Ronald & Elzeth se romantiese troue

Vandag hier by Mooi Troues deel ons graag met ons lesers meer oor Ronald en Elzeth se romantiese troue.  Die paartjie het min geweet dat ʼn dansvloer die vonke gaan laat spat!

Ronald en Elzeth moes hul bruilofsfees uitstel weens KOVID-19, maar kon gelukkig steeds hul droom dag laat realiseer.  Hierdie paartjie bied ook soveel wenke oor hoe om ʼn bruilofsfees self te beplan in die pandemie waarin ons onsself vandag vind.

Die trou blomme en -dekor is bitter mooi en deur Mooi Troues adverteerder Love Beloved gedoen.  Ons hou baie van die kleure wat gebruik is, dit gee so vrolike en warm atmosfeer.  Al die blomme se kleure is so warm en illustreer beslis die liefde wat die paartjie deel.

Elzeth se trourok is ongelooflik mooi en word so mooi komplimenteer met Ronald se olyf-groen bruidegom pak.  Die strooimeisies se rokke is so uniek en die feit dat elkeen ʼn ander kleur rok aan het maak dit so uniek!

Opsoek na betroubare trou diensverskaffers om die druk van trou beplanning van jul skouers te neem, gaan kyk gerus na Mooi Troues se aanlyn trougids deur hier te klik.

Rol gerus af en geniet Ronald en Elzeth se romantiese troue.

Paartjie se Liefdesreis:


In 2017 het Ronald my gevra na sy werk se jaareind-funksie, omdat ʼn gemeenskaplike vriendin my voorgestel het as ʼn goeie metgesel.  Ek het ingestem al was dit so bietjie buite my gemaksone.  Ons het beide ingestem om voor die funksie bietjie saam te kuier om mekaar beter te leer ken.  Om ‘n lang storie kort te maak, ons altwee hou van sokkie en Afrikaanse musiek en op daardie Vrydag aand in Weiveld het ons verlief geraak op die dansvloer.

Van daardie aand af was daar geen omdraai of twyfel nie.  Ronald het sommer vroeg in die verhouding al genoem dat ek sy trouvrou is.  Dit het my bietjie langer gevat om dit te sê maar ek het dit verseker ook van die begin af geweet hy is my lewensmaat.

Die vraag:

Twee jaar later, na baie avonture en groei in ons verhouding, het Ronald my by die Blyde Rivier Canyon gevra om sy vrou te word.  Die reis oppad soontoe was verskriklik mistig en Ronald se oorspronklike planne was bietjie in die wiel gery, so vind ek toe na die tyd uit.  Ons moes toe direk na ons kampplek toe ry om kamp op te slaan, aangesien die weer ons nie regtig toegelaat het om iets anders op daardie stadium te doen nie.  Na ‘n suksesvolle opslaan sessie het Ronald voorgestel dat ons dalk gaan kyk watter uitkyk punte daar op die terrein is.

Ons stop toe by een van die gemerkte uitkyk punte en in ‘n kortbroek en plakkies gryp Ronald sy rugsak en stel voor dat ons ‘n entjie stap om te kyk hoe dit lyk.  Toe ons by die uitkyk punt kom het die mis skielik begin verdwyn.  So kon ons die prentjie mooi uitsig van die Blyde Rivier Canyon sien.  In verwondering gaan sit ek plat op een van die rotse en Ronald vra my toe om by hom te kom staan.  Dit het heelwat oorreding geneem aangesien ek maar skrikkerig is vir hoogtes, maar toe ek by hom staan kon ek baie emosie in sy oë sien.  Met ‘n bewerige stem het hy begin praat en na ‘n paar woorde het hy op sy knieg gegaan en my gevra of ek die res van my lewe saam hom te spandeer.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was bietjie langer verloof as wat ons oorspronklik beplan het as gevolg van KOVID-19 regulasies.  Die beplanning was dat ons 7 maande verloof sou wees, maar dit het toe in 15 maande uitgedraai.  Ons het self ons troue beplan en die verlengde tydperk het ons oorgenoeg tyd gegee om alles in plek te kry.

Finansiële Aspekte:


Ons het van die begin af ʼn vaste begroting opgestel en het mekaar aanspreeklik gehou om daarby te hou.  Dit was soms nodig om te sny op ekstra luukshede.  Ongeag is ons nie ʼn dag spyt dat ons so streng by begroting gehou het nie, want dit het ons toegelaat om ekstra lekker goed op ons wittebrood te kon doen.  Ons oorspronklike gastelys was +- 120.  As gevolg van KOVID-19 regulasies moes ons die gastelys sny.  Ons het op die ou einde ons droom dag met 44 gaste gedeel.  Alhoewel die sny proses baie moeilik was, kan ons met geruste harte sê dat ons dag nogsteeds perfek was.  Ons raad aan toekomstige bruidspare is om jou gastelys mooi deeglik te deurdink.  Minder gaste stel jou in staat om by almal uit te kom op die dag en julle kan ons woord daarvoor vat, dit is steeds die perfekte dag.

Merkwaardigste Oomblikke:


Ronald:

Die opbou saam my gevolg was baie spesiaal, maar die oomblik in die dag wat verseker uitgestaan het, was toe Elzeth by die kerk ingestap het.  Ek het nog nooit soveel emosie op een slag ervaar nie, dit was werklik prentjie mooi.  Nog een oomblik wat ek vir altyd sal onthou is toe ons by die onthaal ingestap het en die vreugde op ons hartsmense se gesigte kon beleef, dit was bitter spesiaal.

Elzeth:

Daar was soveel spesiale oomblikke.  Die een wat vir my uitgestaan het was toe ek na so lank se wag Ronald se ring vir hom kon aansit en die dominee ons amptelik as man en vrou verklaar.  Nog ʼn ongelooflike oomblik was ons pa en dogter dans, dit is ʼn oomblik wat ek vir altyd sal koester.

Die Besluitnemingsproses:


Die beplanningsproses was vir ons baie lekker, omdat ons alles saam beplan en besluit het.  Ons het ons naaste familie en vriende ook betrek vir insette en raad.  Alhoewel ons het altyd seker gemaak dat beide van ons tevrede was voor ons ʼn finale besluit oor iets geneem het.  Ons stel regtig voor dat paartjies sovêr moontlik saam deur hierdie proses gaan, dit vorm deel van die ongelooflike herinneringe was ons van ons troudag het.

Gunsteling Diensverskaffers:


Van dekor tot band was ons regtig mal oor al ons diensverskaffers, ons kan nie een uitsonder nie.

Paartjie se styl:


Ons wou graag onsself wees op ons troudag en het oopkop in die soektog vir trouklere in gegaan.  Elzeth het haar hart verloor op haar pragtige Enzoani trourok.  Ronald het op ʼn olyf groen Country Road baadjie, ʼn leer das, vlootblou broek, bruin belt en skoene besluit.  Elzeth se trou ring het ons by Poggenpoel laat ontwerp en dit het van oogopslag haar asem weggeslaan.  Ronald se trou ring het ons by Beaudell Jewellery laat maak en ons het Elzeth se vingerafdruk laat ingraveer.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Manne, wees betrokke deur die volle proses.  Al kom dit nie vir ons so natuurlik om van opgewondenheid te straal as dit by dekor kies kom nie, sal jy nie ʼn oomblik spyt wees as jy saam jou vrou terug dink en lag oor als waaroor julle moes besluit nie.

Dames, dit is jou en jou man se troue.  Waardeer almal se insette en raad maar julle twee alleen moet rustigheid in julle harte hê oor die finale besluite van julle groot dag.  Moet nie toelaat dat ander mense se opinies enige drome wat julle het oorweldig nie.

Wittebrood:


Ons wou oorspronklik ʼn Bali-reis doen, maar as gevolg van KOVID-19 het ons besluit om ʼn binnelandse toer te doen en ons is nie ʼn oomblik spyt nie.  Ons het ons eerste week in Clarens spandeer.  Daarna ʼn paar dae in die Midlands Meander en het ons asemrowende wittebrood in die Drakensberge afgesluit.

Plekke wat ons besoek het:

  • Clarens: Omega Luxury Mountain Retreat
  • Midlands Meander: Qambathi Mountain Lodge
  • Drakensberge: The Berghouse and Cottages

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie/band op ons troue gehad.  Die kombinasie het ʼn baie lekker atmosfeer geskep en Deylight Band het ons lekker aan die skoffel gehou.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ja!  Ons moes uitstel, ons venue verander en ons gastelys sny.  Alhoewel ons is ongelooflik gelukkig oor hoe ons groot dag uitgedraai het.  Ons verhouding het ook baie gegroei in hierdie tyd.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was een van ons mees spesiale oomblikke op die dag.  “If I Ever Saw Heaven” – Roan Ash was nog altyd een van ons gunsteling liedjies en was van die begin af die liedjie van ons keuse vir hierdie groot oomblik.  Ons het verlief geraak op die dans vloer en ons voete het mekaar redelik vinnig gevind.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]