Juan & Caro se oulike plaastroue

Ons is opgewonde om Juan en Caro se plaastroue met ons lesers te deel.  Die paartjie se troudag is die perfekte voorbeeld van ʼn elegante en baie oulike plaastroue.  Caro en Jaun se trou venue was in ʼn plaas stal wat bietjie opgetoë was vir die troudag.

Rou hout tafels, met die wit en groen blom ontwerpe op die tafels werk perfek saam.  Dit was ook ʼn baie oulike idee om die donkerder wynglase te gebruik.  Staan so mooi uit op die tafels.  Die gebruik van feetjie liggies en kerse gee die venue ʼn romantiese gevoel.  Ons is mal oor die stylvolle elemente van die troue.

Die bruidegom was stylvol aangetrek in ʼn swart uitrusting en sy strooijonkers was in wit en swart uitrustings.  Caro se trourok was net so mooi en het perfek gevloei.  Die kombinasie van die paartjie se uitrustings saam is ʼn kontras teen die plaas as agtergrond.  Dit werk perfek!  Klassiek en elegant.

Om ʼn suksesvolle troue te hê, moet jy diensverskaffers gebruik wat jou visie deel.  Vir top gehalte trou diensverskaffers, besoek Mooi Troues se Trougids.  Rol af om meer te lees en kyk na Juan en Caro se oulike Plaastroue hieronder.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons paaie het gekruis in 2009, van hoërskool “crush” na ʼn tipe liefde wat ons nooit verwag het nie.

Caro was die enigste meisie wat ek aan my ouers voorgestel het & Juan die enigste man wat nog altyd my hardegat-geit in liefde kon verander het.  Saam het ons harde klippe gekou en nuwe avonture aangepak.  Van Kuruman na Albertinia, George tot in Ladismith het ons saam beweeg na ons tuiste in die Boland.  Nooit het ons gedink dat ons paaie ons so vêr sou bring nie.

Al het die jare so vinnig verby gegaan, was die perfekte tyd en plek vir ons beplan in Augustus 2020 op ʼn vreemdeling se plaas net buite Paternoster in die Weskus.

Die Verlowing Tydperk:


Daar was lank genoeg gewag en het ons daarom besluit om so gou as moontlik te trou!  Van Augustus 2020 tot en met Maart 2021 kon ons ʼn halwe jaar verlowing geniet.

Van die eerste dag van ons verlowing het ons geweet ons wil en gaan alles self beplan.  Ons familie en natuurlik Pinterest was ons regter hand elke tree van ons beplanning.

Finansiële Aspekte:


Ons was bevoorreg om op Juan se Pa se plaas te kon trou met albei ouers wat uit hul pad gegaan het om dit te vergemaklik.  Daar was hard gewerk en albei ons ouers, Oom’s, Tannie ’s & susters het hande ingegooi.  Van blomme rangskikkings tot aanwysings bordjies.

Ons begroting was om nie meer as R30 000 te spandeer op al die aankope & huur van tafels nie, natuurlik was daar hier en daar (oral) kleiner dinge gekry waarvoor ons nie begroot het nie.

Ons gaste lys was vasgemaak vir 80 mense & het ook besluit hoe minder hoe beter!  Albei van ons wou nog altyd ʼn intieme troue gehad het en daarom sal ons beste advies aan toekomstige paartjies wees om jou gastelys goed te kam, twee keer na te dink en BLY altyd by julle besluit en familie sal inval!

Merkwaardigste Oomblikke:


Juan:

Die eerste oomblik wat Caro aangestap het was vir my die merkwaardigste deel van my dag.

Caro:

Die oomblik wat ek met my stiefpa aan my sy na Juan kon stap en weet die man wat vir my wag is die man wat hy en God goed gekeur het.

Paartjie se styl:


Eenvoudig maar tog elegant.

Die Besluitnemingsproses:


Natuurlik was die bruid voor in die koor met die dierbaarste bruidegom wat geen besluite wou maak sonder toestemming om seker te maak alles is perfek en soos wat sy nog altyd gedroom het nie.

Ons familie en vriende was meer as net betrokke, hulle was elke dag deel en het elke oomblik makliker gemaak.  Van kos maak vir hardwerkende manne tot masserings vir stresvolle vrouens se skouers.

Vriende wat banke uit Ladismith aanry, trou koek wat opgetel is in Mosselbaai & kerse spesiaal laat kom uit die Kaap.  Ons is verseker geseënd met ons familie en vriende.

Gunsteling Diensverskaffers:


Sonder geen twyfel Klara Mol ons wonderlike fotograaf & Fancy Functions in Mosselbaai vir hul verhurings.

Vermaak:


Ongelukkig was dit nie deel van ons begroting nie en het ons daarom net ʼn cool liedjie lys gehad en ʼn platejoggie in beheer daarvan.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Vir ons albei was die ‘nie-so-perfek’ oomblikke op die ou einde wat ons dag so uniek gemaak het.  Ons sal niks wou verander nie, ons dag het beter uitgedraai as wat ons ooit kon hoop of droom!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Liewe bruid:

Jy gaan stres & dit gaan moeilik wees! Moet asseblief net nie vergeet dat die dag oor jou en jou toekomstige man gaan nie.  So geniet elke oomblik en as familie jou kwaad of hartseer maak, hou jou oë op die dag wat voorlê.

Alles sal in plek val soos dit moet, vra raad en bly oopkop (onthou nie almal verstaan altyd ons siening nie) wees geduldig want jou man verstaan nie altyd so lekker nie.  En die belangrikste is neem elke sekonde in!

Kêrels:

Hare op jou tande, geduld, geduld en geduld.  Bly lief vir haar, dit is maar stresvol.  Vat maar die ekstra tree om die dag spesiaal te maak.  En as jou vriende enigsins soos myne is, sterkte vir jou “bachelors”.

Venue & Dekor:


Ons venue was die maklikste, die plaas was vir Caro die eerste opsie terwyl Juan nog eers wou rond koop.  Dit was ʼn maklike besluit en ook perfek vir ons begroting.

Pinterest was natuurlik Caro se beste maat en het familie en vriende se idees ook ʼn rol gespeel.  Van plaas trou idees tot “selfdoen” was elke aand en oomblik van elke dag gesit en soek.

Ek was nie die tipe bruid met ʼn ring lêer of “flip-file” nie maar ʼn foon vol foto’s en ʼn kop vol idees.

Liggies, liggies en nogmaals liggies vir die perfekte romantiese gevoel en natuurlik om ʼn ou plaas stoor lewe te gee.

Spesiale Tradisies:


Ons het by elke ou tradisie probeer bly, van Pa en dogter dans, ruiker en kousband gooi en natuurlik die bruidegom toespraak wat elk die trane en lag werd was!

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19 het definitief ʼn effek op die aantal van ons gaste gehad.  Ons wens ons kon almal nooi wat ons uit ons harte daar wou hê.

Eerste Dans:


Ons eerste dans saam was glad nie tradisioneel nie.  Ons keuse liedjie was Andy Grammer – Best of you, wat presies ons verhouding verduidelik. Nog altyd was die eerste dans vir ons albei ʼn baie stywe storie by ander troues en wou ons graag iets gemaklik en meer spesiaal hê.  Ons gevolg het dadelik saam ingespring en die liedjie saam met ons geniet.

Wittebrood:


As gevolg van KOVID-19 het ons maar die inisiatief gebruik om Suid-Afrika se bestemmings te ontdek.  Umngazi River Bungalows was verseker uit die boeke.  Van tropiese gevoel tot maagpyn vet eet, sonsondergang-vaarte, beeste op die strand en ongemaklike masserings (vir Juan) was ons op hande gedra van ons aankoms tot ons terugkeer huis toe.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: