Jandri & Marcia se bosveld troue

In vandag se artikel van Mooi Troues, deel ons met julle in opgewondenheid die Bosveld troue van Jandri en Marcia.  Met die natuur as getuie en al Jandri en Marcia se vriende en familie, wat kom ondersteun het met liefde in oorvoed, kan ons maar sê dat die bosveld troue een vir die boeke was.  Die pragtige paartjie is plat op die aarde en het mekaar ontmoet by ʼn partytjie deur gemeenskaplike vriende wat voorgestel het dat hul vasdans.

Trou Venue in Limpopo

Jandri en Marcia se aanskoulike bosveld troue het plaas gevind op die prentjiemooi trou venue, Mooiplaas Trou Venue, Bella Bella in Limpopo.  Die huwelik is ʼn verbintenis, en die gelofte aan mekaar moet gekoester word.  Die venue verskaf net die regte plek om jou liefde aan mekaar voor te lê, en dit is onder ʼn groot Wildevy-boom wat uit kyk oor die granadilla boord.  Hulle is ryklik geseënd met familie en vriende wat saam met hul die spesiale dag geniet het.  Die paartjie se liefde vir mekaar is so mooi en spesiaal, Jandri het gesê:” Toe Marcia by die paadjie af gestap kom na my toe.  Dit het gevoel of al die spesiale tye wat ons al gedeel het op daai oomblik afgespeel het in my kop.”

Die pragtige bosveld troue weerspieël so mooi die paartjie se persoonlikhede en styl. Met die uitstekende trou venue wat klaar ‘n stylvolle en warm atmosfeer skep, het die troue verder gebruik gemaak van droë elemente en olyf groen wat hand-in-in gaan met warm plaaslike kleure.  Natuurlik het die pragtige paartjie ook bygedra tot die atmosfeer en styl van die troue. Die bruidegom het gespog in sy olyf-groen pak en die bruid het al die gaste betower in haar “Nefertiti” trou rok.

Jandri en Marcia se bosveld troue is iets vir die oog, Mooi Troues se lesers sal mal wees oor dit.  Rol nou af en geniet nou meer van Jandri en Marcia se bosveld troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar ontmoet by ʼn partytjie toe gemeenskaplike vriende van ons voorstel dat ons vasdans.  Ons het dadelik van mekaar gehou en begin saam kuier.  Jandri het kort na ons ontmoeting gaan boer in Hopetown in die Noord Kaap.  Ons het oor en weer gekuier totdat Marcia vir 9 maande Nieu-Seeland toe was.  Toe Marcia terug kom Suid-Afrika toe was dit skaars ʼn maand totdat ons weer begin saam kuier het!

Jandri het vir Marcia gevra om te trou voor familie, met die sonsondergang by ʼn uitkyk punt op die familieplaas waar sy groot geword het.  Dit is Marcia se gunsteling plek!

Marcia:

Ek het absoluut niks verwag nie!  Ons het altyd gespot dat ek vir Jandri sal moet vra om te trou in ʼn skrikkeljaar.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was ʼn jaar verloof, alhoewel ons seker vroeër sou trou indien daar kans was! Met KOVID-19 was daar baie paartjies wat hul datums geskuif het, so ons het gespring vir die eerste datum wat beskikbaar was.

Ons het nie ʼn trou beplanner gehad nie maar het baie idees en hulp gekry by Jandri se sussie, Christelle. Christelle het baie ervaring met funksies reël en het ʼn ongelooflike oog vir alles wat ʼn funksie onvergeetlik maak, van skryfbehoeftes tot dekor!

Marlize by Mooiplaas Trou & Funksie Venue het deurlopend deur die proses baie hand bygesit!  Christelle & Marlize het seker gemaak dat die troue perfek afloop en dat alles op die dag op hul plek is.

Trou Begroting:


Ons is baie geseënd met ons wonderlike ouers wat vir ons ons perfekte dag moontlik gemaak het.  Hulle bydrae het beteken dat ons ʼn troue (en wittebrood) kon hê wat ons altyd oor gedroom het! Beide van ons ook elke maand ʼn geldjie weggesit om kleiner goedjies te kon betaal wat vir ons belangrik was, maar wat moontlik ons oor ons begroting sou druk sonder mooi beplanning.

Ons het van die begin af besluit wat ons maksimum bedrag sal wees vir die troue en het binne ons begroting gebly.  Ons is nie fieterjasies mense nie, so vir ons was daar plekke waar ons maklik kon uitgawes sny om meer op ander aspekte te spandeer wat vir ons belangrik was.

Raad aan ander paartjies:
  • Kry kwotasies – Vergelyk verskillende kwotasies en pryse met mekaar.
  • Kyk na resensies – Jy spandeer baie geld by jou verskaffers. Wanneer mense goeie goed oor ʼn verskaffer te sê het is dit maklik om hulle te vertrou met jou geld en behoeftes.
Aantal gaste:

98

Spesiale Tradisies:


My broer het my aan Jandri oorgegee by die kansel.

Ons het die “Something Old” tradisie gehad:
  • Something Old – ʼn foto van my oorlede ouma is aan my ruiker vasgeknip.
  • Something New – My skoonsus het vir my pragtige L’Mae Design oorbelle geskenk gegee vir die troudag.
  • Something Borrowed – Ons het my skoonma se ou familie Bybel geleen om ons trouringe aan vas te bind vir die kerkdiens.
  • Something Blue – Daar was ʼn blou rosie op my kousband.

Ons het al die tradisies gehad van die bruidegom se toespraak, die ruiker wat gegooi word en die kousband.

Merkwaardigste Oomblikke:


Daar is soveel merkwaardige oomblikke!

Vir Marcia:

Dit is ʼn groot seëning om almal wat jy so lief het op een plek by mekaar te hê.  Ons het familie en vriende wat van vêr gekom het om saam met ons, ons liefde te kon vier.  Die liefde wat jy ervaar vanaf al jou hartsmense wanneer jy by die paadjie afloop is onvergeetlik, en dan kyk jou man ook nog met bewondering na jou!

Vir Jandri:

Toe Marcia by die paadjie af gestap kom na my toe.  Dit het gevoel of al die spesiale tye wat ons al gedeel het op daai oomblik afgespeel het in my kop.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het saam as ʼn paartjie ons besluite geneem.  Daar was tye wat ons vriende en familie gevra het vir advies.

Ons was ʼn klomp vriende wat rondom dieselfde tyd getrou het, so ons sou by hulle hoor oor hul ervarings met diensverskaffers waarmee hulle gewerk het of enige raad wat hulle vir ons het.

Christelle, ons familie en ons gevolg was ware steunpilare gedurende hierdie stresvolle, prettige tyd!

Vermaak:


Muller Brandt en sy span het ons gaste vermaak met sang met ons verwelkomings drankies en die vingerete vooraf.

Muller Brandt het ook later die aand as platejoggie vir ons musiek gemaak.

Ons verwelkomings drankies was gin.  Christelle het dit spesiaal vir ons laat maak so paar weke voor die troue.  Sy het dit selfs mooi gemaak met kraletjies om die bottels se nekke.  Ons name was daarop!

Die mense was mal daaroor en kon nie uitgepraat raak oor hoe heerlik die drankies en vingerete vir hulle was nie.

Paartjie se styl:


Die Trourok:

Net na ons verlowing het ek op ʼn bruid se foto afgekom waar sy ʼn pragtige rok aangehad het.  Ek het geweet ek soek iets soortgelyk en het haar toe genader om te hoor waar sy haar rok gekry het. Die dierbare bruid het my toe verwys na Whimsical Bride in Centurion.  So maak ek toe my afspraak en vat my ma saam om so paar opsies aan te pas.  Toe ek die “Nefertiti” van Enzoani aanpas was beide ek en my ma in trane.  Ek het toe net daar geweet dis MY rok!

Die bruidegom se pak:

Daar is min geleenthede vir boere om ʼn pak te dra, so Jandri was reg om die geleentheid te benut!  Hy het geweet hy soek iets pasgemaak (tailored) en in olyfgroen.  Ons wou graag die gevoel formeel hou.

Die trouringe:

Ek (Marcia) het, voor ons verlowing, op ʼn stadium vir Jandri ʼn prentjie gewys van ʼn ring waaroor ek mal was.  Dit was iets uniek.  Hy het die ring toe laat maak waarmee hy my gevra het om te trou.

Dit was vir my belangrik dat Jandri hou van die ring wat hy kry en vir my sê wat hy ingedagte het.  Hy kon dus kies dat ons die ring laat maak of dat ons koop.  Hy het toe sommer self sy ring gekies by Touchwood.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar was ʼn paar oomblikke wat nie so perfek was nie, maar dit sou nie eg wees aan ons as dit nie so uitgewerk het nie.

Daar was ʼn situasie met ons troukoek wat Jandri se ouma sommer tjoef-tjaf reggemaak het.

Die weer was onvoorspelbaar die dag voor die troue en tot omtrent nog so 11:00 op die dag.  Daar moes besluit word of ons nog buite gaan trou. Die reën het weggebly tot ons letterlik as man & vrou moes instap by die onthaal – toe reën dit omtrent!

My liewe skoonsus, Jandri, ons familie en gevolg het seker gemaak dat ons (meestal ek!) nie teveel bekommer oor die detail nie en ons laat voel alles is perfek!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die dames:

Maak lysies van alles wat jy moet doen, alles wat jy moet onthou en alles wat jy wil inneem op die dag – selfs watse fotos jy geneem wil hê!  Doen dieselfde vir alles wat jy verwag van jou verskaffers. Die dag gaan so vinnig verby en jy beplan vir maande aan hierdie perfekte dag. Hoe meer georganiseerd jy is, hoe meer ontspanne gaan jy wees.

Dit is ook die bruidegom se spesiale dag, moenie vergeet om hom te betrek nie!  Dit is belangrik dat jy weet wat vir hom belangrik is.

Vir die manne:

Hierdie is jou dag ook!  Help jou bruid wanneer sy daarvoor vra, gaan kyk saam na die venue, kies saam met haar die kos, wees betrokke waar jy kan en gemaklik voel.  Geniet elke oomblik van die dag – dit gaan REGTIG so vinnig verby soos almal sê!

Venue & Dekor:


Trouvenue:

Ons idee was om al ons vriende en familie te onthaal in die bosveld, omdat dit na aan ons harte is.

Mooiplaas Trou & Funksie Venue was die heel eerste venue waarna ons gekyk het.  Dit was dadelik alles wat ons wou hê, dit was stylvol tog “down played”, dit het ʼn pragtige uitsig, die kerkdiens speel af onder ʼn boom – alles waaroor ons saam gedroom het.  Plus, Marlize was van die eerste oproep aan haar vriendelik en behulpsaam.

Troudekor:

My skoonsus, Christelle, is ongelooflik kreatief en stylvol!  Alles waaraan sy vat verander in goud!  Toe ons verloof geraak het, het ons haar dadelik gevra of sy sal help met die troue se dekor – dankie tog syt ja gesê!

Ek en Christelle het saam gesels en beplan oor idees wat ek ingedagte gehad het.  Christelle het saam my die onthaal besoek waar sy verskeie sketse en notas gemaak het.  Sy het die massiewe rol gevul van dekor en blomme stilus.  Sy het haar vriendin, Magda Coertze, genader om haar te help ons droom ʼn realiteit te maak.

Die dekor het weerspieël wie ek en Jandri is.  Die saal was prentjie mooi met al ons naaste familie en vriende wat voor ons gesit het!  Christelle het het elke liewe droom/verwagting wat ons gehad het totaal oortref!

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is so moeilik om net een gunsteling diensverskaffer te kies.  Ons sal beslis elkeen van ons diensverskaffers aanbeveel!  Maar as ons moet kies sal dit hierdie twee wees:

  • Mooiplaas Trou & Funksie Venue – Sonder die venue kon ons nie ons droom troue kon gehad het nie.  Die kos was fantasties en die diens was uitstekend!
  • Odyssey Photography – Jessica het al die mooi oomblikke van ons dag vasgevang en ons sal dit verewig kan koester.  Haar styl is merkwaardig!

Eerste Dans:


Ek en Jandri is baie lief vir vasdans, dit is immers hoe ons mekaar ontmoet het.  Ons het die Donderdagaand voor die trou so bietjie geoefen op die stoep saam sy ouers, maar ons het geen lesse geneem nie.

Ons het die eerste dans gedoen op “By Jou” van Theuns Jordaan.  Die woorde is baie spesiaal en lui waar vir ons en hoe ons wil hê die ander moet voel.

“By jou By jou
Is my weet en my waarheid
Is my lewe veraltyd
En n leef tyd geanker aan jou
By jou By jou
Is die plek waar ek rus kry
Iemand anders as net jy
Sal in alles genoeg wees vir my

So jy moet weet
Teen die einde van die dag
Sal ek nog daar wees
En as die tye moeilik raak
Vir jou n rots wees
Jou weg kruip plek wees
Dit als vir jou wees”

Wittebrood:


Jandri wou self die wittebrood reël en het dit vir maande en maande geheim gehou – wat my baie beïndruk het omdat hy gewoonlik sulke groot detail met my deel!

Hy het die perfekte wittebrood gereël in die Maldives!  Nie net is dit een van die mooiste plekke wat ons al gesien het nie, maar dit was ʼn onvergeetlike week vol pret aktiwiteit soos duik met haaie, kajak vaart, snorkel en smaaklike kos!  Dit is ʼn week wat ons veraltyd sal koester.

Dit was bitter spesiaal!

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: