Rassie & Mariëtta se neutrale aardse bruilof

In dié artikel van Mooi Troues deel ons die neutrale aardse bruilof van Rassie en Mariëtta.  ʼn Sprokies verhaal tipe troue, waar die liefde in oorvloed loop.  Die paartjie het om en by 100 gaste onthaal in ʼn pragtige kasteelagtige trouvenue waar al hul drome bewaarheid was.

Rassie en Mariëtta se neutrale aardse bruilof se trou dekor speel met warm aardse kleure van terracotta en wit.  Hul tafel dekor se hoof dekor element is pampas, wat so pragtig gekomplimenteer word die wit kerse en blomme.  Dié kleurskema bied ʼn snoesige atmosfeer en ons by Mooi Troues dink dit sal uitstekend werk vir ʼn Herfs, of selfs ʼn Winter troue.  Dié pragtige bruidspaar se trou uitrustings dra ook by tot die styl van hul besonderse bruilof.  Mariëtta spog met haar elegante wit trourok met ʼn titsel sexy, terwyl Rassie dapper lyk in sy tydlose, klassieke swart pak.

Met soveel liefde van familie en vriende wat Rassie en Mariëtta se bruilof saam hul kom vier het, kan dié bruidspaar net kalmte en geluk ervaar.

Rol nou af en geniet Rassie en Mariëtta se neutrale aardse bruilof, propvol pragtige trou inspirasie vir paartjies wat besig is om hul eie troue te beplan.  Moet asseblief ook nie vergeet om ʼn draai te gaan maak by Mooi Troues se aanlyn trougids nie.  Daar sal jul professionele trou diensverskaffers vind om jul eie droom troue te bewaarheid.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het vir die eerste keer ontmoet in Stilbaai een Oujaarsaand.  Ons het mekaar weer raakgeloop by ʼn verjaarsdag ʼn paar maande daarna.

Rassie het my gevra om te trou by die Wijnland Auto Museum. Hy het vir my ons ʼn paartjie fotosessie gereël omrede ek hom al lankal vra om een saam met my te doen.  Met die het ons familie in die vliegtuig weggekruip en toe ons ʼn foto voor die vliegtuig by die museum wou neem het ons familie uit die vliegtuig geklim met ʼn banier wat vra sal jy met my trou.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons het 22 Mei getrou en was baie bekommerd oor die weer en of ons sou kon buite trou.  Ons het wel die perfekte weer gehad, sonder reën en wind.  Elke bruid se droom.  Ons sal niks verander aan ons perfekte dag nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Van ʼn bruid se perspektief af sal my advies wees om dinge self te probeer doen.  Ons het 99% van ons troue self beplan en uitgevoer en dit was so lekker om die eindproduk te sien en te kan trots wees op wat julle saam bymekaar gesit het. Jy hoef niemand te beïndruk nie, doen waarvan jy hou.  Dit spaar ook baie geld.

Vir alle bruidegomme sal ek voorstel om iewers die aand terug te staan saam met jou bruid.  Die hele prentjie te aanskou en in te neem wat julle saam bereik het.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het 13 Oktober 2019 verloof geraak.  Ons sou September 2020 getrou het, maar weens Kovid moes ons uitstel.  Die tweede datum was Februarie 2021, maar ongelukkig moes ons weer ons troue uitstel weens Kovid.

Ons het uiteindelik na 19 maande se verloof wees 22 Mei 2021 getrou.

Ons het nie ʼn trou beplanner gehad nie.  Dit was moeilik om te beplan a.g.v. die datum veranderings.  Ons moes nuwe verskaffers kry wat ons kan help op ons nuwe datums en ook die styl aanpas a.g.v. die seisoene wat verander het met die nuwe datums.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir my as bruid was die oomblik toe ek in die trougang kon afloop en my man se gesig sien, sowel as my geliefdes.  Ook die eerste dans was vir my spesiaal.

Dieselfde vir my as bruidegom toe my bruid in die trougang afloop en om haar die eerste keer te sien.  Sowel as die eerste dans en die tweede openingsdans met my ouma (Familie dans).

Paartjie se styl:


In terme van my trourok wou ek soos ʼn bruid voel, ietsie sexy, met ʼn oop rug, maar ook bietjie tradisioneel met die “tulle” onder om.  Ietsie blink en ʼn pêrel of 2 sou die ding doen.

Rassie die bruidegom wou graag elegant en tydloos gaan met sy troupak.

Ons wou graag elegant en modern gaan met ons trouringe.  ʼn Solitaire diamant wit goud ring met ʼn “eternity” diamant pant.

Vermaak:


Ons het nie ekstra vermaak gehad buiten ons platejoggie nie.

Met Kovid se inperkings aandklokreël in gedagte, sowel as die feit dat ons in Mei getrou het, het beteken ons moes ons troue baie vroeg begin en ons verwelkomingsdrankies baie kort hou.  Dus het ons gevoel om nie geld te spandeer op die kort tydjie vir verdere vermaak nie.  Gaste was so dankbaar dat hulle kon gesels met mense wat hulle so lanklaas gesien het a.g.v. die inperkings dat die opvang die grootste vermaak was vir gaste.

Trou Begroting:


Ons het aanvanklik nie ʼn vaste bedrag begroot nie, maar ons het geweet ons wou nie baie spandeer nie, omrede ons graag wou huis koop.   Ons het op die ou einde by ʼn totale begroting van R123 000 gehou en 100 gaste onthaal.

Advies aan paartjies:

Spandeer geld aan goedjies wat ʼn verskil maak, spandeer geld op fotos en ʼn video sowel as ʼn goeie platejoggie.  ʼn Platejoggie kan ʼn troue maak of breek.  Ons platejoggie het regtig die dag gemaak.

Probeer dinge self doen, dit spaar baie geld en jy sal verbaas wees hoeveel jy self kan bemag.

Spesiale Tradisies:


Na die hoofmaal het ons besluit om weer die dansbaan te open.  Hierdie oomblik was een van ons gunsteling oomblikke en miskien het ons ʼn nuwe tradisie begin.  Ek en Rassie het die dansbaan geopen en Rassie het verder met sy ouma gedans het, hy het toe met sy ma, sy suster en toe my suster gedans.  Ek het toe met my pa en my broer gedans.  Dit was ʼn familie openingsdans en tydens hierdie dans het die gaste ʼn sirkel om die dansbaan gevorm met elkeen ʼn vonkstokkie in die hand.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons kan nie een uitsonder nie.  Van die platejoggie (Frank van Rainbow Sound) tot die grimeer kunstenaar (Leandre Van Rooyen), sowel as ons fotograwe (Bow & Tie) en videograwe (Boland Weddings).  Almal was vir ons in hulle eie manier ʼn aanwins tot ons groot dag.

Venue & Dekor:


Ons wou ʼn groot dansbaan hê en ook ʼn trouvenue wat nie te ver is nie vir ʼn lekker naweek weg troue gevoel.  Dié trouvenue was ook iets buiten die gewoon, omrede dit soos ʼn kasteel lyk waar jy buite onder die groot bome kan trou.

Ons inspirasie was die pragtige pampas wat die basis van ons trou dekor was en vir my as bruid is ʼn wit blom op ʼn trou dag maar net mooi.  Verder het die mandjies en baie kerse perfek ingepas by die pampas.  Ons wou dit ons eie maak en die venue het dit moontlik gemaak.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het meeste van die besluite saam geneem.  Ons het iets gesoek tot ons albei daarvan gehou het.  Dit is albei se groot dag het ons gevoel en dit was vir ons lekker om saam met idees op te kom en saam besluite te neem en ook saam die saal op te maak en saam al die voorbereidings te doen.

Wittebrood:


Ons het wittebrood gehou in Sun City en by die Kingdom Resort in die Pilanesberg.  Die oorspronklike idee was om Thailand toe te gaan, maar met die inperkings kon ons ongelukkig nie.  Dus het ons plaaslik wittebrood gehou.

Eerste Dans:


Ons is baie lief vir vasdans, so ons het nie danslesse gehad nie en gevoel om dit so natuurlik te hou en net te dans soos ons daarvan hou.  Gewone boere sokkie styl.  Ons het ʼn liedjie waarvan ons goeie herinneringe het gekies om die dans baan te open.

Soos genoem het ons 2 keer die dansbaan geopen.  Eerste liedjie was Sugar Pie Honey Bunch van Kid Rock.  Ons tweede liedjie wat ons saam met ons familie gedeel het was Vrystaat Vlaktes van Reën.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]