Moderne, Stylvolle Boheemse Trou Inspirasie

Ons deel hierdie Maandag met ons Mooi Troues lesers nuwe trou inspirasie vir jou week, ʼn gestileerde fotosessie met ʼn moderne, stylvolle boheemse tema.

Hierdie gestileerde fotosessie het werklik ons aandag getrek met sy uniekheid, prominente dekor elemente en die wending van ʼn moderne en stylvolle tema wat ʼn boheemse gevoel mooi aanvul.  South Hill Vineyards, waar die fotosessie plaasgevind het, in die Elgin Grabouw Vallei, het ʼn pragtige oop speelveld gebied om die tema na lewe te bring.  Die venue spasie bied verskeie areas om pragtige fotos vas te vang met besonderse natuur elemente.  Natuurlike kontraste in die natuur het die kontras tussen lig en donker van die tema mooi aangevul.

Die inspirasie vir hierdie fotosessie was gegrond om iets onkonvensioneel na vore te bring en om die moderne bruid te inspireer.  Nie net bied hierdie artikel inspirasie vir stylvolle uitrustings en moderne dekor nie, maar is dit ook inspirasie vir die leser wat beoog om geld te spaar.  Die diensverskaffers het self al die uitgedroogde elemente in die natuur gaan soek.  Sodoende het hulle beklemtoon watter mooi elemente mens kan vind as mens net ʼn bietjie begin rondkyk.

Rol af om geïnspireerd te word deur die moderne, stylvolle boheemse trou fotosessie.

Inspirasie agter die fotosessie:


Adri Hugo, van Adri Make-Up and Hair, wat die fotosessie gevisualiseer het, se inspirasie was ʼn onkonvensionele trou rok.  In die geval was dit ʼn broekpak vir ʼn moderne bruid.  Vandaar het die idees gevloei oor hoe om die moderne bruid se uitrusting te komplimenteer. Daar is gebruik gemaak van neutrale aardse kleure in ʼn abstrakte vorm en dit is gemoderniseer met swart elemente.

Adri het na Cindy Bam toe gegaan met haar idee van ʼn moderne, en effense boheemse fotosessie.  Sy het vir Cindy gevra om ʼn broekpak en ʼn slank, moderne trourok met moderne, grafiese kant te verskaf.   Sy wou ʼn element hê wat die moderne bruid voorstel en wou daarby die Suid-Afrikaanse wynplaas met ʼn sprankel van boheems inkorporeer.

Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?


Adri het ʼn kraagnek rok van Cindy Bam gesien wat perfek by die visie gepas het.  Dit het die illusie van ʼn pak geskep vir ʼn moderne bruid.  Cindy het ook ʼn fantastiese broekpak gehad wat die onkonvensionele moderne bruid verteenwoordig.

Coba was Adri se eerste keuse as fotograaf.  Haar fotos weerspieël altyd die ware kleure en skakerings wat gebruik word.  Haar redigering styl beinvloed ook nie die kleur van die dekor en elemente nie.  Coba het ook ʼn fantastiese manier om ʼn bruid (of model) af te neem.  My, as grimeerkunstenaar, se werk laat sy tot sy reg kom.  Sy laat dit nie anders lyk as wat dit gedoen was nie.

Carla, van Pretty Different, het aangebied om te help.  Die persoon wat sou help met die koördinering het ongelukkig op kort kennis kop uitgetrek.  Sy het dadelik vir Dinique Emporium betrek om te help met die dekor, en wat ʼn fantastiese span.  Hulle het Adri se visie perfek omskep.  Met een of 2 inspirasie fotos het hulle die dekor perfek omskep.  South Hill Vineyards was die perfekte venue vir die fotosessie.  Dit is geleë in die Elgin Vallei wat die platteland baie mooi verteenwoordig.  Dit het ook ʼn moderne gevoel met groot oop vensters vir baie natuurlike lig en pragtige groot hout deure.  Dis eintlik die kuns gallery/restaurant wat Adri eerste aangetrek het na die venue.

Die koek van Mon Ami, het soos ʼn abstrakte kunswerk gelyk.  Die diensverskaffers vir hierdie gestilleerde fotosessie het al van tevore saam gewerk aan ʼn verkeidenheid van ander fotosessies (nie noodwendig almal by dieselfde fotosessies nie).  Dit is ʼn baie dinamiese en talentvolle span waar almal baie goed saamwerk.  Ons het mekaar se idees en inspirasie aangevul om die finale uitkoms en gevoel na lewe te bring.

Agter die skerms van die fotosessie:


Sandra was so gasvry en het vir Carla en Monique van die venue se akkommodasie beskikbaar gestel.  Hulle het so bietjie gaan plant dekor elemente soek die middag tevore.  ʼn Paar elemente is gevind wat perfek saam met die tema gegaan het, soos gedroogte varing en dryfhout.  ʼn Mens kan soveel uit jou omgewing kry as jy net ʼn bietjie rondkyk.  Hulle het dit reg gekry om ʼn hele bakkie vrag van die pragtige varings bymekaar te maak.

Dekor:


Ons het die “mood board” as inspirasie gebruik vir die beplan van hierdie gestileerde fotosessie.  Die deels boheemse tema het ons toegelaat om in ʼn paar verskillende rigtings te gaan.  Ons het besluit om die gedroogte blomme te gebruik as ons inspirasie en het toe swart bygevoeg as ʼn meer moderne element.

Ons het besluit om ʼn loper te maak op die tafel met blomme, dryfhout en dekor.  Die dekor het bestaan uit baie verskillende klein vase met gedroogte elemente en dun swart kershouers vir ʼn bietjie hoogte.  Die dun, swart metaal kershouers was ʼn geskikte opsie omdat hulle nie baie indringend vertoon nie en net ʼn bietjie moderne elegansie byvoeg.

Met die blomme het ons gebruik gemaak van gedroogte elemente omdat dit deesdae so ʼn gewilde tendens is.  Ons wou uitbeeld dat jy iets pragtig kan skep deur slegs gebruik te maak van sulke gedroogte elemente.  Sommige van die gedroogte elemente was swart verkleur om ʼn prominente aspek na vore te bring.  Dit het ook mooi ingeskakel by die ander swart dekor elemente op die tafel, soos die eetgerei en die kershouers.  Ons het ʼn verskeidenheid van wit keramiek vase gebruik en ook wit gesigsbeeld sout en peper potjies inkorporeer om die natuurlike kleure te maak uitstaan.  Die gekleurde glase wat ons gebruik het, het gedien as ʼn element van gesofistikeerdheid en het mooi die ander natuurlike kleure gekomplimenteer.

Kleurskema:


Die kleurskema was geïnspireer deur al die gedroogte elemente.  Ons het swart bygevoeg om ʼn moderne en dramatiese beeld te vertoon.

Venue en Ligging:


Ons het South Hill Vineyards gekies omdat dit ʼn verskeidenheid van areas bied om fotos te neem.  Hierdie areas het perfek by die gevoel ingepas het wat ons na vore wou bring.  Die wingerde, wat op die punt was om gesnoei te word, en ook in mooi kontras was met die grond, het die perfekte dramatiese gevoel geskep waarna ons gesoek het.  Die pragtige houtdeure en groot, moderne vensters met die tafels en stoele van die lokaal pas perfek by die voorkoms en gevoel.

Trourok:


Ons is so bevoorreg om die eerste professionele gestileerde fotosessie te kon wees wat hierdie pragtige, nuwe kledingstukke uit die gereed gemaakte versameling van die vooraanstaande Suid-Afrikaanse bruidsrok-ontwerper Cindy Bam kon wys.

Beide uitrustings het perfek by die tema gepas, met die eerste rok wat ʼn klassieke, toegeruste ontwerp is met ʼn moderne boheemse langmou bo-deel.  Die tweede uitrusting was ʼn broekpak met moderne, organiese kant en ʼn sagte baadjie en broek wat ideaal is om die hele nag te dans.

Advies aan toekomstige paartjies wat troue beplan:


Ons beveel altyd aan dat ʼn paartjie ʼn konsultasie sessie boek om met die bloemis en dekor stilis te gesels.  Gedurende hierdie konsultasie sessie kan die diensverskaffer al die nodige vrae vra om deeglik te verstaan wat die paartjie se behoeftes is. Hulle kan ook om ʼn duidelike visie te kry van die gevoel wat die bruidspaar wil skep.  By ons ateljee, DiNique Emporium, laat ons kliente toe om rond te speel met ons dekor.  Jy kan dit self uitpak op ʼn tafel sodat jy ʼn gevoel kan kry van hoe dit moontlik gaan lyk op jou troudag.

In verband met al die gedroogte elemente, kan julle as ʼn paartjie self in die natuur daarvoor gaan soek, as jy gebruik maak van ʼn bloemis wat dit sal toelaat.  Deur dit te doen spaar jy geld wat jy op ander goed kan spandeer.  Gedroogte elemente is nie goedkoop om te koop nie omdat dit gewoonlik vooraf behandel word.  Dit neem ook lank om hierdie pragtige gedroogte blomme te maak.

Addisionele Inligting:


Hare en grimering inspirasie:

Vir die rok met sy kraag en skoon lyne, het Adri besluit op ʼn moderne bolla en ʼn prominente lip kleur.  Vir die broekpak is op ʼn hoë bokstert besluit en ʼn sagte, natuurlike lip kleur.  Beide voorkoms is modern al is dit totaal verskillend.  Min fondasie met sproete wat deurkom is verseker die tendens in die mode wêreld.  Ook iets waarna ʼn moderne bruid sal kyk, met ʼn bietjie blink in die oogskadu.  Adri het besluit op ʼn brons blink oog met perske kleurige wange en lip kleure wat vars en modern vertoon.

Adri het werklik so mooi die tema maak na vore kom met die hare en grimering.  Dit was baie natuurlik en met baie tekstuur om die gekose moderne beeld te skep.  Die hoof produkte wat sy gebruik het was Mac mat en metaal vloeistof oogskadu’s, asook die Chanel lip palette.

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: