Luan en Berli het nie gras onder hulle voete laat groei nadat Luan op een knie gesak het nie. Slegs vyf maande nadat Berli ingestem het om met Luan te trou, het dié paartjie die knoop by ʼn pragtige trou venue in Bloemfontein deurgehak. Hulle moes vinnig op ʼn tipe styl en kleur-palet besluit, maar het gou besef die antwoord is reg voor hulle – ʼn unieke somer-troue om by Desember-maand se mooie weer aan te pas. Berli het die geleentheid met albei hande aangegryp om haar gunsteling kleur in die trou-dekor te inkorporeer. Skakerings van geel het ʼn joviale atmosfeer geskep en het die wit gevoel van die venue, asook die groenigheid van die blommerangskikkings, perfek uit gebalanseer. Berli het slegs drie voorwaardes gehad: koel, vars en uniek. Van daar af kon hulle ʼn droom-dag reël wat perfek by hulle styl en persoonlikhede pas.
Dié paartjie van De Aar het beslis ʼn paar truuks in die mou wat hulle hieronder met Mooi Troues se lesers deel. Geniet Luan en Berli se unieke somer-troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons twee is ʼn voorbeeld van hoërskool liefde wat uitgewerk het. Ek en Luan is al van graad 11 af saam en 7 jaar later het ons die knoop deurgehak. Vir my was dit liefde met die eerste oogopslag, maar Luan het egter so bietjie meer tyd nodig gehad! Ons was eers beste vriende en later het die liefde begin blom.
Luan het my gevra om te trou by De Stijl Hotel in Gariep – een van ons gunsteling naweek wegbreek plekkies. Hy het ons albei se gesinne as verassing bymekaar laat kom en ons het heerlik die res van die naweek saam gevier en gekuier.
Die Verlowing Tydperk:
Ons het 21 Julie verloof geraak en 14 Desember getrou. Dus was ons slegs 5 maande verloof, waartydens ons die troue self beplan het. Ek het nog altyd gesê ek wil vinnig trou, omdat ons reeds solank al saam was. Ek en my regterhand (my ma, Anri) het alles in ʼn japtrap gereël.
Paartjie se styl:
Ek wou graag iets vars en koel hê, omdat ons in die middel van Desember getrou het. Nog ʼn voorwaarde was dat dit ʼn gemaklike rok moes wees waarin ek vrylik kon beweeg. Ek wou graag lekker kon dans en oor niks bekommer wat op of af skuif nie.
Dit was vir my belangrik dat Luan se pak by ons kleurskema inskakel. Ek was dadelik verlief op die uniekheid van ʼn groen linne pak. Dit het sy groen-blou oë só mooi gekomplimenteer. Ek kon egter nêrens ʼn das kry nie, maar ek het eendag op ʼn kombuis vadoek afgekom wat perfek was! Ek was dadelik mal daaroor en siedaar word dit toe vir Luan in ʼn das omskep!
Merkwaardigste Oomblikke:
Vir ons was dit die lekkerste lekker om al vanaf die Vrydag net lekker te kuier saam met ons familie en vriende. Daar is nie ʼn beter gevoel in die wêreld as om te weet almal vir wie jy lief is, is spesiaal daar vir jou nie.
Finansiële Aspekte:
Ons was geseënd met ouers wat vir ons ons droom-troue wou gee. Dus het ons geen begroting gehad om by te hou nie. Ons het steeds probeer om pryse te vergelyk en altyd die beste moontlik opsies te kies. Ons het besluit om net ons naaste familie em vriende te nooi en dus was daar 125 gaste in totaal – dit was perfek!
My advies sal wees om nie die eerste beste opsie te kies nie. Doen genoeg navorsing en kry kwotasies. Vergelyk dan die kwotasies en maak daarna eers ʼn finale keuse.
Gunsteling Diensverskaffers:
As ek iemand móét uitsonder, sal ek ons fotograaf, Anneke, kies. Ons het sommer van ons verlowings sessies af net mekaar verstaan en goed oor die weg gekom.
Chane, ons bloemis, was ook merkwaardig. Sy het my idees prentjie mooi en perfek vasgevang!
Vermaak:
Na die seremonie, het ons besluit om alkoholiese ys-drankies te bedien omdat dit so warm was – dit was n groot treffer! Terwyl almal heerlik met hul drankies afgekoel het, het ons ʼn sang-kunstenaar gehad vir vermaak.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Ons lag eintlik lekker oor dié flater! Ons het ons troukoek ingevoer van De Aar af en ek en my ma het reeds Donderdag die pad gevat Bloemfontein toe – troukoek op die skoot! Halfpad soontoe, moes ons in ʼn baie klein dorpie stop om die koek te red wat toe nou begin warm kry. Dit was net Maizena en kleef-papier waar jy kyk! Ons het die pad verder gevat en op die groot dag het ons bloemis so met haar blomme getoor, dat niemand dit eers agtergekom het nie!
Venue & Dekor:
Koel, vars en uniek was my eerste woorde aan my bloemis. Ek is versot op die nuwe moderne gele en wou baie graag dit by die dekor inkorporeer het. Ons het eerste die blommemeisies se rokke gekry en van daar het die geel vlam gevat!
Ons glo die venue het óns gekies – daar was slegs 1 datum oor vir 2019 en presies in die maand wat ons wou trou. Peppertree is net só stylvol en modern; Ons het nie eers 2 keer gedink nie!
Wittebrood:
Ek wou graag hê ons wittebrood moet ʼn verrassing vir my wees. Luan het homself oortref. Ons het Zanzibar gaan besoek met sy mooi wit strande en blou waters. Al wat ek kan sê, is pasop vir die lekker swembad en verruklike drankies op dag 1; Die son is nie op vakansie nie!
Eerste Dans:
One het die dansvloer op Appel se Nonna geopen. Die woorde het ons twee se verhouding so mooi beskryf: “Die plaas is leeg sonder jou daar.”
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Sevenquarters Photography
- Blomme: BLOM online
- Dekor: Lighticle & Peppertree
- Grimering: Monique van Niekerk Artistry
- Hare: Salon Azar
- Huurdienste: Lighticle + Deco Table + Grand Room Design
- Huweliksbevestiger: Ds Hennie Schutte
- Juweliersware: Bridal Emporium
- Trouring: Diamond Jewelers Kimberley
- Troukoek: Cake Lady De Aar
- Musiek: Eco Sound
- Platejoggie: Eco sound
- Skryfbehoeftes: Baie Goeters + Dinge De Aar
- Strooimeisie-rokke: YDE
- Trourok: Bridal Emporium
- Venue: Peppertree
- Paartjie se verblyf: Peppertree
- Vermaak: Marius Kruger Kimberley
- Videograaf: Meyer en Rene
- Wittebrood plek: Zanzibar