Wikus & Anita se gesellige Plaastroue

Die gesellige plaastroue van Wikus en Anita sal jou tonne inspirasie bied as jy besig is om ʼn plaastroue te reël.  Die paartjie se troue was intiem en jy kan sien hulle het baie pret gehad met hul vriende en familie.  Dit was definitief ʼn baie gesellige plaastroue met baie stylvolle elemente wat definitief nie die bank gebreek het nie.

ʼn Plaastroue tema is populêr onder Suid-Afrikaanse bruidspaartjies.  Plaastroue is sinoniem met geselligheid, pret en natuurskoon!  Baie paartjies is opsoek na trou bestemmings weg van die stad se gejaag.  Iets wat hulle sommer ʼn naweek daarvan kan maak saam met familie en vriende.

As jy opsoek is na inspirasie vir jou plaastroue, dan is jy op die regte plek.   Ons is mal hoe die verskillende elemente van die paartjie se troue so mooi saam smelt.

Lees meer oor Anita en Wikus se plaastroue en liefdes avontuur hieronder.

Paartjie se Liefdesreis:


Januarie 2014, waar die son se laaste strale oor die Langberg skyn, trek ʼn Noordkaap boerseun Postmasburg in, skud die Kimberley stof van sy skoene af en begin ʼn nuwe loopbaan by Laerskool Postmasburg.

ʼn Paar kilometer verder onder dieselfde son se strale is ʼn juffrou, reeds al ʼn Kalahari kind van 2008 af, besig om reg te maak vir die nuwe skooljaar wat voorlê.

Wikus ʼn boerseun van Kimberley.

Anita ʼn plaaskind van die vlaktes naby Fochville.

Met die eerste ontmoeting op die skool se stoep is ʼn hegte vriendskap gebore. Liefde vir ons Hemelse Vader, sport, buitelewe, braai, boer, gesels, luidrugtig wees, stoei(WWE) en nog soveel meer het hierdie vriendskap sterker en opreg gemaak.

As vaalseun van Kimberley en kerkklok van der Merwe het Wikus en Anita bekend gestaan aan mekaar.

Na ʼn kort tydjie … 1 jaar, 10 maande en ʼn paar dae is die bordjie verhang van vriendskap na assosiasie!! 11 Desember 2015 … vir jou het ek lief soos vye konfyt.

So begin ʼn liefdes avontuur.

Om vir Wikus lief te hê is 1 ongelooflike avontuur … die opwinding, aangename verrassings en ontdekkings wat ons saam kan deel, maak ons liefdes reis so lekker en spesiaal.

ʼn Paar jaar later besef Wikus “Tameletjie Tameletjie – my ma hou van jou en sy het gesê ons kan maar trou!

16 November 2019 sneuwel nog ʼn boere hart by Magersfontein.  Wees my vrou, hier en nou!  Met die antwoord ja, kon min ons pla.  Wikus het vir Anita gevra om te trou.

Die Verlowing Tydperk:


16 November 2019 tot 24 Oktober 2020 (11 maande). Ons wou self vir die troue betaal en moes eers ʼn paar maande spaar.   Ons het redelik alles self beplan, ons het baie hulp en raad met die beplanning van ons hegte groep vriende ontvang.

Finansiële Aspekte:


Begroting was R40 000 – R50 000 en ons kon in die begroting bly.  Ons het soveel geskenke en borge van vriende en familie ontvang, ons seëninge het net te veel geword om te noem.

Daar was 61 gaste in totaal.

Ons het besef dat die duurste en beste nie altyd die mooiste is nie en ons vriende het soveel talente – hulle het baie goed help maak.  Jy spaar ongelooflik baie op die manier.  Dekor is nie noodwendig wat jy na die troue gaan onthou nie, so doen dit stylvol maar nie uitspattig nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die oomblik toe die troumars begin speel en die afstap in die paadjie begin.

Die dominee se mooi preek (twee mense en twee harte word een).  Jy kry nou ʼn maat, iemand wat jou ondersteun en iemand wat jou liefhet net soos jy is … en nou is julle wettiglik getroud … julle mag mekaar maar soen!  Ons eerste dans was ook ongelooflik baie spesiaal vir ons gewees.

Die Besluitnemingsproses:


Albei van ons was van die begin af saam in hierdie ding.  Ons het mekaar in elke besluit geken.  Albei was baie bevoorreg om so goed en lekker saam te kan besluit.  Ons het baie raad gevra vir familie en vriende maar die bruid en bruidegom het meer die finale besluite geneem.

Die “nie-so-perfek” oomblikke:


Mmm, Wikus het ʼn nie so perfekte oomblik gehad toe hy en sy gevolg by Mooipan se plaas-padjie indraai, bars sy bakkie se wiel.  Hulle was klaar aangetrek en reg vir die troue.  Tiens van Mooipan, het sy werkers die wiel laat ruil en Wikus en sy makkers darem die bloedige warm Noord-Kaap son en vuil word gespaar.

Verder was alles vir ons twee perfek.  Ons wil regtig niks aan ons dag verander nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Sjoe dit is moeilik.  Ek kan niemand uitsonder nie, ons troue was net ongelooflik.  Dit was vreeslik lekker en almal het gehelp.

Spyseniering – Mooipan (Tiens, Anneghrethe Spangenberg en hul span).

Fotograaf – Emily Lime Photography x 1000, Elani se foto’s is ongelooflik pragtig en sy het net ʼn manier om die spesiale oomblikke vas te vang.

Platejoggie – Riaan Jacobs

Bruid slaap en aantrekplek – 29 Grey Corner Postmasburg

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Die dag gaan ongelooflik vinnig verby.  Raak iewers stil saam jou man/vrou en bekyk alles en probeer alles inneem.  As jy sien is die dag verby.

Hou jou troue klein, naaste vriende en familie, so kan julle by al julle gaste uitkom en lekker saam almal kuier.  Die intiemheid van ʼn klein troue is baie spesiaal.

Venue & Dekor:


Die venue is so 70km van ons af. Vroutjie wat ek ken deur skool en netbal het op hulle plaas met funksies en troues begin.  Ek en Wikus het besluit kom ons gaan loer net hoe dit lyk.  Dit is in die Kalahari en dit is plaas … (daardie 2 aspekte le ons baie na aan die hart.)

Toe ons afdraai op Mooipan se plaas padjie en die rooi sand met vaal bosse en bome strek so voor ons uit … het ek en Wikus albei gelyk gesê, hier is waar ons wil wees.  Hoe dieper ons inry en hoe meer ons sien, het die gevoel net sterker geword en ons het daar en dan besluit ons trou op Mooipan.

Ons het ingekom as kennisse en is daar weg as vriende.  Mooipan is presies net soos die Kalahari, so sonder voorgee, wat jy sien is wat jy kry.  Asem wegslaan mooi.

Plaas inspirasie was heeltyd in ons agterkop … ons wou dit weereens plein maar tog stylvol hou.

Wittebrood:


Vriende het vir ons ʼn wittebrood as geskenk gegee.  Hulle het op Clarens, sentraal Drakensberge en San Lameer bespreek.  Ons hou van die buitelewe en om aktiwiteite te kan doen.  Die wittebrood was super lekker en perfek.

Vermaak:


Riaan Jacobs was ons platejoggie.  Jou voete jeuk behoorlik om te dans as Riaan begin musiek maak.

Eerste Dans:


Ons het ʼn eerste dans gehad – Nobody but you van Blake Shelton & Gwen Stefani.  Het net so paar keer voor die troue sommer in die sitkamer geoefen.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]