Jack en Deidré se kersiebloeisels verlowing fotosessie sal jou hart vinniger laat klop. Ons dink hierdie paartjie se fotosessie is so besonders gewees. Omring deur pienk kersiebloeisel landskappe. Jy kan sien die paartjie het die fotosessie baie geniet. Ons is mal oor die sagte kleurpalet van die paartjie se verlowing fotosessie. Kersiebloeisels het nog altyd onderskeidelik ʼn persoonlike en diep betekenis vir albei Jack en Deidré gehad.
Deidré en Jack vertel die rede vir die fotosessie was om meer gemaklik te wees voor die kamera. Dit is so ʼn belangrike punt. Ons dink elke paartjie moet ʼn verlowing fotosessie doen indien moontlik. Dit help jou om meer gemaklik te wees voor die kamera. Om jou fotograaf beter te laat ken. Jy kry dan ook fantastiese foto’s wat jy kan gebruik vir verskillende dinge. Jack en Deidré het hulle foto’s vir hul trou webtuiste en uitnodigings gebruik.
Beplan jou fotosessie en vind fantastiese fotograwe in Mooi Troues se Trougids. Geniet Deidré en Jack se kersiebloeisels verlowing fotosessie hieronder.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons is voor my matriekeksamen in 2015 deur ʼn gemeenskaplike vriendin voorgestel. Vir Jack was dit liefde met die eerste oogopslag, want hy sê hy het uiteindelik ʼn ‘blond met brein’ gevind. Ek was nog steeds ʼn bietjie skepties omdat ek uit ʼn baie Afrikaanse familie kom. Na ʼn paar weke se ononderbroke geselsies het ek stadig vir hom gevoelens begin ontwikkel. Ek het vir hom gesê dat as hy regtig met my wil uitgaan, hy moet wag totdat ek al my eksamens voltooi het, want dit was destyds my fokus.
Hy het geduldig gewag en kontak gehou en selfs na ʼn moeilike eksamen so nou en dan ʼn paar McDonald’s ‘Chicken Nuggets’ (die sleutel tot my hart) met ruikers van rooi rose afgelewer. Toe my matriekeksamen geëindig het, het Jack nie langer gewag om my op ons eerste amptelike ‘afspraak’ te vra nie. Na ʼn paar weke, op die 28ste November het hy my amptelik gevra om sy meisie te wees en het my geneem om Sweeney Todd by Monte Casino te gaan kyk. Gevolg met aandete in Deena se Masterchef Restaurant. Ons het vyf jaar uitgegaan voordat Jack uiteindelik die groot vraag gevra het.
Die groot vraag:
Die verlowing was vir my ʼn groot verrassing, al was ek suspisieus. J ack het sy verjaardag net drie dae vantevore gevier, en het gesê dat hy sy vrese vir hoogtes vir sy verjaardag wil oorwin. Ons het die Saterdag oggend 5-uur opgestaan en Mulderdrift toe gery, en met sonsopkoms wat vir ons ʼn prentjie mooi agtergrond geskenk het in middel die van Maart, het hy my in ʼn lugballon 15 000 voet in die lug gevra om sy vrou te wees.
Daarna het ons ʼn romantiese ontbyt in die restaurant by Kloofzicht Lodge geniet. Toe ek my ouers na die tyd bel om die goeie nuus te deel, het hulle al lankal in spanning by die foon gesit en wag vir my oproep, aangesien Jack al vooraf “ouers gevra het” sonder dat ek geweet het.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
1 jaar en 6 maande om presies te wees. Ek en Jack het gepraat oor wanneer ons graag wil trou, waarop hy geantwoord dat dit so romanties sal wees as ons op dieselfde dag as wat ons ontmoet het moet trou. So ons gaan presies 6 jaar nadat ons ontmoet het voor die kansel ons lewenslange beloftes aan mekaar maak.
Die verloofring:
Die verloofring was, en is nogsteeds, die mooiste verassing vir my. Jack het self elke klein detail van my ring ontwerp en die tekeninge vir ʼn juwelier gegee om te maak. Die dag van ons verlowing het hy vir my ʼn foto raam gegee waarop elke stap van die ontwerp van my ring in geraam is.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Die hoofrede is om foto’s vir die huis te kry, asook foto’s vir ons trou webwerf en troudag. Die fotosessie het ook gehelp om gemaklik voor die kamera lens te word met ons fotograaf wat ook ons troudag vir ons gaan vasvang.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Kersiebloeisels het nog altyd onderskeidelik ʼn persoonlike en diep betekenis vir beide van ons gehad. ʼn Paar weke voordat ons ons sessie bespreek het, het ons genoem hoe wonderlik dit sou wees as ons ʼn kersiebloeisel sessie kon hê vir ons verlowings fotosessie. Ongelukkig kan ons nie Japan toe reis vir ʼn fotosessie nie, en die beperkings rondom Covid-19 sou natuurlik ook ʼn struikelblok gewees het.
Ek sien toe eendag toevallig op Facebook dat my fotograaf wat ek al vir jare ken kersiebloeisel sessies aanbied sommer in ons omgewing. ʼn Besoek Rustenburg toe is immers aansienlik nader as ʼn besoek na die Ooste om kersiebloeisel in die agtergrond te hê. Ons het nie eers twee keer gedink nie en sommer dadelik besluit dit is ‘bedoel om te wees’. Ons droom sessie het ʼn realiteit geword!
Visie vir droomtroue:
Ons wil hê ons troue moet stylvol, klassiek en romanties wees. Ons wil ook beide ons ouers se erfenis en agtergrond deel maak van ons troue. Daarom gaan ons probeer om elemente van beide Sjinese en Afrikaanse afkoms uit te lig. Natuurlik wil ons ook sien hoe ons families kompetisies op die dansvloer hou en die aand om dans. Ons troudag moet ʼn dag vir almal wees, waar almal hulself kan geniet en kan saam lag en kuier.
- Fotograaf: Elize Maré Photography
- Fotosessie Venue: Cherry Ridge Plaas in Rustenburg