Nardus & Monique se stylvolle verlowing fotosessie

Vandag deel ons graag met Mooi Troues se  lesers Nardus en Monique se stylvolle verlowing fotosessie.  Die paartjie se liefde het begin broei by ys.  Of het dit?

Die mooi foto’s was afgeneem deur die talentvolle fotograaf, RDK Photography.   Sy is ʼn passievolle en baie talentvolle fotograaf gebaseer Gauteng.   As jy opsoek is na ʼn fotograaf wat jou so gemaklik voor die kamera sal laat voel soos die paartjie was, dan is Renske van RDK Photography, die fotograaf vir jou.

Hoe asemrowend is die paartjie se uitrustings?  Ons hou ongelooflik baie daarvan.  Dit so so modern, stylvol en elegant.  Die hele voorkoms is so komplimenterend teenoor die paartjie.  Hulle lyk soos beroemdes uit ʼn tydskrif.

Rol gerus af en geniet meer oor Nardus en Monique se stylvolle verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het mekaar in die steenkool vallei van myne ontmoet.  Lank van mekaar geweet, maar was nie in mekaar se radar gewees nie.  Ons het gemeenskaplike vriende gehad wat op dieselfde myn gewerk het, aan mekaar voorgestel het en genooi het vir ʼn vleisie op die kole.  Die een weet nie die ander een is genooi nie – lekker skelm van hulle!  Ons het elkeen snuf in die neus geruik en ons moes toe gaan ‘ys’ koop?  Hy het met my op en af gery en sy ma-hulle se huis gewys en lekker die wind deur my vingers gevoel.  Ons het mekaar leer ken as vriende, maar iets het in ons altwee se harte geklop.  Drie maande later het ons weer begin ernstig praat en soos hulle sê die koeël was deur die kerk!

Die groot vraag:


Nardus se beplanning:

Nardus het saam Monique se ma (Carine) en sy ma (Louise) skelm ʼn naweek weg beplan.  Dit was om sy sussie (Nadia) en Monique se sussie (Nicole) se November verjaarsdae te vier aangesien hulle so naby aanmekaar verjaar.  Ek was besig met my UNISA eksamens en het nie veel tyd op my hande gehad om deel te vorm van die “verjaarsdae” reëlings nie (ek is die ene wat uit my vel is om sulke naweke te reël!).  Dit het hom en ons ma’s baie tyd gegee om lekker te beplan.

My gesin en sy gesin is toe saam af die naweek van die 20ste November 2020 af na Maroela Lodge in Dinokeng.  Hy het toe ʼn wildrit beplan die oggend van die 21ste November 2020.  Al die lekker eet goedjies is gepak en ons is almal uit op ʼn private trippie uit om wild te gaan kyk.  So hier gaan sit ons vas op ʼn 4×4 pad waar ons drywer die bord nie gesien het nie.  Met ʼn gestoot en ʼn gejuig is ons uit en ek kon sien die man is lekker bekommerd.  Ek lag alles af, want ons is in die bosveld waar ons harte hoort!

Die vraag:

Ons kom toe uiteindelik by die gemerkte tafels uit vir die groot “verjaarsdag” ete!  Maar dis deftig soos dit uitgepak word.  Kaas borde en wyn.  Amper vies dat my verjaarsdae nie so mooi is nie – want ek sal mos nou so feesvieringe geniet!  Maar min wetende … hy vat my hand en lei my in die middel van die bos.  Nie te vêr van almal af en vra hy soek graag ʼn foto van ons in die natuur! (Ons het mekaar 72 dae aan een ook nie gesien weens KOVID-19 en vlak 5, want ek het werk gekry in ʼn ander provinsie) – so ons wou alles in neem en alles vaslê in ʼn mooi vroeë sonsopkoms foto!

Daar sak hy af in op sy een knieg en belowe om my gelyke te wees en my te dra al weet ek nie ek val nie!  Sjoe, hoendervleis en ek was verlore vir woorde!  Daar bars ʼn lag en huil uit van geluk en ek weet my hart is tuis!

Die verloofring:


Ons is alreeds 5 jaar in ʼn verhouding en die bruid is al 29 jaar oud so sy het al redelik geskimp met mooi wit en goud prentjies.  Nardus het sy ma saam geneem na die juwelier en hulle het sonder die bruid se wete, fyn beplan.  Hy het ʼn ring gesien, maar sy ouers het hom toe ʼn witgoud familie ring gegee met ʼn wit diamant in.  Hy kon dit smelt en die klein diamantjies om die groot diamant plaas.  Die het Nardus self gekies en sy ma het geweet Monique se hart gaan bollemakiesies spring.  Sy was reg, my lag en huil van blydskap het boekdele gespreek toe ek die eerste keer die ring sien voor ons altwee se gesinne in die bosveld.  Hier waar ons hart en siel hoort!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagtinge is om mekaar verder op te bou en saam hand aan hand die paadjie genaamd “lewe” aan te durf al is dit op die oomblik 320km uitmekaar.  Beide van ons leer en is van plan om nooit op te hou nie en werk op dieselfde tyd.  Saam wil ons ʼn beter toekoms skep, op die pad vir mekaar bid en saam al die hoogtepunte en die laagtepunte trotseer.  Ons wil elke oomblik van beplanning geniet en orals ore uitleen vir goeie advies.  My ma en skoonma het elkeen ʼn bruidsgids en trougids gekoop wat my lysie-brein verskriklik geniet.  Ons het ʼn tydlyn en die hele jaar se kalender mooi uitgewerk wanneer elke dingetjie op die lysie gedoen moet word.  Dit haal baie stres af en maak dit lekker om orals idees te kry van alle platforms af.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Monique:

Ek is mal oor sy lus vir die lewe!  Hy laat mens op mens se gemak sit en is altyd die minste.  Sy omgee vir sy medemens.  Hy sal hulle behoeftes bo syne plaas.  Sy hart is so groot, dit bars uit sy nate.  Hy het ʼn passie – of dit nou werk of sport is hy gee sy alles en dan nog bietjie meer!  En hy lag maklik, dis so aansteeklik.  In ʼn oomblik van stilte laat hy mens voel asof jy die enigste een is wat vir hom belangrik is in daardie oomblik.  Veral met sy warm persoonlikheid.  Hy is toeganklik en luister graag.

Nardus:

Wat ek van haar hou is sy is ongelooflik gefokus en weet wat sy in die lewe wil hê.  Sy is ʼn “go-getter” en maak nie saak hoeveel keer sy val nie, staan sy op en stof haar af en bereik net groter hoogtes.  Monique is doel georiënteerd en sal alles doen om haar doelwitte te bereik.  Sy maak haar naastes ʼn prioriteit en gee vir hulle haar hart en siel en sal vir hulle berge skuif.  Sy vier die klein dinge in die lewe.  Al is dit deur twee provinsies ry en sê: Ons is op twee plekke gelyk!  Dis daardie kinder hart wat my betower.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


So Monique is ʼn lysie mens en dit dra maar deur as gevolg van haar werk.  Tipiese L2 brein.  Ek, my ma, skoonsussie en sy ma het ons droom venue gaan besoek vroeg Januarie – Atboshoek – en die enigste datum wat beskikbaar was na KOVID-19 wat al die 2020 bruide op moes skuif.  Het ons toe die gelukkige gelyke getal 4 Desember gekry.  So ons sal verloof wees ʼn jaar en paar daggies.  Ons het besluit dat solank ons by die venue kan trou in die mooi berge waar ons, ons beloftes kan aflê en as gelykes die pad kan stap, is geen afstand of datum te ver!  Ons geniet die verlowings fase, te beplan en die reis te geniet.  Mens raak soms verlore in die gehaas en dus wil ons alles inneem, dit so geniet en ons eie maak.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Almal wat almal is, weet Renske van RDK photography is ʼn feetjie wat enige iemand op hulle mooiste laat voel en lyk.  Haar verlowing sessies is iets uit tydskrifte en ons het besluit foto’s is tydloos en hou verewig en belê dus in ʼn goeie fotograaf al vroeg in die proses.  Sy doen met @ilovedesign en @fdkstyling towerkuns met haar gestileerde fotosessies en ons gaan dit gebruik vir ons “onthou die datum”.   Dis iets wat vir ons belangrik is om vir ons gaste te wys dat ons graag in styl saam hulle ons groot dag wil vier.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek (Monique) het met Renske gesels en wou die glans van Natasha Joubert se gestileerde fotosessie en haarstyl van Hanri Human se klere reeks foto’s “channel”.  Dis ʼn regte swart en wit, tydlose, glans fotosessie gewees.  Die wit rok met die hare en grimering het “Vogue faktore” geskree.  Ek het het iets gesoek wat deur die jare klasiek, mooi en sag sou bly.  Die venue se naam spreek van self.  Die marmer, wit mure en die oggend son wat daarop val is net “authentically CHIC’.  Dit weerspieël ʼn tydlose liefde in ʼn era waar alles ʼn gejaag na wind is!

Visie vir droomtroue:


Die venue is Atboshoek tussen Lydenburg en Dullstroom en dis rustiek, sjiek met die woud gevoel.  Ons soek baie blomme met dowwe pink en wynrooi, afgerond met bloekom blare wat oor die tafels hang.  Die woud ingang na die venue maak dit sprokiesagtig met ʼn so gevoel van hier kom styl, dekor en ʼn tydlose liefde bymekaar.  Ons wil hê ons familie en vriende moet kom deel en die naweek saam ons geniet in die glans kampering en kajuite.  Vergeet van die buitelewe en vier die #janseFUNrensburg fees.  Ons soek ʼn dag van mooi en vreugde wat ons altwee se persoonlikhede uitstraal!

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Diensverskaffers:

    [endsection]