Pierre & Annelie se intieme selfdoen troue

Hier by Mooi Troues deel ons graag met ons lesers meer oor Pierre en Annelie se intieme selfdoen troue.  Die paartjie moes hul troudatum verander weens KOVID-19.  Die paartjie het geen spesifieke styl gehad nie, maar het hulself beslis oortref.

Pierre se swart en blou pak en Annelie se pragtige trourok het so mooi gelyk en mekaar so mooi komplimenteer.  Die hele troue is deur Annelie self gereël.  Hul het soveel advies oor hulle selfdoen troue.  Hulle gee advies oor finansiële aspekte, asook oor die selfdoen troue as ʼn geheel.

Die blou, groen, wit en hout het so mooi saamgewerk.  Annelie, een van ons Mooi Troues lesers, het juis haar kleurskema en mooi blou wynglase inspirasie op Mooi Troues se aanlyn trougids gekry.  Paartjies wat opsoek is na trou inspirasie is meer as welkom om te gaan kyk na die aanlyn trougids vir hul groot dag.  Daar is soveel trou inspirasie en kan toekomstige bruidspaartjies se beplan-proses vergemaklik.  Klik gerus hier vir die Mooi Troues aanlyn trougids.

Rol gerus af en geniet meer van Pierre en Annelie se intieme selfdoen troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het deur gemeenskaplike vriende ontmoet in Maart 2019 by die Fijnwyn Food & Wine Festival in Pretoria.  Tot vandag toe dink ons dit was ʼn opsetlike “blinde afspraak”.  Ek was aanvanklik ʼn bietjie hardekwas en het ‘moeilik om te kry’ gespeel vir so 2 maande, maar het uiteindelik ingegee en smoorverlief geraak.  In Mei 2019 het Pierre my amptelik uitgevra om sy meisie te wees.  Ons het by my ouers in Vredendal gaan kuier (dit was ook die eerste keer dat hy my ouers ontmoet) vir Desember vakansie.  Pierre het my ʼn paar dae daarna gevra om te trou (19de Desember 2019) op die pragtige steiger by Fryers Cove Winery in Doringbaai aan die Weskus.  Ek het naby Doringbaai in Vredendal groot geword, so dit was vir my regtig spesiaal dat ons verloof geraak het teen die Weskus.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 18 maande verloof.  Soos meeste 2020 bruidspare moes ons ons troue as gevolg van KOVID-19 met 6 maande aanskuif.  Ons oorspronklike datum was 12 September 2020, maar het aangeskuif na 6 Maart 2021.  Dit het ons egter toegelaat om meer te spaar.  Ons het nie ʼn troubeplanner gehad nie.  Ek geniet dit baie om funksies te reël en het dus daarop besluit om al die beplanning self gedoen.  Christie Conradie, ons dekor en blomme diensverskaffer, het my baie goeie raad en leiding gegee en was altyd bereid om ʼn handjie by te sit waar nodig met die beplanning.

Finansiële Aspekte:


Begroting:

Ons het ʼn begroting van R100 000 gehad.  Ons het nie by ons aanvanklike begroting gehou nie en is met ʼn paar duisend rand oor. (Om eerlik te wees, het ons geen idee met hoeveel nie.)  Ons het 70% van ons begroting self betaal en het geen skuld gemaak om ons troue te befonds nie waarop ons baie trots is.  Ons het van die begin af op ʼn kleiner troue besluit met 80 gaste om by ons begroting te hou.  Ek (Annelie) het ʼn Excel sigblad dokument opgestel om kop te hou van al die uitgawes.

Ons het ook party goed selfgemaak soos byvoorbeeld, die “selfie”-raam, die aankope van die gin kroeg en die twee skape vir die spitbraai.  Ek (Annelie) het self ʼn trou webwerf ontwerp wat ook gedien het as gaste uitnodigings.  As gevolg KOVID-19 en die uitstel van ons troue kon van die gaste nie ons 2de datum bywoon nie en het ons dus net 50 gaste gehad.

Advies:

Maak voorsiening in jul begroting vir al die ekstra onkostes.  ʼn Maand voor die troue is daar gewoonlik uitgawes waaraan ʼn mens nie dink nie.  Begroot meer vir ʼn fotograaf, dit was vir ons belangrik om ʼn goeie fotograaf te hê.  Foto’s is al wat jy na die tyd oor het.  Probeer van die dekor soos die “selfie”-raam en fotohoekie self maak en opstel.

Merkwaardigste Oomblikke:


Annelie:

Ons het ʼn “bestemming troue” gehad in die pragtige Swellendam, net die omgewing self was vir my merkwaardig.  Vir al die gaste was dit ʼn lekker naweek weg en na die inperking het meeste van ons familie en vriende mekaar vir die eerste keer in meer as ʼn jaar gesien.  Ons en al die gaste het die naweek oorgebly by die pragtige Rotterdam Boutique Hotel waar ons ook die Vrydagaand ʼn braai gehou en vir al die gaste.  As ek een hoogtepunt van die dag moet kies, was dit natuurlik toe ek die kerk instap en my aanstaande man voor die kansel vir my sien wag.

Pierre:

Die hele dag was ongelooflik spesiaal, maar as ek een oomblik moet uitsonder sal dit beslis wees toe Annelie in die kerk se gang afloop.

Paartjie se styl:


Ons het nie ʼn spesifieke styl ingedagte gehad nie.  Dit was net belangrik om ʼn gemaklike vloeiende romantiese rok te dra waarin ek die hele aand kon dans en beweeg.  Pierre het vooraf besluit op ʼn pak en die kleur (admiraal blou).  Ons het albei ons eie unieke styl en idees ingedagte gehad vir ons trouringe.  Dit moes iets uniek wees en eie aan ons persoonlikhede.  My verloofring is roosgoud met ʼn perske kleur morganiet steen omring deur klein diamantjies.  My roosgoud troupand bestaan uit 6 blaartjies wat ʼn kroon vorm elk met klein diamantjies.  Mandi Malherbe het regtig my asem weggeslaan met die ontwerp van my ring.  Pierre se trouring is van swart en blou (sy gunsteling kleur) wolfram.

Vermaak:


Ons het ʼn oes-tafel en gin kroeg vir die gaste gehad om aan te peusel terwyl ons foto’s geneem het.  Ons het ook seker gemaak ons stel ʼn goeie platejoggie aan om te sorg vir goeie musiek om die dansvloer vol gaste te hou die hele aand.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons dag was regtig perfek, daar was nie regtig iets wat ʼnie-so-perfek’ was nie.  Die groep en familie foto’s na die kerk was net so ʼn bietjie ongeorganiseerd.  As ek(Annelie) ʼn paar dinge vooraf kon verander sou ek meer takies aan my bruidsmeisies oorhandig het.  Ek is ʼn “beheervraat” en wou alles self doen wat my onnodig laat stres het.  Dit het my fisies en emosioneel uitgeput.  Ek wens ook dat ek meer slaap ingekry het die aand voor die troue.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit gaan onregverdig wees om iemand uit te sonder.  Elkeen het regtig uit hul pad gegaan om ons dag spesiaal te maak, by te staan en geakkommodeer gedurende die onsekerheid weens KOVID-19.  Ons is woonagtig in Pretoria en kon as gevolg van die inperking eers 2 maande voor die troue ons venue en diensverskaffers vir die eerste keer besoek.  Ons kon regtig op elkeen staat maak en dus hoogs aanbeveel.  Vandag voel almal meer soos vriende as ʼn diensverskaffer.

Die Besluitnemingsproses:


Pierre het my toegelaat om meeste van die beplanning en besluite te neem.  Ons het wel saam besluit op die groot uitgawes soos die venue, fotograaf, platejoggie en spyseniering.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Ons advies aan ander bruidspare:

ʼn Goeie nagrus die aand voor die tyd is baie belangrik al moet jy nou ʼn ligte slaap pilletjie neem om jou te laat slaap.  Ek (Annelie) het die heel nag wakker gelê wat tot gevolg gehad het dat ek teen 12uur die volgende dag nie my oë kon oop hou nie.  Sorg dat julle tyd kry om te ontspan en af te sluit.  Probeer om nie te veel te stres oor kleinhede nie, die gaste sal nie eers bewus wees daarvan nie.  Die dag van die troue, gee takies oor aan jou bruidsmeisies en probeer so min as moontlik te stres.  Geniet elke oomblik, want die dag gaan so vinnig verby.

Bietjie wittebrood advies:

Ons land het soveel mooi plekke om te verken en dis nie altyd nodig om oorsee te gaan om daai “wittebrood gevoel” te ervaar nie.

Venue & Dekor:


Venue:

Ons wou albei graag in die Wes-Kaap trou.  Die Overberg met die berge in die agtergrond en Swellendam het al ons boksies getik.

Dekor:

Ek het my kleurskema (roosgoud, stowwerige blou, bloos pienk en groen) en romantiese styl aan ons dekor en blomme diensverskaffer gekommunikeer en dit in sy bekwame hande oorgelaat.

Indien julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry het, spesifiseer asseblief.


Ek het my kleurskema en veral my mooi blou wynglase inspirasie van Mooi Troues gekry.

Wittebrood:


Ons het vroeg 2020 begin beplan aan ons wittebrood toe daar alreeds sprake van KOVID-19 was.  Ons het daarom juis besluit om eerder ons eie mooi land te verken.  My enigste vereiste aan Pierre was dat ek elke oggend met ʼn see uitsig wil wakker word.

Hy het al my verwagtinge oortref en my verras met ʼn onvergeetlike week in Wilderness, Knysna en Plettenbergbaai.  In Wilderness het ons 2 nagte oornag by die Ocean View Guesthouse reg op die strand.  Gedurende ons 3 dae in Wilderness het ons valskermsweef gedoen, gaan kajak op die Kaaimansrivier en ʼn stap roete geneem deur die Wilderness natuurreservaat.  Ons het ook seker gemaak om al die lekker restaurante in die dorp uit te toets.

Daarna het ons vertrek na Knysna waar ons 2 nagte in die sprokiesmooi Forest Valley Cottages spandeer het.  Die plek is ʼn stukkie hemel op aarde met ʼn asemrowende uitsig oor die woud.  Gedurende die dag het ons die omgewing verken en op die Knysna meer op ʼn katamaran-vaart gegaan.  Ons het ook die lekkerste gin-proe plekkie ontdek naamlik, The Knysna Gin Distillery & Brewery & Cocktail bar.

Van Knysna het ons vertrek na Plettenbergbaai waar ons 2 nagte spandeer het by Alkantmooi Natuurreservaat net buite Plettenbergbaai.  Die kamers het asemrowende uitsigte op die see, meer sowel as die natuurskoon.  In Plettenbergbaai het ons dit maar net rustig gevat en ontspan.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ja, ons moes ongelukkig ons datum met 6 maande aanskuif vanaf 12 September 2020 na 6 Maart 2021.  As gevolg van KOVID-19 moes ons ook ons gastelys sny en kon die ouma’s en oupa’s nie die troue bewoon nie.  Baie van ons gaste moes kanselleer aangesien hulle nie ons 2de datum kon bywoon nie.

Eerste Dans:


Ons eerste dan was op ‘Geskenk van Bo‘ van Elvis se Seun.  Ek (Annelie) het hoendervleis uitgeslaan toe ek dit die eerste keer hoor.  Dit was so gepas, want ons kan regtig getuig dat ons mekaar se geskenk van bo is.  Ons sal die Liewe Vader ewig dankbaar wees dat Hy ons oor mekaar se pad gestuur het.  Ons kan albei lekker sokkie en het geen spesifieke dans roetine gevolg nie en besluit om net te dans.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Diensverskaffers:

[endsection]