Robert & Thealize se klassieke troudag

Robert en Thealize se klassieke troudag wat ons met Mooi Troues se lesers deel het ʼn moderne vintage gevoel tot dit.

Thealize het pragtig gelyk in haar mooi trourok met die detail op die skouers en rug.  ʼn Trourok is so ʼn belangrike element van jou troudag as ʼn bruid.  Thealize se trourok het perfek gepas by hulle klassieke troudag tema,

Dekor elemente het ingesluit neutrale kleurskakerings.  Die spierwit linne met die sagte skakerings van pienk en tikseltjies groen werk perfek met die paartjie se klassieke troudag tema.  Hulle het ook in die karaktervolle dorpie van Riebeeck Kasteel getrou.  As jy al voorheen Riebeeck Kasteel besoek het, sal jy weet dit is die ideale plek vir ʼn troue.  Jy kan sommer ʼn hele naweek daarvan maak.  Geniet die geselskap van vriende en familie.

Sjoe!  Dan is daar die pragtige troukoek. Dit is so mooi met sagte pienk rose wat om die koek drapeer is.  Soveel klein detail wat mooi inpas by die klassieke en romantiese tema van die paartjie se troudag.

Verloof?  Besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele diensverskaffers wat jy kan vertrou.   Van venues tot talentvolle fotograwe, alles wat jy nodig het om jou eie klassieke troudag te hê.  Rol af en lees meer oor die paartjie se klassieke troudag en hulle liefdes verhaal.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Robert het mekaar op 13 Desember 2018 ontmoet deur een van my kollegas. Vroeër die jaar wou ʼn ander kollega, wat hom ook toevallig geken het, ons aan mekaar voorstel. Die ontmoeting het toe nooit plaasgevind nie. My kollegas en vriendinne het gereeld datums probeer reël, met die hoop dat ek my trouman sal ontmoet.

Vroeg in Desember word ek toe deur my kollega genooi na ʼn braai. Daar was glo ʼn vriend waaraan hy my wou voorstel en hy het my verseker dat my beste vriendin en haar man ook daar gaan wees. En hiérdie liefste vriendin van my was voor in die ry om vir my ʼn man te kry. Ek was eerlikwaar nie baie lus vir die ontmoeting nie en het later uitgevind dat Robert ook nie baie lus was nie, aangesien oestyd begin het (hy is ʼn boer) en hy doodmoeg was.

ʼn Kuier by ʼn ou skoolvriend:

Hy het egter sy skoolvriend lanklaas gesien en wou graag ʼn bietjie met hom opvang. Ons het almal daardie aand só lekker saamgekuier en ek het onmiddellik geweet ek wil hierdie man beter leer ken. Sy vrolike persoonlikheid, belangstelling in almal se gesprekke en sin vir humor het vir my uitgestaan. Om nie eers te praat van daai blou oë nie! Blykbaar was dit vir hom “my pragtige glimlag, sagte oë en borrelende persoonlikheid” wat sy aandag getrek het.

Op daardie stadium was ek 29 jaar oud en vir 4 jaar enkellopend. Ek het gebid vir my man en altyd geglo dat as dit die Here se wil is, sal ek my man op die regte tyd (Sý tyd) ontmoet. Ek het egter gewoond geraak aan die idee dat ek moontlik alleen gaan opeindig en dat die Here ander planne vir my het. Robert was op daardie stadium 32 jaar oud en het self begin glo dat trou dalk nie deel van sy lewensplan is nie. Maar hy het ook aanhou bid vir sy toekomstige vrou en op God vertrou. Hy wou nog altyd ʼn vrou en ʼn familie van sy eie hê.

Redelik vinnig kontak gemaak:

Dit het Robert nie baie lank geneem om my te kontak nie. Hy het my reeds die volgende oggend genooi om iets saam met hom te gaan doen. Ek het dit vir die arme man nie baie maklik gemaak aan die begin nie, maar voordat ek myself kon kry het ek al hoe meer saam met Robert begin kuier. Ons het net dadelik geklik en die gesprekke het al hoe meer begin vloei. Skilpadvlei, Blouberg, Route 44, Waterfront, Houtbaai, De Grendel… onvergeetlike kuiertjies wat ons vir niks in die wêreld sou verruil nie.

Die Here was getrou en het ons gebede beantwoord! 27 Maart 2019 het hy my gevra om sy meisie te wees. Ek was bang om my hart weer op die spel te plaas, maar ek het terselfdertyd geweet ek kan nie vir hierdie man nee sê nie. Hy is my trouman. Punt.

Mekaar se beste maatjies geraak:

Ons het mekaar se beste maatjies geraak in ʼn baie kort tydjie. Ons het albei op daardie stadium van ons lewens geweet wat ons wou hê en ook reeds inner geluk gevind. 2019 was ʼn jaar vol ongelooflike herinneringe. Dit het gevoel asof ons mekaar al jare ken. Ons Namibië trippie was ʼn groot hoogtepunt en daar het ons besef dat ons ʼn goeie span is en enige iets saam kan aanpak. Ek het nooit gedink ek sou só gou sekerheid oor iemand hê nie. Sielsgenote bestaan beslis!

Ons albei het geweet ons wil ʼn toekoms saam begin, maar nooit het ek geweet wanneer en of hy ooit die groot vraag gaan vra nie. Intussen het hy reeds groot planne gehad en ʼn verloofring laat maak by my kleinniggie. Robert het toevallig uitgevind sy is ʼn juweliers ontwerper. Hy het die geheim baie goed gehou!

Toestemming 2 weke voor die verlowing gevra:

Robert het 2 weke voor die verlowing toestemming vir my pa gevra. Hy moes natuurlik eers genoeg moed bymekaar skraap en het toe een Saterdag na ʼn lang wedloop van 28km en ʼn yskoue bier, genoeg moed bymekaar geskraap om my pa te vra of hy met my kan trou. My pa het sy toestemming gegee en dit ook baie mooi geheim gehou.

My ma en sy ouers het van niks geweet nie! Hy het my heeltemal verras en op 14 Februarie 2020, dieselfde dag en plek waar ons ʼn jaar gelede vir die eerste keer gesoen het (op een van plase se mooi uitkykpunte), gevra om sy vrou te word. Dit was ongelooflik spesiaal!

Met al 2020 se uitdagings, het ons verhouding net meer gegroei en niks of niemand sou in ons pad staan om 12 Desember 2020 te trou nie. Nie eers KOVID-19 en al sy uitdagings nie! Ons kon nie wag om die dag saam met ons familie en vriende te geniet nie. En was dit ʼn fees!

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 10 maande verloof. Ons het ons troue self beplan, met die hulp van familie en vriende.

Merkwaardigste Oomblikke:


Robert:

Toe my vrou by die paadjie in die kerk afstap, het ek gesnak na my asem.

Thealize:

Beslis die seremonie. Die onthaal was ʼn fees, maar die seremonie bly ongelooflik spesiaal. Dis ʼn groot oomblik en daar is soveel emosies betrokke. Ek sal die herinneringe daarvan vir niks verruil nie.

Finansiële Aspekte:


Beide ons ouers het die troue 50/50 betaal en ons het uitgehelp met ekstra onkostes waar ons kon. Ons was bevoorreg om 160 gaste by ons troue te kon hê. ʼn Begroting bly belangrik, maar maak seker dat daar ook ʼn ekstra geldjie beskikbaar is vir al die onvoorsiene onkostes. Ons het ook baie kontakte gebruik wat ons by vriende van gehoor het om kostes te bespaar.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


Ja en nee. Ons het baie onsekerhede gehad van hoeveel gaste ons kon nooi, maar ons was van die gelukkige troupaartjies wat ons oorspronklike troudatum kon hou. Daar was ook ʼn paar gaste wat nie kon kom nie omdat hulle positief getoets was. My beste vriendin en niggie, asook familie van Robert wat oorsee bly, kon ook nie ons troue bywoon nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Robert:

Begin lank vooruit beplan en kry elke maand ʼn doelwit. Deur dit te doen, haal jy baie druk van jouself af en geniet meer die proses.

Thealize:

Moenie te veel “oordink” nie. Geniet elke oomblik, dit gaan ongelooflik vinnig verby.

Wittebrood:


Ons was vir 5 dae by Simbavati in die Timbavati natuurreservaat langs die Kruger wildtuin. Dit was ʼn ongelooflike ervaring. Alles was ʼn verrassing en Robert het besluit om my soontoe te neem, aangesien ek nog nooit in die Kruger wildtuin was nie.

Daarna was ons vir nog 5 dae by Mount Sheba in Mpumalanga, waar ons op ons eie tyd kon doen net wat ons wou. Ons het na die interessantste dorpies en uitkykpunte gery en ʼn paar staproetes ook voltooi.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het meeste van die besluite saam geneem. Ons het ons vriende en familie se opinies gevra waar ons gesukkel het met besluite wat geneem moes word.

Gunsteling Diensverskaffers:


Beslis ons fotograaf en videograwe! Hulle was fantasties! My grimeerkunstenaar het my ook beeldskoon laat lyk.

Ons dominee was ook uitstekend en ons sal beslis ons platejoggie aanbeveel.

Vermaak:


Ons het ʼn uitstekende platejoggie gehad wat die partytjie aan die gang gehou het. Ons het ook twee vriende gehad wat in die kerk kitaar gespeel het. Daar was ook ʼn “fotohokkie” waar ons gaste kon foto’s neem en elkeen hul foto kon saamneem huis toe.

Paartjie se styl:


Ons hou daarvan om klassiek en stylvol te wees. Robert het ʼn blou pak aangehad met ʼn leer strikdas. Thealize het ʼn romantiese trourok aangehad met baie kant en detail. Robert se ring is ʼn Grooms & Bros met roosgoud aan die binnekant. Daar is ook ʼn boodskap binne die trouring gegraveer. Thealize het ʼn klassieke solitaire verloofring met ʼn vintage trou pandjie.

Venue & Dekor:


Ons het Delsma in Riebeeck Kasteel gekies. Die eienaars is toevallig ook huisvriende van Robert se familie. Ons dekor het baie liggies en groenigheid ingesluit. Ons wou ʼn rustieke, maar klassieke en romantiese gevoel gee.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Daar was ʼn paar gaste wat net voor die troue laat weet het dat hulle positief getoets was vir KOVID-19 en dus nie meer ons troue sou kon bywoon nie.

Eerste Dans:


Ja, ons het op Blake Sheldon se liedjie gedans “God gave me you”. Die liedjie was Robert se keuse. Hy is mal oor country musiek en die woorde het hom baie na aan die hart gelê. Ons dans vreeslik lekker saam, so dit was gelukkig nie nodig vir dansklasse nie.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]