Brandon & Monique se prentjie mooi verlowing

Brandon en Monique se prentjie mooi verlowing fotosessie is definitief een vir die boeke.  Met pragtige uitsigte oor Kaapstad, een van die mooiste plekke vir ʼn verlowing fotosessie.  Paartjies van reg oor die wêreld reis na Kaapstad om ʼn romantiese verlowing te hê.  Ons kan baie gelukkig wees om so ʼn mooi land te hê, met soveel mooi natuur tonele.

Monique en Brandon het ʼn pragtige verlowing fotosessie gehad met tonele vanaf Chapman’s Peak en uitsigte van Kampsbaai en ander gebiede in Kaapstad.   Sjoe!  Dan is daar die mooiste verloofring van Monique.  Dit is definitief  een wat jy nie kan mis nie.

ʼn Verlowing fotosessie is die perfekte kans om jou fotograaf beter te leer ken.  Dit is ook die gulde geleedheid vir jou om enige vrae wat jy mag hê oor die fotosessie beantwoord te kry.  Julle sal soveel meer gemakliker voel voor die kamera op julle troudag.

Vir fantastiese diensverskaffers, besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele diensverskaffers.

 

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ek en Brandon het as twee graad 8 leerders op skool ontmoet in 2006.  Ons het mettertyd goeie vriende geword en in ons tweedejaar (2012) as Maties studente op Stellenbosch amptelik begin kys. Ons was met ons verlowing op 4 Oktober 2019 reeds vir 7 jaar en ~5 maande ʼn paartjie.

Die groot vraag:


In Februarie 2019 (ons finale jaar as PhD studente) het ek een aand op Instagram ʼn “post” deur Marion Rehwinkel gesien waar sy vir Valentynsdag ʼn promosie op ringe aangebied het. Ons het toe begin gesels oor spesifieke ringe en die planne het bymekaar begin kom. Ek het dus geweet daar is ʼn ring, ek het net nie geweet wanneer die groot vraag sou kom nie.

Ek het eers gedink die verlowing sou in April of Junie plaasvind, maar die maande het verby gegaan en steeds was daar geen verlowing nie. Een Vrydagaand na ʼn lang besige week, het Brandon gevra ons moet iets gaan eet by ons gunsteling plek – Piza e Vino op Stellenbosch. By die restaurant was Brandon baie senuweeagtig en hy wou nie eintlik iets eet nie. Min het ek geweet dis omdat hy senuweeagtig is. Ek het aangebied dat ons maar kon huis toe gaan as hy siek voel, maar hy het daarop aangedring dat ons die aand saam geniet.

Na ete was Brandon ewe skielik vreeslik haastig om by die huis te kom. En hy was konstant op sy foon besig. Ek het hom nog geskel omdat hy op sy foon is terwyl hy bestuur. Met ons aankoms by die woonstel het hy ons voordeur vir my oopgesluit en toe ek instap was die hele woonstel mooi opgemaak.

Mooiste herinneringe:

Daar was foto’s van ons mooiste herinneringe teen die muur geplak, ons liedjie (Timbuktu van Riana Nel) het in die agtergrond gespeel en daar was ʼn massiewe bos blomme op die kas. Ek het egter steeds nie besef dat die aand, dié aand kon wees nie. Brandon het my toe aangehits om my blomme te gaan kry en toe ek omdraai was hy op sy knieg. En ek het natuurlik “JA!” gesê.

Brandon het die verlowing soos ʼn absolute militêre operasie uitgevoer. Daar was kameras opgestel om alles op te neem en Frikkie (my boetie) en Alno (een van ons beste pêlle) het elk ʼn lêer met instruksies vir die verloop van die aand ontvang. Na ek ja gesê het, het Brandon hardop gesê “Sy het JA gesê!”. Alno en Frikkie het toe skielik uit die kamer verskyn en ons het sjampanje geskink. Dit was die perfekte aand!

Daar was nog ʼn hele paar van ons ander vriende by die proses betrokke wat my verloof ring veilig tot by Brandon vervoer het van Pretoria af en wat met die aand se beplanning gehelp het. Vir elkeen wat ons aand spesiaal gemaak het is ons diep dankbaar.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Monique

My gunsteling eienskappe van Brandon is sy humorsin en sy geduld.  Hy kan my altyd laat lag al is ek hoe ongelukkig of hartseer en hy het die wêreldse geduld met my (wat party dae broodnodig is!).  Hy weet ook altyd wat ek nodig het, nog voordat ek daarvoor hoef te vra.  Brandon dra my op sy hande en hy verstaan my net.

Brandon

My gunsteling eienskappe van Monique is die feit dat sy my altyd ondersteun.  Sy is ook ʼn bobaas kok in die kombuis, wat natuurlik baie help! 🙂

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons trou op die 24ste April 2021 – teen daardie tyd sal ons amptelik 9 jaar ʼn paartjie wees en 1 jaar en ~6 maande verloof wees.

Die verloofring:


My verloofring is ʼn pragtige ontwerp deur Marion Rehwinkel Jewellery.  Ek het foto’s van ringe waarvan ek sou hou met Marion en Brandon gedeel.  Hulle twee het daarna die proses verder gevat.  My ring bevat die mooiste elemente van elke ring wat ek voorgestel het en ook elemente waarvan Brandon gehou het.  My ring is dus die perfekte kombinasie tussen wat ek wou hê, wat Brandon wou hê en ʼn verrassing (omdat ek nie geweet het wat Brandon sou kies nie).

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons wou graag mooi foto’s gehad het wat ons op ons troue se webtuiste kon gebruik en wat ons in ons huis kon opsit.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek en Brandon is lief vir Kaapstad en die pragtige landskappe met die berge en die see (alhoewel Brandon nie mal is oor die strand nie).  Ons het in 2016 ʼn “paartjie fotosessie” met sonsopkoms saam met Coba van Coba Photography gedoen.  Die foto’s het so mooi uitgekom dat ons weer dieselfde gevoel met ons verlowings foto’s wou skep.

Coba het toe voorgestel dat ons Maiden’s Cove by Clifton moes probeer, en ons het Chapman’s Peak gekies.  Die pienk lug, die berge, die see en die wind het gesorg vir pragtige foto’s wat Coba so mooi vasgevang het.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons hoop om die res van ons verlowing regtig net te geniet.  Meeste van die troue is reeds beplan, so ons kan nou net ontspan en uitsien na die groot dag.

Visie vir droomtroue:


Ons troue gaan ʼn plat op die aarde partytjie wees saam met ons naaste vriende en familie.  Ons beoog om sommer heel naweek lank fees te vier.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


KOVID-19 het daartoe gelei dat ons baie aspekte van ons troue aanlyn moes reël en baie dinge (soos om trourokke aan te pas) moes uitstel totdat ligter inperkings maatreëls ingestel is.  Maar ons was gelukkig dat ons nog nie ons datum moes skuif nie – ons hoop dat ons nie ʼn tweede vlaag KOVID-19 infeksies beleef nie en dat ons wel troue sal kan hou in April 2021.

 

Klik hier vir diensverskaffers