Verskeie uitdagings in 2020 het veroorsaak dat verloofde paartjies of moet wag vir hul groot dag, of moet aanpas by wat vir ʼn onbepaalde tydperk die ‘nuwe normaal’ gaan wees. Verskeie diensverskaffers het inisiatief geneem om hoop aan dié paartjies te verskaf dat hul droom-dag wel kan plaasvind. Die gestileerde fotosessie verteenwoordig ʼn moderne trou styl, met elemente van die bosveld om ʼn warm en persoonlike gevoel te skep. Dit beeld ook die tipiese ‘elopement’ troue uit, waar paartjies alleen (of met naaste familie en vriende) reis na intieme omgewing om die knoop deur te haak.
Indien jy tans besig is om jou troue te beplan, en ʼn moderne, koste effektiewe en intieme styl oorweeg, sal dié fotosessie die nodige trou inspirasie en wenke verskaf.
Wie het die fotosessie gereël?
Ek, Snippets Photography, het die fotosessie gereël.
Inspirasie agter die fotosessie:
Die idee rondom hierdie fotosessie is om vir bruide te wys dat hulle die nuutste modes kan probeer en terselfdertyd binne ʼn streng begroting bly. Dit is spesifiek gemik op paartjies wat ʼn ‘elopement’ troue oorweeg.
Aangesien ons bedryf al vyf maande byna geen werk het nie, het ons as verskaffers besluit om ons kunswerke bymekaar te sit en hierdie gestileerde fotosessie te reël. Die fotosessie verteenwoordig ʼn moderne, koste-effektiewe en intieme styl. Ons hoop om bruide te inspireer om ʼn intieme troue te oorweeg.
Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?
Die rede waarom ek die spesifieke diensverskaffers gekies het, is omdat elkeen die perfekte eienskap het om hierdie idee ʼn werklikheid te kon maak. Elke diensverskaffer het ʼn stukkie van die legkaart bygedra om die algehele prentjie te voltooi.
Agter die skerms van die fotosessie:
Tot ons verbasing, het ons geen probleme agter die skerms met die opstel, fotografie en ontwerp gehad nie. Elke verskaffer het hul deel van die fotosessie só professioneel hanteer, dat dit as een van my gunsteling fotosessies uitgedraai het.
Spesiaalste deel van die fotosessie:
Die spesiaalste deel van die fotosessie is om vir verloofdes in hierdie tyd te inspireer. Baie verliefde paartjies is bang dat die trou-industrie nie gou weer sal oopgaan nie en dat hulle droom-troue nie sal kan realiseer nie. Die fotosessie bewys dat ʼn intieme troue steeds stylvol kan wees en jou baie geld kan spaar.
Dekor:
Die dekor was waar die idee vir die fotosessie ontstaan het. Ons het in die bosveld gesit en ek het na al die dooie takkies gestaar. Dit het my soos ʼn golf getref! Die dekor het ʼn nuwe kleurskema voorgestel – grys en bruin skakerings. Ek is mal oor leer, omdat dit ʼn idee van duursaamheid skep. So dit was vir my ʼn noodsaaklikheid!
Venue en Ligging:
Die venue was ongelooflik! Ek is ʼn natuurlike-lig fotograaf, so die lig was vir my ʼn baie belangrike element. Die venue moes modern en stylvol wees, maar steeds elemente van die bos kon verwelkom. Mens kan nie anders as om verlief te raak op die glas-venue met bosveld reg rondom nie.
By die buite-area by die venue, is daar ʼn groot skaak-stel. Dit is nog nooit vantevore deur ʼn fotograaf afgeneem nie! Ek het geweet dit gaan ʼn groot invloed hê op hoe mense die venue sien.
Trourok en bruidegom pak:
Al vereiste wat ek ten opsigte van die trourok gehad het, is dat dit ʼn stylvolle rug moes hê. Nadene van die New Romantics Bridal Couture, het my gedagtes gelees asof sy ʼn towenaar was wat kon sien wat ek beplan het! Sy is ʼn ongelooflike ontwerper met ongelooflike talent! Sy het die res alles in plek laat val.
Die dag voor die fotosessie sou plaasvind, het ek genoem dat ek van ʼn leer naamplaatjie gehoor het, wat ook die gaste se dankie-geskenk sou wees. Nadene het geborrel van vreugde en gesê dat sy ʼn leer-baadjie vir die bruidegom het. Dit het alles perfek bymekaar gekom!
Advies aan toekomstige paartjies wat troue beplan:
My advies is dat jy moet glo dat jou droom-troue wel kan gebeur! Ja, die industrie is in die middel van ʼn krisis, maar ʼn intieme troue kan stylvol en modern wees, terwyl jy steeds baie geld spaar. Die hele fotosessie het begin deur ʼn takkie in die bosveld, en kyk wat is vermag! Ons hoop dié fotosessie is inspirasie vir jou moderne, intieme troue.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Snippets Photography & Design
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Blomme: Ever After Events
- Bruidegom-pak: New Romantics Bridal Couture (Waist Jacket)
- Dekor: Ever After Events
- Gaste Geskenke: Smitten with Leather
- Troukoek: Vin-tea-ge Lounge
- Trourok: New Romantics Bridal Couture
- Venue: Campagne Living