JJ & Letitia se pragtige protea selfdoen troue

Hier by Mooi Troues deel ons graag vandag met ons lesers JJ en Letitia se pragtige protea selfdoen troue.

Hierdie paartjie het by die ongelooflike Bush Loerie trou aan mekaar beloof.  Die gekose trou venue vir die paartjie se pragtige protea selfdoen troue is besonders.  Hulle het dadelik geweet dit is waar hulle wil trou nadat hulle vele ander trouvenues besoek het.  Die dinge wat dadelik vir hulle uitgestaan het van die besonderse trouvenue was die vriendelikste personeel en die water kapel.  Rondom die trouvenue is die mooiste natuurskoon.

Die troudekor was ook besonders mooi en het so mooi ingepas by die trouvenue en wat die paartjie se visie was vir hul troudag.  Meeste van die troudekor het Bush Loerie se personeel behartig.  Die proteas en olyf-blare het so ʼn mooi kontras en is so komplimenterend.  Bush Loerie is beslis ʼn absolute wenner as dit kom by die keuse van jou trouvenue vir jou troudag.  Hul het ook verblyf waar die paartjie loseer het vir die aand.

Rol gerus af en geniet meer oor JJ en Letitia se pragtige protea selfdoen troue.

Paartjie se Liefdesreis:


2 Februarie 2017, het ons mekaar ontmoet toe ons albei begin het met ons Saica articles.  Ons het van werkskollegas gegaan na baie goeie vriende en op 14 Februarie 2018 verander dit na ʼn liefdesverhaal.  Presies een jaar later op Letitia se 21ste verjaarsdag (14 Feb 2019) vra J.J die groot vraag.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was ʼn jaar en ʼn maand verloof gewees voor ons op 14 Maart 2020 getrou het.  Met die behulp van ons ouers, veral ons moeders het ons die troue self beplan.

Merkwaardigste Oomblikke:


Letitia:

Die mees merkwaardigste oomblik vir my was die feit dat ons trou dag op my pa wat oorlede is se verjaarsdag was en dat ek en my skoonpa, die pa en dogter dans gedoen het ter nagedagte aan my pa wat nie daar kon wees nie.

JJ:

Die oomblik toe ek my bruid sien aangestap kom.  Dit is rerig die mees ongelooflikste gevoel wat mens nie aan iemand kan beskryf nie.  Dis hierdie engel wat na jou toe stap en jy weet dat God hierdie persoon spesiaal net vir jou gestuur het en dit is net ongelooflik.

Finansiële Aspekte:


Ons begroting was R200 000 insluitend die “oop kroeg”.  JJ se moeder het boek gehou van al ons uitgawes en seker gemaak ons bly in ons begroting.  Sy het ook baie ervaring met die beplanning van partytjies en het baie gehelp dat ons die beste moontlike verskaffers kon kry.  Ons het ʼn totaal van 130 gaste gehad.  Wat ons ook baie gehelp het met die begroting was dat die dekor ingesluit was by die pakket.  Ons raad aan elke paartjie sou wees om nie oor haastig besluite te neem nie.  Soek rond en kyk waar mense beter pryse en kwaliteit kan kry.  Kyk veral na kleiner ondernemings wat se pryse baie goedkoper is.  Dit help ook baie om ʼn venue te kry waar die dekor ingesluit is.

Die Besluitnemingsproses:


Soos gewoonlik het die bruid maar die meeste sê, maar JJ was baie betrokke met al die besluite en alles was op die ou einde soos wat ons albei dit wou gehad het.  Ons ouers was ook baie betrokke en ons het baie hulle raad gevra indien ons gesukkel het om finale besluite te neem.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Die “nie-so-perfek” oomblikke of iets wat ons wou verander:  Alles het verloop soos ons dit wou gehad het.  As daar iets was wat nie reg was nie, het ons nie daarvan geweet nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is rerig baie moeilik om een enkele diensverskaffer uit te sonder.  Elke een het vir ons presies gegee waarvoor ons gevra het.

Paartjie se styl:


Ons het nie ʼn spesifieke styl gehad nie.  Met my trou rok wou ek ʼn rok gehad het met kant wat nogsteeds modern was en ook ʼn rok waarin ek die heel aand in gemaklik kon wees.  JJ wou spesifiek ʼn vlootblou pak gehad het met ʼn onderbaadjie.  Ons het daarom toe ook besluit om die trou kleure vlootblou met ligte pienk te maak.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Letitia:

My raad aan enige bruid sou wees om nie te veel te stres dat dinge gaan verkeerd loop nie.  Die aand gaan so vinnig verby.  Geniet elke oomblik en neem alles in.  Maak ook seker jy het ʼn videograaf.  Daar is baie oulike en snaakse goedjies wat jy na die tyd sien en dis ook ʼn spesiale herinnering om te hê.

JJ:

Leef in die oomblik en geniet elke oomblik dit gaan vinnig verby en leer jou troubeloftes uit jou kop.

Vermaak:


Ons het slegs ʼn platejoggie gehad wat musiek gemaak het by die vingerhapetes en by die onthaal.

Venue & Dekor:


Venue:

Ons het na ʼn hele paar ongelooflike venues gaan kyk maar die dag toe ons by Bush Loerie aankom en almal daar so vriendelik was en hulle kon presies die prentjie in sien van dit wat ons wou gehad het, het ons geweet dat dit ons venue is.  Boonop was die water kapel vir ons ʼn hoogtepunt omdat dit baie uniek was om so op die water met die natuur om mens ons beloftes aan mekaar te kon maak.

Dekor:

Met die dekor wou ons proteas gehad het omdat dit die verskeie skakerings van pienk in gehad het wat by ons tema in pas.  Verder het ons rond gespeel met die dekor wat beskikbaar was by die venue.  Ons het boom stompe versier sodat dit amper lyk of die proteas daaruit groei.  Ons dekor het meestal uit proteas en olyf-blare bestaan en saam die venue se glas deure wat heeltemal aan die eenkant kon oop maak het dit ʼn baie natuuragtige toon af gegee.

Wittebrood:


Ons het Stilbaai toe gegaan vir ons wittebrood, omrede KOVID-19 dit nie moontlik gemaak het om ver te reis nie.  En bygesê, daar is so baie mooi plekke in ons eie land om te verken so om oorsee te gaan was nooit vir ons ʼn opsie nie.  Ons hoogtepunte was om in die Swartberge te gaan zipline, op ʼn motorfiets van Stilbaai Oudtshoorn toe te ry en daar te gaan krokodil-hok-duik, asook om in Mosselbaai met olifante te gaan stap en hulle te voer.

Spesiale Tradisies:


Die een ding wat al soos ʼn tradisie in die Steyn huis geword het, is om ʼn kleiner keiler te drink wanneer daar iets gevier word en daarom het ons besluit om nie die normale sjampanje te drink op die bruidspaar se heildronk nie, maar om vir elke gas ʼn kleiner keiler uit te deel om te drink op die heildronk.  Dit het dan meer gevoel soos iets spesiaal wat ons vier.

Eerste Dans:


Ons het nie vir dansklasse gegaan nie en ons hou albei van vasdans.  Boonop wou ons met die afskop van die eerste dans klaar die toon van die res van die aand gestel het.  Ons het besluit om op Liezel Pieters se “Asemloos” die dans vloer te open en later het die gevolg en hulle metgeselle by ons aangesluit.


[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]