Ons deel vandag met ons lesers die oulike stedelike paartjie fotosessie van Stiaan en Roelien.
Hierdie paartjie is al drie jaar saam, sedert Roelien vir ʼn metgesel gesoek het vir ʼn koshuis-dinee op universiteit. Die pragtige stedelike fotosessie vertoon hoe erg hierdie paartjie is oor mekaar en kan as inspirasie dien vir ons lesers wat moontlik self ʼn verlowing fotosessie beplan.
Rol gerus af om meer te sien van Stiaan en Roelien se stedelike fotosessie.
Die eerste ontmoeting:
Ek, Roelien, was opsoek na ʼn dinee metgesel vir my koshuis-dinee. ʼn Gemeenskaplike vriendin van ons het hom as ʼn moontlike metgesel voorgestel, aangesien ek gesê het ek iemand soek wat kan dans en ʼn interessante gesprek kan voer. Hy het my voete onder my uit gesokkie, ʼn hond uit ʼn bos uit gesels en die res is geskiedenis.
Die dinee het toe gelei tot ʼn jaar lange vriendskap wat toe gegroei het tot die verhouding wat ons vandag het.
Ons vier einde Augustus drie jaar saam.
Visie vir ʼn romantiese afspraak:
Ons albei vind romanse in ons alledaagse handelinge met mekaar. Ons sien kwaliteit tyd saam as baie spesiaal. Gee ons ʼn roomys, ʼn stukkie grasperk en ʼn kombers of twee en ons is so gelukkig so twee varkies in modder.
ʼn Vinnige kar op ʼn oop pad met geen verkeerskonstabel in sig nie, klink ook nie na ʼn slegte romantiese afspraak nie.
Gunsteling eienskappe van mekaar:
Roelien se gunsteling eienskappe van Stiaan:
Hy lei my in God se Woord. Stiaan is iemand wat almal se vriend is en so maklik oor die weg kom met enige iemand. Hy is altyd lus vir ʼn nuwe avontuur.
Stiaan se gunsteling eienskappe van Roelien:
Sy is selfversekerd en nie bang om haar eie opinie te hê nie. Ek hou van die feit dat sy my nie verander nie, maar dus aanvul. Ek is verlief op haar vrolike siel.
Drome as paartjie:
Waar om te begin!
Ons is albei redelik besigheids gedrewe en met ons komplimentêre studie rigtings, Menslike Hulpbron Bestuur en Bedryfs Ingenieurswese, droom ons om ʼn besonderse besigheids paar te word wat wil eksperimenteer met nuwe metodieke in besigheid en sodoende die gesig van besigheid verander.
Ons droom ook om nooit op te hou “lewe” nie, deur te soek na dit wat lewe opwindend maak en mening gee.
Dinge wat die paartjie hou van om saam te doen:
Op universiteit het ons laat aand roomys uitstappies geniet terwyl ons elke motorhandelaar met eksotiese karre gaan besoek het. Ons albei het ʼn baie groot liefde vir karre, van ʼn Lykan Hypersport tot ʼn 1962 Shelby Cobra.
Ons geniet ook enige aktiwiteit wat in die buitelug gedoen kan word soos stap roetes, golf, visvang en jag, maar ons kan ook ʼn Saterdag en Sondag ʼn F1 inbly-sessie geniet.
Bord speletjies is ook ʼn groot gunsteling en ons speel graag saam enige iemand wat lank genoeg kan stil sit.
Saam kos maak en bak is een van ons gunsteling aktiwiteite waar ons saam tyd spandeer en nuwe resepte uit toets, sommiges beter as ander.
Rede vir die fotosessie:
Die fotograwe is goeie vriende van ons en het vir ons die fotosessie as ʼn geskenk gegee. Siende dat ek, Roelien, permanent vir Stiaan moet smeek om te verskyn voor ʼn lens het ek hierdie geleentheid aangegryp met albei hande. Hy is ook nou bly ons het sulke mooi kiekies geneem.
Inspirasie agter die fotosessie:
Soos per voorstel van die fotograaf vir die ligging. Die styl wou ons net gemaklik hou en ook so natuurlik as moontlik.
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Protealens Photography