Ons is opgewonde om Duard en Celetia se verlowing fotosessie in Clarens, Vrystaat met jou te deel op Mooi Troues. Clarens het ʼn spesiale plekkie in die paartjie se harte en daarom het hul besluit op die ligging. Die paartjie se fotosessie is só mooi. Die sagte sonlig en die prentjie mooi landskappe was die perfekte kombinasie.
Celetia se vloeiende aards kleur rok het só mooi gelyk in die ligging, omdat dit die teenoorgestelde is van die omliggende landskappe. Duard het selfs baie dapper gelyk in sy Khaki-kleur broek en donker knopies hemp. ʼn Mooi uitrusting en fantastiese ligging is altyd ʼn wen kombinasie vir ʼn verlowing fotosessie. Paartjies wil gewoonlik weet wat hul moet aantrek vir hul verlowing foto’s. Hierdie paartjie se fotosessie bied tonne inspirasie in daardie gebied.
Die fotograaf het elke oomblik so mooi vasgevang! Alles is moontlik as jy ʼn fantastiese fotograaf het. Mooi Troues se Trougids is vol professionele trou fotograwe wat jou spesiale oomblikke sal vasvang. Jy kan sien die paartjie het baie pret gehad gedurende die verlowing fotosessie. Rol af om meer te lees oor Celetia en Duard se verlowing fotosessie in Clarens en ook hul oulike liefdes storie.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het albei aan die NWU Potchefstroomkampus studeer en op ʼn stadium in dieselfde woonstelblok gewoon. Ek was daardie tyd in ʼn verhouding en baie besig omdat ek op die studenteraad gedien het, en Duard het sy studentelewe geniet. Dus het ons elkeen se lewens hul eie gang gegaan.
Ek het vir Qatar Airways as ʼn lugwaardin gewerk en hy het sy klerkskap in Schweizer Reneke voltooi. As gevolg van die pandemie, moes ek terugkom Suid-Afrika toe, en dus het ons paaie weer in Bloemfontein gekruis. Ons het onmiddelik gekliek en verlief geraak. Die eerste amptelike afspraak het ons gaan koffie drink, fliek en Meksikaanse kos geëet.
Ons het mekaar se geselskap so baie geniet, dat ons sommer die volgende oggend weer saam gaan ontbyt geniet het. Daarna was ons saam na 2 troues toe wat ongelooflik lekker was, “en die res is geskiedenis!” Hy vertel nou agterna dat hy daardie tyd op universiteit destyds al gedink het dat ek mooi is en maar “geduldig vir my gewag het”!
Ons was toe eindelik so bietjie meer as 7 maande lank in ʼn verhouding voordat ons verloof is. Albei van ons het sommer dadelik geweet dat ons vir mekaar bedoel is!
Die groot vraag:
Ons het in Clarens verloof geraak, tussen Golden Gate se berge, en daarom het ons besluit om ons verlowingsfoto’s ook daar te laat neem. Dit is ʼn plek so na aan ons harte. Beeldskone uitsig, vars lug, ons liefde vir mekaar en God se teenwoordigheid.
Die sonsak was pragtig en die briesie koel, maar gelukkiger kon ons nie wees nie. Ons het vooraf gepraat oor verloof raak, ek het net nie geweet hoe, waar en wanneer nie.
Daardie aand het ons saam met vriende gebraai en ʼn glasie sjampanje geklink om die opwinding te vier!
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons was 6 maande verloof voordat ons die knoop deurgehaak het.
Die verloofring:
Ons het na ringe gaan kyk en gepas, en hy het toe eindelik dit gaan koop en weggesteek. Ons het toe later ʼn pand laat bysit.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Omdat Clarens ons so na aan die hart lê, het dit net reg gevoel om dit daar te laat neem, en dit het pragtig uitgekom. Ons het daarvan gebruik vir ons trou webtuiste, vir ‘canvasse’ vir die troudag, op ons programme en ook in ons huis!
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Die berge is tydloos en ek het gevoel dat die roes-oranje rok pragtig by die natuurskoon se skakerings sou pas. Ek wou beslis ʼn rok hê wat in die wind speel en dans, en hierdie rok was presies dit. Met die son en “goue uur” wat deurkom, was ons verwagtinge oortref. Die wind was baie koud gewees en ons het tot op die hoogte berg geklim (hakskoene, rok en al) om die laaste bietjie son te kon vasvang!
Visie vir droomtroue:
Ons is bevoorreg dat ons droomtroue op 11 Desember 2021 plaasgevind het. Ons grootste droom was om mekaar, ons liefde en die Here te kan vier met al ons gunsteling mense teenwoordig. Met ons troue wou ons elegant, klassiek en stylvol- maar tydloos- gegaan het. Ons wou hê die mense moet lekker dans, feesvier, eet en ʼn mooi boodskap vanaf die dominee ontvang.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Bahama Burgundy Photography
- Fotosessie Venue: Golden Gate Highlands National Park
- Verloofring: Heathorn’s
- Grimering: Karlé Potgieter Artistry
- Hare: Petro @ Salon Roca Solida
- Rok: Sadé Jansen Fashion Designer