George & Sarah se tydlose selfdoen troue

‘As jy werklik lief is vir iemand, sal jy by daardie persoon staan ongeag die omstandighede’ en hierdie pragtige paartjie kan hierdie woorde getuig.  George en Sarah het een aand, in 2016, by ʼn gewese kuierplek in Stellenbosch ontmoet.  Daardie aand het hulle besef hul mag dalk mekaar se gunsteling dans maats wees!  Na talle avonture die wêreld oor en groot verlange oor die water, het George in November 2020 om sy knieë gegaan en vir Sarah gevra om met hom te trou.  In Mei 2021, het hierdie paartjie hul tydlose selfdoen troue saam met hul geliefdes in Villiersdorp gevier.

Hierdie paartjie se troudag het hul styl perfek vertoon.  Klassiek, tydloos en eenvoudig.  George en Sarah se troue sal vir Mooi Troues se lesers baie inspirasie bied.  Hierdie paartjie het al die elemente vir hul troudag, met die hulp van hul familielede, self gereël en dit nog meestal aanlyn ook!  George en Sarah se liefdesverhaal, as ook hul trou beplanningsproses bewys aan ons lesers dat enige iets werklik doenbaar is, so lank dat jy die regte ondersteuning het.

Indien Mooi Troues se lesers besig is om hul selfdoen troudag te beplan en ʼn bietjie ekstra ondersteuning of hulp benodig, gaan gerus na ons webtuiste toe en besoek die Mooi Troues trougids.  Daar sal ons lesers tonne diensverskaffers vind wat meer as gereed sal wees om jul te help met jul trou reëlings!

Rol af om meer te lees oor George en Sarah se tydlose selfdoen troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar die aand van 17 Junie 2016 ontmoet by Opskop, ʼn gewese kuierplek buite Stellenbosch, en die dansbaan aan die brand gedans.  Na baie avonture in vreemde lande en groot verlange oor die water het George op 25 November 2020 op een knie gesak.  Hy het hierdie dag fyn beplan met ʼn piekniek in Vergelegen Wynlandgoed se kamferbome woud.  Tydens die stap, oppad na die area, het hy gestop om ʼn foto van ons te neem en my toe gevra om met hom te trou. Dit was ʼn baie intieme en spesiale oomblik.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het besluit om die troudatum vas te maak op 22 Mei 2021 – net 6 maande na ons verlowing.  Ek moes eers Noord-Ierland toe gaan vir werk en daarom het ek en my suster die troue heeltemal aanlyn beplan.  Dit was vir ons groot pret om idees te deel.  Omdat ek nie in Suid-Afrika was nie het sy selfs my trourok gaan aanpas.  Alles het mooi in plek geval en die eerste rok opsie was perfek!  Ek het dit gekoop met die wete dat ek net 3 weke voor die troue terug in Suid-Afrika sal wees …

Trou Begroting:


Ons het eerste ʼn rowwe begroting opgestel met gemiddelde pryse om ʼn idee te kry van die totale koste en hoeveel ons bereid was om te betaal per diens.  Dit was vir ons belangrik om die volgende eerste te bespreek: venue, spyseniering en fotograaf.  Ons het ook seker gemaak om nie onsself af te skeep nie en het ʼn goeie kwaliteit pak en rok gekoop, asook stiliste wat die bruid, bruidsmeisies en moeders op ons troudag kan bederf.  Die totale koste vir die troue was ongeveer R125 000, soos begroot, en ons het 70 volwassenes en 15 kinders onthaal.

Merkwaardigste Oomblikke:


Bruid:

Toe George in sy toespraak vir my gesê het: “Ek is baie bevoorreg om vandag met jou te kan trou. Sarah Scott. Jy lyk pragtig my alles …”

Bruidegom:

Toe Sarah by die kapel na my toe af geloop het.

Bruid en bruidegom:

Toe ons ja gesê het vir mekaar en toe ons, ons eerste dans gedans het.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het deur die hele beplanningsproses idees bespreek en saam die finale besluite geneem.  Dit was vir ons baie belangrik dat ons saam opgewonde is oor die dag en mekaar ten volle ondersteun. George was selfs deel van die WhatsApp beplannings groepie met die bruidsmeisies, totdat ons trourokke begin bespreek het … Toe skop ons hom af.  Familie en vriende was sentraal in ons besluitnemingsproses.  Ons wou almal so goed as moontlik akkommodeer, en deel maak van die troue.

Paartjie se styl:


Ons styl is klassiek en tydloos, maar ons hou ook van eenvoud en natuurlik.  Ek wou graag ʼn trourok met lang moue hê en nie my hare en grimering oordoen nie.  George wou ʼn netjiese vlootblou pak hê wat hom mooi pas.

Ons ringe is ook eenvoudig.  Ek is gaande oor roos goud en die eenvoud van ʼn enkele diamant.  George het self my ring laat ontwerp – wat dit vir my soveel meer spesiaal maak.  George hou van ʼn grys-kleurige ring wat sterk is en nie maklik krap nie.  Ons het sy ring saam uitgekies.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons het nie ʼn gunsteling nie.  Almal was net perfek en sonder hulle sou dit nie so mooi dag gewees het nie, maar ons sal die fotograaf moet uitsonder.  Ons is geseënd dat Jack and Jane Photography ons mooiste dag vasgevang het.  Hulle het ʼn paar jaar terug vanaf Johannesburg na Villiersdorp verhuis en dit is baie spesiaal dat so klein dorpie sulke talentvolle fotograwe het.  Ons het hulle werk op sosiale media gesien en hulle was die eerste persone wat ons genader het om ons foto’s te neem.  Dit was die beste besluit.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Alles was net perfek. Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke is wat die troue ekstra spesiaal gemaak het en waaroor ons die meeste gelag het. Soos toe ek en George op dieselfde woord vashaak tydens ons trou geloftes.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Pas jou verwagtinge aan. Ons het soms ʼn prentjie in ons kop oor hoe iets moet lyk of afspeel, maar sodra jy besef dat daardie prentjie kan afwyk sal jy elke aspek van jou troue geniet. Byvoorbeeld, ek het vir die haarstileerders idees gegee waarvan ek hou, maar haar aanbeveel om te doen wat sy dink die beste sal werk met my haar tipe en die rok.  Verder, moenie die bruidegom afskeep nie en maak seker hy lyk ook sy beste.

Bruidegom:

Neem so veel as moontlik saam besluite en doen goed saam met die bruid om die troue te reël.

Venue & Dekor:


Die venue, Dennehof Plaas, is net buite Villiersdorp waar Sarah groot geword het en waar haar ouers nogsteeds bly.  Dennehof Plaas is ʼn pragtige venue en alles is daar: ʼn kapel, onthaal saal, kroeg, hout dek en stoep asook twee gastehuise.  Die keuse was eenvoudig en maklik en ons het nie verder gesoek na venues nie.  Die kleure was vlootblou, wynrooi en goud.  Ons het ook glas terrariums en antieke, goud-kleurige dekor ingebring om by die tema te pas.  Ons en die familie het alles self gedoen, van die blomme rangskikkings, geskenkies vir gaste, dekor uitleg op tafels, programme, ens.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Nee.  Daar was ʼn aandklok van 12.00, maar dit het in ons guns getel omdat ons vroeër kon gaan slaap!

Wittebrood:


George het die wittebrood self beplan by die Blue Crane Farm Estate.  Hy het die plekkie gekies omdat dit weggesteek is tussen die berge, weg van enige geraas en perfek is om net tyd met mekaar te spandeer en te rus.  Dit was ook goeie waarde vir wat ons alles gekry het.  Ons het vars brood en melk in die oggend gekry, asook pizza deeg sodat ons, ons eie pizzas in die pizza-oond kon maak.  Daar was ook ʼn warm bad op die stoep met ʼn natuurskone uitsig.  Meer idillies kon dit nie gewees het nie.

Eerste Dans:


Ons het ons eerste dans gehad op Jakkie Louw se Een Miljoen Woorde met die inloop in die onthaal saal. Ons het saam op hierdie liedjie besluit nadat ons dit afsonderlik op verskillende plekke gehoor het en dit by ons geresoneer het.  Die liedjie gaan ook oor ʼn metgesel se stryd met kanker en soortgelyk veg George nou al suksesvol breinkanker vanaf 2015.  Ons kan getuig dat as jy werklik lief is vir iemand, sal jy by daardie persoon staan ongeag die omstandighede.  Ons is mekaar se beste dansmaats en het nie danslesse voor die troue nodig gehad nie.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad wat musiek by die seremonie, voor drankies en onthaal gespeel het.  DJ Hermie het selfs later die aand sy spreiligte en rookmasjien uitgehaal om die dansbaan behoorlik aan die gang te kry.  Hy was uitstekend en het ʼn vergadering met ons voor die troue gereël om presies te weet wat ons musiek smaak is.  Die gaste het almal na die tyd gesê hy het die mense goed gelees en hulle het lanklaas so lekker by ʼn troue gedans.

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: