Bekker en Chantál se ouwêreldse troue in Knysna is definitief ʼn inskrywing wat ons lesers nie moet mis nie! Ons by Mooi Troues is verlief oor die ouwêreldse gevoel wat uitgebeeld word in die paartjie se intieme troue.
Nie eens KOVID-19 het in hul pad gestaan om eg aan mekaar te sweer in die jaar 2020 nie. Hulle het slegs 14 gaste onthaal. Mooi Troues se lesers wat eerder ʼn intieme troue wil hou, weens al die onsekerheid a.g.v. die grendeltydperk regulasies, sal baie inspirasie uit Bekker en Chantál se troue put.
In die foto’s is daar ʼn reënboog, hoe spesiaal is dit nie. Dit beeld vir ons uit dat selfs in die KOVID-pandemie daar wel nog bitter mooi tye sal wees.
Die pragtige kapel dra by tot die ouwêreldse gevoel. Ons lesers sal sien hoe baie moeite ingegaan het om die kapel te versier.
Ons by Mooi Troues weet ons lesers sal Bekker en Chantál se ouwêreldse troue in Knysna baie geniet. Onthou asseblief om die troue met almal te deel.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het by die werk ontmoet. Na sowat ʼn jaar van saam wees, besluit om verloof te raak op 31 Desember 2019. Bekker het my op die pragtige Noetzie strand in Knysna, omhul deur kastele en die see, gevra om te trou. Dit was asemrowend!
Die Verlowing Tydperk:
Ons was 9 maande verloof voordat ons getrou het. Alles was self beplan omrede ons minder as 20 mense by die troue sou wees en ek al lank op Pinterest gesoek het vir idees. Ek het sommer ʼn hele spul idees gaan ‘pin’ vir inspirasie vir my troue. Ek geniet die tipe ‘event-planning’ nogal baie.
Finansiële Aspekte:
Ons het nie ʼn spesifieke begroting gehad nie. Ek het maar eers rond gevra by verskillende plekke om kwotasies vir verskeie aspekte van die troue te kry, soos die kapel, onthaal, dekor, koek, trourok, ens. Ons het van die begin af besluit om dit klein te hou (ons was maar 14 mense in totaal), omrede Bekker se familie nie baie groot is nie en dit vinnig baie duur kon raak as mens meer mense sou nooi.
Van daar af het ek besluit dat ons nie meer as R15,000.00 op dekor wil spandeer nie en het sommige items dan eerder verwyder om by ons gekose begroting daarvoor te pas, en ander goed het ek self voor gaan soek en vir goedkoper kon kry. Selfde maar met kwotasies van die kapel en onthaal, trourok, koek, ens.
Mens weet nie noodwendig hoeveel al hierdie goed kos nie, tot jy pryse daarvoor kry en dan die verskillende kwotasies met mekaar vergelyk en besluit jy wil nie meer as X bedrag op iets spandeer nie. Selfs met my rok het ons besluit om nie meer as R6,000.00 te spandeer nie, omrede dit iets is wat mens een keer dra en gewoonlik na die tyd weer wil verkoop, maar ander bruide nie noodwendig ʼn tweedehandse duur rok dan wil oor koop nie, so om so erg duur te betaal vir ʼn trourok was vir my baie onprakties.
Ons advies aan ander paartjies, veral as jul ʼn begroting het, is om te soek vir verskeie kwotasies en dit te vergelyk. Moenie gaan met die eerste en beste nie en as jul sommige goed self kan maak of kry, doen dit.
Merkwaardigste Oomblikke:
Vir ons beide was die dubbele reënboog wat Knysna vir ons by Villa Castollini onthul het na die ligte reën, die merkwaardigste oomblik van ons dag. Dit was ʼn middag troue en die dag het redelik mistroostig en winderig begin. Dit het steeds redelik so aan gegaan regdeur die seremonie. Toe ons oor loop na die swembad gedeelte by die onthaal met die asemrowende uitsig van die Knysna Meer, het daar ʼn dubbele reënboog verskyn net nadat ons die alpakka piñata saam met die kinders stukkend geslaan het. Dit was vir ons almal ʼn onvergeetlike oomblik. Elke wolkie het inderdaad ʼn silwer randjie en ons troue was geseënd met reënboë.
Paartjie se styl:
Ons wou meer gaan vir ʼn ‘aardse voorkoms’ en amper ook in die rigting van ‘boho’. My ring stel wou ek toe roosgoud hê met ʼn maansteen in die eerste ring en die tweede een met paar cubic zirconia steentjies om die ringe saam mooi af te rond. Bekker se ring het ons toe ook roosgoud laat maak in die middel om by my ring stel te pas, maar wou hy bietjie swart ook in hê en is die oorspronklike ring van ʼn silwerige tungsten metaal gemaak. Beide was deur dieselfde plek gemaak soos ons dit wou hê, so ons kon dit saam gaan afhaal. Die maansteen is dan ook my maand steen en dus nog ʼn rede vir my keuse.
Vir Bekker het ons gaan soek vir ʼn bruin pak, omrede ons beide van plan was om bruin leer skoene te dra, asook ʼn bruin leer das vir hom, en het ons gedink dit sou baie mooi saam lyk. Ek het ʼn vreeslike mooi rok op Pinterest gesien wat ek wou laat maak, of dan nou so na as moontlik aan wou hê. Omrede ons oorspronklik op die strand wou trou, het ek besluit op ʼn sagte vloeiende lang rok vir die onderkant, en ʼn kant bokant wat tot in my middel kom.
Dit moes dus oorspronklik meer prakties wees om in te kon beweeg, en in geval ek bietjie gewig sou optel met die ‘grendel tydperk’, dat dit dan nie ʼn groot probleem sou wees met die wat die bokant net tot in my middel sou kom nie. Ella-Sophia Bridal Wear het my verwagtinge oortref!
Die Besluitnemingsproses:
Die besluitnemingsproses het maar meer by die bruid gelê. Ek geniet dit vreeslik om partytjies te reël. Die was toe nou ʼn lekker uitdaging vir my, hoewel soms stresvol met KOVID-19 wat kom inmeng het. Bekker het die betalings gemaak nadat ek besluit het wat ek wou hê en hom gevra het of hy daarmee saamstem (wat hy meeste van die tyd het).
Ek het my ma betrek om vir my paar goedjies te maak soos die servet ringe en die hartjie stokkies vir die blommemeisies, sowel as ons Konfetti. Dan het my middel sussie, Bianca, soooo baie macramé goedjies vir my gemaak en baie moeite vir my gedoen. Sy het my oorbelle, ruiker omhulsel, tafellopers, vaas-bedekkings, en bruid en bruidegom stoel-oortreksels gemaak, sowel as die hout geometriese boog en macramé agtergrond daarvoor, wat by die seremonie gebruik was.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Soos vroeër genoem, het die dag maar redelik onheilspellend gelyk en het dit paar keer gedreig om te reën. Maar darem net liggies gereën toe dit wel het en ons buite was. Ek was erg ontsteld toe Carin sê dat ek moontlik sal moet oorweeg om die seremonie in te skuif na die onthaal toe. Die kapel was so mooi en perfek en móés die seremonie daar geskied. Ten minste het die kapel ook ʼn dak gehad, hoewel die kante oop was.
Die een kant langs die see het toe darem ʼn deursigtige seil gehad wat ons kon toemaak om die meeste wind uit te hou (dit het teen dan toe ook al darem bietjie meer bedaar), so ek kon steeds my seremonie in die kapel hou en my sprokies-troue uitleef.
Buiten die weer, was daar die alpakkas wat nie meer kom nie, weens die eienaar en sy vrou in kontak was met hul huishulp wat KOVID-19 gehad het en dus vier dae voor die troue moes kanselleer. Ek kon nie iemand anders op so kort kennisgewig gereël kry om vir my alpakkas te bring nie, hoewel ek my bes probeer het, so ons moes maar daarsonder. My hart was nogal erg seer daaroor omrede ek die alpakkas in my tema gebring het by die nagereg en piñata vir die kinders.
Hulle sou dan ook gebruik word in die foto’s (ek en Bekker elk met een langs ons, met hul leisels in ons hande) in stede van ʼn kar of vervoer, omrede ek iets anders wou hê as die normale.
KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:
Ons oorspronklike trou datum was 8 Augustus 2020. Ook dan die datum wanneer ons die eerste keer uit gegaan het in 2018. So dit was eintlik ʼn baie spesiale datum vir ons, wat ook die ‘double infinity’ vir ons simbolieser. Ongelukkig het KOVID-19 gebeur en moes ons kies tussen uitstel na volgende jaar om ons spesiale datum te behou. Of eerder die jaar (2020) trou omrede ons lief is vir mekaar en nie meer kon wag om man en vrou te wees nie. Vanselfsprekend het ons met opsie twee gegaan. Ons wou nie langer wag nie en het besluit dat KOVID-19 nie alles vir ons gaan bederf nie.
Venue & Dekor:
Die oorspronklike idee was ʼn ou-wêreldse effek soos die kastele op Noetzie strand en dan ʼn strand troue. Maar dit was ver buite ons begroting, siende dat die onthaal alleenlik amper R100,000.00 sou kos. Dan moes ons nog self dekor en die seremonie addisioneel laat doen. Ons het toe maar gekyk na verskeie plekke in Knysna en watse pakkette hul aanbied. Hoe gewillig plekke was om mens te help en al jou vrae te beantwoord. Villa Castollini was toe die gekose plek.
Carin het al my vrae beantwoord en nie dae lank geneem om vir my terugvoer te gee nie. Sy en haar span het op die dag van die troue alles ook help koördineer. So ons was nie een dag spyt oor ons besluit op Villa Castollini nie.
Wat die dekor betref, wou ek iets skoon en groens hê met hout, glas, kerse en see. Iets wat ook nie duisende rande sou kos soos vars blomme wat binne paar dae weer verlep nie. Toevallig is ek ook ʼn groot vetplant en kaktus liefhebber. So ons het toe besluit op glas vase waarin seesand gegooi moes word en kaktusse, vetplante en kerse in gesit word. Dan was daar ook vetplante in skulpe geplant om verder die ‘see tema’ in te bring.
Die vetplante en kaktusse kon alles na die tyd weer oor geplant en hergebruik word. Ek kon my ruiker, sowel as die droë blomme en grasse, kaktusse en vetplante wat op my hout boog was vir die seremonie, alles saam my huis toe neem en gaan uit plant of in vase sit in my huis. Dit het dus ʼn praktiese doel ook gedien en is ek baie bly oor al my nuwe plante.
Eerste Dans:
Ons het ons eerste dans geopen op Ed Sheeran se ‘Thinking out loud‘. Die wat ons ʼn klein troue gehad het, het ons dit nie nodig geag om te gaan vir danslesse nie. Ons het wel nogal snaaks gelyk op die video wat een van my sussies van ons geneem het. Omrede my rok nogal lank was en ek plat skoene aan gehad het, so Bekker het my naderhand op getel dat ek nie my rok bly vastrap nie. Dit was steeds lekker gewees en het ons nou iets om oor te lag van ons troudag.
Gunsteling Diensverskaffers:
Definitief Villa Castollini. Ons het in hul kapel getrou en na die seremonie net kon oor loop na die onthaal toe. Die uitsig van daar is asemrowend mooi met die Knysna Meer wat na mens loer van doer onder af. Hoewel ons die kos op die spyskaart gekies het, het hulle hulself oortref met die geregte. Dit was sowaar fantasties en daar was baie moeite gedoen met die kos. Carin was van begin tot einde so behulpsaam gewees en kon ek haar enige tyd enige iets vra. Selfs die aand van die troue wat ons by hul oor gebly het, het sy en haar span ons kamer mooi gaan maak met kerse, roos blare op ons bed, ʼn bottel vonkelwyn en ʼn bord vol sout happies.
“Knysna roep na my…”
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Burnt Haus Media
- Venue, Huurdienste, Koördineerder + Verblyf: Villa Castollini
- Blomme: EcoZest
- Bruidegom-pak: Pak Turkey Suits & Shoes
- Dekor: EcoZest & Good Vibes ZA
- Gaste Geskenke: Succulent Diva & Let’s Say I Do
- Grimering + Hare: Belinda Jane – Hair and Make-Up Artist
- Huwelik kontrak: Pistorius Scheepers Attorneys
- Huweliksbevestiger: Ds Gielie Joubert
- Juweliersware: Manser Jewellery Design & Good Vibes ZA
- Strooijonkers bykomstighede: Let’s Say I Do
- Skoene: Blu Betty & Shoe City
- Strooimeisie-rokke: Let’s Say I Do
- Trourok: Iniek Boutique
- Trouring: Manser Jewellery Design
- Troukoek: The Vintage Teacup