Martin & Liezl se mooi verlowing fotosessie

Hier by Mooi Troues deel ons Martin en Liezl se mooi verlowing fotosessie met ons lesers.  Die paartjie het verloof geraak by hulle huis in die mooie Vrystaat.

Min het Martin en Liezl geweet hulle liefde gaan vlamvat in ʼn kuierplek in die dorp waar hulle albei woon.  So maak die lewe sy draaie en die beste dinge in die lewe kom onverwags.  Die rede vir die mooi verlowing fotosessie was vir hulle om mooi foto’s te hê.  Hulle wil dit dan gebruik om in hul huis op te hang.  Dit is so spesiaal.

Die verlowing het plaasgevind by hulle huis, dit maak dit soveel meer persoonlik en heg goeie herinneringe vir hulle albei.  Die hondjies, wat haar hart het, was ook deel van die verlowing en dus het sy dit glad nie verwag nie.  So ʼn oulike idee!

Rol gerus af en geniet meer oor Martin en Liezl se mooi verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons bly in ʼn klein dorpie Clocolan in die Vrystaat, ons het in die dorp se kuierplekkie mekaar ontmoet en was rerig “liefde op eerste oogopslag”.  Die troudag was die 20ste Maart 2021.  Ons verlowings tydperk was nie baie lank nie en het die troue baie vinnig gereël.

Die groot vraag:


Die verlowing was ʼn verrassing – hy het ons twee miniatuur Snauzers gebruik om my te verras.  Baie slim, want hulle is my hart se alles … na hom natuurlik.  Hy het ʼn ballon om elkeen se nek vasgemaak – een met die ring in en die ander een met ʼn briefie wat vra of ek met hom sal trou.  Natuurlik het ons altwee gehuil, hy het dit by ons huisie gedoen wat ons gelukkige hawe is.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Ek is mal oor sy klein hartjie en dat hy my in elke opsig van sy lewe eerste sit.  Ek is baie bederf met ʼn man wat my elke dag wys hoe lief hy my het.  My gunsteling eienskappe van haar is dat sy altyd my belange op die hart het en my altyd laat voel soos die eerste dag wat ons ontmoet het.  Sy maak ook altyd alles skoon – so dit is seker ʼn bonus.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons was nie baie lank verloof nie – het die 20ste Maart 2021 getrou.

Die verloofring:


Die verloofring het hy op sy eie gekies en ek is mal daaroor.  Ek het vir hom ʼn paar idees gegee, maar toe voel hy hulle is te eenvoudig, want ek is nie ʼn simplistiese mens nie.  Hy het vir my iets besonders spesiaal gekies waaroor ek toe mal is.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ek is nog altyd mal oor die fotograaf se foto’s, sy neem die mooiste foto’s en kry dit reg om alles se perfekte oomblikke te vang.  Ek wou graag mooi foto’s hê vir ons huis ook.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Natuurlik, ons huis en die buite lewe.  Iets waaroor ons altwee mal is, ons bly in ʼn besonderse mooi deel van die Vrystaat en maak die perfekte plek vir mooi foto’s!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Was mal gewees om die troue te reël met KOVID-19 en die gaste lysie wat so kort moes wees.  Ons het dit baie vinnig gereël en probeer om ons plaaslike dorpie te ondersteun.  Dit was rerig ʼn uitdaging met die streng KOVID-19 reëls om mense te ondersteun.  Ons het gebruik gemaak van ʼn plaaslike venue omdat al ons vriende en familie naby is.

Visie vir droomtroue:


Plaaslik, klein en natuurlik moet almal net lekker kuier.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


KOVID-19 regulasies het ons laat besluit om die troue baie klein en plaaslik te maak.  Dit was toe eintlik nie alles “sleg” nie en het so mooi en gemaklik uitgedraai.  Kon nie vir ʼn mooier dag vra nie.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Diensverskaffers:

[endsection]