Brandon & Monique se pragtige selfdoen troue

Brandon en Monique het met hulle plat-op-die-aarde styl en baie blomme ʼn pragtige troudag gehad.  Mooi Troues se lesers sal die paartjie herken omrede ons al voorheen hul verlowing fotosessie met julle gedeel het.  Julle kan asseblief hier na Brandon & Monique se prentjie mooi verlowing gaan kyk.  Monique is ʼn getroue Mooi Troues leser, en het deur na regte troues publikasies op ons webjoernaal te kyk tonne trou inspirasie gevind oor wat sy wil hê vir haar groot dag.  Hulle het ʼn gemaklike gevoel geskep vir hul pragtige selfdoen troue deur Monique se liefde vir blomme te gebruik met ʼn kontrasterende kleurskema van blou en pienk.

Die paartjie het ook gebruik gemaak van ʼn paar troudiensverskaffers van Mooi Troues se aanlyn trougids:

  • Die bruid se simplistiese grimering en pragtige hare met baie blomme is gedoen deur Almari van Hairstyling, Make-up and Photography by Almari.
  • Brandon en Monique het dit ook goed gedink om ʼn platejoggie te kry om hulle deur die aand te vermaak, en het gebruik gemaak van Southern Sound.
  • Mooi Troues bydraer, Oh Yay, het kreatief geraak met unieke borsspelde vir die bruidegom en sy strooijonkers asook ʼn koek “topper” om die troukoek mooi af te rond.

Rol nou af en geniet Brandon en Monique se pragtige selfdoen troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Brandon het op skool ontmoet in graad 8.  Ons was eers vriende gewees en het begin uitgaan in ons tweede jaar op universiteit.

Brandon het die groot vraag gevra na omtrent 7 en ʼn half jaar.  Ons het een aand iets gaan eet by ons gunsteling eetplek op Stellenbosch. Ek was deeglik onbewus van die feit dat ons daardie aand verloof sou raak.  Brandon het met ons naaste vriende en my boetie gereël om ons woonstel te versier met foto’s en ʼn bos blomme.  Daar is ook kameras opgestel om die verlowing op te neem.  Toe ons by die huis kom was ek stomgeslaan oor hoe ons woonstel getransformeer is.  Brandon het toe op een knieg gesak en gevra of ek met hom sal trou.  Daarna het ons sjampanje gedrink en feesgevier saam met my boetie en een van ons vriende wat in die woonstel weggekruip het.  Dit was baie spesiaal.  Die meer volledige storie is vroeër op Mooi Troues gepubliseer: https://www.mooitroues.co.za/2021/02/brandon-monique-se-prentjie-mooi-verlowing/.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was ongeveer ʼn jaar en ses maande verloof voor ons groot dag.  Ons het alles self beplan maar het baie raad gekry by ons diensverskaffers.

Finansiële Aspekte:


Met verblyf en spyseniering ingesluit vir die naweek was ons begroting tussen R100 000 en R150 000.  Ons het ongeveer 120 gaste genooi maar op die ou einde was ons omtrent 86 mense.  Ons was gelukkig en het baie finansiële hulp van ons ouers ontvang.  Verder het ons die venue redelik vroeg bespreek en het dus ʼn goeie prys daarvoor gekry.  Ons venue het ook al die meubels, eetgerei en koördinasie op die dag ingesluit wat baie kostes bespaar het.  Ons was ook gelukkig om ʼn prys te wen by die Franskraal Wedding Expo en het dus afslag gekry op ons blomme en dekor (Carin Flowers and Decor).  Die DJ (Southern Sound) is ook bespreek terwyl hulle ʼn promosie aangebied het en het so geld bespaar.

Omdat ons die troue ʼn jaar en ʼn half vooruit beplan het, het sekere kostes soos die kos duurder uitgewerk as wat ons begroot het.  Ons het dus in ander areas gesny en sekere goed self gemaak soos die naam kaartjies op die tafels.  Verder was ons gelukkig om ons troukoek as ʼn geskenk te ontvang, asook die hout borde wat ons tafel uitleg aangedui het en ons geskenke tafel versier het.  Ons koeverte kissie en ring boksies is ook spesiaal handgemaak vir ons dag en as geskenke gegee.

Ons raad aan ander paartjies is om te vra waar jou gevolg kan help betaal vir hul klere en bykomstighede en om gebruik te maak van familie en vriende wat dalk vir jou goed kan gee vir jou troue as ʼn trougeskenk, soos ʼn troukoek of om by te dra vir jou dekor elemente.  Maak ook vooraf seker wat die kostes sal wees van ʼn voorhuwelikse kontrak.  Ons het dit nie in berekening gebring in ons voorlopige begroting nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Monique:

Daar was ongelooflik baie merkwaardige oomblikke in ons dag.  Dit was heerlik om my oggend vroegdag te begin met lekker koffie saam met goeie vriende.  Verder was die regmaak saam met my naaste vriendinne, my ma wat my help aantrek het, die oomblik toe my pa my die eerste keer sien in my rok en toe ek in die paadjie afgestap het na Brandon toe, almal baie spesiaal.  Ek en Brandon het ook nagmaal gedeel en natuurlik was die eerste soen as man en vrou ook ʼn merkwaardige oomblik.  En die lekkerste was om dit alles te vier saam met ons naaste familie en vriende.

Brandon:

Die “I do!” oomblik – eintlik die hele seremonie. Dit was spesiaal.

Paartjie se styl:


Brandon spot baie en sê ek hou van alles wat mooi is en alles moet vir die mooi gedoen word.  Met ons troue was dit beslis nie anders nie.  Ons wou graag mooi en stylvol lyk, maar tog gemaklik en plat op die aarde.  Verder is ek vreeslik lief vir blomme en het dit op baie plekke by die troue ingebring.

My rok het dus ʼn blaar en blom motief kant bokant gehad met ʼn sagte romp.  Vir Brandon het ons ʼn navy pak gekies wat ʼn mooi kontras was met die pienk blomme in my hare en sagte styl van my rok.  My verloofring en troupant herhaal ook weereens die blaar motief waarvoor ek lief is, terwyl ons vir Brandon ʼn tungsten ring, wat silwer vertoon aan die buitekant en blou is aan die binnekant, gekoop het.  Omdat ons op die plaas getrou het, het Brandon bruin vellies (Blu Bert) gedra en ek het ligte pienk leerskoene (Blu Betty) gedra in plaas van hakskoene.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en Brandon het baie besluite saam geneem en alles saam beplan.  Ons ouers was ook deel van die proses en het baie hulp en raad verleen waarvoor ons ewig dankbaar is!  Ons vriende het ook gereeld hand bygesit waar dit nodig was.

Spesiale Tradisies:


Pieta Wolfaardt wat ons getrou het, het die Joodse nagmaal voorgestel wat ons tydens die seremonie gebruik het en dit was baie spesiaal.  Die man bied die wyn vir die vrou aan en as sy dit neem sê sy ja dat sy haar lewe met hom sal deel.  Dit was vir ons mooi!

Gunsteling Diensverskaffers:


Al ons diensverskaffers was ongelooflik en ons sal hulle aanbeveel vir enige paartjie wat gaan trou. In geen spesifieke volgorde nie:

Fotograaf: Coba Photography

Videograaf: Guava Productions

Dekor en Blomme: Carin Flowers and Decor

Klank en Musiek: Southern Sound

Venue, koördinering en spyseniering: De Uijlenes

Vermaak:


Southern Sound het ons gaste vermaak en hulle was absoluut uitstekend.

Indien julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry het, spesifiseer asseblief.


Ek is ʼn getroue Mooi Troue leser en het baie inspirasie geput, vir verskeie elemente van ons troue, uit regte troues wat op hierdie blad gepubliseer is.  Ek het veral na regte troues gekyk om te besluit op ons troue se kleurskema en watter tipe rok ek van sou hou.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ons was gelukkig en kon ons oorspronklike trou datum behou.  KOVID-19 het egter die aanpas van rokke en ontmoeting met diensverskaffers bemoeilik.  Ons troue moes ook vroeër stop as gevolg van die aandklokreël.  Ons venue was egter fantasties en het vir ons nagereg wat nog oorgebly het, buite op die stoep verskaf en gaste kon drinkgoed koop voor die venue gesluit het.  Die gaste wat by die venue gebly het, het toe verder om ʼn kampvuur gekuier tot amper 03:00 die volgende oggend.  Ons DJ het ook vir ons ʼn speaker verskaf vir musiek buite by die vuur.  Ons het dus ongeag KOVID-19 ʼn besonderse dag gehad.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die toekomstige bruide:

Geniet absoluut net jou dag en probeer alles in neem.  Die dag vlieg verby.  Doen wat vir jou mooi, goed en reg is.  Dit is jou dag, so kies wat jy wil kies.  Of dit nou kos is of jou rok of jou bykomstighede.  Moenie bekommer as dinge nie verloop soos jy dit beplan het nie.  Daar gaan goed skeefloop so maak sommer nou al vrede daarmee.  Ek het nie gestres oor enigiets nie en het die tyd van my lewe gehad.  Ek sou my dag enige tyd net so oor doen.

Vir die toekomstige bruidegomme:

Moenie ander mense probeer gelukkig maak nie, doen wat vir jou en jou toekomstige bruid reg is en geniet dit!  En koop ook ʼn lekker gemaklike broek sodat jy genoeg kan eet en dans op jou troue en steeds gemaklik kan wees.  Dis baie belangrik!

Venue & Dekor:


Ons wou graag in ʼn woud area trou met die onthaal in ʼn saal waar ons ʼn lekker groot dansbaan kon hê.  Ook ʼn venue opsie wat verblyf aanbied, veral vir familie wat van ver af sou reis.  Ons het na ʼn hele paar venues gaan kyk, maar toe ons by De Uijlenes se woud instap het ons net geweet dit is waar ons wou trou.  Dus het ons De Uijlenes Forest and Old Barn venue bespreek.  Ons het ook gebruik gemaak van hulle Nonnetjies Uil gastehuis en die Little Barn Bridal suite.

Met ons dekor wou ons graag ʼn sagte en romantiese atmosfeer skep, maar tog die plaas gevoel van die venue behou.  Ons het dus besluit op ʼn sagte pienk kleur en vlootblou vir ʼn bietjie kontras, wat mooi gepas het by die hout elemente van die venue.  Die tafels het dus ligte pienk lopers op gehad met kerse en pienk blomme.  Ons het ook “naked bulbs” bo ons tafels laat hang vir sagter, romantiese lig.  Ons het ook ekstra blomme in ons seremonie area gehad en die pienk kleur ingebring deur pienk blomme en drapering.  Ek het egter baie van die besonderhede in Carin van Carin Flowers and Decor se hande gelos en net gevra dit moet mooi lyk.  Carin kon dus speel met verskillende blomme en elemente – en sy het ons droom troue perfek opgemaak.

Eerste Dans:


Ons het ons eerste dans op Timbuktu van Riana Nel gehad en so die dansbaan oop gemaak.  Ons het sommer net lekker gesokkie en nie vooraf enige lesse gehad of geoefen nie.

Wittebrood:


Ons kon vir twee weke wittebrood hou en het heerlik op Sedgefield gaan uitspan.  Ons het die Tsitsikamma Treetop canopy tour gedoen, ons het die Elephant Sanctuary, Snake Sanctuary, World of Birds, Monkeyland, Wolfpark en ʼn paar strande soos Haroldsbaai en Victoriabaai besoek.  Dit was alles goed wat ons al lankal wou doen en ons het werklik soos toeriste gevoel.  Ons het die Tuinroete gekies omdat dit so mooi deel van ons land is.  Dit was heerlik.


    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel diensverskaffers:

    [endsection]