Renier & Estienne se alternatiewe verlowing fotosessie

Ons deel Renier en Estienne se alternatiewe verlowing fotosessie is een wat jy nie moet mis nie.  Hierdie paartjie beweeg in kreatiewe vriendekringe vol musikante en kunstenaars.  Daarom het hulle besluit op ʼn verlowing fotosessie wat anders is die normale trou styl fotosessie.  Ons is mal hieroor!  Dit gee vir ons ʼn regte internasionale mode fotosessie gevoel.  Soos iets vanuit ʼn bekende mode tydskrif.

Met ʼn verlowing fotosessie kan jy doen net wat jy wil.  Dit is eintlik belangrik om julle verlowing fotosessie spesiaal te maak vir julle.  Doen waarvan julle hou en maak dit iets uniek.  Die paartjie se alternatiewe verlowing fotosessie is definitief iets wat mens se aandag trek.  Met verskillende klere-uitrustings het hulle die perfekte kombinasie van moderne foto’s geskep.

Die rede vir die fotosessie was om mooi foto’s vir hul onthou-ons-trou-datum kaartjies te kry.  Dit was ook hulle eerste fotosessie as ʼn paartjie saam, so ook om mooi foto’s as paartjie te kry. ʼn Verlowing fotosessie kan soveel pret wees.

Rol af oom meer te lees oor Renier en Estienne se alternatiewe verlowing fotosessie en hul liefdesreis as ʼn paartjie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Renier:

Ek het vir Estienne sien sing by ʼn koor optrede in 2018 en onmiddelik geweet Estienne was die meisie van my drome!  Ons was omtrent 2 jaar in ʼn verhouding voor ons verloof geraak het. Ons gaan trou in dieselfde kapel waar ek vir Estienne die eerste keer gesien sing het.

Die groot vraag:


Renier:

Ons het verloof geraak op die strand in Umhlanga op die 19de Desember 2020.  Dit was skemer en die strand was leeg – ek het vir Estienne gevra om te trou met die son wat sak oor die see. Die verlowing was ʼn verrassing gewees.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Renier:

Estienne se sin vir humor en haar lus vir die lewe – sy is altyd reg vir enige iets en altyd bereid om nuwe dinge te probeer.

Estienne:

Renier lyk dalk stil en misterieus, maar eintlik is hy ‘n grapjas met ‘n borrelende passievolle persoonlikheid.  Hy sit amper nooit stil nie en hy het ‘n onblusbare lus vir die lewe. Renier aanvaar my nes ek is, met oneindigende geduld en egte onvoorwaardelike liefde.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Renier:

Net meer as ʼn jaar – ons trou die 26ste Maart 2022.

Estienne:

Renier dink die somer is baie romanties, maar ek oorleef beter in koeler weer!  So toe besluit ons, ‘n einde-somer-amper-herfs troue sal ons altwee beste pas.


Die verloofring:


Renier:

My ma het vir my haar ou verloofring gegee, waaruit ek drie diamante gehaal het – twee wat aan my oumas behoort het en een wat aan my ma behoort het. Ek het gehou van die sentimentele waarde daarvan. Die ring was ʼn verrassing!

Estienne:

Dit lyk soos ‘n sprankelende sterrekonstellasie wat oor my vinger hardloop.  Ek dink kluster diamant ontwerpe is besonders en elkeen uniek.  En hierdie een het boonop sentimentele waarde met sy ma en twee oumas se diamante daarin.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Estienne:

Ek tree dikwels as musikant by troues op, so ek besef dat daar baie dinge op daardie dag moet gebeur wat nie altyd volgens plan of skedule verloop nie.  Daarom wou ek graag vroeg vooraf ‘n paar mooi foto’s van ons laat neem – ongejaagd en gemaklik.  Dit was die eerste professionele foto’s van ons twee saam – baie spesiaal!  Ons het toe een van die foto’s gebruik as ‘n “Onthou-Ons-Trou”-kaartjie.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons beweeg in kreatiewe vriendekringe vol musikante en kunstenaars.  ‘n Vriend, Pierre van Vuuren, is ‘n talentvolle jong kuns- en mode fotograaf – sy styl is dus nie tipies aan trou fotografie nie.  Ons het hom gevra vir ‘n meer alternatiewe, moderne, minimalistiese verlowingsfotosessie en hy het sy eie kunstige stempel daarop geplaas.  Ons kan pierre.tography hoogs aanbeveel vir enige verlowings- of trou fotografie – ons het lanklaas so ‘n hoë vlak van professionaliteit beleef.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons geniet elke oomblik van verloof wees en ons is opgewonde oor ons troue.  Die enigste vrees is die onsekerheid wat die pandemie bring, maar ons is gereed vir wat ookal mag gebeur.  Ons weet ons troudag gaan ‘n jolige kuier wees saam met al ons naaste familie en vriende.  En dit is al wat ons wil hê.

Visie vir droomtroue:


Estienne:

Dit is vir ons beide belangrik om ons familie en vriende daar te hê.  Almal lewer ʼn unieke bydrae, wat dit baie spesiaal maak vir ons.  My ma bak die troukoek, my beste vriendin maak my trourok en baie van ons vriende en familielede gaan sing!  Ek en Renier is beide deeltydse musikante, so musiek gaan ‘n belangrike element by ons troue wees.

Renier:

Vir ons gaan dit meer oor wie daar gaan wees as waar dit plaasvind. My drome het waar geword toe ek vir Estienne ontmoet het.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


Ons het besluit om nie in 2021 te trou nie, maar langer te wag tot 2022, sodat ons hopelik meer van ons familie en vriende na ons troue toe kon nooi.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]