Alles het begin by ʼn sokkie en lei toe tot ʼn minimalistiese rustieke troue. Carissa het rustig in ʼn hoekie gesit en almal op die dansvloer verkyk, tot dat ʼn jong man haar benader en vra om te dans.
Melton en Carissa se liefdesverhaal het met hul eerste dans saam vlam gevat. Op hul troudag by The Nutcracker Country Venue het hulle hul nog ʼn eerste dans saam geniet, maar die keer was dit amptelik as man en vrou. The Nutcracker Country Venue is die ideale landelike chic trou venue, geleë op ʼn werkende Pekanneut plaas in die heuwels van die Vredefortkoepel, net buite Parys. The Nutcracker Country Venue bied ʼn ontspanne en knus omgewing wat afgeleë is. Daar is niks en niemand om jou dag te bederf nie!
Ons deel graag hierdie paartjie, wie se persoonlikheid deur elke trou element weerspieël, se troue met ons lesers. Mooi Troues lesers sal definitief tonne trou inspirasie uit hierdie artikel kan vind vir ʼn minimalistiese rustieke troue. Daar is ook ʼn paar selfdoen wenke wat jou dalk ʼn rand of twee sal bespaar.
Saam met die trou inspirasie te vind hieronder, kan Mooi Troues lesers na ons aanlyn trougids toe gaan, indien jul opsoek is na enige trou diensverskaffers.
Paartjie se Liefdesreis:
Ontmoeting:
Ek (Carissa) is mal oor dans. Was nog altyd. So natuurlik is dit hoe ek my man moes ontmoet! Ek het alleen in ʼn hoekie gesit by ʼn sokkie, en toe vra Melton vir my of ek wil dans, en ek vat toe ʼn kans met die woordjie “ja”. Daarna het ons heel aand lank gedans tot die son opgekom het. Die volgende oggend het ons saam kerk toe gegaan en ontbyt gaan eet. Die res is geskiedenis!
Verlowing:
Ons beste vriende het pas verloof geraak, en hulle het ons genooi na hul verlowingspartytjie. Ek was baie hartseer, want ek wou ook ʼn ring aan my vinger hê. Nietemin het ek die trane van my gesig af gevee en myself opgedollie om saam met ons vriende te kuier. Melton het weggeglip en toe ek weer sien is die man op sy knieë! Dit was so pragtig. Daar was kerse, sjampanje, roosblare en ʼn tafel opgemaak net vir ons twee. Hoe dan anders as om “JA” te sê? ( Ek moet bieg, as hy my nog ʼn week laat wag het, het ek hom sommer gevra om te trou! )
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Bruide:
Moenie dink aan alles wat verkeerd kan loop nie. As iets nie uitwerk soos jy beplan het nie, gaan NET JY daarvan weet, nie die gaste nie! Dit is baie lekker om ʼn bad die aand voor die tyd te vat, maar moenie vreemde maskers en roompies aan jou gesig smeer nie – mens weet nooit hoe dit met jou vel gaan reageer nie.
Vat ʼn klein handsakkie na die onthaal toe – pak in kopseerpille, lipstiffie, parfuum, knippies en vroulike behoeftes (jy weet nooit wanneer die rooi Ferarri gaan kom kuier nie!).
Mans:
Vat dit rustig – maak rustig besluite, moenie onnodig stres op jouself sit nie, jy beplan altans die beste dag van jou lewe. Maak seker jy kry genoeg slaap die aand voor die troue – die dag kan lank en vol uitdagings gevul word. Geniet elke oomblik, want tyd beweeg vinniger as wat ons dink.
Die Besluitnemingsproses:
Die bruid het definitief meeste van die besluite geneem. Melton het maar net ge – “ja en amen” soos mans doen! Ek is nogal hardkoppig, so familie en vriende het voorstelle gemaak, maar ek het finaal besluit. ʼn Vrou weet mos wat sy wil hê!
My skoonsussies (ook my twee hoof strooimeisies ) het vreeslik baie gehelp – van die kombuistee, na die hennepartyjie, na roosblare op die wittebrood suite se bed sit. Hulle het my ook rustig gehou en as ek nie ʼn besluit kon maak nie het ek dadelik na hulle gedraai. My strooimeisies het my ook help besluit op die kleiner, maar tog belangrik, goedjies soos skoene, oorbelle, parfuum, ens.
Finansiële Aspekte:
Ons ouers het help betaal – dit het regtig baie gehelp. Ek was net ʼn student, so ek het geen vaste inkomste gehad nie. Daarom het ek baie goed self gemaak.
Ek het die uitnodigings se materiale gaan koop ( dit was R3 vir ʼn velletjie en ek kon 3 uitnodigings uit een vel kry) en ek het self die boodskappies geskryf en self die koeverte gevou. Ek het wel net uitnodigings aan die naaste mense gegee (bv. ouers).
Die bordjies was ook deur my gemaak – ek het die hout borde gekoop vir goedkoop en dit geverf en op dit geskryf. Dit was byvoorbeeld die welkom bordjie, dankie bordjie, ens. Ek het ook dekor gekoop wat ek by die troue kan gebruik en na die tyd kan terugbring huis toe.
Ons het min of meer 75 gaste gehad.
Ons het nie regtig ʼn begroting gehad nie, maar ons het probeer om te doen wat ons graag wou gehad het sonder om onnodiglik duur te betaal. Die belangrikste is dat ons nie altyd die goedkoper opsie gekies het nie – ons het bv. by die kos opsies nie na pryse gekyk nie, maar eerder gefokus op wat ons graag wou gehad het. Ons wou nie spyt wees na die tyd nie – en ons was definitief nie!
Vermaak:
Ons dekor verskaffer ( Wedding Flowers and Decor ), het vir ons reuse grasperk speletjies verskaf – bv. groot jenga, croquet, groot X & O’s. Ons gaste het baie lekker gespeel terwyl ons fotos geneem het.
Die voorgereg is buite bedien, so ons het kombersies neergesit sodat die gaste die voorgereg as ʼn piekniek kan geniet.
Die Verlowing Tydperk:
Ons het 5 dae voor die pandemie verloof geword. Niks het volgens plan gebeur nie. Ek was in my honneurs-jaar, en het pas in my eie woonstel ingetrek. Toe KOVID-19 tref, moes almal van kampus af. My ouers bly 1000km weg, so ons moes ʼn ander plan beraam … Ek het toe by Melton ingetrek. Ek moet sê, dit was moeilik aan die begin, maar dit het ons definitief voorberei vir die huwelik! So tussendeur Melton se werk en my studies het ons maar self begin beplan aan die troue. Dit was hope pret, maar saam met dit het daar tonne stres gekom. Dit was wel alles die moeite werd.
Ons het 14 Maart 2020 verloof geraak en 26 Maart 2021 getrou. Ek moet sê, ons het eers op ons datum in Oktober besluit! Maar deur die jaar het ek goedjies bymekaar begin kry en maak.
Paartjie se styl:
Melton is baie plat-op-die-aarde, so hy was nie geheg aan enige style nie. Ek is mal oor Bohemies, maar ek trou tog met ʼn boer. Ons styl was meestal minimalisties, maar tog anders. Ons het toe gegaan vir ʼn minimalistiese rustieke styl troudag – dink ou kratte, geroeste emmers, “Edison liggies”, ens. Ek het ʼn kort rok gehad met ʼn lang romp wat bo-oor die rok gekom het. Melton het neutrale kleure aan gehad – grys, bruin en wit.
Spesiale Tradisies:
Ons het die normale tradisies gehad – blomme en kousband gooi. Ons het wel nie laat die “wenners” saam dans nie – weens KOVID-19.
Merkwaardigste Oomblikke:
My (Carissa) merkwaardigste oomblik was ons dans. Dit het gevoel asof dit net ons twee in die vertrek was met niemand wat vir ons kyk nie. Ons het ons harte uit gedans nadat ons vir maande geoefen het, en ons het dit nog nooit so mooi gedans nie. Dit was die oomblik wat ek gevoel het dat ons regtig ʼn span is. As ek val, dan tel hy my op. As ek in alle rigtings draai, hou hy my hand vas en trek hy my nader. Dit was toe ek besef die lewe is soos ʼn dans, en kom ons wees eerlik – dis nie lekker om alleen te dans nie. Ek is bly ek het my dans maat gevind ( al het hy twee linker voete) en terselfdertyd my lewensmaat.
Melton se merkwaardigste deel was die seremonie. Sy woorde, “Toe ek jou sien instap, het my hart gaan staan. Ek het toe besef nou is die oomblik wat ons lewens heeltemal gaan verander”.
Venue & Dekor:
Ons het net na twee venues gekyk. Die eerste venue was The Nutcracker. Dit was totaal en al ʼn mors van tyd om na die tweede venue te gaan kyk want ons was versot op die eerste venue. Toe ons dit besef het ons besluit dat ons nie verder gaan soek nie, want ons weet ons gaan net The Nutcracker oor en oor kies. The Nutcracker is afgeleë – jy kan die water hoor loop, die blare hoor kraak en die visarende hoor sing. Daar is niks en niemand om jou dag te bederf nie.
Ons idee van ʼn minimalistiese rustieke troudag het perfek by die venue gepas. Ons dekor was baie minimalisties. Die venue was klaar mooi genoeg dat ons nie veel dekor meer nodig gehad het nie. Ons het ook nie hope blomme gehad nie, maar net groenigheid hier en daar. Ons is nie “flashy” mense nie, so ons wou graag ons persoonlikhede deur die dekor weerspieël.
Wittebrood:
Ons het besluit om in Suid-Afrika te toer – hoofsaaklik weens KOVID-19 beperkings. Alles was vir my (Carissa) ʼn verrassing – ek het eers uitgevind waar ons gaan slaap wanneer ons daar is. My man het beplan dat ons na plekke gaan waar nie een van ons al was nie.
Dit was vreeslik interessant om die verskillende dele van ons land te leer ken – ons het olifante gevoer, seekoeie in die strate sien rondloop, wilde katte gevryf en die lekkerste kos geëet!
Ons was in Dullstroom, St. Lucia, Ballito, Tenahead Lodge in die Oos-Kaap en toe Bloemfontein.
Gunsteling Diensverskaffers:
Sjoe, ek sal definitief almal aanbeveel! Die venue, The Nutcracker, is in Vredefort. Ons kon byna alles by hulle kry – dekor (wat perfek by hulle venue pas, as ook by ons minimalistise rustieke troue styl), kos (wat fantasties was), kelners en kelnerinne, verblyf, en soveel meer!
Die fotograwe, Image2U, was wonderlik! Ons het die mooiste fotos teruggekry, en ons het ʼn pragtige koffietafel boek waarmee ons vreeslik baie spog! Ons video is ook pragtig. DeepField Films het ons video geneem, maar ons kon die videograaf deur die fotograwe bespreek.
Wedding Flowers and Decor in Parys het ons dekor gedoen. Hulle het elke klein dingetjie in ag geneem en alles het net pragtig gelyk. Hulle doen regtig ekstra baie moeite om jou dag spesiaal te maak.
Eerste Dans:
Ons het ʼn eerste dans gehad – een waarvoor ons maande lank geoefen het! Ons liedjie was aanvanklik “I belong to you – Jacob Lee”, maar toe ons die liedjie “Lover” van Taylor Swift gehoor het, het ons geweet dis ons liedjie. Ek was ʼn choreograaf vir ʼn klompie jare gewees, so ek het self ons dans roetine uitgewerk.
- Videograaf: DeepField Films
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Image2U Photography
- Bruidegom-pak: Ultimo, Klerksdorp
- Blomme + Dekor: Wedding Flowers and Decor
- Grimering: Blushes & Lashes
- Hare: Infinity Hair Salon, Potchefstroom
- Huweliksbevestiger: Wikus van Zyl
- Juweliersware: Eternity Enterprise
- Platejoggie: MSM Productions
- Skoene: Superbalist
- Strooimeisie-rokke: SHEIN
- Trourok: Jacquelin’s Bridal Couture Klerksdorp
- Trouring: Eternity Enterprise
- Troukoek: B’s Bakery Klerksdorp
- Vermaak: Wedding Flowers and Decor
- Venue + Paartjie se verblyf: The Nutcracker Country Venue