Ons is baie opgewonde om die verlowing fotosessie met ons lesers te kan deel. Arnon en Jessica se karnaval verlowing fotosessie is definitief iets uniek. Die paartjie het besluit om hul verlowing fotosessie in Pretoria te doen by ʼn karnaval. Hoe oulik is dit? Omdat ʼn karnaval rond beweeg het dit bietjie meer beplanning geverf, maar niks was te veel vir die paartjie en hul fotograaf nie. ʼn Karnaval is sinoniem met opgewondenheid en sommer baie pret. Dit is presies wat hierdie paartjie se verlowing fotosessie was.
As jy ʼn paartjie is wat hou van iets anders, dan is dit dalk goed om ʼn tema te kies vir julle verlowing fotosessie. Vind ʼn fotograaf wat julle visie vir ʼn oulike verlowing fotosessie deel en maak jul droom ʼn realiteit. Paartjies kan stresvry en maklik fantastiese fotograwe vind in ons trougids.
Wees anders en doen iets wat julle van hou as ʼn paartjie. ʼn Verlowing fotosessie het nie enige beperkings op wat jy mag en nie mag doen nie. Maak dit pret vir julle self en so voel julle ook meer gemaklik voor die kamera. Begin nou al te oefen, sodat julle op jul gemak is op jul troudag. Rol af om meer te lees oor die paartjie se verlowing fotosessie en hul liefdesreis.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het albei in ʼn restaurant gewerk en mekaar daar leer ken. Van die eerste keer wat ons mekaar ontmoet het, het ons ‘n sterk vriendskap gehad. Dit was maklik om oor enige iets te praat en ons het baie tyd saam spandeer. Ons is nou 8 jaar in ‘n verhouding.
Die groot vraag:
Ons het na ʼn koppie gegaan op ons plaas waar ons altyd gaan vir skemerkelkies met ons honde. As fotograwe is dit nie vreemd om kameras saam te vat oral waar ons gaan, maar toe ek die driepoot inpak was Jess agterdogtig. Toe het ons onmiddelik kameras opgestel en tot my groot verrassing het ek op een knie gegaan en gevra of Jess met my sal trou. Ons vriende het net na dit ook daar aangekom en saam met ons gevier. Al ons naaste familie en vriende het ons in persoon vertel en toe ‘n paar dae later op sosiale media gesit. Ons was verbaas oor hoeveel mense saam met ons opgewonde is.
Hoekom ons mekaar lief het:
Toe ons mekaar ontmoet het was ons jonk en vol drome. Soos wat tyd verloop kan ons al hoe meer van ons drome en doelwitte afmerk op ons lysies. Ons is ‘n baie goeie span en motiveer mekaar altyd om ons doelwitte te bereik. Ons vriendskap kom altyd eerste in ons verhouding. Arnon is passievol in alles wat hy doen en hy behandel elke persoon wat hy ontmoet met respek en goedheid. Jess is een van die mees hardwerkende mense en sit altyd ander mense se geluk voor haar eie, sy sal uit haar pad uit gaan om ‘n glimlag op die mense om haar se gesigte te sit.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons het nog nie planne of ‘n trou datum nie, ons wil eers ons verlowing geniet en sal eers in 2023 ‘n datum vasmaak.
Die verloofring:
Ek het glad nie verwag dat hy my gaan vra om te trou nie. Ons het ‘n baie unieke styl en ek dink my verloofring pas perfek by ons. Ek is baie beïndruk met hoe Arnon alles beplan het en hoe goed hy my ken.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Die fotograaf, Foxline (Belrie), neem al van 2015 fotos van ons – sy is ‘n briljante fotograaf en is altyd bereid om saam met ons aan nuwe idees te dink. Sy gaan altyd “above & beyond” om sessies te beplan vir haar paartjies om dit uniek te maak. Toe ek haar gebel het met my idee, was daar baie min tyd voordat die karnaval op gepak het, ons het op die laaste dag die fotos geneem.
Belrie het dadelik begin beplan, na die plek toe gegaan om toestemming te kry om daar fotos te neem en met nog idees op te kom. Weereens het sy die ekstra myl gestap en ‘n ongelooflike fotosessie produseer.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons het al ‘n rukkie die idee gehad, maar die ligging is moeilik omdat die karnaval rond beweeg. Dit was einde 2021 in Pretoria toe beplan ons die sessie, intussen het ons verloof geraak en besluit dit is ‘n oulike idee vir formele verlowings fotos. Ons is groot “sneaker heads” en het ‘n “streetwear style”. Die karnaval werk lekker saam met ons styl en ons persoonlikheid.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:
Ons het geen vrese of spesifieke verwagtinge nie. Ons is baie opgewonde oor die nuwe fase van ons verhouding.
Visie vir droomtroue:
Ons beplan nie om ‘n groot troue te hou nie, daar sal net ‘n paar van ons naaste familie en vriende wees. Ons het nog glad nie gedink aan datums nie, maar dit sal eers in 2023 wees.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: FOXLINE Productions
- Fotosessie Venue: The Carnival at The Grove
- Verloofring: Steven and Son Manufacturing Jewellers