Die Belangrikheid van ʼn Tydlyn vir jul Troue

In dié inskrywing deel ons uiters belangrike advies vir jul eintlike troudag met julle, ons bespreek die belangrikheid van ʼn tydlyn vir jul troue op Mooi Troues.  Wil jul ʼn perfekte, stresvrye troue hê? Dan is ʼn trou tydlyn net wat jul nodig het vir julle troudag.  Tydlyn is ʼn belangrike aspek van elke troue, of jul dit nou self beplan of deur ʼn trou koördineerder beplan word.  Jul het altyd ʼn tydlyn nodig en tyd is ʼn groot faktor op julle troudag.  Verskillende elemente hang van die tydlyn af, soos die trou diensverskaffers se tye, grimering en hare, fotografie, kos en vele meer.  As jul tydlyn deurmekaar is sal jul die heeldag op julle troudag oorweldig voel en alles sal onbeplan voel.

Indien jul nie ʼn trou koördineerder het wat julle tydlyn op die dag bestuur nie, vra iemand om verantwoordelikheid te vat vir die tydlyn.  So sal dit bietjie minder stres op julle skouers wees op die dag van julle troue.  Hierdie artikel sal vir julle beter laat verstaan hoekom ʼn tydlyn vir julle troue so belangrik is.

Onder is ʼn paar belangrike punte wanneer dit kom by julle troue se tydlyn.  Alhoewel daar baie meer ander punte is, is hierdie net ʼn paar hoof punte waaraan jul kan aandag gee.  Dit is belangrik om julle tydlyn neer te skryf, stap-vir-stap.  So sal jul nie vergeet wat word wanneer gedoen nie en as iets moet verander kan jul sien wat jul verander het.  Wanneer jul dan julle finale tydlyn het, kan jul die tydlyn tik en stuur na al julle trou diensverskaffers.  Klik hier om ʼn idee te kry vir ʼn tyd skedule vir jul troudag.  Rol af vir meer advies oor die belangrikheid van ʼn tydlyn vir jul troue.

Hoekom is ʼn tydlyn belangrik?


  • Dit maak julle troudag meer georganiseerd.
  • Die trou diensverskaffers weet waar hulle moet wees teen watter tye.
  • Julle weet waar almal moet wees en plaas minder stres op die paartjie.

Opstel van die Seremonie & Onthaal:


Dit is een van die eerste dele van julle troudag, die dekor en blomme se opstel.  Maak ʼn lys van almal wat verantwoordelik is vir die opstel van julle seremonie en ook onthaal lokaal.  Dit sluit in dekor huurdienste, dekor stilis, blomme, beligting, klank, kroeg ens.   Stuur ʼn e-pos na al die diensverskaffers wat deel is van die opstel van jul seremonie en onthaal.  Vra hoe lank hul gaan neem met die opstel van hul produk of diens op die dag.  Sit ʼn uur by elke een, want alhoewel ons wil hê almal moet op tyd wees, partymaal is mense laat weens verskeie redes.

Maak ook seker dat die tyd wat die diensverskaffers gee, die skoonmaak ook insluit en alles wat rondlê uit die pad is.  Partymaal laat trou venues toe dat die dekor al die vorige dag begin opgestel word, maar jul kan nie gewaarborg wees nie.  Daar mag ook addisionele kostes wees indien jul wel die vorige dag al wil begin opstel.

Reël dat julle trou fotograaf en videograaf eers by die trou venue begin foto’s neem wanneer die onthaal lokaal klaar opgestel is.

Grimering & Hare:


Grimering en hare neem lank om te doen, veral as jou strooimeisies se grimering ook gedoen moet word.  Dit is belangrik om gereed te wees vir julle grimering en hare span wanneer hulle arriveer.  Moet nie nog in die bad lê en ontspan wanneer hulle arriveer nie.  Stel ʼn wekker en probeer in tyd bly.  Maak ook seker dat al die strooimeisies op tyd is vir hul grimering en hare.   Die beste advies wat ons kan gee, is om met julle grimering en hare span te gesels voor die troudag oor hoe hulle wil werk op die dag van jul troue.  Elke trou diensverskaffer het hul eie manier van dinge doen.  Maak seker jul weet hoe julle grimering en hare span dit wil doen.

Grimering en hare moet op een plek gedoen word en vat tyd om gedoen te word.  Die bruid moet ten minste 2 ure uithou vir haar grimering en hare.  Elke strooimeisie sowat 45 minute per strooimeisie.  Dit is belangrik om te weet hoe lank julle grimering en hare gaan neem, so vind uit by julle grimering en hare span.

Onthou die fotograaf moet ook nog foto’s van die bruid en haar gevolg kry waar hul klaar maak asook foto’s saam met die Bruid se Pa, Ouers en Strooimeisies.  Dit vat nog so 45 minute tot ʼn uur.  Dan sal die fotograaf ook die bruidegom en sy strooijonkers afneem.

Fotografie & Videografie op julle troudag:


Fotografie en Videografie is gebonde aan natuurlike lig.  As jul laat is en nie fokus op die finale tydlyn nie, sal julle fotograaf of videograaf nie die nodige beeld materiaal kan kry nie.  Maak seker jul laat weet julle trou fotograaf en videograaf vooraf hoe laat wat gebeur op julle troudag.  Wanneer jul julle skedule met die trou fotograaf en videograaf bespreek, vra hul vir advies wanneer dit kom by tye.  Die fotograaf en videograaf sal min/meer vir julle ʼn aanduiding kan gee hoe laat hulle sal arriveer.  Meeste trou fotograwe sal ook hul eie fotografie skedule deurgee aan die paartjie voor die troue, dit is ʼn tydlyn waarvolgens die trou fotograaf sal foto’s neem.

Op die dag van die troue, maak seker jul het alles gereed en bymekaar vir julle fotograaf en videograaf wat afgeneem moet word.  jul wil nie op die laaste minuut rond hardloop om iets te soek nie.

Onthou die son wag nie vir julle nie.  As julle laat is en julle fotograaf moet teen skemer foto’s neem en die son sak, dan sal julle fotosessie kort geknip word.  So sal jul nie daai mooi seker foto’s kry nie.

Spyseniering:


Dit is belangrik dat jul op jul troudag betyds is, want as jul vir die trou venue of spyseniering maatskappy gesê het jul wil 7 nm die voorgereg op die tafel hê en dit is ʼn warm dis, of iets baie koud en jul is laat, sal die dis nie meer lekker wees nie.  Dit gee dan ʼn slegte indruk en so lyk jul venue of spyseniering maatskappy of hulle nie weet wat hul doen nie.  Maak seker jul kommunikeer die tydlyn met julle spyseniering maatskappy of trou venue.

Platejoggie & Vermaak:


Maak julle lys van liedjies voor die tyd.  Gaan deur al julle liedjies met julle platejoggie voor die dag van julle troue.  Maak seker jul beplan watter liedjie wanneer moet speel voor die tyd.  Sit die tye vir toesprake in op julle tydlyn.

Etes – onthou om julle etes ook op jul tydlyn te sit.  Dit sal verhoed dat daar stil tye is.   Jul sal ook nie te vinnige deur julle liedjie lysie gaan vir die aand nie.  Musiek en vermaak is ʼn groot deel van ʼn onthaal en kan die hele atmosfeer van die onthaal stel.

Artikel Krediet:

  • Artikel geskryf deur Mooi Troues.
  • Foto krediet: Pexels