CR & Maryke se selfdoen tradisionele bruilofsfees

Hier by Mooi Troues deel ons met ons lesers meer oor CR en Maryke se selfdoen tradisionele bruilofsfees.  Die paartjie het hul eie troue self beplan in slegs vyf maande.  Dis ongelooflik!

CR en Maryke het besluit om hulle selfdoen tradisionele bruilof saam te beplan omdat hulle die avontuur saam wou aanpak.  Dit is ʼn baie oulike idee.  Op so manier gaan julle saam as ʼn paartjie deur al die besluitnemings en keuses.  Dit is ook belangrik dat die bruidegom sy stempel afdruk in die troue.  Dit sal hom ook meer deel laat voel en dit is tog julle bruilofsfees.  Die perde in die agtergrond van die paartjie se foto’s is ook iets fenomenaal.  Dit gee net ʼn ander gevoel aan die troufoto’s.  Ons is absoluut mal daaroor!

Rol gerus af en geniet CR en Maryke se selfdoen tradisionele bruilofsfees.

Paartjie se Liefdesreis:


“Sal ek my padkaarte bêre met die wete: my reise op soek na jou is nou verby”  Hierdie is die beste aanhaling in my en CR se liefdesreis.  Ons het ontmoet in ʼn klein plattelandse dorpie in Noordwes tydens die Nasionale Jeugskou, minwetend dat daar duisende kilometers tussen Tzaneen en Zeerust afgelê gaan word.  Ons het verloof geraak op CR se plaas buite Zeerust met die klanke van Appel se “Nonna” wat in die buitelug gespeel het.  CR en “sy span” het die oomblik en dag so goed beplan dat ek geen onraad vermoed het nie.  Die hoogtepunt was dat alles op video en kamera vasgevang is, dis so spesiaal om daarna te loer.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het in die hartjie van die KOVID-19 tydperk verloof geraak en net besluit op die 5de Desember 2020 sal ons trou.  Die verlowing tydperk was vyf maande verloof, seker baie min tyd om in vandag se lewe ʼn troue te beplan!  Ons het besluit dat ons, ons eie beplanners gaan wees want dis die enigste tyd wat mens saam die avontuur kan aanpak.

Finansiële Aspekte:


Wanneer dit kom by die finansies van ons troue, kan ons met groot dankbaarheid sê dat ons albei se ouerpare die hele troue vir ons betaal het.  Ek het wel nou nie die eerste en beste kwotasie aanvaar nie, so navorsing en baie ure op die telefoon het die koste so minimaal as moontlik gehou.  Ek en CR het self die kostes vir ons gevolg gedra asook ons uitrustings ensovoorts.  Ons het 110 gaste gehad, ons venue kon soveel gaste akkommodeer in die vlak 1 regulasies.

Advies:

My advies sal wees, moenie net some enige kwotasie aanvaar nie, daar is baie oulike plaaslike besighede in jou omgewing wat uitstekende dienste lewer.  Dit gaan net moeite vat om hulle almal in die hande te kry.  Ek het met ʼn skok agtergekom dat die klein goedjies die groot uitgawes baie opstoot so maak wyse besluite wanneer dit kom by daai klein goedjies.  Spandeer geld aan goed wat vir hulle as paartjie belangrik is.

Merkwaardigste Oomblikke:


Dit het al die Vrydagaand begin reën en omdat ons albei uit huisgesinne kom waar daar geboer word verwens mens nooit genade druppels nie.  Saggies daal genade druppels uit geopende Hemelse kluise, ek het maar vrede gemaak dat ons troudag ʼn reënerige dag gaan wees.  Net voordat die seremonie moet begin, het die reën opgeklaar en die mooiste sonstrale het deur die wolke gebreek.  Ons het die mooiste foto’s geneem!  Na ons pragtige fotosessie, het ons seremoniemeester ons verras met ʼn “flash mop” deur ons gaste!  Ons het dit glad nie verwag nie en sommer ons onthaal op die regte noot af te skop.

Gunsteling Diensverskaffers:


Elkeen wat by ons troue betrokke was, was die heel beste in ons oë.  Hulle almal was uitstaande, sal regtig elkeen van hulle aanbeveel vir julle dag!

Paartjie se styl:


Ons het ons eie “monogram” laat verf wat op ons onthou die datum, water botteltjies en beplanning was.  Met dit het ons ook ons eie stempel afgedruk deur iets unieks te doen.  Ek het nog altyd gesê ek wil graag ʼn elegante moderne troue hê, en dis presies wat ons gehad het.  My rok was baie romanties en elegant maar tog moderne elemente.  CR se pak was vlootblou en tydloos, hulle dasse en kouse was klein polka dots wat ook ʼn vorm van speelsheid gegee het.  CR het baie moeite gedoen met my ring, dis tydloos!  Met CR se ring het ek gesoek na ʼn ring wat groei voorstel en dit het ek gekry by Touch Wood.  Die hout in die ring is vir my baie aards en met die hout van die boom het dit vir my soveel betekenis, van groei en gewortel in geloof.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en CR het meeste van die besluite geneem, ons ouers het geweet dit is wat ons wou doen en net oorgegee aan al ons idees.  Ons het ons ouers na die venue geneem om hulle te gaan wys en die idee te kry wat ons beoog om daardie dag te doen.  CR het sy stempel afgedruk by die spyskaart, musiek en die verloop van die program saam met ons seremoniemeester.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Geniet die hele proses, moenie dat mense jou idees verander nie.  Jy weet waarvan jy hou!

Kostes kan vinnig buite beheer raak, jou gaste gaan nie elke tafel se blomme tel nie.  Spandeer aan die goed wat vir altyd is, goeie fotograaf en videograaf, dis al wat mens van daardie dag gaan oor hê.  Die dag gaan so vinnig verby en dan is alles net herinneringe.  Ons het gesê, solank ons gaste lekker eet en dans dan is troue perfek en ons het dit definitief bereik!

Troues sal altyd ʼn stresvolle tyd wees, geniet die tyd saam julle mans.  Hulle idees is soms nie te versmaai nie.

Vir die manne:

Wees betrokke, help met sekere afdelings druk jou stempel ook af.  Dit gaan vir jou lekker wees om deel te wees en nie te voel jy daag by ʼn verrassings partytjie op nie.  Ondersteun jou bruid, kyk na haar prentjies en luister na haar idees.  Jy sal later nie spyt wees daaroor nie.

Venue & Dekor:


Venue:

Ons het besluit op die spesifieke venue vir die styl en atmosfeer wat die venue het.  Die diens wat ons ontvang het was fantasties!  Tannie Hannetjie en haar span het dit ʼn onvergeetlike ervaring gemaak.  Omdat ons in die KOVID-19 tydperk was, was daar soveel meer moeite gedoen van gaan ons na ander vlakke skuif voor die troue en ons dag beïnvloed.  Hulle het soveel meer vergunnings vir ons gemaak met die betaal van die finale kostes, finale getalle tot ʼn paar dae voor ons troue om te verseker dat alle regulasie gevolg word.

Dekor:

Met die dekor het Abrie my idee gevat en dit absoluut verder tot die prentjie mooi saal.  Die tafeldekor, blomme en kerse het so mooi atmosfeer geskenk.  Ek het vir Abrie gesê, hierdie is my idees en asseblief, ek wil nie alles dieselfde hê nie, hy kan speel met die idees wat ek gegee het.  Ek het besluit op wit blomme met rede dat die tafels en bykomstighede al klaar soveel impak maak dat die hele beeld bymekaar kom.

Vermaak:


Ons het gebruik gemaak van ʼn professionele seremoniemeester, dit was elke rand die moeite werd.  Jeandre het die hele dag se verloop hanteer en bestuur, hy het opgetree as koördineerder tussen elke verskaffer op die dag.  Hy het ons gaste so vermaak dat ons troue van ʼn gewone troue na ʼn troue om te onthou.  Die gaste het hom so baie geniet met al sy verrigtinge ensovoorts.  Hy het die gaste vermaak terwyl ons foto’s geneem het en seker gemaak elke tannie weet waar die badkamers is en die ooms kon sorgloos die kroeg vind.  Sy program is deurgegee aan die venue en alles het seepglad verloop, daar was nooit ʼn oomblik van wat gaan nou gebeur of die kos is koud nie.  Ons het ʼn platejoggie gebruik om musiek te maak tydens die seremonie, vingerkos en die onthaal.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Jinne, seker die beste raad aan toekomstige bruidspare is.  Eet julle eie kos, vat net daai paar minute vir julle self.  Maar dis lekker om te hoor dat die gaste lekker geëet het en alles was heerlik gewees.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was op Juan Boucher se liedjie “Ons word een“.  Die woorde van die liedjie is baie spesiaal vir ons.  Albei van ons hou van dans, so danslesse sou ons dans roetine omver gegooi het.

Wittebrood:


Ons wittebrood was glad nie beplan nie.  Die Sondag na ons troue het ons besluit waarheen die pad ons sou vat.  Dit was ons eie avontuur, niks was vooruit beplan nie.  Soos ons gery het, het ons plekke bespreek en soveel meer gesien van ons eie land.  Ons kon met ons tyd maak soos ons wou.  Die eindbestemming was toe die mooie Kaap met haar natuurskoon.  Ons huis pryk nou van foto’s van daardie wonderlike tyd wat ons gehad het.

KOVID-19 se uitwerking op jul troudag:


Ons was gelukkig om nie ons datum te skuif nie.  Baie mense het gedink ons moet dit doen, maar ons het besluit ons trou daardie dag met twee of 110 gaste.  KOVID-19 het die beplanning baie moeilik gemaak, want 90% van my beplanning was telefonies of via epos.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

  • Fotograaf: Corné van Niekerk Photography
  • Venue: C’est la Belle
  • Blomme + Dekor: Kamelia Bloemiste
  • Bruidegom-pak: Woolworths
  • Bruidegom se Trouring: Touch wood
  • Grimering: Tiana Theron + Angel Face makeup
  • Hare: Majestic Hair Creations
  • Huweliksbevestiger: Ds. Ernst Breedt
  • Koördineerder: C’est la Belle: Hannetjie van der Walt
  • Platejoggie: DKE Productions
  • Strooijonkers bykomstighede: Woolworths en The Smart Guy
  • Skoene: Woolworths
  • Skryfbehoeftes: Gemmer kat: Ciska de Waal
  • Strooimeisie-rokke: Gelique
  • Trourok: Calvers Bridal
  • Troukoek: Black Orchid restaurant
  • Vermaak: MC Jeandré Venter
  • Videograaf: Kuiper Productions
  • Wittebrood plek: Rocklands seaside B&B

[endsection]