gegee en haar man was beste vriende met Jan-Hendrik.  Hulle drie het een Saterdagoggend gaan ontbyt eet by ʼn koffiewinkel in ons dorp.

Ek en my Ma het daardie selfde dag ook daar opgedaag en hulle daar gegroet.  Ons is aan mekaar voorgestel en sonder om agter te kom het ek heeltyd na Jan-Hendrik geloer.  Daardie Maandagoggend na alles, het my vriendin vir my by die skool gesê: “Ek dink ons het Saterdag jou trouman aan jou voorgestel.”

Daarna was dit koffie-afsprake en oor en weer kuier tot ons uiteindelik in Desember besluit het om in ʼn verhouding te wees.  Ons het vir ʼn volle jaar en 12 dae uitgegaan voordat ons besluit het om verloof te raak.

Die groot vraag:


Wanneer mens die regte persoon ontmoet voel alles sommer reg.  Ons het dadelik oor trou begin gesels en ek wou nie langer wag nie.  Jan-Hendrik het altyd gespot en gesê dat ons eers oor 5 jaar sou trou.  Maar hoe langer ons in ʼn verhouding was, hoe meer het hy die slapies af begin tel.

Dit was Oukersdag gewees en ek het die vorige dag van die 23ste Desember 2021 by hom op die plaas gekuier.  Ons het afgespreek om daardie oggend ná ʼn afspraak met sy werkgewer saam ons altwee se families langs die rivier Kersfees te gaan vier.

Jan-Hendrik is ʼn baie onvoorspelbare romantiese man.  Hy het my kom wakker maak met koffie en die mooiste blomme – waaroor hy gejok het die vorige dag oor wie sin dit regtig is.  Ek het niks vermoed nie, en nadat ons koffie gedrink het, het ons reggemaak vir die afspraak.

Ek kon wel sien dat die man op sy senuwees is, maar hy het die afspraak wat voorlê die skuld gegee.  Goed, die afspraak is verby en ons is oppad rivier toe vir Oukersdag waar ons beide se ouers alreeds vir ons wag.

Dit was so lekker dag.  Ons almal het rustig langs die water gesit en heerlik geëet.  Dit was in die tyd wat dit só gereën het en die rivier het dit onmoontlik gemaak om vis te vang, maar Jan-Hendrik en my boetie, het steeds lyne in gegooi.

Die groot vraag:

Teen skemer het ek, my Ma en sy Ma ʼn entjie gaan stap.  Die manne het agter gebly om vuur te maak vir aandete.  Min het ek geweet dat as ek terug kom hy die groot vraag gaan vra.

Rustig stap ons terug en toe ek nader aan die rivier kom het my boetie my gevra om die lyn op te katrol … daar was ʼn bottel aan die vislyn en hy het dit vir my afgehaal.  Binne in was ʼn brief … ek het hom oopgemaak, gelees en eers aan die einde besef dat dit dalk ʼn verlowings verrassing is.

Ons ouers en familie het almal stil geraak en rondom ons kom staan.  Teen die einde van die brief begin ek toe huil en dis toe waar hy afsak en my die groot vraag gevra het.

Hoekom ons mekaar lief het:


Chantelle se eienskap oor Jan-Hendrik:

Hoe hy my hanteer as vrou. Sy omgee en liefde. Sy beskerming oor my en sy ondersteuning vir alles wat ek doen.

Jan-Hendrik se eienskap oor Chantelle:

Chantelle se liefde omgee en bederf is wat haar van alle ander dames onderskei.  Die drie eienskappe is iets wat elke vrou besit, maar my vrou sin borrel uit soos ʼn vulkaan.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het van die begin af gesê dat mens nie lank hoef te wag om te trou nadat jy verloof is nie.  Ons het afgespreek op 4-5 maande voordat ons trou.

Die verloofring:


Ek (Chantelle) het niks van die ring af geweet nie.  Ek het wel, soos enige meisie foto’s op my selfoon gehad en sonder dat ek geweet het, het hy die idees van my selfoon af gesteel.  Toe ons verloof geraak het, was dit so groot verrassing gewees, want dit was alles wat ek wou hê en meer.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Toe ons besluit het op ʼn fotograaf wou ons haar graag ontmoet voordat sy ons troufoto’s ook sou neem.  Sy het vir ons haar pakkette aangestuur en dit het verlowingsfotos ingesluit.

Alhoewel ek geen twyfel in haar werk gehad het nie, het ons besluit om fotos te laat neem sodat ons dit kan gebruik in ons trou uitnodigings.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Gemaklik en stylvol.  Ons fotograaf, Elthea Erasmus, het ons dadelik op ons gemak laat voel, en die foto’s spreek boekdele oor ons liefde vir mekaar.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:


My verwagting is dat ons nader aan mekaar sal groei.  Deur mekaar se style vir die beplanning van ons groot dag sal respekteer en dat ons sal ooreenstem oor die finale besluit.

Ons vrese is dat ons nie als beplan gaan kry voor ons groot dag nie, maar soos Jan-Hendrik sê: “Met my verloofde aan stuur, kan ons oor 2 weke trou.”

Visie vir droomtroue:


Lekker saam kuier, dans en eet.  Dit is net een dag in jou lewe wat jy so mooi gaan lyk en voel.  Dat ons graag alles sal wil inneem en elke oomblik daarvan geniet saam ons vriende en familie.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    • Fotograaf: Ella Photography
    • Fotosessie Venue: Sandveld Natuur Reservaat, Bloemhof

    [endsection]