Ons deel met ons lesers Corluhan en Dominique se mooi strand troue in St. Helena Baai. Die paartjie se strand troue was ʼn lekker gesellige kuier saam met vriende en familie. Hulle het hul troue vanuit Pretoria en Brasilië gereël met behulp van tegnologie. Alhoewel dit meer stresvol is om ʼn troue so te beplan is dit wel moontlik. Dinge is egter nie altyd soos jy dit wil hê as jy dit so beplan nie, maar mens moet die beste hiervan maak.
Ons dink die paartjie se seremonie op die strand is baie besonders met die asemrowende uitsigte. Dit gee jou so ʼn lekker ontspanne gevoel, veral as jy so uitkyk oor die strand. ʼn Strand troue is altyd ʼn lekker gesellige byeenkoms saam vriende en familie, veral vir diegene wat ver moet reis. Hulle dekor het hulle eenvoudig gehou met Groen en tikseltjies wit tussen in. Die rou hout tafel werk ook perfek saam met hul dekor en die gevoel van die troue.
Dominique en Corluhan het ʼn heerlike wittebrood geniet in Vietnam. Dit was een van die kontinente wat Dominique nog nie besoek het nie, so hulle wou dit baie graag saam doen. Besoek Mooi Troue se Trougids vir bekwame diensverskaffers om te help jul strand troue te beplan. Geniet die paartjie se mooi strand troue hieronder.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het mekaar toevallig aanlyn ontmoet – Dominique wou haar Engels opskerp en ek wou ʼn paar internasionale kontakte kry vir verblyf wanneer ek sou reis. Dominique het my kontak in Brasilië geword en na ons eerste Skype sessie het ek geweet ek wil met haar trou. Ek was Sau Paulo toe om haar te ontmoet en na dit sy het na dit, vir 6 maande na Suid-Afrika toe getrek.
Ons was saam terug Brasilië toe om te kuier. Sy het in daardie week ook verjaar en sy het plek bespreek op ‘n eiland. Die oggend van haar verjaarsdag het ek haar gevra om saam met my op die strand na die sonsopkoms te gaan kyk, ek het in die sand vir haar geskryf en gevra of sy met my sal trou en die res is geskiedenis.
Die Verlowing Tydperk :
Ons was 1 jaar en 3 maande verloof voor ons getrou het. Ek en Corluhan het verloof geraak Oktober 2018 en het getrou in Januarie 2020. As verloofdes het ons die troue self beplan. Ons moes ‘n troudatum kies wat vir meeste van die mense moontlik sou wees om by te woon, dus was Januarie die beste opsie sodat gaste ʼn vakansie daarvan kon maak. Dit was maar bietjie moeilik om ‘n troue te reël ver van meeste van die verskaffers af aangesien ek van Pretoria was en sy was meeste van die tyd nog in Brasilië, maar met vandag se tegnologie was dit moontlik.
Finansiële Aspekte:
Die begroting was omtrent R170 000 en het 70 gaste gehad. Ons was gelukkig om tyd te hê om rond te soek vir verskillende verskaffers en hul pryse te oorweeg. Ek en Corluhan het ʼn Excel dokument gehad om rekord te hou van ons volle begroting.
Advies wat ons het is om ʼn noodfonds te hê en te begroot daarvoor. Hoe nader die troue kom, is daar altyd die addisionele kostes wat mens dalk vergeet het of waar jy dalk ʼn ander idee het. So sit dalk ‘n paar rand eenkant om vir die onvoorsiene omstandighede te voorsien.
Merkwaardigste Oomblikke:
Die hele dag was spesiaal. Al die familielede het mekaar nog nie persoonlik ontmoet voor die dag nie, so dit was ongelooflik om in die Here se teenwoordigheid almal van alle uithoeke van die wêreld onder een dak te hê om liefde te vier en waar 2 kulture kon ontmoet.
Die Besluitnemingsproses:
Dit was ʼn spanpoging en ons het mekaar goed aangevul, ons elkeen was verantwoordelik vir seker besluite. Ons het baie van ons idees met familie gedeel maar het om die ou einde self besluit wat die beste vir ons gaan werk.
Paartjie se styl:
Ons troue was baie informeel vir die gaste, maar ons wou tog dit bietjie meer elegant maak en optower deurdat ek ʼn formele pak gedra het. Dominique wou soos ʼn prinses lyk en gemaklik voel in haar rok, sy is baie lief vir kant en het daarom daardie rok gekies. Ek het Dominique se trouring spesiaal vir haar laat ontwerp. Ons het saam my ring gaan uitkies en sommer gegaan vir die een wat aan my vinger pas en die beste lyk.
Wittebrood:
Ek het besluit om Vietnam toe te gaan en het dit as ʼn verrassing gehou tot voor die vlug. Ek het Vietnam gekies aangesien Dominique na al die kontinente was behalwe Asië en Vietnam omdat ek hou van lande wat onder die radar vlieg. Ons was ook ‘n dag in Dubai en ‘n paar in Thailand as gevolg ons vlugte.
Eerste Dans:
Ons wou al die gaste verras met ons dans en wou ook iets anders en oorspronklik doen – so dit was ‘n kombinasie van liedjies om ook ons verskillende kulture uit te bring.
Dit het begin met ‘n stadige dans op Michael Buble se Everything (ʼn liedjie wat ons gedans het toe ek vir die eerste keer weg is uit Brasilië). Daarna was dit Early B se Bokke hoor, toe ‘n samba treffer van Brasilië en geëindig met Adam se Kasteel waarop ons gelang arm het aangesien dit haar eerste langarm liedjie was waarop sy gedans het – met geen lesse.
Gunsteling Diensverskaffers:
Sea Trader, die venue, was regtig ongelooflik! Die beste kos (met ʼn spesiale spyskaart vir al die kinders op die troue), puik diens, pragtige uitsig en die eienaars wat regtig uit hul pad gegaan het om seker te maak als loop vlot.
Die fotograwe (Ann Grace Photography) word ook sterk aanbeveel. Hul neem die beste foto’s en video’s en het ons so op ons gemak laat voel. Die eindproduk is van die beste gehalte, soos wat mens kan sien op die foto’s en video.
Spesiale Tradisies:
Niks besonders wat ons anders gedoen het nie. Die toesprake was iets buitengewoons vir die Brasiliaanse gaste, alhoewel dit algemeen is in Suid-Afrika.
Venue & Dekor:
Dominique se droom was nog altyd ‘n trou seremonie wat uitkyk op die strand, wat nie op sand is nie. Die perfekte dag sou ook nog wees sonder reën, so ons het na plekke gesoek van Kaapstad af op na die Weskus. Vir my was die onthaal die belangrikste, ek wou graag dat die gaste lekker kon kuier teen billike pryse. Dis hoe ons op Sea Trader in St. Helena Baai afgekom het.
Ons dekor inspirasie het gekom van ander se troues en Pinterest. Ons het probeer om die beste idees van ander se troues saam te sit met ons eie afdruk daarop.
Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:
Van die dekor was nie alles soos wat ons beplan het nie. Die feit dat dit aanlyn bespreek was, het nie baie gehelp nie. So ons het ‘n paar verrassings gehad op die troue …
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Anne Grace Photography
- Musiek: Cape Town Jam
- Platejoggie: Cape Town Jam
- Skoene (Bruid): Brasilië
- Skoene (Bruidegom): Truworths
- Strooimeisie rokke: Brasilië
- Trourok: Brasilië
- Venue: Sea Trader
- Paartjie se verblyf: Fluistering Huis
- Vermaak: Ilitha Lelanga Marimba Ensemble
- Videograaf: Anne Grace Photography
- Wittebroodplek: Vietnam Tour