Gerhard & Angelene se elegante bruilof

Ons deel met groot opwinding vandag die pragtige liefdesverhaal van Gerhard en Angelene asook pragtige foto’s van hulle elegante bruilof. Nie net sal hierdie paartjie se prag mooi troue die leser inspireer wat hou van iets stylvol en tydloos nie, maar jy mag dalk ook inspirasie vind in hulle liefdesverhaal.

Vlootblou, Maroen, klassieke wit en insetsels van swart het hierdie paartjie se simplistiese en tydlose styl na lewe gebring.  Neutrale kleure in die strooijonkers se uitrustings en die rokke van die strooimeisies, het onbewustelik so perfek ingeskakel by die bruin, hout natuurlike elemente van die venue.  Dit het die troue meer aards en tydloos laat vertoon.

Love Beloved was verantwoordelik vir die trou dekor en blomme.  Hierdie diensverskaffer beskryf hulself as ʼn trou dekor maatskappy wat tydlose elegansie uitbeeld deur hul dekor. Dit word bereik deur bypassende dekor in die kleurskema te gebruik as fokus punt.  Fyn uitgekiesde bypassende vars blomme in die perfekte trou kleur word dan bygevoeg om die dekor te komplimenteer.

Rol af en herleef Gerhard en Angelene se elegante bruilof deur hulle troufoto’s en geniet die paartjie se liefdes storie.

Paartjie se Liefdesreis:


Jeremia 29:11

Die Here sê:  “Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie.  Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê”.

Ons staan verwonderd as ons terug dink oor hoe God elke tree van ons lewens so perfek uitgelê het.  Dit nog selfs voordat ons in ons moederskote gevorm was.  Dit is God se tyd, nie ons s’n nie.  Sy wil, nie ons s’n nie.  Sy plan, nie ons s’n nie.  Alles vir Sy eer, nie ons s’n nie.

Ons storie het so begin …

Op die 1ste Februarie 2013 het die eeste hoofstuk van Angelene en Gerhard se lewe saam begin, min wetend hoe die hoofstukke gaan verloop en nog minder hoe dit sou eindig.  Maar God het reeds geweet.

Vir Angelene was dit die dag van die begin van haar professionele loopbaan, haar eerste werk en vir Gerhard, was dit die oomblik wat hy geweet het sy droomvrou het nou net by die deur ingestap.

Vriendskap dra besondere waarde en is ʼn wonderlike gawe van God.  Nie die oppervlakkige tipe vriendskap nie, maar ’n vriendskap waar ʼn mens met oorgawe in mekaar kan glo, mekaar kan verdedig, die wêreld van mekaar dink, mekaar kan optel as die een val, vir mekaar kan bid, in stilte saam kan sit, hardop en onbedaarlik saam kan lag, mekaar moed in praat, die “TALK” hê, ʼn skouer het om op te huil, jou oorwinning is my oorwinning tipe vriendskap.  En dit is presies die tipe vriendskap wat Angelene en Gerhard oor die jare gekweek en gekoester het.

Hoe mooi is dit nie as ʼn verhouding op so ʼn vriendskap/fondasie gebou word nie.

Maar saam met so ʼn gewortelde vriendskap, is dit onmoontlik om nie diepere gevoelens vir mekaar te begin ontwikkel nie.  Alhoewel ons as mens dit nie in die oomblik verstaan nie, het God presies geweet wat Hy doen.

Die begin van gevoelens …

Gerhard was die een wat aan die begin van hul verhouding aan die kortste ent moes trek omdat Angelene nie dieselfde teenoor hom gevoel het nie.  Angelene wou nie in ʼn verhouding saam met Gerhard gaan nie want sy wou nie vir Gerhard as ʼn vriend verloor nie, want wat as die verhouding nie werk nie en hul kosbare vriendskap saam met dit vernietig word?

Gerhard het gereeld (“Aanhouer Wen”) probeer om Angelene se arm te draai om hulle verhouding net ʼn kans te gee, maar Angelene was soos ʼn grammofoonplaat wat vas gehak het en haar antwoord was keer op keer ʼn NEE.

Maar met elke NEE het Angelene stadig maar seker Gerhard se karaktereienskappe begin ontdek wat soveel gewig gedra het, en besef dat hy so ʼn “gentleman” is … Gerhard het nooit ʼn antwoord uit Angelene forseer wat hy wou hoor nie, al wou hy hoe bitter graag.  Gerhard was so geduldig gewees, soos die Heilige Gees wat God vir ons gestuur het.  Die Heilige Gees is ʼn “gentleman”, Hy forseer Homself nooit in Sy volheid in ons lewe nie.  Hy sal ons vul maar slegs as ons dit van Hom vra.

Ongelukkig het die herhaaldelike nee tot ʼn jaar van geen kontak tussen Angelene en Gerhard gelei.

Absolute stilte …

Alhoewel dit vir elkeen van hulle soveel seer in die oomblik gebring het, was dit die donkerte wat nodig was, vir hul verhouding-saad om te ontkiem.  God het geweet dat elkeen van hulle nog moes groei in hulle persoonlike verhouding met Hom, voordat hulle die beste vir mekaar kan wees.

Hul identiteit in Christus moes nog in ʼn sterker fondasie ontwikkel om seker te maak dat die wêreld se identiteit vorming nie hulle as individue beïnvloed nie.  En deur die moeilik, en deur die swaar het God hulle voorberei vir mekaar.

Angelene het jare terug profetiese woord ontvang dat as sy haar man sou ontmoet, en wanneer dit gebeur alles ongewoond en vinnig in plek sal val.

Die liefde blom …

Angelene het op Maandag-oggend 17 Junie 2019 wakker geword met die wete dat dié dag ʼn ander uitkyk gebring het.  Sy het besef dat God iets in haar kom verander het, dat God haar hart teenoor Gerhard verander het.  Angelene het vir Gerhard gekontak en gevra of hulle mekaar kan ontmoet vir ʼn koffietjie …

Saterdag 22 Junie 2019, was die begin van die profesie en ook die einde van ʼn dorre woestyn stilte tussen Angelene en Gerhard toe Gerhard ingestem het dat hulle saam by PLTFRM Wolwespruit kan gaan eet het … ja, aanhouer wen! 😊

Getrou soos wat God is, het Hy op 30 November 2019 aan Angelene kom bevestig en vir haar gesê …

“My kind, alles waarvoor jy nog altyd gebid het, sit nou reg voor jou.  Ek’t elke gebed gehoor en elke traan gesien. Jou tyd is hier en dit is nou”.

Op Woensdag, 26 Februarie 2020, staan die volgende woorde op Angelene se stoep-muur geskryf …

“Angelene, jy is my beste, my enigste, my mooiste lief.  Ek belowe om jou altyd lief te hê, te ondersteun in goeie en in slegte tye.  Om jou altyd te laat lag en jou optel wanneer jy val.  Ek belowe om jou onvoorwaardelik lief te hê deur al ons avonture vir altyd.  Ek is oneindig lief vir jou!”.

Die groot vraag …

Gerhard het die dag van die verlowing verlof geneem en Angelene se huis sleutels in die hande gekry om sy plan vir die verlowing uit te voer met die hulp van sy sussie.  Gerhard het Angelene ontmoet vir aandete by Mythos waarna Gerhard na Angelene se huis toe is.

By Angelene se huis aangekom, het Angelene dadelik iets anders opgemerk omrede daar ligte in die huis aan was.  Met die oopsluit van die deur, het daar musiek gespeel, en kon Angelene die refleksie van “fairy lights” in die TV kamer se spieël sien en dadelik geweet iets is aan die gebeur.  Gerhard het die buite area opgemaak met “fairy lights”, kerse, blomme vir ʼn baie spesiale en intieme verlowing.  Hy het ook op die muur die woorde geskryf wat vroeër genoem is.  Solette het die oomblik op kamera vasgevang asook met ʼn “go-pro”.  Gerhard het Angelene 2 keer gevra om te trou omdat hy die eerste keer nie haar JA antwoord gehoor het nie.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 51 weke en 2 dae verloof. Ons sou oorspronklik 3 Oktober 2020 trou (31 weke en 4 dae) maar moes uitstel weens Kovid-19.

Kort na ons verlowing was ons onder grendeltydperk vlak 5 geplaas, wat beplanning baie moeilik gemaak het weens die inperking reëls.

Ons kon eers effektief begin beplan gedurende Junie. As gevolg van die grense wat gesluit was interprovinsiaal, kon my (Angelene) ouers eers in Augustus reis na Pretoria om te begin met die soektog na ʼn trou rok.  Daarom het ons besluit om die troue met vier (4) maande uit te stel weens die reëlings wat nog moes plaasvind asook die onsekerheid van Kovid-19.

Ons het self die troue beplan en het gedurende grendeltydperk vlak 5 ʼn baie gedetailleerde begroting en lys saamgestel wat ons as basis gebruik het.  Danica Swart van The Greenhouse Café het ons geassisteer met reëlings aangaande die venue.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons almal weet dat groot troues meeste dames se droom is, dit was ons sʼn ook. Maar met grendeltydperk en die inperkings op die hoeveelheid gaste, het dit ons forseer om die gastelys te verminder. Ja, dit was nie maklik nie, maar ons sou dit nie ander wou hê nie.  Die mense wat by die troue was, was en is die mense wat die meeste inspraak in ons lewe het, wat ons aanspreeklik hou en wat regtig vir ons baie kosbaar is en baie beteken.  En dit is wat saak maak.  Ons troue was so intiem en kosbaar en spesiaal en sal dit vir niks verruil nie.

So ons raad, jy het nie nodig om ʼn groot troue te hê nie. Dit gaan in die eerste plek nie oor die gaste nie, maar oor die gelofte wat julle aan mekaar maak voor God.  Ons as mense verval so gou en maklik in die wêreld se siening oor hoe ʼn troue moet wees en lyk, dat ons vergeet waaroor dit werklik gaan, die belofte voor God.  Daarom is ʼn groot gastelys nie nodig nie.  Die mense wat deel is van jou troue moet die mense wees wat jou aanspreeklik kan hou, julle kan ondersteun, saam julle kan bid! En die plus punt, mens spaar baie geld.

Geniet ook die beplanningsproses.  Dit is ʼn ander seisoen in mens se lewe en een wat mens nie weer gaan hê nie.

Saam met die boonste raad wil ons ook aan elke bruid en bruidegom se om soveel as moontlik net stil te staan en die oomblikke in te neem.  Haal diep asem en neem alles rondom jou in.  Die dag gaan so vinnig verby.

“STOP, PAUSE and TAKE IT IN!”

Finansiële Aspekte:


Die begroting wat ons opgestel het die maksimum moontlike waarde ingesluit wat ons as basis gebruik het.  Die venue het ʼn baie groot rol in die begroting gespeel.  Daarom was dit vir ons noodsaaklik om eerste die venue vas te maak en dan die beplanning daar volgens te doen.  Ons het verskeie venues vergelyk ten opsigte van kostes en wat alles ingesluit word.  The Greenhouse Café was myle voor ten opsigte van wat alles voorsien word en wat ingesluit is by die prys.  Ons was verstom dat ons by ander venues tafels, stoele, spyseniering, breekware ens. ekstra moes inhuur wat die kostes buitensporig hoog gemaak het.   The Greenhouse Café sluit reeds alles in.  In ons opinie een van die beste venues in die land, asook een van die mooiste, moderne venues.

Ons het ʼn spaar rekening gaan oopmaak waarin ons elke maand ʼn x bedrag geplaas het.  Gebaseer op dit wat elkeen van ons kon spaar oor die tyd wat oor was tot en met die troue, en die begroting wat ons opgestel het, asook die werklike kostes vir van die items, kon ons die begroting vasmaak en daarvolgens beplan.

Ons het oorspronklik begroot vir 100 gaste, en weens Kovid-19 was ons troue beperk tot 50 gaste wat ons begroting baie gesny het en dit moontlik gemaak het vir ons om ekstra geld oor te hê na die troue.

Ons grootste dryfkrag agter die begroting was om die troue self te betaal maar om ook geen finansiële lenings aan te gaan nie.  Met God se goedheid het paar familie lede, sonder dat dit van hulle verwag was, vir ons geld oor betaal om te help met die betaal van die troue.

Ons troue het R190 000.00 beloop.

Merkwaardigste Oomblikke:


Bruid:

Daar is so baie.  Die oomblik voor die troue toe my aanstaande man by ʼn boom gaan staan het met sy rug na my en my hand gevat het en vir ons gebid het en skrif gelees het.  Hy het my glad nie gesien voor die troue nie, eers toe ek by die kapel in stap, ons wou dit ook so hê.

Ook die oomblik toe ek Gerhard aan die einde van die kapel sien staan.

Bruidegom:

Die oomblik toe ek vir Angelene by die kapel sien instap.  Ek was oorval met emosies (vasgevang op kamera) en ek was oorweldig met God se goedheid en guns en dat ons uiteindelik ons lewe saam kon begin.

Paartjie se styl:


So ons is verseker nie mense wat hou van tierlantyntjies nie.  Ons hou van stylvol, klasiek, minimalisties en tydlose styl.  Eenvoudig.

Ekt baie trou rok style aangepas, en keer op keer het my hart bly gaan na ʼn eenvoudige klasieke tydlose rok toe.  Die kant het meer detail gebring en die lae rug so tikkie “sexy”.

Ons het gegaan vir ʼn klassiek vlootblou met maroen das wat laat maak is deur Tip Top Tailors in Menlyn.

Poggenpoel juweliers het my verloofring, troupant en Gerhard se ring gemaak.  Ons het saam my verloofring en troupant ontwerp met die hulp van Poggenpoel juweliers.

Die Besluitnemingsproses:


Ons is ʼn baie goeie span en vul mekaar baie goed aan. Ons styl/smaak is ook baie dieselfde.

Altwee van ons het elke besluit saam geneem (dit is ons altwee se groot dag), maar ook self.

Dit is belangrik dat die paartjie die besluite maak aangaande hulle troue.  Dit is immers hulle troue.  Hul troue gaan nie oor wat vriende of familie wil hê nie, dit gaan oor wat julle as paartjie wil hê.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Ons troue was perfek in elke opsig, en alles het so goed volgens plan verloop.

As daar iets is wat ons wel sou wou verander, maar wat buite ons beheer was, was die aandklokreël wat ingestel was asook die feit dat geen dansvloer toegelaat was nie.  Maar dit het gelei na ʼn lekker kuier, en intieme troue.

Venue & Dekor:


Ons het na baie venues gekyk maar daar is slegs een wat uitgestaan het en wat by ons individuele styl pas en dit was The Greenhouse Café.

Die kapel se struktuur is iets wat ons altwee se aandag dadelik getrek het asook die minimalistiese, stylvolle eenvoudige tydlose styl waarnatoe die venue hom leen.  Die vertikale blombeddings in die onthaal saal was iets besonders en omdat die venue so op sy eie praat is dit ook nie nodig om te veel te doen nie.  Alles was so stylvol, tydloos en klassiek moontlik gedoen wat ook die styl van die venue komplimenteer.

Ons het ook spesiaal ʼn koekstander ontwerp en laat maak wat by die styl van die venue pas en wat ook die seremonie se dekor herhaal.  Ons is oortuig dat niemand al ooit so koekstander gehad het nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Daar was verseker nie ʼn gunsteling diensverskaffer nie want almal saam het ons troue perfek gemaak.

Wat ons wel kan se is dat die Frost Popsicles ʼn absolute wenner was op ons troue en dat die mense dit baie geniet het.  Ons troukoek het ook soos soetkoek gegaan.  Die trou koek was vir 100 gaste.  Ons kon nie die grootte op so kort kennisgewing verander het vir net 50 gaste nie.  Maar daar het skaars trou koek oorgebly.  Ons is oortuig dit is omdat ons nie tradisionele koek gehad het nie (sjokolade, vanilla, wortel) maar iets anders wat mens nie elke dag kry nie.

Wittebrood:


Ons was in Oktober 2020 Mdluli Safari lodge toe saam familie (wat ons as familie as geskenk ontvang het) en die plek het ons harte gewen. Die paartjie wat die vakansie in Oktober vir ons moontlik gemaak het, het dit ook toe vir ons as wittebrood geskenk gegee omdat ons dit die vorige keer so baie geniet het.

Spesiale Tradisies:


Aangesien al ons vriende al getroud is en daar skaars enkellopendes was op ons troue (albei van ons is in ons 30’s) het ons die tradisie van die kousband en ryker aangepas.

Ons het dit kousband en ryker aan die oudste getroude paartjie gegee as voorbeeld van ʼn huwelik wat se fondasie gegrond is op God.  Die paartjie op ons troue is al 56 jaar getroud! (Die oomblik is ook vasgevang op kamera).

Eerste Dans:


Ja ons het ʼn eerste dans gehad.

Ons het albei liedjies neergeskryf wat ons gedink het perfek sal wees vir ʼn eerste dans.  “Nobody But You – Blake Shelton & Gwen Stefani” was op ons altwee se lysie en ons het besluit om dit as ons eerste dans te gebruik.

Ons het nie vir danslesse gegaan nie.  Ons het wel YouTube geraadpleeg en het op Duet Dance Studio afgekom, wat die spesifieke liedjie gekoreografeer het.  Die video het ons herhaaldelik gekyk om die roetine te leer, Ons het daarop begin oefen en dit as ons eerste dans gebruik.

ʼn Mens het nie altyd nodig om baie geld te spandeer nie om ʼn eerste dans the hê nie.  YouTube is vol video’s wat mens kan gebruik.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ja Kovid-19 het ʼn invloed op ons troue gehad.  Positief en negatief.

Ons het die troue met 4 maande uitgestel, wat nie ideaal was nie maar wat ons die geleentheid gegee het om meer geld weg te sit elke maand.

Kovid-19 het ons ook forseer om ons gastelys te verminder, wat gelei het tot ʼn intieme troue met mense wat vir ons baie belangrik en kosbaar is.  Deur dit het ons begroting ook aansienlik verminder weens die vermindering van gaste.

Ons het ongelukkig nie ʼn dans vloer gehad nie omdat dit gesien sou word as ʼn “social gathering”.  Daar was wel toelating gemaak vir ʼn eerste dans en Pa en dogter dans.

Die positiewe aspekte van Kovid-19 was dat ons ʼn baie intieme, en spesiale troue gehad het.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]