Jaco & Lené se Stylvolle Plaastroue

Jaco en Lené se stylvolle plaastroue in Parys in die Vrystaat is die perfekte voorbeeld van hoe mooi ʼn plaastroue kan wees.  Dié paartjie se verlowing fotosessie was ook voorheen gedeel op Mooi Troues se webblad, klik hier om na Jaco en Lené se oulike verlowing in Parys te gaan kyk.

Lené het die mooiste trourok gehad wat iets heeltemal uniek is.  Ons is gaande oor die manier hoe die trourok vloei en die detail op die trourok self.  Dit was in kontras met wat jy normaalweg sal verwag van ʼn plaastroue en ons is mal hieroor!  Jaco het ʼn mooi karamel kleur baadjie aangehad met ʼn swart broek wat so mooi gepas het by Lené se trourok en die hele sjiek-plaastroue tema van hul troudag.  Die swart tema van die strooimeisies en die bruidegom se gevolg het die formele gevoel ingebring by die pragtige troue.

Wanneer dit kom by hul trou dekor is ons stomgeslaan oor hoe mooi alles bymekaar gekom het.  ʼn Neutrale kleurpalet met tikseltjies wit en goue elemente gee die dekor ʼn moderne, maar baie stylvolle gevoel.  Die gebruik van rose en ook orgideë pas perfek by die dekor elemente.  Dit is in kontras met die onafgewerkte plaas landskappe.

Om ʼn prentjie mooi troue soos die van Lené en Jaco te hê, het jy ʼn span professionele en betroubare diensverskaffers nodig vir jou troue.  Besoek gerus Mooi Troue se Vrystaat Trougids vir al jou trou diensverskaffers.

Lené en Jaco het ʼn lekker plaaslike wittebrood geniet en het ge toer vanaf Parys tot in die Kaap.  ʼn Droom wittebrood!  Lees meer oor Jaco en Lené se stylvolle plaastroue en hul liefdesreis so ver deur af te rol.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar deur ʼn gemeenskaplik vriend ontmoet net voor Nuwejaar 2019.  Op Nuwejaar het ons ons eerste soen gehad, en die res is geskiedenis.

Ons verlowing was vir my ʼn totale verassing.  Ons het ʼn fotosessie as ʼn ‘housewarming’ geskenk gekry en Jaco het dit toe nou gesien as die perfekte geleentheid.  Ek was onder die indruk dat ons ʼn paar fotos gaan neem vir ons huis.  Ek, hy en ons Jack Russel troetel-kind; Hunter.

ʼn Paar minute in die fotosessie in het die fotograaf gesê sy wil my alleen afneem.  Sy het my instruksie gegee om om te draai en in die verte in te staar … en dan op haar telling moes ek omdraai … so gebeur dit alles toe nou.  Met die omdraai is my grootste verwagtinge oortref … daar staan Jaco, op een knieg en vra my om met hom te trou.

DIT WAS DIE BESTE OOMBLIK OOOOOOIT!!!!

Die Verlowing Tydperk:


Ons het Februarie 2021 verloof geraak en Oktober 2021 getrou.  Die verlowing was min of meer 8 maande, maar ons het eers Mei maand besluit om Oktober te trou so ons het ons troue in 5 maande beplan.  Ons het die troue self beplan.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons advies sal wees om nie te lank te wag nie … as die bronne daar is, doen dit!

Probeer om so teenwoordig as moontlik te wees deur die hele proses, en onthou om ʼn troue te beplan is nie ʼn eenman werk nie !

Geniet alles (tot die slegte gedeeltes).  Dit is ʼn hele emosionele “roallercoaster ride”, klim op en hou vas.  Alles op die ou einde gaan die moeite werd wees!

Trou Begroting:


Ons begroting was R200,000.00.  Albei ons ouers het gesê hulle sal dit 50/50 split. … Ons het nie by begroting gehou nie!

Ons het oorspronklik besluit op 100 gaste, maar ons het op geëindig met 120 gaste.

Dit was nie ʼn baie uitspattig troue nie en ons wou nie een hê nie … ons idee was om dit ʼn lekker partytjie-troue te maak.

Merkwaardigste Oomblikke:


Ons seremonie was vir my asemrowend!  Ons het die geleentheid gehad om bo op ʼn koppie te trou wat uitkyk op die Vaalrivier, asook op die Vrystaat vlaktes.  Die hele seremonie was opelug en ons gaste het wit sambreeltjies gehad … dit het die mooiste prentjie geskep.

Die Dominee het die mees perfekste preek gegee en ons het baie komplimente na die tyd gekry oor sy preek.

Vir Jaco was die partytjie gedeelte van die troue natuurlik die lekkerste …

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Ek sou nie se dat daar noodwendig so oomblik was nie.  Ons was bang vir reën … soos almal maar is op die dag van hulle troue.  Die wind het bietjie opgesteek by die tyd van die seremonie en so uur voordat die gaste opgedaag het, het die struktuur waaronder ons getrou het af van die koppie afgewaai … Jaco en sy strooimeisies het pak en al daar afgeklim, elke stuk opgetel (selfs die blomme) en hulle het hom weer opgebou en versier. (ek het dit natuurlik eers die volgende dag uitgevind).  Verder was alles regtig perfek gewees.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het sekerlik 85% van die troue beplan en besluite geneem … Jaco het sy insette gehad, maar hy het verkies om ʼn “silent partner” te wees.  Familie en vriende het baie gehelp met idees en om reëlings te tref, en natuurlik het elkeen sy opinie gehad, maar op die ou-end van die dag gaan dit oor die bruid en bruidegom en waarvan hulle hou.

Paartjie se styl:


PLAAS-SJIEK!  Daai beskryf ons styl en troue perfek!

Die trou kleurskema was wit, goud, groen en bruin.

Jaco se baadjie was ʼn karamel bruin met ʼn wit hemp en swart broek.  Sy bykomstighede was ook swart.  Sy strooijonkers het ʼn chino aangehad met ʼn swart hemp en bruin bykomstighede.  Ons Pa’s was alles swart met ʼn donker bruin das.

My trourok … sjoe hoe beskryf mens dit … Dit is ʼn baie unieke trourok sou ek sê.  Met my eerste ontmoeting met Werner Dey het hy my verstaan, ons het dieselfde idees gehad en hy het presies verstaan waarna ek opsoek is … ons het vir mekaar gekyk en gesê dié gaan nie ʼn tradisionele trourok wees nie.  My trourok was my persoonlikheid 100%.

Die strooimeisies het swart een-skouer ‘jumpsuits’ gedra, met ʼn tipe van ʼn skouermantel oor die een skouer en ʼn wye pyp onder by die voete.  HULLE WAS SO MOOI!!!  Die Ma’s het elkeen hulle eie idees gehad, maar hulle het ongelooflik mooi gelyk … saam het almal ʼn baie mooi prentjie geskep.

Gunsteling Diensverskaffers:


Nee dis onmoontlik om net een te kies. Dit was lekker om saam met almal te werk!

Ons spysenier was ʼn familie vriend.  Tannie Mandy weet van spit en kos maak en dit was baie lekker om saam haar te werk. Die kos was die hoogte punt vir baie van die gaste en ons het ongelooflik baie komplimente gekry oor ons vingerhappies en hoof maaltye!

Blomme, Dekor en Skryfbehoeftes:

Baie laat in die trou beplanning het ek vir Catharina Carolina ontdek … en was ek bly ons paaie het gekruis!  Hulle het ons troue soos ʼn droom laat lyk.  Ek het reeds vooraf meeste van my troudekor ingehuur .. hulle het gekyk na dit wat ek het en gesê hulle kan 100% daarmee werk.  Hulle het ook ons blomme en trou skryfbehoeftes gedoen.  Hulle is die oulikste twee mense om meer te werk.  Dit was ʼn baie spesiale reis en ek gaan definitief weer van hulle dienste gebruik maak.  Hulle is vreeslik talentvol in dit wat hulle doen. #wenspan

Grimering en Hare:

My hare en grimering kunstenaar, Rica was ongelooflik oulik!  Sy was verantwoordelik vir al die vrouens in die gevolg, asook vir my (die bruid) sy en haar span het die Vrydagaand al by ons aangesluit.  Dit was so lekker om die pad saam met hulle te stap!  Hulle is baie professioneel en verbasend baie op tyd … ʼn mens weet mos maar hoe dinge gaan.

Die Trourok ontwerper:

En dan … Werner Dey natuurlik … wat ʼn belewenis om ʼn pad saam met hom te stap.  Almal wat al saam hom gewerk het sal saam met my stem as ek se hy maak dit ʼn onvergeetlike reis!  Van idees en Pinterest tot op die dag van jou troue.  Hy sorg dat jy die absolute mooiste/beste weergawe van jouself is op jou droom troudag.

Fotograaf en Videograaf:

Laaste, maar glad nie die minste nie, was ons foto-en-videograaf Lenika en Tuness van CocoJade Media.  Ek het hulle ontdek deur een van my strooimeisies.  Ek het nog nooit vir Jaco so gemaklik voor ʼn kamera lens gesien nie, en die persoon wat dit reg kry weet wat hulle doen.  Hulle het die fotosessies so lig en lekker gemaak.  Ons het gelag, en gedans en dit was net ʼn lekker ondervinding.  Ons is só gelukkig met hoe ons trou herinneringe en storie uitgekom het.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gebruik om vir ons musiek te maak.  Na die tyd wou niemand huis toe gaan nie en het ons sommer besluit om Jaco se klankstelsel in te prop en so het die aand verder verloop.

Wat oulik was is dat ons my kousband opgeveil het tussen die gaste in plaas daarvan dat Jaco dit gooi vir die enkellopende mans.  Ons het ʼn lekker paar rand gemaak en dit het baie gehelp vir ons wittebrood.

Venue & Dekor:


Ons het van die begin af geweet ons wil in of rondom Parys trou.  Een middag het ons besluit om in die bakkie te klim en om te gaan rond ry en te kyk op watter plekke ons af kom.  Ons het geweet ons wil nie by ʼn tradisionele venue trou nie, ons soek bietjie iets unieks.

Oppad huis toe het ek en Jaco verby ʼn plaas gery, van die pad af kon mens net perdestalle sien en doer in die verte het grasdakke uit gesteek … hierdie plek het dadelik my en Jaco se aandag getrek en ons wou weet wat hier aangaan.  Die geboue wat ons kon sien was met die mooiste styl versier.  Ons het inligting borde gesoek, maar daar was nie … op ʼn klein bordjie voor die toe hek het ons iets raak gelees van Noble Equestrian Stables.

ʼn Paar dae/weke het verby gegaan, ons het intussen na klompie ander venues gaan kyk, maar niks het ons hart snare gekielie nie … met die terug ry van ons laaste besoek af het ek vir Jaco gevra ons moet ʼn kans vat en gaan kyk of ons nie ʼn oop hek, of iemand op die perde plaas kry nie.

Met ons aankoms het ek vreeslik opgewonde geraak… die hekke was oop en daar was iemand wat ons vinnig op ʼn toer kon vat deur die plaas… ek en Jaco het begin prentjies skep in ons koppe van hier kan ons dit doen en daar kan dit gebeur ens… dis hoe ons geweet het… this is it… dis die plek!

Wittebrood:


Ons wittebrood was twee weke lank.  Ons het getoer van Parys tot in die Kaap.  So het ons die mooiste klein dorpies en gastehuise ontdek.  Albei van ons was moeg gewees na die troue en dit was grootliks die rede dat ons nie reguit af wou ry kaap toe nie.  Ons het golf gespeel, wynplase besoek, strand toe gegaan, restaurante ontdek, en net ons eie land meer lief gekry.

Ons wou nie terugkeer realiteit toe nie.

Eerste Dans:


Ek en Jaco het besluit om elkeen self ʼn heildronk op ons ouers in te stel.  Na ek my ma hulle bedank het, het ek en my pa gedans en so ook het hy sy ouers bedank en daarna met sy ma gedans.  Ons het toe hoofgereg geëet en toe was daar ʼn heildronk om my en Jaco gewees.  Ons het na die heildronk die dansbaan geopen met ons eerste dans.

Dit was heeltemal oorspronklik en opgemaak soos ons gegaan het (nee ons het nie gesokkie nie).  Intiem en spesiaal.  Dit was ons verhouding in ʼn liedjie en dit was so mooi uitgebeeld.

Ons het vir mekaar gesing en mekaar styf vasgehou.  Ek dink dit was moontlik vir ons albei die lekkerste gedeelte van die aand.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: