Marius & Carla se sagte stylvolle troue

Marius en Carla het op Universiteit ontmoet en hul sagte stylvolle troue was ʼn klasieke en simplistiese bruilof gewees.  Elaine en Steph van Dust and Dreams Photography het hulle pragtige trou foto’s geneem.   Ons is mal oor hulle fotografie werk.  Sy het ʼn manier dat haar foto’s ʼn paartjie se troudag verewig vasvang in foto’s wat ʼn storie vertel.  Hulle was ook een van die paartjie se gunsteling diensverskaffers.

Carla en Marius se dekor styl was eenvoudig gewees, omdat hulle klem wou lê op die venue se pragtige elemente.  Loer gerus na die foto’s om vir jouself te sien wat hul bedoel.  Die dekor was simplisties met meestal orgideë wat gelug was bo die tafel.  Ander elemente waarvan ons gehou het was die skakerings van grys en die tikseltjies roosgoud elemente.  Dit saam met die pragtige blom patroon servette was prentjie mooi.

Die paartjie het na Mauritius gegaan vir hul wittebrood.  Mauritius is die perfekte wittebrood bestemming vir Suid-Afrikaanse paartjies.  Die eiland het ʼn rustige gevoel tot dit, maar daar is genoeg aktiwiteite beskikbaar as jy lus is vir iets avontuurlustig.  Indien nie, kan jy jou wittebrood geniet op die prentjie mooi strande met ʼn skemerkelkie in die hand.

Rol af om meer te lees en sien van Marius & Carla se sagte stylvolle troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Universiteit is toe nie net vir graadvang nie, in Marius se finale jaar het ons uiteindelik besluit om mekaar beter te leer ken … die res is geskiedenis.

Na amper 5 jaar is ons met vakansie na Ballito. Wat volgens my, sommer ʼn doodgewone fotosessie is, verander toe in ʼn verlowing fotosessie waar Marius my op 1 knie verras met die kosbaarste boodskap in ʼn bottel en die groot vraag!  Gevul met soveel emosie, dankbaarheid en opgewondenheid kom my antwoord teer nog voor dat hy werklik klaar kon vra.

Die Verlowing Tydperk:


Ons is die 2de September 2019 verloof, en die troue was die 22ste Februarie 2020.  Gelukkig was die verlowings tydperk nie te lank nie want ons kon eenvoudig nie wag nie!  Met die hulp van familie en vriende het ons saam beplan en gedroom oor alles wat die dag kan inhou.

Merkwaardigste Oomblikke:


Vir Carla:

Na ʼn helder sonskyn dag, is dit 10-minute-voor-4.  10 Minute voordat ek die padjie begin stap om my hart te beloof aan hierdie droomman.  Soos ek uit die bruidskamer stap, maak die hemele oop, en dis asof daar met elke druppel seën oor ons huwelik uitgespreek word.  My hart wou bars van emosie, en daar staan ek verstom, emosioneel in die deur en besef, vandag verander my lewe vir altyd.

Vir Marius:

Soos ek nog myself probeer vind, na die geskarrel om uit die reën te kom, is alle beheer weer verlore … Dit is my bruid, ʼn onbeskryflike beeld.  Al wat ek sien is my “mens” wat nader tree.  Vandag word my sielsgenoot deel van my elke dag.  Iemand wat soveel meer is as waarvoor ek ooit kon vra.  Ek kan nie eers die liefde in my hart in daardie oomblik beskryf nie.  Dis ‘n liefde wat mens verander.

Vermaak:


Ons het gebruik gemaak van ʼn platejoggie by die canapés en in die onthaal.  Tydens canapés was daar ook verwelkomingsdrankies wat bestaan het uit ‘n gin bar, en handgemaakte bier.

Paartjie se styl:


My rok was beeldskoon.  Dis ontwerp deur Casper Bosman in Bloemfontein.  Wat ʼn voorreg om met hom te werk!! Hy het ‘n besonderse talent. Dis ʼn skakering van wit.  Die onderste laag was pasgemaak, met ʼn sagte materiaal bo-oor.

Marius se pak was ʼn aantreklike donker blou!  Afgerond met ʼn tan leer das, en tan skoene.

My verloof en trouring is roosgoud.  Ontwerp deur Rean Pieterse van Jewel Craft in Bloemfontein. Marius se swart trou ring is van keramiek, gekoop by Stark + Forte in Potchefstroom.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Marius:

Dit is moeilik maar probeer nie in die rand en sent waardes vas kyk nie.  Reël die troue soos julle nog altyd wou – die herinneringe is meer werd as enige geld.

Carla:

Dis okei om nie te weet wat agter die skerms gebeur op die dag nie.  Fokus op jou mense wat om jou is, en sien uit om jou te ontmoet vir ʼn nuwe avontuur … laat DIT jou fokus wees.

Die Besluitnemingsproses:


Ons het die finansiële besluit op ons eie geneem.  Albei van ons was baie betrokke by die finansiële besluite.

Finansiële Aspekte:


Die begroting … Wat kan mens sê?  In ons geval was dit maar net ʼn lig-lyn.  Ons het meer spandeer as waarvoor ons begroot het.  Daar was 140 gaste wat die dag saam met ons gevier het.  Daar is maar onverwagse uitgawes wanneer dit kom by ʼn troue, en tog wil mens hê waaroor jy nog altyd droom, so die skikking is nodig en belangrik.  Ons het mooi gaan dink wat is belangrik vir ons, en wat is ononderhandelbaar … Die res is net ʼn bonus.

Wittebrood:


Die wittebrood was in die gesogte Mauritius!   Die perfekte plek om mekaar beter te leer ken as man en vrou, met ʼn goeie balans tussen rustig wees, en iets nuuts probeer, wat snorkel, glasbodem-bote ry, bord met roeispane te ry en ʼn toer van binne-land Mauritius!

Venue & Dekor:


Ons het na 2 besonderse venues gekyk, maar Kleine Rijke is aards met die buitengewone hout werk. Die omgewing was rustig en weerspieël al die vrede wat ons voel.  Ons dekor was eenvoudig, aangesien die venue al die praat werk doen.  Die blomme het meestal bestaan uit wit orgidee en pennygum.  Roosgoud messe en vurke, sement onderborde en vetplantjie servette. Daar was ook lang roosgoud staanders en vorme op die tafels.

Spesiale Tradisies:


Die tokkie!  Marius was in Armentum koshuis, terwyl hy geswot het by Kovsies, en in Armentum doen die manne die tokkie by spesiale geleenthede.  Dis wanneer die manne ʼn kring maak, en ʼn kreet skree.   Die tradisie is verder dat wanneer ʼn Armentum man trou, al die ou manne ʼn kring maak om die bruid, en hy dan die kreet lei.

Eerste Dans:


Ons 1ste dans was op Elandré se Honderd duisend maal. Albei van ons is mal oor sy stem, en die liedjie is presies wat ons voel.  Ons kies mekaar ʼn honderd duisend maal!  Ek en Marius het nie gegaan vir danslesse nie … as Vrystaters kry ons redelik oefening in as dit kom by vas dans.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is moeilik om te kies!!

Ons het die voorreg gehad om saam met die beste verskaffers te werk.

Elaine en Steph van Dust and Dreams was ongelooflik.  Hoe gemaklik en geliefd hulle ons laat voel het … en ten spuite van moeilike weer, die besonderse foto’s wat ons gekry het – dit is iets om oor te skryf.

Verder is daar ook Jasmyn van Kleine Rijke wat die unieke venue aan ons beskikbaar gestel het.  Sy het alles gereël en seker gemaak ons is so betrokke soos wat ons wou wees, en as ons nie wou wees nie, kon sy dit hanteer.

Te same met Kleine Rijke, is daar Junelle, die voorgestelde spysenier.  Die kos was besonders, en Junelle se enigste doel was om seker te maak ons kry die kos waaroor ons droom maar in die styl van ʼn waardige professionele sjef.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    [endsection]