Marco & Lelani se pragtige selfdoen Karoo troue

Soos die son op die Karoo vlaktes daal, beeld dit die mooi van liefde uit. Hoe belangrik dit is om onsself te omhels en omring met die liefde.  In dié inskrywing van Mooi Troues deel ons die liefdes reis van Marco en Lelani se pragtige selfdoen Karoo troue in Cradock.

Dié oulike Karoo troue van die mooi bruidspaar beeld die paartjie se persoonlikhede perfek uit.  Die paartjie het ʼn besonderse werk gedoen om dié pragtige troue self te beplan.  Hul trou dekor se hoof fokus is Proteas gepaard met groenigheid en hout elemente.  Marco en Lelani se selfdoen Karoo troue vat wel ʼn eenvoudige benadering, maar tóg skep dit ʼn pragtige warm atmosfeer.  Hul trou dekor beklemtoon die besonderse Karoo natuur.  Omring met Cradock se prentjie mooi Karoo vlaktes, plante en kaktusse, het dié bruidspaar die perfekte omgewing gekies om hul groot dag saam met al hul vriende en familie te vier.

Is julle besig om jul eie droom troue te beplan en opsoek na professionele trou diensverskaffers regoor Suid-Afrika?  Volg gerus dié skakel om professionele troudiensverskaffers te vind op Mooi Troues se  aanlyn trougids.

Rol nou af en geniet die Marco en Lelani pragtige selfdoen Karoo troue propvol trou inspirasie.

Paartjie se Liefdesreis:


Hier is ons Storie,

Dit was 2017, ek was ʼn matriek meisie wat hoop verloor het op liefde en hy ʼn krieketspeler wie se loopbaan al sy aandag geverg het.

ʼn Proef-onnie het daardie selfde jaar by ons skool begin werk en my vinnig onder haar vlerk geneem.  In Februarie het ek ʼn boodskap van haar gekry wat my gevra het of sy my nommer vir een van haar vriende kan gee, hy het vinnig by haar gaan koffie drink en hy hou van wat hy hoor.  Later daardie selfde aand kry ek ʼn boodskap van die einste Marco Marais.  Sy eerste boodskap aan my het my bietjie meer van sy menswees vertel, baie meer as waaraan ek gewoond was as dit by ouens kom.  Ek dink die nuuskierigheid is dit wat my aanvanklik aangetrek het.  Ons het langs die netbalbaan van my hoërskool vir die heel eerste keer mekaar ontmoet en ek was dadelik opgewonde om te sien waarheen die storie gaan beweeg.

Hy het my ring in Desember 2018 gekoop, Januarie 2019 ouers gevra en Maart was ons verloof.  Hy het my na ʼn rustige uitkykpunt op Nahoon Strand gevat en daar op een knie afgesak en my gevra om te trou.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 2 en ʼn half jaar verloof voor ons troudag. my pa se enigste voorwaarde was dat ek my studies voltooi ander sou ek lankal met hom trou.

Ons het geen troubeplanner gehad nie, ek het meeste van die troue self beplan met behulp van paar familie lede.  Marco het darem ook met so een of twee dingetjies gehelp.  Ek moet net by sê ek dink om ʼn vrou wat haar eie troue reël te hanteer is omtrent ʼn werk op sy eie, só hy het eintlik baie gedoen.

Trou Begroting:


Ons het nie regtig ʼn trou begroting gehad nie, my pa wou graag my dag so spesiaal as moontlik maak.  So ons het besluit op +/- R170 000.  Ons het wel probeer om alles te doen wat ons wou en mooi met die geldjies te werk.

Ons het met elke besluit een of 2 kwotasies gekry en gekyk waar ons die beste sal regkom.  Marco is groot op spaar so met baie goedjies het hy ook gevra of ons dit regtig nodig het.  Ons het 130 gaste gehad.

Daar is altyd een van die twee wat mooier met geld werk en dit help partykeer om brieke aan te draai.

Merkwaardigste Oomblikke:


Alhoewel die verbintenis van ons twee met God een van die mees spesiale oomblikke was, het ek en Marco baie daaroor gesêls en het dit ons so ongelooflik gelukkig gemaak dat almal die onthaal so baie geniet het. Almal kon lekker saam kuier en ons het soveel keer gehoor hoe lekker dit was. Dit het my en hom baie tevrede laat voel omdat ons bitter lanklaas saam familie en vriende kon kuier.

Paartjie se styl:


Marco het groot geword op ʼn plaas en ek was op die plaas tot ek omtrent 7 jaar oud was.  Ons albei hou van eenvoudige dinge niks ekstra of teveel nie, net genoeg.

My trourok mag dalk vir baie mense te doodgewoon wees maar dit het uit en uit by my gepas.

Marco het nie juis ʼn se gehad nie, hy moes maar net vlootblou dra.

Ek het verlief geraak op ʼn trouring wat amper soos myne lyk, toe kry Marco een so naby as moontlik daaraan en nou is my trouring vir my die mooiste.  Marco is ʼn professionele krieket speler so hy dra meeste van die tyd ʼn rubber ring so het gevra vir ietsie eenvoudig as hy nie die rubber een dra nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Daar is baie maar as ek een moet kies is dit tannie René van Blomfontein (die trouvenue).  Sy het my só baie gehelp met al die reëlings en om diensverskaffer vir al die ander goed te kry.  As dit nie vir haar was nie het ek baie meer oor onnodige dinge getob.  Hulle by Blomfontein en in Cradock is een groot familie so dit het vreeslik baie gehelp.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad wat betrokke was by amper als.  Hy het gespeel in die kerk, by die drankies en tydens die onthaal.  Marco se boetie en een van my beste vriendinne het ook ons lofprys liedjie in die kerk gesing.  Ek moet ook net by se dat ons seremonie meester een van die beste daar buite is.  Hy het die atmosfeer so lekker gelig en almal betrek.

Riana Nel het ook ons eerste dans liedjie spesiaal vir ons geskryf.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ons is gesêënd, ons het op die 25ste September besluit en net elke keer gebid dat dit nie hoef te skuif nie en God was ons genadig.  Ons kon op daardie datum trou.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Advies aan die bruid:

Ek dink die belangrikste is om net die reëlings te geniet, praat met jou man/vrou en besluit saam oor dinge.  Mens moet ook onthou dat jy nie almal tevrede kan stel nie en dat dit jou dag is.  Doen waarvan jy hou en moet nie dat iemand jou in ʼn blik druk nie.  Goed gaan nie altyd perfek uitwerk nie maar net jy en jou man weet presies hoe dit moes wees, niemand anders nie.  Geniet elke oomblik, voor jy jou oë uitvee is jou groot dag verby.

Advies aan die bruidegom:

Ondersteun jou vrou, veral as sy die troue self reël, praat met mekaar en pak af by mekaar.  Kies mooi wanneer om te luister en wanneer om terug te antwoord.

Wittebrood:


Het nog nie op wittebrood gegaan nie, Marco is ʼn krieketspeler en sy seisoen het die week na die troue begin.  Ons beplan wel om Griekeland toe te gaan iewers vorentoe.  Wil graag iewers heen gaan waar ons dinge kan sien en nie net heeldag op die strand le nie.  Ons hou van loop en nuwe dinge probeer en ek is mal oor fotos.

Die Besluitnemingsproses:


Ek sou sê ek as bruid het meeste van die finale besluite geneem as dit by die troue kom.  Marco het altyd gesê ek moet tevrede wees want, dit is my groot dag en als gaan tog oor die bruid.  Hy het baie deurlopende besluite saam my geneem.  Ons familie en vriende was nie regtig baie betrokke nie maar het wel gehelp as ons daarvoor gevra het.

Venue & Dekor:


Die einste proef-onnie wat ons aan mekaar voorgestel het, het op dieselfde venue getrou.  Ek het daardie naweek vir hom gesê as ons eendag gespaar word om met mekaar te kan trou dan wil ek graag daar trou.

Ons wou weereens net eenvoudige trou dekor hê.  Ek is mal oor proteas en hout goedjies so dit was maar die idee agter die dekor.  Marco het ook voorgestel dat die blomme eenvoudig moet wees sodat dit nie heel aand in mense se gesigte of borde is nie.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek moet sê meeste, amper 100% was perfek.  My troukoek het wel gekraak en die lae het van mekaar af getrek, maar niks wat my bo baas bakker ouma nie kon regmaak nie.  Andersins sou ek niks van ons troudag verander nie.

Eerste Dans:


Ons eerste dans liedjie was geskryf deur die baie talentvolle Riana Nel.  Ons kon niks kry waarvan albei 100% hou nie.  Ek het vir Riana ʼn boodskap gestuur met ons storie toe skryf sy vir ons ʼn liedjie.  Ons het glad nie vir danslesse gegaan nie net ons eie ding gedoen.

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: