Diwan & Brenza se tydlose elegante troue

By Mooi Troues is ons baie opgewonde om met ons lesers in dié inskrywing Diwan en Brenza se tydlose elegante troue te deel.  Brenza wou ʼn troue hê waar alles netjies en mooi lyk.  ʼn Troue wat sy oor twintig jaar kan terug kyk en dan nogsteeds dink dit is die mooiste troue onder die son!

Wanneer ons na die foto’s hieronder kyk weet ons dat Brenza se drome beslis bewaarheid is.  Diwan het baie dapper gelyk in ʼn swart pak en Brenza het beeldskoon gelyk in ʼn besonderse spierwit trourok.   Die kleure vir die dekor was skoon wit en swart met ʼn sagte pienk wat die romanse in die dekor te bring.  A seed to sow het al die pragtige blomme voorsien en die mooiste blom-ontwerpe gemaak, van blomkrone, handruikers en tafel blomme.  Die blomme is absoluut ʼn treffer en so mooi saam gewerk met Brenza se visie vir hul troudekor.

Mooi Troues se lesers moet asseblief rustig deur Diwan en Brenza se troufoto’s hieronder blaai en elke foto waardeer. Deel die paartjie se tydlose elegante troue met almal.

Paartjie se Liefdesreis:


Dit was die Saterdag na JOOL in my tweedejaar (2016) wat ek huis toe gegaan het.  Toe ek by die huis kom, het my ouers mense oor genooi vir ʼn braai by wie hulle grond wou huur.  Ek het min lus gehad vir die besigheid, maar toe ek sien wie by ons huis opdaag het ek ʼn ander deuntjie gesing.  Diwan was daar saam sy ouers, en ek het gedink dit is die mooiste outjie wat ek al ooit gesien het. Ek het dadelik vir my vriendinne laat weet dat ek nou net my hart verloor het.

Twee weke na daardie braai, was dit die Bielie-Mielie fees in Reitz, en dit is net daar waar ons altwee se oë begin blink het. So het ons mekaar elke tweede naweek probeer sien, omdat ek in Potch gestudeer het, en Diwan in Winterton gewerk het.  Eers 4 maande later het ek my eerste piksoen gekry, en nie lank daarna nie het Diwan my gevra om sy meisie te wees.  Van die begin af wou Diwan net trou, maar ek het vasgeskop en wou eers klaar studeer.  Maar hy kon nie meer so lank wag nie, en het my toe in 2019 se Maart vakansie weggevat na sy ouers se strandhuis in Groot-Brakrivier.

26 Maart 2019 het Diwan my gevra om verloof te raak op ʼn privaat strand by Pinnacle Point.  Sy Oom en Tannie het alles met ʼn hommeltuig afgeneem, en vir ons die mooiste piekniek op die strand beplan.  Dit was een van die mooiste dae van my lewe!

Die Verlowing Tydperk:


Omdat ek bietjie langer gestudeer het as die “gemiddeld” student (nie omdat ek dom is nie, maar omdat ek van rigting verander het in my derdejaar), kon ons eers trou in my vierdejaar van Farmasie.

Ons was dus 1 jaar en 7 maande verloof voordat ons kon trou op 17 Oktober 2020.  Dit het my genoeg kans gegee om sommer self ons troue te beplan.  Omdat ek iemand is wat dinge vinnig gedoen wil kry, het ek seker eers so 8 maande voor ons troue begin beplan om die opgewondenheid bietjie uit te rek.

Dit was vir my verskriklik lekker om my eie idees bymekaar te sit en te soek na die regte verskaffers vir wat ons wou hê.  Ek het duisende prentjies op Pinterest gekry (ek was immers amper 1000 dae verloof), en na baie lank se gesukkel om op ʼn tema te besluit, het die idees sommer vinnig realiteit geraak en was dit maklik om op finale idees te besluit.

Finansiële Aspekte:


Begroting:

Begroting was vir my ʼn groot kopseer … Veral omdat ek nogal duur, eksklusiewe smaak het.  Maar dit is baie belangrik om wel ʼn begroting te hê, want dit is so maklik om heeltemal oorboord te gaan as jy nie perke het nie.

My pa het vir my ʼn begroting gegee vir die onthaal, wat dan al die dekor, spyskaarte, ens insluit.

My ma het weer my rok betaal (maar daardie prys bly ʼn geheim tussen my en my ma), asook al die onkostes rondom strooimeisies, grimering, hare, blommemeisies en al die tittewyt dingetjies wat Pappa’s nie altyd verstaan nie.

Ek het ook bygedra tot ons troue en het naweke en vakansies in die apteek gewerk om ons Fotograwe te betaal.

My skoonpa en Diwan het ook ʼn begroting gegee vir die drankies, canapé’s, platejoggie, en die blomme.  Diwan het dan ook vir sy gevolg se bykomstighede betaal, asook vir die Dominee.  Ons troue sou 150 gaste gewees het, maar as gevolg van die huidige pandemie in ons land, kon ons toe net 90 gaste nooi.

My Advies:

My advies vir ander paartjies sal wees om van die begin af oop kaarte te speel oor al jou idees.  Gesels met jou ouers oor wat bekostigbaar is en waarvoor hulle kans sien. Dit is regtig ʼn ongelooflike duur uitgawe, en mens moet jou ouers in ag neem.  Sny waar jy kan – as jy bv. nie een is vir baie blomme nie, hou dit eenvoudig en goedkoop.  Besluit wat vir jou belangrik is, en spandeer daarop jou geld, en spandeer minder op dit wat onnodig, of minder belangrik is.

Wat gaste aan betref

Dit is VREK lekker om ʼn kleiner troue te hê.  As ek vandag weer kan trou, sal ek dit weer met net 90 gaste doen.  ALMAL wie daar wil wees, sal moeite doen om te kom.  Dit is onnodig om verplig te voel om mense te nooi. Met minder gaste, kan jy soveel meer kwaliteit tyd spandeer met elkeen gedurende die dag.

Merkwaardigste Oomblikke:


Om eerlik te wees, is dit so moeilik om oomblikke uit te sonder.  Ons hele trou naweek was ongelooflik spesiaal, en vreeslik emosioneel.  Dit was alles en meer waarvoor ons gebid het, en elke liewe verwagting was oortref.  Maar as ons ʼn paar oomblikke moet kies wat baie na aan ons hart lê is dit die volgende:

Vir Diwan:

1. Die feit dat sy hele gevolg saam hom gehuil het voor, tydens, en na die seremonie.
2. Toe my Pa my by die trougang afloop en hy nie vir een oomblik sy trane kon keer nie (en hy het vas geglo dat hy nie eintlik ʼn emosionele bruidegom gaan wees nie)
3. Toe my Down-sindroom boetie, Burger, hom heelpad beskerm het terwyl die manne hom gas gegee het met sy toespraak.

Vir Brenza:

1. Toe my Pa my met soveel trots in die kerk ingebring het, en my boetie Burger van heel voor af gestap het en my by my Pa kom haal het, en ons drie saam die padjie afgestap het tot by Diwan.
2. Toe ek sien dat nie net Diwan nie, maar elke liewe een van sy en my gevolg snot en trane huil.
3. Diwan se geloftes was baie spesiaal en uit sy hart uit, ek sal dit vir altyd onthou!
3. My en my Pa se dans was seker vir my een van die mooiste oomblikke wat ek en hy saam gedeel het. So onbepland, maar so so kosbaar!
4. En my heel gunsteling oomblik was toe ek en my man vir die eerste keer as Gouwse by die kerk uitstap!

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is ʼn onmoontlike vraag.  Elke liewe een van ons verskaffers het ʼn groot deel gehad in ons onvergeetlike mooi dag.  Ek sal sonder twyfel elke een van hulle aanbeveel vir ander paartjies.  Almal het mekaar so goed aangevul en presies gelewer waarvoor ons gevra het.  Hulle het my so mooi gehelp om my idees prakties uit te voer en raad gegee waar hulle kon.  Hulle het ons ouers se begrotings in ag geneem en daarvolgens soveel as moontlik gedoen met so min as moontlik.  Baie van ons verskaffers het vir ons soos vriende geraak.

Paartjie se styl:


Van die begin af wou ek ʼn tydlose, elegante en skoon troue gehad het.  Alles moes netjies en eenvoudig, maar mooi gelyk het.  Ek wou hê dat as ek oor 20 jaar na my foto’s kyk, dit steeds vir my die mooiste troue onder die son moes wees en dat dit steeds dan iets sal wees wat bruide inspireer.

Dit was vir my baie moeilik om op ʼn kleurskema te besluit, maar Diwan het my vinnig uit my verknorsing gered toe hy daarop aandring om ʼn swart pak te dra.  Ek het toe besluit op ʼn swart en wit troue. Wit en sagte kleure was nog altyd vir my mooi, en ek het geweet ek sal nie daarmee ʼn fout maak nie.  Toe dit besluit was, was dit regtig maklik om die res van ons troue so te beplan.

My rok was spierwit en tydloos, en dit het perfek by my geaardheid gepas.

Diwan se pak was netjies, formeel en sag op die oog.  Net soos hy!

Beide ons ringe is elegant en plein, maar so besonders.

Eerste Dans:


My en Diwan se eerste dans was nogal iets anders.  Ons gunsteling liedjie om saam te sing is Shallow van Lady Gaga en Bradley Cooper en daarom kon ons nie anders as om hierop te dans nie. Ons het nie gegaan vir danslesse nie, maar ons het wel vir so twee weke in Petrus Steyn se gholfklub ons dansie geoefen (met baie geduld natuurlik).  Ek het op YouTube ʼn paartjie gesien wat op hierdie liedjie gedans het, en ons het toe hulle dansie geleer.  Bietjie vereenvoudig, want nie een van ons is puik Ballroom dansers nie, maar ons het dit baie goed reggekry.

Dit is ʼn spesiale oomblik tussen die bruidspaar, en dit moet vir altyd onthou word. Ons vriende het mal gegaan toe hulle hierdie liedjie hoor speel, omdat hulle weet hoe erg is ons twee daaroor.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Ek dink enige dag lewer maar sy foutjies.  Maar daar was nie een oomblik wat ek gedink het dat iets verkeerd loop nie, en as daar was het die verskaffers dit so vinnig opgelos.  Dit is belangrik om die dag ten volle in te neem en te geniet.  Almal weet wat gedoen moet word, en dit is nie die eerste troue wat gehou word nie.  So enige probleem wat opduik, sal vinnig uitgesorteer kan word.  Ek dink om rustigheid te hê op so ʼn dag is van groot belang, want anders gaan jy jouself ontstel oor dinge wat buite jou beheer is en dit gaan die dag versier.  Troues is ALTYD mooi en lekker, foutjies wat gebeur sal net jy van weet.

Wittebrood:


Diwan het vir ons ʼn wittebrood in Bali bespreek, maar dit was natuurlik vir my ʼn groot verassing.  Ongelukkig met die pandemie wat heers in ons wêreld, kon ons nie Bali toe gaan nie.  Ons het beplan om dit vir ons eerste huweliksherdenking te doen in 2021, maar die agentskap deur wie Diwan dit bespreek het, het bankrot gespeel, en ons het dus ons vakansie verloor.

Ons was toe Kaapstad toe vir ʼn week waar ons in Strand gebly het.  Dit was nogsteeds net so spesiaal en lekker soos wat mens kan dink ʼn wittebrood moet wees.  Ons het die beste van elke dag gemaak en op klomp avonture gegaan. Ons verruil daardie week vir niks!

    Artikel Diensverskaffers:

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: