Johandri & Ilze se betekenisvolle plaas verlowingsfotosessie

Johandri en Ilze het baie gedagte agter die uitkoms van hul verlowings fotosessie gesit.  Hulle het hul betekenisvolle plaas verlowingsfotosessie gehad op die plaas waar Johandri werk buite Malmesbury.

Die lys van gemeenskaplike belangstellings vir die paartjie gaan net aan.  Een van hulle gesamentlike liefdes is om te gaan teiken skiet.  Met so ʼn einste teiken-skiet-Saterdag het Johandri op een knie afgegaan en vir Ilze die groot vraag gevra.  Hulle het dit goed gedink om ook ʼn verlowingsfotosessie op dié einste plaas te hê.  Sodoende kan hulle die onvergeetlike tyd in hul lewens vasvang.

Rol nou af om die liefdesverhaal en foto’s van Johandri en Ilze se betekenisvolle plaas verlowingsfotosessie te geniet.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Johandri het my ʼn boodskap oor facebook gestuur, wat ek geïgnoreer het omrede ek besig was om te bestuur.  Die volgende dag het ek ʼn kennisgewing gekry vanaf facebook wat sê hy verjaar. Ek het toe gaan kyk waarom die naam so bekend lyk, en gesien dat ek hom nooit geantwoord het op die boodskap nie.  Ek het hom toe ʼn boodskap terug gestuur en geluk gewens met sy verjaarsdag en ons toe begin gesels, en van die begin af net lekker gekliek.  Ons het ons eerste koffie afspraak gehad, en ʼn maand later was ons in ʼn verhouding (26 Augustus 2018).  Ons was 1 jaar en 9 maande saam voordat ons verloof geraak het (30 Mei 2020).

Die groot vraag:


Ons het gepraat daaroor, maar ek het geen idee gehad wanneer dit sou gebeur nie.  Die Saterdag oggend (30 Mei 2020) het Johandri my gevra of ons bietjie kan gaan teiken skiet, soos ons gereeld doen op ʼn Saterdag. Ons het op die plaas waar ons bly op gery na ʼn land bo op die koppie, grens lyn tussen die twee plase.  Die teikens uitgesit, aangelê en geskiet.  Na ʼn paar skote het Johandri voorgestel dat ons verder op ry in die land en van die bakkie af skiet.

Oppad op in die land het ek ʼn rooi drom opgemerk wat daar staan.  Hy het gesê hulle sit muis gif uit onder die dromme in die land.  En ek het hom geglo.  Hy het die bakkie geparkeer, en ons het agter opgeklim.  Johandri het aangelê na die rooi drom in die land.  Waarop ek nog gesê het jou baas gaan jou iets aan doen as jy sy drom stukkend skiet. Hy het die geweer vir my gegee en gesê ek kan eerste skiet op die drom, sy baas sal nie omgee nie, daar is nog baie op die plaas.

Sal jy asb met my trou?

Toe ek aanlê na die drom deur die geweer se teleskoop sê ek vir Johandri “Haai hier staan iets op die drom” en ek begin lees: “Sal jy asb met my trou?”.  Toe ek omdraai staan hy op sy een knie met die ring boksie in sy hand.  Ek was so uit die veld geslaan.  “Ja” was die enigste woord wat ek kon uitkry en verder moes ek die geweer staan maak sodat ek kan omdraai na hom.

Daarna het hy my begelei deur die grensdraad van die 2 plase, na ʼn piekniek plekkie wat opgemaak was met blomme, wyn en ʼn hele tafel vol eetgoedjies.  Sy baas (Alwyn Hanekom) en sy vrou (Chanelle) het vir Johandri gehelp om alles reg te kry terwyl ons geskiet het.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Johandri is ʼn wonderlike mens. Groot liefde vir diere en ʼn passie vir sy werk.  Sy hande staan vir niks verkeerd nie.  Hy sal altyd uit sy pad gaan om ander te help. Staan altyd reg met ʼn grappie, of ʼn skerp “comeback”.

Ilze is hardwerkend en baie goed georganiseerd.  Sy het ʼn goeie sin vir humor, en deursettings vermoë in alles wat sy aanpak.  Groot liefde vir diere en is ʼn omgee mens.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het geen presiese datum gehad wat ons wil trou nie.  Johandri se werk op die plaas het ons beperkte maande gegee waarvan ons kon kies wat die plaas stil is.  Diverse boerdery.  Ons het besluit op Augustus omrede dit ons herdenking maand is.  Johandri voel dit is makliker om een maand te moet onthou.

Die verloofring:


Ek het eens op ʼn tyd ʼn verloofring gesien van Sterns se kenmerkende “forever” reeks wat ek baie van gehou het.  Toe ons begin praat oor verloof raak het ek vir Johandri daardie foto’tjie aangestuur en gesê dat dit die ring is wat ek baie graag sou wou hê.  Die ring was bietjie duur gewees, so ek het hom gesê dat sou ek ooit hierdie spesifieke ring kry wat ek wil hê, wil ek nie ʼn trou pant hê nie.  Net my ring.  Toe Johandri blykbaar by Sterns kom om die ring te gaan koop, toe het hul nie my grootte nie, en die ring is toe nêrens meer beskikbaar nie.  Hul het dit spesiaal gemaak vir hom.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het besluit om die fotosessie te doen, omrede ons in grendeltydperk verloof geraak het, en ons gevoel het dit so spesiaal was dat ons dit wou probeer vasvang op ʼn manier.  En sodoende fotos te hê vir ons “onthou-die-datum” wanneer ons sou besluit om te trou.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Plek:

Dit is gedoen op die plaas waar Johandri werksaam is al vir die afgelope sewe jaar.  So vir hom het die plaas baie betekenis.  Ek self het groot geword op plase, so ʼn plaas omgewing sal altyd vir my na aan die hart le. Ook die feit dat ons hier op die plaas verloof geraak het het groot aandeel gehad daarin dat ons die fotosessie ook hier wou doen.

Styl:

Van die begin af was skiet ʼn passie van beide my en Johandri.  So as ons op ʼn Saterdag niks het om te doen nie, dan gaan skiet ons.  So natuurlik wou ons graag dit in bring as deel van die fotosessie, en omdat dit werklik deel was van ons manier waarop ons verloof geraak het.  Op die plaas werk Johandri hul net met Case trekkers, en hy is op sy gelukkigste as hy ʼn dag binne in sy trekker kan deur bring. So het gevoel ons wou dit graag deel maak van die sessie.  Ons liefde vir diere is iets wat ons albei na aan die hart lê. Daarom ons 4-voet familie ook deel maak van die sessie.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


In die tyd wat ons nou is, met KOVID-19, is dit maar ʼn stresvolle tyd.  Grootste bekommernis is dat weens omstandighede ons dalk dit sal moet uitstel indien die land se situasie nie verbeter nader aan daardie tyd nie.  Aandklok reël maak die beplanning baie moeilik.

Visie vir droomtroue:


Ons droom troue wil ons graag doen by ʼn trouvenue waar ons alles op een venue kan doen, en ook die plaas effek kan inbring op ʼn manier.  Plaas en “country” tema gaan hand aan hand.  Dit is my droom om cowboy boots by my trou rok aan te hê, en Johandri wil graag ʼn cowboy hoed dra op die groot dag.

Die venue wat ons na gekyk het en op besluit het is Eensgezind, Durbanville.  ʼn Groot melkplaas in die omgewing.  Ons het na verskeie venues gaan kyk, en Eensgezind was van die begin af die gunsteling.  Johandri het na skool baie tyd deurgebring op Eensgezind en ook baie ondervinding daar opgedoen.  Toe ons na Eensgezind gaan kyk het, was daar nog een datum beskikbaar in Augustus, die 14de.  Toe ons by die huis kom na die dag, het ons besluit om daardie datum te neem.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: