Emile & Carmen se Pragtige Bosveld Troue

Ons deel met opgewondenheid Emile en Carmen se pragtige bosveld troue met ons lesers.  Die paartjie het verloof geraak by Bona Bona Game Lodge en ook hul troudag hiér gevier!  Bona Bona Game Lodge is ʼn pragtige bestemming vir ʼn luukse romantiese wegbreek of ʼn baie spesiale bosveld troue.  Slegs twee ure se ry vanaf die middestad van Johannesburg en jy is in ʼn hele ander wêreld  omring deur wilde diere en pragtige natuurskoon.  Die perfekte plek om jou troudag te geniet saam met familie en vriende.

Vir hul troudekor het hulle ʼn klassieke tema gehad wat vir altyd in die mode sal wees.  Wit en Groen elemente is die hoofkleure van die trou dekor met tikseltjies sagte pienk.  Die sagte kleurskema op die rou hout tafels en goue stoele staan so mooi uit.

Carmen en Emilie het albei so mooi gelyk op hul troudag en jy kon sien hulle het elke sekonde geniet.  Alhoewel dit ʼn reënerige dag was, het alles só mooi gelyk.  Ons hou van die indrukwekkende gevoel van die foto’s met die prentjie mooi landskappe en dramatiese wolke as agtergrond.

Emilie het Carmen verras met ʼn wittebrood na die mooi en sonnige Maldives.  Oppad terug het hul sommer ʼn paar dae in Dubai geniet.  Lees meer oor Emile en Carmen se liefdesreis en bosveld troue by Bona Bona Game Lodge hieronder.

Paartjie se Liefdesreis:


Die ontmoeting:

Ons het ontmoet deur gemeenskaplike vriende wat ons aan mekaar voorgestel het.  Ons vriende het toe ʼn braai gereël waar ons nou mekaar gaan ontmoet.

Ek en ʼn vriendin het toe voor die tyd ʼn glasie wyn gaan drink, net om bietjie te help met die senuwees.  Ons kom toe by die huis aan en almal sit reeds buite, nou dis seker so 15 meter tot by waar al die gaste sit en toe ek weer sien is my vriendin ook weg, ek het skaars my voet by die deur uit gesit oppad na almal toe, toe begin die trou mars kliphard speel, kyk ek het nie geweet watter kant toe nie, maar het toe nou maar verder gestap tot aan die einde.

Natuurlik was die enigste sitplek beskikbaar langs die ‘hunk’ van ʼn man(ek meen vitamiene vir die oë), en toe ons mekaar ontmoet, het ek net so rustigheid ervaar, asof my siel daar en dan geweet het, dis my maatjie dié. Ek het daardie dag die woorde ‘whatever our souls are made of his and mine are the same’ werklik verstaan. Min wetende dat ons vriende die spyker op die kop geslaan het met die trou mars.

Die verlowing:

Ons het verloof geraak by Bona Bona Game Lodge.  Ek het glad nie geweet wat Emile beplan vir daardie naweek nie.  Ons het die Vrydag oor geslaap en die Saterdag oggend begin met ʼn wildrit waar ons vir Jerry die Kameelperd ontmoet het, dis my gunsteling dier so ek was in ekstase.  Ons het toe daarna gegaan vir ʼn massering en toe vertrek op ʼn piekniek.  Hulle het ons toe afgelaai en ons mandjie met peuselhappies saam gegee, ek het toe die kos begin uitpak op die tafel en Emile het vir ons ʼn glasie sjampanje geskink. Ek sien toe hy kyk die heeltyd vir my soos ek die kos uithaal, ek dog toe hy is net nuuskierig oor wat ons gekry het.

Spesiale skoen boksie:

Toe alles uitgepak is, in die hoek van die mandjie lê die skoen boksie … nou dié boksie is baie spesiaal vir my, (dit is ʼn ring boksie/ houertjie wat donker pienk is met klomp detail oor die houer wat in goud is met ʼn hak-skoen bo-op wat klomp klein diamantjies in het.  Dit was oorspronklik my broer sin vir as hy nou eendag sou verloof raak, maar kon nooit dit gebruik nie, hy is ses jaar terug oorlede so die houertjie het my ma gehou. Emile het toe die vorige dag na my ma toe gery en gevra kan hy die houertjie gebruik).

Ek kyk so en ek hou aan vir Emile sê dis my broer se houertjie wat maak dit hier …!?  Hy vat toe my hande in syne en sê vir my die mooiste woorde, kyk teen die tyd toe loop die trane al behoorlik … en hy vra my toe sal ek met hom trou, dink dit was die vinnigste en maklikste “JA” nóg, en toe is ons verloof.  Dit was só spesiaal gewees, Emile het behoorlik elke hartsnaar geroer.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 7 maande in totaal verloof.  Ons het die hele troue self gereël.

Trou Begroting:


Ons het rofweg ʼn begroting gehad, maar ons het dit oorskry.

Ons advies sal wees as julle besluit het om bv. 80 mense te nooi, hou by daardie getal, mens kan dit maak werk, want as julle rond en bond gaan begin gaste bysit gaan die gaste lys verdubbel voor jy jou oë uitvee.

Merkwaardigste Oomblikke:


Carmen:

Vir my was die merkwaardigste oomblik toe ek voor die toe kerk deure staan en my pa sê vir my hier is dit nou!  Ek was doodrustig en ek kon met absolute sekerheid in daardie kerk instap en weet ek trou met my beter helfte.   Toe die deure oop gaan en ek stap daar af en ek kyk vir Emile toe weet ek net ek het my huis gevind.

Emile:

Verseker die kerk seremonie, dit was so mooi preek gewees en alles was net spesiaal, was ʼn oomblik om in te neem en wat ek altyd sal onthou.

Paartjie se styl:


Trourok:

Ek is baie lank, so ek het geweet die kanse dat ek by ʼn winkel instap en my trourok kry is baie skraal.  Ek het nie twee keer gedink om na Werner Dey in Parys toe te gaan nie.  My droom trourok is ʼn spierwit ‘fitted’ rok met baie detail, en dis waarmee ek na Werner toe is.  Hy en Kailib het verder gewoeker met idees en daar het ek ʼn rok wat al my verwagtinge oortref het.  Hulle het die hele proses so lekker gemaak.

Troupak:

Emile wou ʼn troupak gehad het wat perfek sit aan hom, so hy is toe na Casper Bosman toe.  Hy het gewik en weeg oor die kleur van die pak, en het toe besluit op swart.  My trourok was baie formeel en hy wou toe aansluit by dit met ʼn pak wat nie gaan afsteek nie.  Casper en sy span het hom op sy gemak laat voel en het die perfekte pak aanmekaar gesit.

Trouringe:

Emile het my trouring by Elri Diamonds and Jewels laat maak, ek het net vir hom gesê ek hou van ʼn ‘cushion cut’ en dit moet ʼn fyn ring wees.  Hy het toe ʼn prentjie vir hulle gevat en toe begin om die ring se ontwerp aanmekaar te sit.  Die trouring is ʼn pand van diamante wat aansluit by die verloofring se bandjie. Emile se trouring het ek by Beaudell Designs laat maak, ek het platinum gekies om aan te sluit by my ring se metaal en het ʼn ‘brushed finish’ gekies, ek het toe my vinger afdruk en ʼn boodskap binne in laat laser graveer.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het meestal van die besluite gemaak, maar oor die groot goed het ons saam besluit.  Ek het my idees met hom bespreek en sy opinie gevra. Emile was wel baie betrokke met die reëlings van die troue en het gehelp waar hy kan, so dit was regtig meer van ʼn span poging.

Gunsteling Diensverskaffers:


  • Beaudell Designs -Mieke het die proses van ring soek ʼn plesier gemaak, my altyd vinnig gehelp.
  • Liqerish – Sy het al ons ‘signage’ gedoen, Janine was baie geduldig met al my versoeke en vrae en is werklik net op ʼn ander vlak met haar produkte wat sy lewer.
  • Cindy Louwrens Fotografie – sy het ons baie op ons gemak laat voel en het fotos neem pret gemaak.

Spesiale Tradisies:


Ons het net die kousband en blomruiker wat gegooi is gehad.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Dit het vreeslik gereën op ons troue, so ons het nie die Plan B gehad van die kanapees skuif restaurant toe nie en waar gaan ons fotos neem as dit nie ophou reën nie ens.  So dit was ʼn geskarrel om al die goed uit te sorteer op die troudag self.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruide:

Kies jou strooimeisies reg, dit kan die hele proses vir jou of baie lekker of baie sleg maak.

Bruidegomme:

Help jou vroutjie waar jy kan, dis maar stresvol om ʼn troue te reël, wees net daar vir haar.

Venue & Dekor:


Ons wou ʼn trou venue gehad het waar meerderheid van die gaste op die perseel kon slaap en wat nie te ver van ons tuisdorp is nie.  Ons het toe op Bona Bona besluit wat al die boksies afgemerk het.

Die dekor wou ek ʼn tydlose/ klasieke tema gehad het, iets wat as jy oor 10 jaar terug kyk dan is dit nogsteeds mooi en stylvol.  Ek het toe op wit en groen as die kleure besluit, die trou blomme en dekor was alles skakerings van wit en groen en lig pienk.  Die tafels se dekor wou ek ook nie gehad het dit moet oorweldigend wees nie, ek wou ʼn balans gehad het.  Die trou blomme wou ek laag gehad het dat gaste mekaar kon sien en daar nie iets in die pad was nie.   Kerse het vir my alles mooi afgerond en atmosfeer geskep.

Vermaak:


Ons het net ʼn platejoggie gehad wat by die kanapees musiek gemaak het en by die onthaal gesorg het vir ʼn gesellige tyd.

Wittebrood:


Ek het glad nie geweet waarheen ons gaan vir wittebrood nie, Emile het dit ʼn staatsgeheim gehou.  Ons was Maldives toe gewees.  Dit was die beste en lekkerste vakansie nog.  Dis moeilik om dit in woorde te sit.  Ons het lekker geswem, ge eet, en net ons tyd saam mekaar waardeer op die mooiste plek.  Oppad terug het ons ʼn paar dae in Dubai spandeer, was weer iets heeltemal anders maar net so lekker.

Eerste Dans:


Ons het bietjie gesukkel om op ʼn liedjie te besluit en het die dag voor die troue nog nie ʼn keuse gemaak nie.  Emile wou ʼn liedjie gehad het wat ʼn lekker ritme het, en ek weer een wat mooi woorde het, en toe het ons een gekry wat aan altwee se vereistes voldoen.

Ons het die dansbaan geopen op Chad Brownlee se Forever’s Gotta Start Somewhere.

Ons het nie vir dans lesse gegaan nie, ons dans lekker met mekaar so ons het gevoel dis nie nodig nie.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: