Winter Wegbreek na Eikehof Plaas in Worcester

Soos julle weet is Mooi Leefstyl lief daarvoor om plaaslik te reis.  Ons deel met jou ons lieflike winter wegbreek na Eikehof Plaas in Worcester.  Slegs ʼn uur en vyftien minute vanaf Kaapstad Internasionale lughawe kan jy jou skoene uitskop en ʼn ontspannende plaas wegbreek geniet.  Dit is weg van die stad se gejaag, omring deur prentjie mooi natuurtonele en plaasdiere.

As jy opsoek is na ʼn luukse selfsorg plaas wegbreek, dan is Eikehof die perfekte plek vir jou.  Die 128 hektaar plaas slegs 10 kilometer vanaf Worcester se middestad het ʼn ryk geskiedenis van uit die 1790’s.  Met ʼn Herehuis wat as Nasionale Erfenismonument verklaar is, prentjie mooi plaas landskappe en berg uitsigte, kan jy nie verkeerd gaan nie.

Ons het in hul Uitzicht kothuis gebly, net so ʼn entjie se stap weg van die Herehuis.  Dié oulike plattelandse kothuisie is privaat en perfek vir twee mense.  Hul het ook ander verblyf opsies beskikbaar wat meer gaste kan akkommodeer.  Rol af om meer te lees oor ons wegbreek na die pragtige plaas.

Meer oor die Uitzicht Huisie:

Ons het in Eikehof se Uitzicht kothuisie gebly teen die bultjie van die plaas en het sy eie klein tuin met pragtige berg uitsigte in die verte.  Hy is een van die meer privaat huisies wat Eikehof beskikbaar het vir gaste om te huur.  Dit is ʼn klein huisie en perfek vir ʼn paartjie wat ʼn wegbreek wil geniet weg van die stad se gejaag.  Dit is ʼn oopplan vertrek, maar het nogsteeds ʼn baie opgedeelde en privaat gevoel. Daar is geen televisie nie, maar wel gratis internet met goeie spoed.

As jy instap is daar ʼn kombuis gedeelte waar jy die nodigste sal vind om jou verblyf gemaklik te maak.  Daar is ʼn Nespresso masjien en ook kitskoffie en tee maak fasiliteite.  ʼn Twee plaat gas stofie vir die wat ʼn vinnige maaltyd of ontbyt wil voorberei.  ʼn Lekker groot yskas en ook ʼn mikrogolf.  Alle verblyf opsies is selfsorg so bring jou kos en drankies saam en geniet jul wegbreek hier.

In die volgende vertrek loop jy in die slaapkamer gedeelte in.  ʼn Koning grootte bed met duursame linne wag vir jou om te kom lekker ontspan en ʼn vir ʼn goeie nagrus terwyl jy aan die slaap raak met die plaasdiere se geluide en die krakende kaggelvuur.

Die badkamer is lekker ruim met baie natuurlike lig.  Dit het ʼn groot stort, wasbak en ʼn toilet.

Buitekant is daar ʼn privaat tuin, braai geriewe en ʼn heerlike verhitte plonspoel wat jy met vuur warm hou.  As jy dit warmer wil hê, sit jy net meer hout op vir langer en dat die vuur sy ding doen.  In die somer maande kan jy die water net so koud geniet om af te koel.

Dinge om te doen by Eikehof Plaas:

ʼn Groot plaasdam is gerestoureer en nou ʼn lekker plaasdam-swembad wat jy kan geniet as dit lekker weer is.  Hier kan jy die heerlike sonlig geniet langs die swembad.  Skink jou gunsteling koue verversing en geniet ʼn middag by die swembad.

As jy een is wat hou van loop, dan kan jy op die plaas rondloop en die mooi natuurskoon inneem.  Jy kan ook na die plaasdiere loop wat voor die Hoofhuis geleë is en tyd saam met die donkies, bokke, hoenders en kalkoene geniet.  Jy sal ook gegroet word deur die hoenders wat vrylik rondloop deur die dag en in die aand snoesig in hul hoenderhok slaap.  Die bokke het vir ons behoorlik vermaak gebied.

As jy in een van die eenhede bly wat ʼn privaat verhitte swembadjie het, kan jy dit geniet in jul eie privaatheid geniet.

Die hele doel van ʼn wegbreek na Eikehof is om te ontspan, so geniet ʼn piekniek enige plek op die grasperke van Eikehof.

Dinge om te doen in die gebied:

Daar is soveel om te dien in die gebied, hieronder is ʼn paar idees:

Jy kan ʼn middagete of aandete geniet by Bosjes en so ook hul pragtige argitektoniese kapel aanskou.

Gaan vir wynproe in die Slanghoek vallei, of geniet ʼn heerlike middagete in die gebied.

Geniet ʼn pragtige rit na Ceres, Wolseley of Tulbagh.  As jy in Wolseley is, maak ʼn draai by Adene’s Blomme Plaas.

Bespreek jou wegbreek na Eikehof Plaas:

Besoek Eikehof se webtuiste om aanlyn te bespreek of stuur hulle ʼn e-pos as jy enige vrae het oor hul verblyf opsies.  Jy kan hulle ook volg op Instagram en Facebook om pragtige foto’s te sien van die prentjie mooi plaas.  Eikehof bied ook funksie en trou pakkette aan gaste, lees meer op hul webtuiste daaroor.

    Artikel Diensverskaffers: