Ons is opgewonde om Danie en Adri se selfdoen buitelug troue in Pretoria met julle te deel. Dié paartjie se troue is definitief iets wat jy moet sien. Die talentvolle trou fotograaf, Nicolene Meyer het elke oomblik so mooi vasgevang. Foto’s is só ʼn belangrike element. Dit van die oomblikke van jul troudag was in ewige herinneringe waarna jy altyd kan terug kyk.
Danie en sy strooijonkers het almal ʼn pragtige donkerblou kleurskema gehad. Adri se strooimeisies het almal die mooiste vloeiende groen kleurskema rokke gedra. Die kombinasie van kleure werk perfek saam en smelt ook so mooi in by die dekor elemente van die paartjie se troudag.
Adri en Danie se onthaal was buite onder die opelug. Hul trou dekor was Groen en Wit wat ook ʼn tydlose kleurskema is. Ons is gaande oor hul opelug onthaal onder die bome en sterre. Een lang tafel waar gaste lekker gesellig kon kuier. Die kerse op die tafel het gesorg vir ʼn romantiese en ook baie stylvolle gevoel tot die onthaal.
Beplan jul om binnekort te trou? Vir fantastiese diensverskaffers, besoek Mooi Troues se Trougids. Hier sal jy professionele diensverskaffers vind op een plek vir jou troudag. Rol af om meer te lees oor Danie en Adri se buitelug troue in Pretoria.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het op ʼn “blind date” ontmoet wat een van my vriendinne en haar ma opgestel het.
Agtergrond: Danie werk saam met my vriendin se ma en hulle het besluit ons sal ʼn mooi paartjie maak. My vriendin (Jessica) het hoekal gesê in haar gedagtes het sy my in ʼn wit rok voor die kansel sien staan (saam met Danie), toe sy en haar ma die ontmoeting beplan het.
Dit was liefde met eerste oogopslag.
Twee jaar later het Danie my die 28ste Desember 2020 op Danabaai se strand gevra om met hom te trou. Dié dag was alles waarvan ek nog altyd gedroom het. Ons het ʼn fotosessie gehad waarvan my twee ouma’s en ouers ook deel was. In die middel van die sessie het die fotograaf gesê ek moet kyk hoe mooi sak die son agter my, ek het omgedraai en daar staan Danie toe op sy knie. Dit was beslis die mooiste sonsak nog ooit 😉
Merkwaardigste Oomblikke:
Daar is so baie! Hoe kies mens?
Behalwe die oomblik toe ons mekaar vir die eerste keer sien …
Adri:
Dit was vir my belangrik dat ek en Danie 5 minute alleen moes kry. Ons het ʼn “first touch” oomblik gehad. Ek het aan die een kant van die muur gestaan en hy aan die ander kant. Slegs het ons hande vasgehou en kon mekaar glad nie sien nie. Daar was vir die fotograwe geleentheid gegee vir 2 foto’s en toe gevra almal moet asseblief uit die vertrek uit sodat dit net ons kan wees. Ons het gesels, gelag en gehuil. Ons het mekaar se harte gekoester en ons opgewondenheid gedeel oor wat voorlê … Nie net vandag nie, maar vir die res van ons lewens. Wat ʼn ongelooflike spesiale oomblik!
Danie:
Een van my gunsteling dele was om oor die tafel te kyk en te sien hoe al ons hartsmense die tyd van hulle lewe het. Om te sien hoe hulle almal ONS liefde vier. Om te weet ons lewe saam begin op so ʼn ongelooflike spesiale manier, met al hierdie mooi, al hierdie mense, al hierdie herinneringe, al hierdie lag en vreugde. Daardie aand is honderde nuwe herinneringe gemaak wat ons vir altyd sal koester.
Die Verlowing Tydperk:
Ons was net kort van 10 maande verloof toe ons die knoop deurgehaak het. Op 28 Desember 2020 het ons verloof geraak, onsself tyd gegee om die oomblik in te neem en te geniet en middel Januarie 2021 begin om ons mooiste dag te beplan.
Ons het besluit op ʼn self-doen troue, aangesien ons nie baie geld wou spandeer nie en soveel moontlik wou spaar.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Ongelukkig het die wind my “veil” geskep en het dit aan een van die takke gehaak terwyl ek en my pa die trougang afgeloop het. Ek is dus sonder ʼn veil in die trougang af! Anders as dit was ons dag perfek vir ons.
Ons het aan die heel begin vrede daarmee gemaak dat alles nie 100% gaan verloop nie en dat daar minder perfekte oomblikke gaan wees. Ons fokus van die begin af was dat dit vir ONS lekker moes wees en dat hierdie maar net dag 1 van die res van ons lewens is. Die troue is nie die “end all, be all” nie. Ons het nog ons hele lewe voor ons. Ek dink hierdie “mindset” het gemaak dat ons die minder perfekte oomblikke sommer heeltemal gemis/misgekyk het.
Trou Begroting:
Ons het van die begin af gesê ons wil niks meer as R 120 000 spandeer nie. Dit is alreeds vir ons baie geld as mens dink dit is vir net 1 dag in jou lewe (al hierdie geld vir ʼn paar ure). Ons het besluit op ʼn klein en intieme troue, aangesien die inperkings-regulasies nog redelik streng was. Daar was 58 mense in totaal. Ons het baie mooi en streng met ons geld gewerk en het niks meer spandeer as wat ons beoog het om te spandeer nie.
Ons advies aan ander paartjies is:
- Moenie bang wees om jou gastelys te sny nie. Gaan sit en dink regtig mooi oor wie 5-10 jaar van nou af nog in jou lewe gaan wees en wie nie. Ons het ons Whatsapps oop gemaak en ʼn lysie gemaak van almal met wie ons in die laaste maand gesels het, dit is mos tog die belangrikste mense in jou lewe.
- Kos, goeie musiek, ʼn lekker kuier en mooi foto’s was vir ons die belangrikste. Ons fokus was om die beste herinneringe saam met al ons hartsmense te maak. Ons wou hê ons troue moes onthou word vir die lekker kuier, dans, lag en feesvieringe. Besluit wat vir jou die belangrikste is en maak seker jy spandeer eerder geld op dit, as op onnodige klein jakkalsies.
- Soek ʼn venue wat amper alles doen – van kos tot dekor tot blomme tot verblyf. Ons het baie geld gespaar deur op ʼn venue te besluit wat amper alles vir ons gedoen het.
Die Besluitnemingsproses:
Ons het al die besluite saam geneem. Dit was vir my, Adri, lekker om Danie se opinie oor die meer kreatiewe dingetjies te hoor. Ons families was ook baie betrokke met veral die self-maak projekte. Ons het daarvan gehou om ons idees verby ons naaste vriende en familie te hardloop. Hulle opinies het vir ons saak gemaak, maar op die ou einde was dit ons dag en ons wou dit die beste en lekkerste vir onsself maak.
Paartjie se styl:
Adri:
Ek het baie naby aan 100 trourokke aangepas, maar kon net nie iets kry wat 100% met my praat nie. Ek het van die begin af geweet ek wil eenvoudig en klassiek gaan met my trourok. Dié heel belangrikste – ek wil ʼn pêrel “scattered” veil hê. Ek het by Anel Botha gesit en ons het saam ”brain storm” oor wat my gunsteling dele van my lyf is, wat ek graag wil afwys, watter style vir my mooi is en na verskillende ontwerpe en Pinterest prentjies gekyk. Terwyl ons gesels het, het sy heeltyd geteken en gekrap. En toe sê sy, “Wat dink jy van so iets?” – en daar was dit! MY DROOM TROUROK! my idees en prentjies saamgevat in een ongelooflike trourok. Sag, elegant en tydloos – presies soos ek nog altyd van my trourok gedroom het.
Danie:
Adri het ons troue se kleurskema seker 30 keer verander en ek moes al vroeg my voet neersit oor my pak se kleur. Ek wou van die begin af ʼn donker blou (vlootblou) pak met Freedom of Movement vellies aantrek. Ek wou ʼn moderne, smal das met ʼn “tie clip”, ʼn bruin leer belt en whiskey kleur vellies by my pak aantrek. My troupak het ek by Woolworths se Studio W reeks gekry.
Trouringe:
Ons altwee se ringe is ook tydloos en elegant.
Venue & Dekor:
Ons het aanlyn na trouvenues begin kyk en so ʼn idee gekry van waarna ons soek en waarvan ons hou en nie hou nie. Ons het ʼn kortlys met ons gunstelinge gemaak en een Saterdag in Januarie hulle almal besoek.
Bell Amour was ons laaste besoek vir dié dag. Die oomblik toe ons by die hek in ry, die blomme sien, die natuurskoon sien en die gevoel van rustigheid en vrede oor ons val – het ons geweet.
Inge van Bell Amour is die liefste mens en sy het ons dadelik gemaklik en tuis laat voel. Sy het ons die wingerd gaan wys (waar ons seremonie op die ou einde was), die lang tafel onder die bome met duisende liggies (waar ons onthaal op die ou einde was), die dansvloer omring met water, die wittebrood-kamer, gaste se verblyf en nog soveel meer. Ons het net daar en dan ons name in die Bell Amour dagboek by 16 Oktober 2021 geskryf.
Ons het daardie dag besluit dat ons graag in die wingerd wil trou en ons onthaal onder die bome met duisende liggies wil hê. Aangesien ons in die natuur en opelug was, wou ons dit die hooffokus hou en al die dekor by dit laat inskakel.
Vir die seremonie het ons besluit om dit so natuurlik moontlik te hou, aangesien die wingerd alreeds so ongelooflik mooi is. Ons het ʼn eukaliptus en gypsophila (baby breath) “arch” gehad om die seremonie af te rond. ʼn Tapyt, groen olyftakke en blare het die trougang afgerond.
By die “canapé” area wou ons ʼn ontspanne atmosfeer skep met komberse en kussings wat piekniek-“spots” was. Wit vlaggies en groot wit sambrele het in die wind gewapper. Daar was ʼn Gin-kroeg, ʼn Stella Craft bier stasie, ʼn canapé tafel met die heerlikste eetgoedjies, ʼn “kolwyntjie staander” en speletjies om die gaste besig te hou terwyl ons fotos neem.
Vir die onthaal het ons het besluit op een lang tafel waar al 56 gaste en ons kon sit, Eukaliptus blare is as loper gebruik met ʼn titsel wit wat ingebring word deur die gypsophila blommetjies (baby breath). Lang kerse hier en daar, klein teelig kersies, een lang string “naked lights” bo die tafel en duisende liggies in die bome, het die perfekte atmosfeer geskep. Die onthaal area word omring deur olyfbome en roosbome vir ekstra kleur.
Bell Amour trou venue is pragtig soos dit is. Ons het nie nodig gehad om teveel te fokus op dekor nie, ons wou juis die mooi plek met sy blomtuin, pragtige sonsak en duisende liggies laat skyn.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Adri:
- Geniet net elke oomblik, dit gaan vreeslik vinnig verby.
- Moenie teveel stres oor klein dingetjies nie, onthou waaroor hierdie dag regtig gaan en maak dit jou hooffokus.
- Moenie duisende rande op jou troue spandeer nie, dit is net 1 dag – onthou julle hele lewe lê nog voor.
- Daar gaan altyd mense wees wat iets negatief te sê het, moet jou nie steur nie. Solank dit jou en jou man gelukkig maak – is dit regtig al wat saak maak.
Danie:
- Spandeer minder geld op jou troue sodat jy meer op Wittebrood kan spandeer.
- Indien dit vir julle moontlik is, gaan direk van julle troue af op Wittebrood. Ons het die Sondagoggend na ons troue direk op Wittebrood gegaan en ek sal dit vir almal aanbeveel.
- Die wittebrood is seker die lekkerste vakansie wat jy en jou vrou ooit sal hê. Koester en geniet elke oomblik van dit.
- Nooi lekker mense na jou troue toe 😉
Spesiale Tradisies:
- Ek het ʼn rok “reveal” vir my pa gedoen, wat ongelooflik spesiaal was. My broer het kort na dit ook ingekom en my in my trourok gesien.
- Ek het ʼn rok “reveal” vir my gevolg gedoen, wat net so spesiaal was en die mooiste fotos gemaak het.
- Saam my gevolg het ek ʼn “walk through” deur die trouvenue gedoen voor al die gaste gearriveer het, sommer in ons pajama pakkies. Ek wou graag sien hoe alles bymekaar gekom het en hoe maande se beplanning uiteindelik in die werklikheid lyk. Dit raak so besig op die dag, dat jy vergeet om regtig alles in te neem en die stappie deur die venue was vir my ongelooflik spesiaal.
- Ek en Danie het ʼn “first touch” oomblik gehad. Ek het aan die een kant van die muur gestaan en hy aan die ander kant. Ons het slegs hande vasgehou en kon mekaar glad nie sien nie. Daar was vir die fotograwe geleentheid gegee vir 2 foto’s en toe gevra almal moet asseblief uit die vertrek uit sodat dit net ons kan wees. Ons het gesels, gelag en gehuil. Ons het mekaar se harte gekoester en ons opgewondenheid gedeel oor wat voorlê, nie net vandag nie, maar vir die res van ons lewens.
- In plaas van dat ek en Danie die onthaal saam binnekom met ʼn liedjie, het ons vir elkeen in ons gevolg ʼn spesiale liedjie gegee waarop hulle saam met ons moes inkom. Ons het een vir een ingekom op jou spesifieke liedjie. Elkeen se liedjie is kenmerkend aan hom/haar. Een van Danie se strooijonkers is byvoorbeeld ʼn boer, en sy liedjie was Boerepompie. Elkeen moes sy liedjie “own” en sy beste dans “moves” uithaal. Dit het gesorg vir baie pret en baie lag.
- Ek en my pa het ook ʼn unieke pa en dogter dans gehad. Ons het begin met ʼn stadige dans op Butterfly Kisses, wat toe vinnig verander het in ʼn Hip-Hop/Bollywood dans. Die gaste het dit vreeslik geniet en dit was beslis een van die hoogtepunte van die aand.
- Om die dansvloer na ete weer aan die gang te kry het ons ʼn speletjie met al die mans gespeel. Elkeen moes ʼn bruin-papiersak oor sy kop trek en sy beste dans “moves” uithaal om ʼn kans te staan om ʼn prys te wen. Ek en Danie het die manne een vir een elimineer tot daar op die ou einde twee wenners oorgebly het. Die pryse was onderskeidelik: ʼn “open tab” by die kroeg – wat letterlik ʼn oop gemaakte blikke Tab koeldrank op die kroeg tafel was en ʼn Toyota Hilux Bakkie – wat ʼn kosblik met ʼn Toyota Hilux plakker op was.
- My ouma (Ouma Ria) se kolwyntjies is vir ons die heel lekkerste in die wêreld. Ons het baie mooi gevra of sy asseblief ons “troukoek”-kolwyntjie sal maak en sy het ingestem. Dit was so ʼn spesiale deel van ons dag. Die kolwyntjie is op ʼn hout stel uitgepak met ʼn bordjie wat lees “Ouma se kolwyntjies”.
- Ek en Danie is vreeslik lief vir die wildtuin. Oppad wildtuin toe maak ons altyd ʼn punt daarvan om by Milly’s naby Machadodorp te stop vir hulle spesiale fudge. Ons het besluit om ons gaste op ons troue met Milly’s fudge te bederf. Die fudge is uitgestal by die koffie en tee stasie met ʼn bordjie wat lees “Wildtuin Fudge”.
Gunsteling Diensverskaffers:
Ons is mal oor die Bell Amour-span. Ons het in so ʼn kort tydjie so lief vir hulle geraak en hulle het soos familie geword. Die gaste het selfs op ons troue gesê hulle kan die warmte en familie-gevoel van die venue aanvoel. Hulle hartlikheid, menslikheid, omgee en moeite het almal ekstra lekker laat kuier. Hulle het uit hulle pad uit gegaan om ons gelukkig te hou en ons het nie nodig gehad om oor enige iets te stres nie.
KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:
Ja, ons het as gevolg van KOVID-19 besluit om ʼn baie klein en intieme troue te hê met slegs 56 gaste. As ons nou terugkyk is ons baie dankbaar daaroor. Ons het deur dit baie geld gespaar, regtig net ons hartsmense op ons troue gehad en kon ons spesiale ekstras op ons troue hê as bederf.
Eerste Dans:
Ons het vandat ons mekaar ontmoet het ʼn gunsteling liedjie gehad en dit “ons liedjie” genoem. So het ons besluit dit is gepas om die dansvloer op “ons liedjie” te open wat Rita Ora se “For You” was. Ons wou nie ʼn geoefende, stywe dans doen nie. Ons het gemaklik gedans en die oomblik regtig ingeneem.
Wittebrood:
Ons Wittebrood was in Clifton, Kaapstad. Ons was nog nooit saam in die Kaap nie en het besluit dit is ʼn plek wat ons graag saam wil beleef. Daar is vreeslik baie om te doen en dit is seker een van die mooiste plekke op aarde.
Ons het op Clifton besluit omdat dit iets is wat ons regtig net een keer in ons lewens sal doen. Ons het ʼn woonstel gehuur wat oor die see en die 12 apostels uit gekyk het. Elke oggend het ons wakker geword met die mooiste uitsig en elke aand die mooiste sonsondergang oor die see gekyk.
Die wittebrood was beslis een van die lekkerste vakansies van ons lewens.
- Fotograaf: Nicolene Meyer Photography
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: Bell Amour Wedding Venue
- Blomme + Blomme + Koördineerder: Inge van Bell Amour Wedding Venue
- Bruidegom-pak: Woolworths
- Gaste Geskenke: Lynsketse deur Surine Kotze Photography
- Grimering + Hare: BELLE Beauty by Jenine
- Huweliksbevestiger: Jonathan Muller van Kompas Gemeente
- Juweliersware: Lovisa
- Musiek + Platejoggie: FAME Productions
- Paartjie se verblyf: Bell Amour Wedding Venue
- Strooijonkers bykomstighede: Freedom of Movement
- Skoene: Opari
- Strooimeisie-rokke: Mariska Pfahl Couture
- Trourok: Anel Botha Couture
- Trouring: Crown Jewellers
- Troukoek: Ouma Ria se kolwyntjies
- Videograaf: Rolene Photography
- Wittebrood plek: Dunmore Blue, Clifton